Jesus is die Here/Jesus het opgestaan

The beginning of anxiety is the end of faith, and the beginning of true faith is the end of anxiety. —George Muller

 

Jesus is die Here/Jesus het opgestaan

Die vroeë Christene het dikwels ‘n liturgiese groet gebruik om hulle as deel van die geloofsgemeenskap te identifiseer. Daar is veral twee wat van belang was.

  • Jesus is die Here (Kyrios Iesous)

As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word (Romeine 10:9). Paulus sê ook: Niemand kan sê: “Jesus is die Here” nie, behalwe deur die Heilige Gees (1 Korintiërs 12:3)

 

 

Jesus is die Here het vir die vroeë Christene en vir Paulus as ‘n primitiewe toets van lojaliteit gedien. Die sprekers sou die teologiese en sosiologiese implikasies van so ‘n uitspraak verstaan het – absolute gehoorsaamheid aan Christus. Dit was ook dikwels die eerste woorde wat persone wat gedoop is, gesê het as hulle uit die water gekom het. Dit sê nie alleen wat Christus se identiteit is nie, maar verwerp ook die heidense aanpraak: Die keiser is here.

 

  • Jesus het opgestaan (Alethos Aneste!)

Hierdie is ‘n groet wat nog in Ortodokse kerke gebruik word wanneer twee Christene mekaar met ‘n heilige soen op Paassondag groet. Die inisieerder begin: “Jesus het opgestaan,” terwyl die ander een reageer met: “Hy het waarlik opgestaan.” Die presiese oorsprong van hierdie groet is onduidelik. Party mense verwys na Lukas 24:34, maar dit is onseker.

 

 




Maak die mense my dissipels!

The saddest thing of all is if a human being goes through life without discovering that he needs God. – Soren Kierkegaard

 

Maak die mense my dissipels!

As Jesus praat, moet ons luister. Immers: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op aarde (Matteus 28:18). Wat Hy sê is belangrik. As Hy dus sê: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels (28:19), dan moet ons dit doen.

 

Die vraag is egter: Wat beteken dit om ‘n dissipel van Jesus Christus te wees? As ons dissipels moet maak, moet ons immers weet wat dit is. ‘n Dissipel is ‘n volgeling of leerling. Dit verwys na iemand wat die weg van ‘n ander volg. ‘n Dissipel is dus iemand wat by Jesus leer om soos Hy te leef. In die evangelies kry ons ‘n portret van Jesus se lewe. Dit is waar ons moet begin as ons wil weet wat ‘n dissipel is. In die Johannes-evangelie kry ons drie perspektiewe wat mekaar aanvul oor wat dit beteken om Jesus te volg. Kom ons kyk na hierdie drie perspektiewe.

 

  • ‘n Dissipel van Jesus is ‘n aanbidder

Om Jesus te volg, beteken dat ek Hom alleen aanbid. Dit was die hart van Jesus se bediening op aarde. Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid (4:23 – 24). Soos Jesus hier vir die Samaritaanse vrou gesê het, moet ons Hom aanbid as ons Hom wil volg. Maar Hy soek ware en nie vals aanbidders nie.

 

Hierdie is die fundamentele perspektief van ‘n dissipel. Maar om ‘n eksklusiewe aanbidder van Jesus te wees, is iets wat ons huidige samelewing irriteer. Mense aanvaar Jesus, maar aanvaar nie sy eksklusiwiteit nie. Ja, Hy is ‘n morele Leermeester, ‘n Profeet, ens, maar nie eksklusief nie. Hierdie siening van Jesus is mensgemaak en nie soos ons Hom in die evangelies leer ken nie. Om Jesus te volg, beteken nie gemeenskapsbetrokkenheid en verdraagsaamheid nie. Dit beteken om Hom met blydskap in ons harte te aanbid. Om dissipels van Jesus te maak, beteken dat ons sy aanbidders bymekaar maak.

 

  • ‘n Dissipel van Jesus is ‘n dienaar

Daarna het Hy water in ‘n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het (13:5). Dit klink nie reg vir ons nie – Hy is immers die voorwerp van ons eksklusiewe aanbidding. Maar dan sê Hy vir Petrus: As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie (13:8). Jesus is ‘n dienaar. Hy het na die aarde gekom om te dien en nie om gedien te word nie.

 

Jesus sê dan vir sy dissipels: As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen (13:14 – 15). Later in dieselfde hoofstuk gee Jesus aan sy dissipels ‘n nuwe gebod: Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is (13:34 – 35). Hierdie liefde wat dissipels vir mekaar het, onderskei ons as ware dissipels van God.

 

Om ‘n dissipel van Jesus te wees, beteken om soos Hy te dien. Liefdesoptredes is ‘n kenmerk van Jesus se dissipels – al beteken dit dat ek myself verontrief. Om dissipels vir Jesus  te maak beteken om dienaars wat mekaar liefhet, te maak.

 

  • ‘n Dissipel moet van Jesus getuig

Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur (17:18). Dit beteken Jesus se dissipels is op ‘n sending – hulle is sendelinge. Hulle is bemagtig om in die wêreld as sy getuies op te tree. Jesus is met ‘n doel na die aarde gestuur: om God te openbaar en sondaars te verlos. Ons as sy dissipels en gevul met die Heilige Gees is ook met ‘n doel gestuur: om die Goeie Nuus te vertel.

 

Om ‘n dissipel van Jesus te wees, beteken dat ons mense op Hom rig. Dit beteken om die ou verhaal te vertel – die verhaal van Jesus en sy liefde sodat ander Hom kan leer ken en aanbid. ‘n Dissipel van Jesus maak dissipels vir Jesus.

 

As Jesus praat luister ons.




Hoe reik ek uit na iemand met depressie

 

The blood of Christ cannot be rendered barren and prevented from producing food – Calvyn

 

Hoe reik ek uit na iemand met depressie

Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles (1 Korintiërs 13:4 – 7).

Ons hou van hierdie woorde – dit is dalk tydens ons huwelik voorgedra. Maar wat beteken dit as ek iemand met emosionele gesondheidsprobleme in my gesin moet ondersteun? Hoe lyk 1 Korintiërs 13 in hierdie werklike – dikwels donker – lewe.

 

 

  • Erken dit. Die liefde is lankmoedig. Wat die persoon ondervind, is nie “net in sy kop” nie – dit is ‘n werklikheid. Die liefdevolste ding wat jy vir iemand met depressie kan doen, is om te wys dat jy hulle glo. Laat hulle besef dit is veilig om hulle dikwels donker gedagtes met jou te deel – jy kan vertrou word en jy het deernis met hulle.
  • Moenie beskuldig nie. Die liefde … is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Depressie is nie die gevolg van sondige besluite wat iemand geneem het nie – depressie is nie ‘n sonde nie. Daarom moet jy hulle laat verstaan dat jy hulle steeds respekteer en bewonder. Hulle moet besef jou siening van hulle het nie verander nie.
  • Luister geduldig. Die liefde is geduldig. Jy mag dieselfde storie oor en oor hoor. Moenie ongeduldig word nie. Luister aktief – geduldig. Vra vrae, nie om dit reg te maak nie, maar om dit te hoor. Wees die klankbord sodat hulle kan verwerk hoe hulle voel.
  • Hou aan met leef. Die liefde … hoop alles. Depressie is ‘n werklikheid, maar dit hoef nie elke minuut van elke dag die middelpunt van die gesin se lewe te wees nie. Behou jou daaglikse roetine en jaarlikse tradisies – behou ‘n sin van ritme en orde in jou lewe. Dit beteken nie dat jy moet maak asof niks verkeerd is nie, maar om jou familie te herinner dat die lewe steeds die moeite werd is om te leef. Lag saam.
  • Bid saam. Die liefde … verdra alles. Bid vir mense met depressie; bid saam met hulle; bid hardop. Gebed lei tot warmte en vertroue.
  • Word daaraan gewoond. Die leifde …verdra alles. Jou lewe mag verander. Jy mag 03:00 benodig word om ‘n angsaanval te kalmeer. Jy moet dalk tyd inruim om saam met jou geliefde buite in die tuin te loop; jy mag dalk die wasgoed moet doen; jy mag dalk ondersteuningsgroepe moet bywoon. Jy mag dalk meer word as wat jy gedink het moontlik is. Maar die liefde oorwin dit alles.

 

Maar waar gaan jy die innerlike krag kry om dit alles te doen? Vertrou op God. Ek moet my swakhede na Hom bring en vra vir sy krag. Ek moet erken ek kan dit nie alleen doen nie en Hom vra om my te help. God is groot – Hy stuur sy Heilige Gees om ons te vul met sy liefde, geduld, deernis, volharding en al wat jy nodig het om die persoon in haar stryd by te staan.

 

 




Hosanna

To those whom he is a Father, the church must also be a mother – Calvyn

 

Hosanna

Hossana = red ons Here

 

Min kerkgangers verstaan die geskiedkundige en teologiese implikasies van die woord. Ons kry die woord hosanna die eerste keer as ‘n pleidooi vir redding in die Psalms. ‘n Voorbeeld is Psalm 118:25: Red tog, Here, gee tog voorspoed, Here! Voorspoed hier verwys waarskynlik na oorwinning in ‘n oorlog.

Kort voor Jesus Christus se koms kry die woord hosanna ‘n duidelike Messiaanse verbintenis – die pleidooi vir redding word die uitdrukking van die gemeenskap se verlange na die beloofde Koning van Israel. Hosanna word nou die kollektiewe uitroep van die Judeërs na die hemel vir redding van die onderdrukkers – soos die Romeinse Ryk. Hierdie Messiaanse konteks skep die toneel vir die evangelieskrywers – hulle skilder Jesus as die gesalfde Messias van God.

In die vroeë Christelike kerk word die woord gebruik in aanbidding wat verband hou met die nagmaal – ‘n openbare bevestiging dat Jesus Christus inderdaad die rol van God se Messias vervul het. Hy sou sonder enige twyfel God se mense van hulle sondes verlos. In die Didagé (een van die oudste boeke van die vroeë Christelike kerk geskryf iewers tussen 100 en 150) word hosanna saam met amen en marana ta gebruik as deel van die lofprysing tydens die nagmaal.