Ek het my regterarm verloor

There is no forgiveness of sins without a truly repentant heart to which sin is sincerely painful and which renounces it with all its power.  – Emil Brunner

Ek het my regterarm verloor

Toe Generaal Jackson oorlede is, sê Robert E. Lee: “I have lost my right arm.”  As lidmate die gemeente verlaat, voel ons dikwels net so. Nog erger: as ons met hulle praat daaroor kan ons nie anders as om te sê: “As ons maar vroeër hieroor gepraat het.” Kan ons uit hierdie gesprekke met mense wat die gemeente verlaat nie leer om, soos Paulus dit stel, te weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God nie(1 Timoteus 3:15). Is daar nie sekere dinge wat ons kan doen om die lewe in die kerk te versterk en te verryk nie?

  • Kommunikasie

Lidmate hou by die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus en by die leer van ons godsdiens (1 Timoteus 6:3). As ons dit nie doen nie, is die gemeente in die moeilikheid. Kommunikasie in die gemeente sluit in ‘n weiering om te skinder. Kyk net hoe skryf Paulus van sy medewerkers: Tigikus, die medegelowige wat ek baie liefhet … Hy is ‘n getroue dienaar; Epafras … staan in diens van Jesus Christus en bid altyd ernstig vir julle; Lukas, die dokter wat ek baie lief het (Kolossense 4:7 – 14). Wat sou in ons gemeentes gebeur as ons weier om sleg te praat van ander ten spyte van hulle foute?

Maar ons kan ook nie toelaat dat probleme broei nie. Soms as ons na ‘n lang gewik en geweeg die probleem hanteer, is die skade onherstelbaar. As ons dit vroeër hanteer het, kon ons baie probleme vermy het. Tydige en duidelike kommunikasie kan intimiderend wees. ‘n Ouer man moet jy nie skerp teregwys nie, maar vermaan asof hy jou vader is. Vermaan die jonger mans soos jou broers, die ouer vroue soos moeders, en die jonger vroue soos susters, in alle eerbaarheid (1 Timoteus 5:1 – 2). Praat met mekaar, maar in liefde. Ons moet genoeg vir ander se seer omgee om te luister en reg op te tree.

  • Oortuiging

Totdat ‘n persoon Bybelse oortuigings oor verlossing, aanbidding en die kerk ontwikkel het, word hulle deur elke wind van verandering rondgewaai – en die aantrekkingskrag van ander gemeentes. Hierdie oortuigings ontwikkel nie sommer oornag nie. ‘n Wedersydse belydenis van geloof hou lidmate bymekaar. Ons moet almal weet wat ons glo en hoekom ons dit glo.

  • Gemeenskap

As Paulus praat oor hoe ons ons in die huisgesin van God moet gedra, verwys hy nie na ‘n gebou nie, maar na ‘n huisgesin – die nuwe familie wat God deur Jesus Christus tot stand gebring het. Hierdie familie is ‘n lewende organisme wat moet leer om met mekaar saam te leef. Gelowiges moet gasvry wees. Dit beteken hulle moet ‘n liefdevolle en hegte gemeenskap wees wat vreemdelinge gehuisves het, die voete van die gelowiges gewas het, die verdruktes gehelp het en goed gedoen het waar sy kon (1 Timoteus 5:10). Om so ‘n gemeenskap te bou vereis tyd. Ons moet nie toelaat dat negatiewe ervarings uit die verlede die toekoms bepaal nie.

  • Tevredenheid

Ontevredenheid word gekenmerk deur ‘n fokus op die gemeente se tekortkominge en ‘n onwilligheid om saam te werk vir ‘n beter toekoms. Die gevolg van hierdie ongelukkige, onbetrokke en kritiese lidmate kan baie negatief vir die gemeete wees. Natuurlik is die gemeente nie sonder probleme nie. Die programme hanteer nie al jou behoeftes nie; jy mag dalk nie van die musiek hou nie; … Maar Christus is besig om sy kerk te bou en Hy weet wat Hy doen.

Te midde van al sy swaarkry skryf Paulus: Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus (1 Timoteus 1:14) Met genade vir vandag en hoop vir môre kan elkeen van ons elke dag leer hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God (1 Timoteus 3:15).




Hoe hanteer ek mense wat swaarkry?

The custom of sinning takes away the sense of it, the course of the world takes away the shame of it. —John Owen

Hoe hanteer ek mense wat swaarkry?

Ons glo dit is ons taak om mense wat swaarkry beter te laat voel. John Koessler sê wat hom ontstel het, was hoe dikwels hy nie daarin geslaag het nie. Jy gee raad en jy bid vir mense, maar dit lyk nie asof dit ‘n verskil maak nie. Hulle toestand het nie verander nie – altans so ver as wat hy kon sien.

Mettertyd besef hy dat dit nie sy taak is om mense beter te laat voel nie – dit is God se werk. Ons taak is om mense aan God se teenwoordigheid te herinner.

Wat meeste nodig is, is die bediening van teenwoordigheid eerder as die bediening van herstal. Ons kan in stilte sit of ons kan van God se beloftes praat, maar ons genees nie – ons kan nie. Die probleem is te groot. Dit vereis ‘n geneesmiddel meer as ons vaardighede en vermoëns.

Hierdie bediening van teenwoordigheid lyk vir ons totaal onvoldoende. Ons verlaat die siekbed deurmekaar. Ons raak paniekerig as ons besef ons kon nie ‘n eenvoudige oplossing aanbeveel nie. Later herinner iemand ons aan die krisis en bedank ons omdat ons hulle so baie gehelp het. Ons is verbaas: “Wat het ek gedoen?” Geduldig antwoord hulle: “Jy was daar!”




Hoe soek ek antwoorde op geestelike sake?

The worst thing thou has to fear is the treachery of thine own heart. —C.H. Spurgeon

 

Hoe soek ek antwoorde op geestelike sake?

Kan jy praktiese advies gee oor hoe ek antwoorde op geestelike sake moet soek? Hierdie vraag is onlangs aan Lee Strobel gestel. Strobel sê dat hy vir homself drie beginsels gestel het – drie riglyne om hom te help.

  • Maak die soeke ‘n prioriteitsaak

Om antwoorde te kry, is te belangrik om dit sommer ‘n sporadiese soeke te maak.

Hierdie is dringende sake. Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra (Jeremia 29:13).

 

  • Hou ‘n oop gemoed en volg die getuieis waarheen dit ook al mag lei

Wees so objektief as moontlik; raak onstlae van vooroordele. Net dan sal jy betekenisvolle antwoorde kan onderskei.Truth is so obscure in these times, and falsehood so established, that unless we love the truth, we cannot know it.” (Blaise Pascal).

  • As die getuienis in is, maak ‘n oordeel.

As God ‘n werklikheid is en Jesus is wie Hy sê Hy is, moet jy dienooreenkomstig reageer. Jy moet toelaat dat die feite dit wat jy glo, beïnvloed. Vra die God waarvan jy dalk nie seker is nie om jou te lei.

Strobel sê dat hierdie drie eenvudige beginsels hom gehelp het. Dan sal jy ontdek dat Jesus reg was toe Hy belowe het:Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word (Matteus 7:7 – 8).




Is Christene onverdraagsame haters?

Small numbers make no difference to God. There is nothing small that God is in. —D.L. Moody

 

Is Christene onverdraagsame haters?

Christene ontvang allerhande neerhalende etikette – arrogant, eksklusief, dogmaties, homofobies, ens. Maar daar is twee etikette wat uitstaan: onverdraagsaamheid en haters. Oënskynlik sien ons moderne wêreld teregwysing oor verkeerde gedrag as ‘n vorm van haat. So ‘n situasie kan gelowiges ontmoedig – dit mag lei tot wanhoop en gelowiges mag dink die kerk gaan donker dae binne.

 

Miskien sal ‘n historiese perspektief ons help. Hierdie etikette is reeds aan die vroeë Christene geheg.

 

  • Plinius die Jongere: Christene is onverdraagsaam

In die Grieks-Romeinse wêreld was daar baie gode – elke groep het sy eie gode gehad. Baie selde het mense teen die bestaan van hierdie gode beswaar gemaak. Die vroeë Christene het in een God geglo en het geweier om aan die standaard godsdienstige praktyke van die Romeine deel te neem. Vir die Romeine was dit ‘n deurlopende frustrasie. Plinius was die goewerneur van Bitinië. Tussen 111 en 113 skryf hy aan die keiser, Trajanus. In die brief kla hy oor die hardkoppigheid van die Christene – hy was kwaad oor hulle onverdraagsaamheid. Hoekom is hy ontsteld? As gevolg van die invloed van die Christene word die heidense tempel verlate en daar was min mense wat die offerdiere wou koop. Kortweg: hulle was besig om geld te verloor.

 

Sy oplossing was om Christene te dwing om die heidense gode te aanbid en om God te vervloek. Sou hulle weier, sou hulle doodgemaak word. Hy besef dat ware Christene nie hierdie dinge kon doen nie. Plinius, terwyl hy die Christene martel, erken hy hulle hoë morele standaarde: “Christene bind hulle met ‘n eed om nie bedrog te pleeg, te steel, owerspel te pleeg nie. Hulle sal nie ‘n vertroue in hulle gestel weier as hulle daarvoor gevra word nie.”

 

Dus: onverdraagsaamheid van die Romeinse gode is genoeg rede om Christene dood te maak ten spyte van hulle heilige lewens.

 

  • Nero: Christene is haters

Nero was bekend vir sy vervolging van Christene. Tagikus, die bekende Romeinse geskiedskrywer vertel dat hulle deur honde verskeur is, gekruisig is, op die brandstapel gesterf het, ens. Watter misdade het hulle gepleeg om sulke behandeling te verdien. Weereens het hulle geweier om die gode en die godsdienspraktyke wat daarmee gepaard gegaan het, goed te keur. Tagikus sê hulle is doodgemaak weens hulle “haat teen die mensdom.”

 

Die verhale van Plinius en Nero is bemoedigend, maar ook skrikwekkend. Skrikwekkend, want dit klink nogal na die taal en aanklagte wat Christene vandag hoor. Hulle word nie meer gevra om eerbied aan die Romeinse gode te bewys nie, maar moet eerbeid betoon aan die gode van verdraagsaamheid.

Hierdie stories is ook bemoedigend, want dit herinner ons daaraan dat vervolging niks nuut is nie. Vervolging was nie die einde van die Christendom nie, maar die begin Ten spyte daarvan groei die kerk.

Jy is Petrus en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matteus 16:18).