Evangelisasie: Oorkom die hindernisse

For unless we are united with all the other members under Christ our head, no hope of the future inheritance awaits us – Calvyn

 

Evangelisasie: Oorkom die hindernisse

Daar kom toe ‘n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My ‘n bietjie water om te drink.” Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie. (Johannes 4:7 – 9)

Hier is drie hindernisse wat Jesus oorbrug:

 

  • Etniese en kulturele haat. Die Jode en die Samaritane het mekaar gehaat. In die agste eeu vC het die Assiriese Ryk die Noordryk van Israel oorwin. Hulle deporteer van die Israeliete en bring ander mense in. Hierdie nuwe heidene het hulle eie gode en die plaaslike God aanbid. Hulle meng hulle godsdienste. Dit was vir die Jode totaal onaanvaarbaar. Jode het sover as moontlik Samaria vermy, Soos Rabbi Eliëser gesê het: om die brood van die Samaritane te eet, is dieselfde as om varkvleis te eet.
  • Die grens tussen geslagte.  In Jesus se dag was dit skandalig om met ‘n vrou alleen by ‘n fontein te sit. Godsdienstige Joodse mans het God immers elke dag gedank dat hulle nie as vrou gebore is nie. ‘n Rabbi sou sy reputasie verloor as hy in die openbaar met ‘n vrou gesels – selfs sy eie vrou of dogter. Jesus praat met hierdie heidense vrou.
  • Jode deel nie eetgerei met Samaritane nie. Dit sou hulle onrein maak. Jesus oorbrug ook hierdie hindernis. Selfs die Samaritaanse vrou was hieroor verbaas: Hoe vra jy, wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou, water om te drink?

 

Hoekom het Jesus hierdie hindernisse oorbrug? Omdat Hy vir die siel van hierdie vrou omgegee het. Ons moet ook soms sekere hindernisse oorbrug om mense vir Christus te bereik. Ons moet uitreik na mense wat nooit die Bybel sal lees en nooit in die kerk sal kom nie. Jesus kom in hierdie vrou se wêreld met die evangelie. Jesus se liefde vir die wêreld is nie iets teoreties nie, maar is liefde in aksie.

 

Baie mense bly weg van die kerk, want hulle glo dat gelowiges op hulle sal neersien. Hulle voel ongemaklik in ‘n godsdienstige omgewing. Daarom kom hulle nie na ons toe nie – ons moet die evangelie na hulle toe neem.

 

 

 




Die gesindhede van iemand wat Christus volg

The precepts of the Christian religion, I will answer, first, second and third, humility –  Augustinus

 

Die gesindhede van iemand wat Christus volg

Attitude determines altitude (John Maxwell)

Die Bybel lei ons om vir ‘n gesonde gesindheid te werk. Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig (Filippense 4:8). Ons as Christene moet ons gedagtes op alles wat prysenswaardig is, rig.

 

Hier is ‘n paar gesindhede wat God van ons verwag.

  • ‘n “Kan-doen” gesindheid

Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (Filippense 4:13). Wat ook al oor ons pad kom, kan ons hanteer, want God loop saam met ons. Daarom kan ons met vertroue en doelgerigtheid deur ons dae loop.

 

  • ‘n ‘Kyk-na-die-helder-kant” gesindheid

Filippense 4;8 sê dat ons elke dag moet soek na daardie dinge waarvoor ons dankbaar kan wees. Soms is dit moeilik, maar God het aan almal van ons baie goeie dinge waarvoor ons dankbaar kan wees, gegee. Daar is baie mense met minder as ons wat die pad na blydskap ontdek het. Viktor Frankl, wat die Duitese konsentrasiekampe oorleef het, skryf in sy boek Man’s Search for Meaning: Everything can be taken from a man but one thing: the last of human freedoms—to choose one’s attitude in any given set of circumstances.”  Onder die moeilikste omstandighede denkbaar het hy ‘n manier gekry om te kies hoe hy op die lewe gaan reageer. Nie alle dinge in die lewe is goed nie, maar as ons God vertrou, kan Hy alles te goede laat werk.

  • Begin met die gesindheid van jou eie hart

. (Alvin Reid) Ons moet ophou om na almal om ons te kyk en eerder voortdurend ons eie harte en motiewe bevraagteken. God het ons geroep om ander mense te seën – nie om hulle te vervloek nie. Is dit die gesindheid van ons harte? Ons is so geneig om alles en almal af te takel. Ons moet weer ontdek wat die Bybel oor deernis, sagtheid en genade leer. Ons moet vergeet van die splinter in die oë van ander. Word meer opgewonde oor ander en minder opgewonde oor onsself.

  • ‘n Evangelie-gesentreerde gesindheid
  • Die evangelie is dié bemagtiging vir ‘n positiewe gesindheid – maak nie saak wat die omstandighede is nie. Ons weet dat niks ons ware skat kan raak nie. God is ons skat. Dink net aan alles wat Paulus moes verduur en dan verloor ons vertroue in God, want Hy het een van ons gebede nie beantwoord soos ons dit wou hê nie. Ons moenie Jesus liefhê afhangend van wat Hy vir ons doen nie. Ons moet Hom met ons hele lewe liefhê oor dit wat Hy reeds vir ons gedoen het.




    Ons sing nie meer in die kerk nie

     There is a land of the living and a land of the dead and the bridge is love. ” Thornton Wilder

     

    Ons sing nie meer in die kerk nie

    Thom Schultz sê dat die meerderheid mense nie meer in die kerk sing nie. Diegene wat wel sing, het skaars hulle lippe beweeg. Al stemme wat jy hoor, is die sangers op die verhoog met hulle mikrofone. As die sogenaamde aanbiddingsleier op die verhoog kom en vra dat die mense moet staan en sing, staan almal ewe gedwee op, maar dan word hulle stom. Hoekom het dit gebeur? Schultz noem vier redes:

     

    • Gemeentelike sang word toenemend ‘n toeskouer gebeurtenis

     Almal verwag dat die mense op die verhoog hulle ding moet doen. Die lidmate in die kerkbanke gedra hulle soos ‘n goeie gehoor: hulle kom in; hulle is stil; hulle vra nie vrae nie; hulle dra nie by nie; hulle kyk hoe die sangers in die veelkleurige ligte hulle konsert uitvoer.

     

    • Professionalisme

    Die musiek moet meer professioneel as deelnemend wees. Die lidmate in die banke besef hulle kan nie kers vashou met die harde stemme in die mikrofone nie. Kwaliteit word aanbid. Lidmate gaan hierdie kwaliteit net afbring. Daarom bly jy stil of maak of jy sing.

     

    • Geluid

    Die musikante se volume is so hoog dat die lidmate nie eers hulle eie stemme of dié van die mense om hulle kan hoor nie. Daarom sing hulle nie – hulle kan tog niks byvoeg nie. Daar is geen manier wat die gemeente se pogings deur die lawaai gaan breek nie.

     

    • Musiekkeuse

    Mense sing nie, want dikwels is die liedere onbekend of moeilik om te sing. Die lied mag nog tematies by die preek pas, maar dit is onmoontlik om dit te sing. Soms kies die aanbiddingsleier liedere geskryf deur sy gunsteling skrywer – hyself.

     

    Schultz sê dat hy hom by die meerderheid aangesluit het – hy sing nie meer nie. Hy weet hy moet hierdie hindernisse kan oorkom, maar hy verlang na ‘n omgewing wat sy deelname ontlok en waardeer.

     




    ‘n Gebed vir hoop

    One word of truth outweighs the whole world – Alexander Solzhenitsyn

     

    ‘n Gebed vir hoop

    Onthou tog u woord aan my, die woord waarop U my laat hoop het  (Psalm 119:49)

    Hierdie is die soort hoop wat ons by mense kry wat verlang na verlossing en geregtigheid en wat verlang dat God sy heerlikheid sigbaar sal maak.

     

    Scot McKnight voel dat die hoop hier volg op die teleurstelling van 119:41 – 48. Die hoop wat ons in daardie verse kry, het nie gematerialiseer nie. Die psalmis sê nie: “As God nie my gebede verhoor nie, gee Hy nie om nie,” of “God bestaan nie.” Nee, hy rig weer ‘n versoek en spreek sy hoop uit. Hy vra ook dat God sal onthou.

    God onthou ons sondes; God onthou al sy beloftes. Onthou hier beteken dat God sy beloftes op so ‘n manier sal onthou dat hulle verwesenlik sal word. ‘n Goeie voorbeeld is Hanna wat vra dat God haar nie sal vergeet nie, maar aan haar ‘n seun sal gee (1 Samuel 1:11).

     

    Die psalmis, alhoewel hy dit reeds gedoen het, herinner God aan sy toestand. Lees net verse 49 – 56: my ellende … die felle spot van hovaardige mense … die goddeloses wat u wet verontagsaam. Die psalmis glo God is oral teenwoordig. Dit weerhou hom nie daarvan om sy toestand aan God bekend te maak nie. Soos die weduwee in Lukas 18 wat aanhou vra het, vra die psalmis dat God sy beloftes moet onthou.

    Ons moet die vasberadenheid, moed en eerlikheid van die psalmis bewonder. Ontsteltenis het my oorval oor die goddeloses wat u wet verontagsaam (119:53). Hoekom?

    • Die psalmis weet dat God genadig, liefdevol, maar ook regverdig is (Psalm 11).
    • Die psalmis besef dat hy sukkel en stry om die regte dinge te doen, ten spyte van teenkanting van diegene wat veronderstel is om beter te wees.
    • (119:55)

    Die psalmis vind vertroosting, want hy het sy gedagtes van sy probleme weggeneem en vreugde in God se goedheid, trou en heerlikheid gevind.