Ons afkeer aan lyding

Without the heart it’s not worship, it’s a stage play. —Stephen Charnock

Ons afkeer aan lyding

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Ons toewyding aan spoed, ons afhanklikheid van arbeidsbesparende toestelle en tegnieke bring sekere vrae na vore:

Hoekom bespaar ons arbeid?

Watter soort ruimte skep ons in ons lewens deur arbeid uit te skakel? Wat gaan ons met daardie ruimte doen? Ledig wees? Ondermyn ons nie die geleenthede vir goeie werk goed gedoen nie?

 

Die mens is geskep om te werk. Vandag is daar spanning tussen goeie werk goed gedoen en die gevolge van oorwerk – tussen die goedheid en noodsaaklikheid van werk  en ons roeping as mense van God in ‘n sabbatslewe.

Die Westerse kultuur met al sy tegnologiese grootsheid het ‘n obsessie om lyding te oorkom. Natuurlik is daar sekere soorte lyding wat oorkom moet word as ons daartoe in staat is, maar ons roeping is deernis – om saam te ly. Ongelukkig het ons ‘n kultuur geskep wat lyding vermy. Nog erger: ons het die vermoë en gewilligheid om saam met ander te ly, verloor. Ons is nie meer saam met die mense wat huil nie. Ons is nie meer bereid om stadiger voort te gaan om by diegene wat alleen huil, te wees nie. Daarom is daar so baie mense wat in stilte en alleen ly – sonder enige menslike kontak.

Ons vermyding van lyding water ons getuienis van Jesus Christus, wat ons lyding in liefde op Homself geneem het, af. As ons nie meer kan deel in die lyding van medegelowiges en ons bure nie, is die Christus wat ons in ons buurt beliggaam ‘n vlak verwringing van dié Jesus wat ons in die Skrif raakloop. Die vermyding van lyding beteken dat ons kortpaaie neem wat ons wegstuur van menslike lyding, moeilike situasies en mense wat seer het. Mense wat siek of haweloos is, het mense wat saam met hulle as vriende sal loop nodig om hulle laste te help dra. Dit vereis baie van ons. Ons geloofsgemeenskappe gee aan mense in nood kos, klere en geld … en dan laat ons hulle verder op hulle pad … alleen.

Geduld is hoe deernis in ons lewens beliggaam word. Maar geduld is nie passiewe wag nie. Geduld beteken nie dat noodsaaklike verandering in die gemeente vermy word nie. Geduld beteken om aktief by die lewe betrokke te raak en om die lyding in en om ons te dra. Jy kan nie die lyding van ander hanteer soner om self deel daarvan te word nie. Die pad na genesing en versoening is die geduldige deernisvolle weg van Jesus Christus.

Geduld het ‘n vormingswaarde in die vroeë kerk gehad. Die kerkvaders het heelwat daaroor geskryf. Vir hulle was geduld langstaande lyding. Dit is wat hulle in die lewe, lyding, sterwe en opstanding van Jesus Christus gesien het – dit is beter om te ly as om skade te berokken. Hulle het vas geglo dat God ‘n nuwe familie, ‘n geloofsgemeenskap onder een Vader, geskep het. Hierdie gemeenskap het saam die moeilike pad van dissipelskap geloop en mekaar se laste gedra.  Tertullianus sê dat geduld en liefde waardes is wat na aan mekaar staan. Die eerste beskrywing van die liefde in 1 Korintiërs 13 is: Die liefde is geduldig.

Moderne gemeentes moet langstaande lyding weer ontdek. Ons moet getuies wees van die deernisvolle liefde van Jesus.

Hoe kan ons geduld in die plaaslike gemeente leer? Daarna kyk ons volgende keer.




Die geduldige mense van God

There is a big difference between an eager man who wants to read a book and a tired man who wants a book to read –  G. K. Chesterton

Die geduldige mense van God

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Ek is die weg en die waarheid en die lewe (Johannes 14:6). Wat beteken dit as ek sê dat Jesus die weg is?

Ons gemeentes moet die beliggaming van Jesus Christus wees en is noodsaaklik vir God se werk in hierdie wêreld. Gemeentes is die primêre weg waardeeur Christus se volgelinge in hierdie wêreld moet werk. Kloostergemeenskappe beskou die uitdaging om  die weg van Christus te beliggaam ernstig op – op hulle besondere plekke. Om die lewe saam as gemeenskap te leef en nie die gemeente as ‘n weeklikse bymekaarkomplek vir individue te beskou nie, moet elke faset van die lewe –  huis, werk, aanbidding, ens –  ondersoek word om seker te maak dit voldoen aan die versoenende weg van Jesus Christus. Ons moet Jesus Christus saam op ‘n spesifieke plek beliggaam.

 

Om Jesus Christus te volg daag ons uit om aandag te gee aan God se versoeningswerk met sy hele skepping. Ons het ruimte in ons gemeentes nodig waar ons saam hierdie rigting kan bespreek en onderskei. Ons besluite moet aandag gee aan God se liefde vir en versoening met die hele skepping

Ons moet al Jesus Christus se onderrig ernstig opneem – selfs om jou ander wang te draai, jou vyand lief te hê, jou kledingstukke met ander te deel, ens. Oppas as ons eers begin rasionaliseer oor wat ons maar kan uitlaat. Ons moet ‘n diep kennis hê van wie Jesus was en wat Hy vir ons geleer het. Ons moet die Bybelverse oor versoening in ons gemeentes bespreek, sodat ons Jesus Christus beter kan ken.

Ons maak aanspraak daarop dat ons Jesus Christus volg, maar die manier waarop ons getuig van sy versoeningswerk lyk nie juis soos die manier wat Jesus Christus geleef het nie. Ons moet Jesus se weg volg al is dit ongemaklik – al lyk dit onmoontlik. Maar dan moet ons bely dat ons toegegee het aan die Westerse kultuur van ongeduld. Ons moet ons weer in ons plaaslike gemeentes aan God onderwerp. Daar moet ons leer om in sy weg te volg – met deernis en geduld.

Volgende keer begin ons kyk na die tweede beginsel van die stadige kerk: ekologie.




Hoe hanteer ek ontmoediging?

Remember, that man is not the master of that book, but the interpreter of that book – Lord Bacon oor die boek van die natuur

Hoe hanteer ek ontmoediging?

As ek ontmoedig is, voel dit asof ek ‘n swaar gewig op my skouers dra. Ek werk moeilik; die vreugde verdwyn uit my lewe. Voortdurende kritiek het ‘n invloed oor hoe ek oor myself voel; soms kan ek nie voldoen aan die onrealistiese hoë verwagtings wat ek aan myself stel nie. Hierby kan ons nog finansiële druk, gesondheidsprobleme en stukkende verhoudings voeg. Alles kan my ontmoedig laat.

 

 

Hoe hanteer ons dit? Hier kan ons ‘n belangrike les by Nehemia leer. Hy was ‘n Jood wat in Persië gewoon het. Hy was die koning se skinker. Ganani, een van sy medeamptenare, het daar aangekom uit Juda. Hulle vertel vir Nehemia van die haglike omstandighede in Jerusalem en die lot van die Jode wat daar gewoon het. By die aanhoor van hierdie woorde het ek gaan sit en gehuil en dae lank getreur. Hy was diep geraak. Maar dan: Ek het gevas en tot die God van die hemel gebid. Hy het besef dat net God die omstandighede in Jerusalem kan verander.

 

As ons mismoedig is, moet ons eerste prioriteit, soos dié van Nehemia, wees om na God te roep. In sy gebed prys Nehemia God se karakter (groot en ontsagwekkend), hy  bely sy sondes en die sondes van ander, herroep God se beloftes en lê sy pleidooi voor God.

 

Ons moet Nehemia se voorbeeld volg en ons teleurstellings na God toe neem.

 

 

 




Gasvryheid en vrygewigheid

 

The greatest good suffering can do for me is to increase my capacity for God.—Joni Erickson Tada

Gasvryheid en vrygewigheid

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Ons stabiliteit moet deur gasvryheid en vrygewigheid gekenmerk word. Twee  van die grootste bedreigings vir stabiliteit is:

  • Ons sien onsself as meerderwaardig teenoor diegene wat nuut in ons plek is – veral diegene wat nie daar is uit eie keuse nie; en
  • Ons gebruik die feit dat ons lank reeds daar is om rykdom en mag bymekaar te maak.

Christelike gasvryheid verplig ons om alle vreemdelinge te verwelkom – maak nie saak hoe hulle by ons uitgekom het nie en hoe lank hulle gaan bly nie. Om die gewoonte van vrygewigheid – die deel van hulpbronne wat God vir ons gegee het – aan te leer, bewys vir ons dat stabiliteit nie ‘n manier is om status te bekom nie. Stabiliteit is altyd geörienteer vir die gesondheid en vooruitgang van ons plek. Dit is nooit ‘n doel in sigself nie. Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam en almal afsonderlik lede van mekaar (Romeine 12:5).

Romeine 12:9 – 13 gee vorm en rigting aan ons lewens saam. Ons gemeentes moet ‘n middel wees waardeur God se genesende liefde uitgestort word in ons spesifieke plekke. Ons vreugde, hoop, geduld, vrygewigheid, gasvryheid, nederigheid en vredeliewendheid is die gawes van God wat oor ‘n lang tyd ontwikkel is. In vandag se wêreld is daar dikwels ‘n misplaasde verlange na liefde of dwelms of ‘n soeke na geluk. As ons in Christus woon, dra ons goeie vrugte wat die honger wêreld voed.

Hierdie vrugte is sappiger as ons in ‘n plek en in ‘n geloofsgemeenskap gewortel bly. As ons gemeentes inderdaad manifestasies van Christus se liggaam is en as ons as individue in Christus woon, moet ons wortels in ‘n geloofsgemeenskap wees. Gemeenskappe en plekke is nie irrelevant nie Hulle is in God se diverse skepping ingeweef en is noodsaaklik vir versoening.

Nog ‘n vereiste vir stabiliteit is dat ons deel word van die lyding van ander.