Ek soek God se wil

Little learning and much pride come of hasty reading. —C.H. Spurgeon

 

Ek soek God se wil

Wat is God se wil vir my lewe? Dit is ‘n vraag waarmee baie van ons worstel. Ons word bang as ons aan ons toekomsplanne dink. Hoe weet ek wat is die regte besluit? Ons glo dat as ons net lank genoeg en hard genoeg soek, sal ons weet wat om te doen.

 In sy boek Just Do Something sê Kevin DeYoung dat ons nooit God se wil vir ons toekoms sal kry nie. Wat hy sê, is:  ons is vry van die las om God se plan te probeer vasstel voor die tyd. Die lewe is nie ‘n doolhof wat ons moet navigeer om by die eindpunt uit te kom nie. Nee. God vra dat ons Hom om al die draaie moet vertrou. Ja, God is in beheer van my lewe; Hy het spesifieke planne vir my toekoms, maar Hy verwag nie dat ek al die besonderhede van sy plan moet ken voor ek daar kom nie. Dit is nutteloos om na iets te soek wat God nie wil openbaar nie.

 

 

Hoekom weerhou God sy planne van ons? ‘n Onbekende toekoms lei tot geloof in ‘n bekende God. As ek elke stap en besonderheid van my lewe vorentoe geken het, was dit nie nodig vir my om te glo nie. God het nie net ‘n unieke plan vir jou lewe nie, maar Hy wil hê dat jy Hom moet vertrou. God gee aan ons meer as wat ons op ons eie kan hanteer, sodat ons kan besef dat ons sy hulp nodig het. Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop (Spreuke 3:5 – 6). In plaas van bid dat ons God se wil sal ken, moet ons eerder bid dat ons op sy leiding sal vertrou.

 

Ons dink aan God se wil vir ons lewe in terme van die toekoms. God wil egter hê dat ons Hom nou en hier moet soek en verheerlik. God se wil is dat jy meer soos Jesus Christus sal wees en Hom sal verheerlik. Hy wil ons hart en denke verander. As God aan ons ‘n nuwe hart gegee het wat begeer wat Hy begeer, sal ons besluite by sy plan inpas. Ons werk deur hierdie besluite met die wysheid wat Hy aan ons deur sy Gees gee.

 

Ons is so vasgevang in ons soeke vir God se verborge plan vir ons dat ons skoon van die passie en begeertes wat Hy aan ons gegee het, vergeet.

Kry die passies en begeertes wat God aan jou gee en volg hulle.

Neem jou besluite en staan vas in hulle.

Vertrou God – Hy is groter as jou taak en baie groter as jou bekommernis oor die toekoms.

 




God is oppermagtig oor al die nasies (4)

 

Any theology that does not lead to song is, at a fundamental level, a flawed theology. —J.I. Packer

God is oppermagtig oor al die nasies (4)

In Jesaja 13 – 20, ‘n gedeelte wat ons gewoonlik vinnig lees, is daar drie primêre waarhede wat Jesaja beklemtoon. Vandag kyk ons na die derde van hierdie waarhede:Kyk na Hom.

Die belangrikste besluite word nie in Pretoria of Kaapstad geneem nie, maar in die hemel. Daardie dag sal die mens weer sy hoop op sy Maker vestig, sy hulp van die Heilige van Israel verwag. Hy sal nie meer sy hoop vestig op die altare, die werk van sy eie hande nie (17:7 – 8). Onmiddellik moet ons een gevolgtrekking maak: In hierdie wêreld is daar vir ons geen sekuriteit nie – ons sekuriteit is by God. Daarom moet ons nie op mense vertrou nie, maar op God alleen.

Ons moet ophou om ons hoop te plaas op dit wat ons kan doen.

Ons moet alles wat onverenigbaar met Hom is, verwerp – die altare vir afgode in ons hart. God roep ons om in geloof te leef. Enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof (1 Johannes 5:4). Oorwin ons die wêreld of oorwin die wêreld vir ons? God roep ons op tot geloof wat die wêreld sal oorwin, want Hy heers oor die nasies. Wat meer kan ons vra as dat ons God by die wêreld betrokke is.

Gaan ons op God se oppermag en geregtigheid vertrou – reg nou in ‘n deurmekaar wêreld? Laat Hy ons stabiliseer met daardie dinge wat die wêreld nooit aan ons kan gee en van ons kan wegneem nie.




God is oppermagtig oor al die nasies (3)

The world is never won by trimming, and compromising, by facing both ways, and trying to please all –  J. C. Ryle

God is oppermagtig oor al die nasies (3)

In Jesaja 13 – 20, ‘n gedeelte wat ons gewoonlik vinnig lees, is daar drie primêre waarhede wat Jesaja beklemtoon. Vandag kyk ons na die tweede van hierdie waarhede:God regeer.  

Soos Ek my voorgeneem het, so sal dit wees, wat Ek besluit het, sal gebeur … Dit is die besluit wat vir die hele aarde geneem is, my hand is klaar uitgesteek teen al die nasies om hulle te oordeel. Die Here die Almagtige het dit besluit ; wie kan dit verydel? Sy hand is uitgesteek; wie sal die oordeel kan afweer? (14:24 – 27). Ons is in God se hande; Hy is betrokke by ons wêreld – nou. God se hand is in die wêreld aan die werk. Ons kan nie sy hand wegdraai nie. Let op: Die Here die Almagtige het besluit. Ons moet nou besluit: Praat God die waarheid of jok Hy vir ons?

 

As ons besluit dat God opreg is, moet ons sy woord glo en gehoorsaam en Hom onder alle omstandighede vertrou. God se finale doel met die mens is nie oordeel nie, maar verlossing. Die Here die Almagtige sal hulle seën en sê: Geseënd is my volk Egipte, geseënd is Assirië wat deur My geskep is, en geseënd is Israel, my eiendom (19:25).

In die volgende blog gaan ons na Jesaja se derde primêre waarheid kyk: Kyk na Hom.




God is oppermagtig oor al die nasies (2)

Let us believe whatever they can show us out of the Bible, but not a single word more –  J. C. Ryle

God is oppermagtig oor al die nasies (2)

In Jesaja 13 – 20, ‘n gedeelte wat ons gewoonlik vinnig lees, is daar drie primêre waarhede wat Jesaja beklemtoon. Vandag kyk ons na die eerste van hierdie waarhede:God is teen die hoogmoediges.

 

Hierdie is die grootste sonde van die mens. Ons het gehoor van die hoogmoed van Moab, van sy trots, sy vermetelheid, sy hoogmoed, sy hovaardigheid, maar sy grootpratery het tot niks gelei nieI (16:6). Jesaja gebruik vier woorde om Moab se trots te beskryf.

In vers 5 lees ons van trou … betroubaar … beywer vir wat reg is … reg laat geskied.  Moab kon dit alles gehad het, maar dan moes hulle in nederigheid voor God kom. Vir hulle was die prys net te hoog.

Wat sien God in die hart van die koning van Assirië? En dit is jy, jy wat gedink het: ek klim op hemel toe … ek word soos die Allerhoogste self (14:13 – 14). Kry ons nie nog steeds die selfde in ons wêreld nie? Dink ons nie te veel van onsself nie? Glo ons nie ons is op sekere dinge geregtig nie? Jesaja sê dat trots nie beperk is tot ‘n paar mense nie – dit is die gees van ons wêreld. Self-worship is the religion of mankind (Arnold Toynbee).

Ons weiering om in nederigheid voor God te kom, is die kern van sonde. Dit is die begin van al die misplaasde pogings om onsself te red. In die Magnificat sê Maria: Kragtige dade het Hy met sy arm verrig: hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy uitmekaargejaag; maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog (Lukas 1:51 – 52). Jesus stel dit baie sterk: Wat deur die mense as belangrik beskou word, is ‘n gruwel voor God (Lukas 16:15).

Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges (Romeine 12:16). As ons wêreldvrede wil hê, is dit waar ons moet begin. Jesus sê: Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang (Matteus 5:5). Nederigheid is die gees van Jesus Christus en trots die gees van die antichris.

In die volgende blog gaan ons na die tweede primêre waarheid wat Jesaja in Hoofstuk 12 – 20 beklemtoon, kyk: God regeer.