Roep jy ander om hulle te bekeer

For the things we have to learn before we can do them, we learn by doing them.” ― Aristoteles, The Nicomachean Ethics

 

 Roep jy ander om hulle te bekeer

Christene word nie alleen opgeroep om hulle te bekeer nie, maar word ook opgeroep om ander op te roep om hulle te bekeer. Dit is ‘n baie moeilike taak. Hoe benader ons iemand wat sonde doen op so ‘n manier dat hy homself sal verander? Hier is ‘n paar riglyne.

  • ‘n Nederige benadering. Onthou ons is ook sondaars. Voor jy iemand oor sy sonde teregwys, moet ons onsself eers oor ons eie sonde teregwys.
  • ‘n Sagte benadering. Benader so ‘n persoon nederig, saggies en liefdevol. Benader die onderwerp in die konteks van die evangelie van genade en ons eie behoefte en ondervinding.
  • ‘n Hoopvolle benadering. Maak nie saak hoe lank, diep, hoog of wyd die sonde is nie die evangelie is langer, dieper, hoër en wyer. Die persoon moet sien dat God die ernstigste sondes deur die evangelie kan oorwin.
  • ‘n Bybelse benadering. Vermy woorde soos “Ek dink … na my mening … Ek stem nie saam nie.” Gebruik eerder woorde soos: “Die Bybel sê … die Skrif is duidelik.”
  • ‘n Godgesentreerde benadering. Ons kan nie iemand regmaak nie; net God kan. Wys die sondaar weg van jouself na God se oppermag (Hy is in beheer); God se heiligheid (ons model en motief); God se wysheid (Hy ken die oplossings); God se mag (veral as jy self magteloos voel); God se liefde (sy bereidwilligheid om te vergewe, genees, aanvaar en te herstel); God se geregtigheid.
  • ‘n Realistiese benadering. Wees realisties oor die sonde – noem dit wat dit is. Moenie dit afwater nie. Wees realisties oor tyd – ‘n mens verander nie sommer onmiddelik nie. Wees realisties oor die probleme – daar gaan weerstand, mislukking, teleurstellings en pyn wees.
  • ‘n Wyse benadering. Kies die regte plek – nie ‘n besige restaurant nie; kies die regte tyd (genoeg, nie te laat nie, nie te besig of gespanne nie.) Kies die regte woorde – neem die persoon se wêreld, woordeskat en opvoeding in ag.
  • ‘n Benadering wat vrae vra. Vra – moenie aankla nie. Kry die persoon om self die nodige gevolgtrekkings te maak.
  • ‘n Benadering in gebed. Bid sonder ophou – voor, tydens en na die gesprek. Bid vir en met die persoon.

 

Hierdie is ‘n paar riglyne wat mag help.

                                                




Marana ta

 

In my deepest wound I saw your glory, and it dazzled me – Augustinus

Marana ta

As iemand die Here nie liefhet nie – vervloek is hy! Marana ta – kom Here (1 Korintiërs 16:22)

Die woorde Marana ta word vandag selde in die kerk gebruik, maar in die vroeë kerk was dit redelik algemeen gebruik. Die woord is van Aramese oorsprong en die betekenis is nie heeltemal duidelik nie. Hier is drie moontlikhede:

  • ‘n Gebed Here kom. Dit is ‘n versoek vir Christus se wederkoms.
  • ‘n Belydenis ons Here het gekom. Dit verwys na Jesus se menswording.
  • ‘n Stelling ons Here is nou teenwoordig. Dit is byvoorbeeld tydens aanbidding, maar veral tydens nagmaal.

In die antieke Christelike literatuur volg dit dikwels na ‘n dreigement of ‘n vloek teen verkeerde optrede. Die implikasie is dat dit gebruik word om te beklemtoon dat ons Here is hier. Daarom moet ons ons goed gedra om die dreigement of vloek te vermy.

Marana ta word net in 1 Korintiërs 16:22 eksplisiet in die Bybel gebruik. Hier gebruik Paulus dit onmiddellik na ‘n vloek: As iemand die Here nie liefhet nie – vervloek is hy!

Is dit nie dalk tyd om Marana ta meer dikwels te gebruik nie?




Is Satan oorwin?

Christians are not made in a laboratory, but in a community called the church – Pous Franciskus

 

Is Satan oorwin?

Die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu (2 Petrus 5:8). In watter sin is hy dan vernietig (Hebreërs 2:14), ontwapen (Kolossense 2:15) of vasgebind (Markus 3:27)? Een van die gedeeltes in die Bybel wat dit wat deur Jesus se kruisdood bereik is baie goed beskrywe, is Kolossense 2:13 – 15. John Piper sê dat die sleutelvraag die verhouding tussen Satan se ontwapening (vers 15), die vergifnis van sonde (vers 13b) en ons nuwe lewe (vers 13a) is.

 

 

Hoe word ons vergewe?

Julle was dood deurdat julle gesondig het (13a), maar God het ons lewend gemaak  deurdat Hy al ons sondes vergewe het. Hier is dus ‘n verbintenis tussen vergifnis en ons nuwe lewe. Sonde is ons doodsvonnis.

 

Paulus beskryf hier drie stappe oor hoe ons oortredings vergewe word.

  • Jesus het ons sondes aan die kruis vasgespyker en dit vir goed weggeneem (vers 14).
  • Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak (vers 14) – Hy het dit letterlik uitgevee. Daar is nou geen rekord meer van ons skuld nie.
  • Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. Hy is aan die kruis vasgespyker en so is ons skuldbewys vernietig.

So vergewe Hy al ons sondes (vers 13c). Dit is hoe Hy dit gedoen het en teen watter koste Hy dit gedoen het.

 

As gevolg van dievergifnis van al ons sondes kry ons ‘n nuwe lewe. Ons was dood as gevolg van ons sondes. Die nuwe lewe wat Christus bring, is vry van vrees en veroordeling van ons sondes. Maar wat dan van Satan en die magte en gesagte wat hy beheer? Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer (vers 15). Paulus verwag nie ons moet presies weet hoe Christus dit gedoen het nie – ons moet dit net aanvaar en glo.

 

Satan het dus nou geen gronde om ons verder te vervolg nie. Die skuldbewys is skoongevee. Satan is nog nie in die poel van vuur en swael gegooi nie (Openbaring 20:1); hy loop nog rond soos ‘n brullende leeu, maar sy mag om te veroordeel is weg. Hy is ontwapen; hy het geen saak meer teen ons nie.

 

Die nuwe lewe beteken dat ons nie meer die toorn van God of die beskuldigings van Satan hoef te vrees nie. Ons vryheid van beide van hierdie vrese is deur Jesus Christus se kruisdood verkry. Die rekord van ons skuld wat aan Satan die mag om te veroordeel en aan God die verpligting vir regverdige straf gegee het, is deur die bloed van Jesus uitgevee.

In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop (1 Petrus 1:3). Leef in die vreugde van hierdie hoop. Weerstaan die duiwel met hierdie hoop. Nader God se genadetroon met hierdie hoop. Ons het ‘n nuwe lewe.

 




Vrygewigheid en Gasvryheid

 

How I wish everyone had decent work! It is essential for human dignity – Pous Franciskus

 

Vrygewigheid en Gasvryheid

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Die oorvloed wat God voorsien, is die teken dat ons nie alles self kan gebruik nie, maar met ander moet deel. Daarom moet ons bedag wees op die behoeftes om ons. As ons dink aan vrygewigheid dink ons onmiddellik aan geld. Natuurlik is geld belangrik, maar geld skep ‘n afstand tussen gewer en ontvanger. Een van die intiemste vorms van vrygewigheid is gasvryheid. Daar deel ons ons huis, tafel en onsself met ander.

 

Gasvryheid was ‘n belangrike kenmerk van die mense van die Ou Testament: Wanneer daar ‘n vreemdeling by julle in die land woon, mag julle hom nie onderdruk nie. Julle moet hom soos ‘n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte (Levitikus 19:33 – 34). Israel moes die kwesbare vreemdeling in hulle land simpatiek behandel. Wat gasvryheid in die vroeë Christelike kerk uniek gemaak het, was dat dit mense ingesluit het wat nie die vermoë gehad het om terug te betaal nie.

Lukas 13: Jesus eet in die huis van ‘n vooraanstaande Fariseër. Dit was die sabbatdag. Hy vertel vir hulle ‘n paar gelykenisse. Hy begin met ‘n gelykenis oor bekeidenheid waarin Hy hulle waarsku om nie sommer die voorste plek by ‘n bruilofsfees in te neem nie. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.

Daarna praat hy met die gasheer en sê vir hom: nee, as jy ‘n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes.Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het. Daarna vertel Jesus die gelykenis van die groot maaltyd.

Spandeer ons as Christene nie te veel tyd om te besluit wie kan uitgenooi word na die feesmaaltyd nie? Ons verantwoordelikheid, en voorreg, behoort te wees om nog stoele nader te trek om plek vir meer mense te maak. Is dit ook ons prioriteit om soos Jesus saam met ons bure te eet en te ontspan?

Die kerngedeelte oor gasvryheid is sekerlik Matteus 25:34 – 40. Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen. God is gasvry teenoor ons en ons moet gasvry teenoor Hom wees deur te sorg vir sy kinders wat kwesbaar is. Moeder Teresa het dit letterlik opgeneem: I see Jesus in every human being. I say to myself, this is hungry Jesus, I must feed him. This is sick Jesus. This one has leprosy or gangrene; I must wash him and tend to him. I saw because I love Jesus.

In die vroeë kerk was gasvryheid ‘n toets van karakter en ‘n vereiste vir leierskap.

So baie van ons moderne gasvryheid is geprivatiseer – dit word deur welsynsorganisasies, die kerk en die staat gedoen. Natuurlik speel hulle ‘n belangrike rol, maar dit verplaas persoon-tot-persoon gasvryheid. Hulle sorg is ook dikwels gespesialiseerd – hulle fokus op een probleem –  en nie holisties nie. Gasvryheid is nie onpersoonlike welsyn nie. Dit is om in ander die beeld van God raak te sien, om met hulle te verbind en aan hulle ruimte en sekuriteit te gee. Christelike gasvryheid beteken dat ons voorspelbaarheid en beheer oorgee, want God kom tussen ons op verrassende en vreemde maniere wat ons nooit te volle kan voorspel nie.

Aan wie moet ons gasvryheid bewys? Aan ons vriende en dié wat ons kan terugbetaal? Beslis, maar ook aan alle mense wat God op ons pad plaas.