Ek kan nie bid nie

blbog150cS / FLICKR

There are times when God asks nothing of his children except silence, patience and tears. —Charles Seymour Robinson

 

Ek kan nie bid nie

Almal van ons het al die ondervindig gehad dat ons gaan kniel, ons oë toemaak, maar nie kan bid nie. Dinge wil net nie vloei nie. Een oplossing is om die Skrif te bid. Goed en wel, maar watter gedeeltes uit die Skrif? Daar is baie gebede in die Bybel. Daar is baie krag in hierdie gebede – net soos daar was toe hulle die eerste keer gebid is. Dit is goed om van hulle te memoriseer en gereeld te bid.

 

Hier is vyf kragtige gebede wat ons in ons stiltetyd kan insluit.

 

  • Moses se gebed: Eksodus 33:13

As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag.

Nadat God byna die Israeliete vernietig het omdat hulle die goue kalf aanbid het, praat Moses met God oor sy posisie as leier. Hy wil graag doen wat God van hom verwag – iets wat vir elke gelowige van groot belang is.

 

  • Paulus bid vir gelowiges: Filippense 1:9 – 11

Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.

Hierdie is ‘n gebed wat ek ook vir ander gelowiges kan bid – dat hulle liefde sal toeneem. Ek moet net nie van myself vergeet nie.

 

  • Gebed vir leiding: Psalm 51:1 – 8

Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid, na aanleiding daarvan 2dat die profeet Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel met Batseba.

3Wees my genadig, o God, in u troue liefde,

wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid!

4Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde!

5Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus.

6Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.

U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig.

7Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.

8Maar U verwag opregtheid diep in ’n mens se hart:

laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe.

Hierdie is ‘n kragtige gebed wat verkondig hoe God se karakter, heiligheid en geregtigheid ‘n reguit pad vir ons uitlê.

  • Jona se gebed van danksegging en toewyding: Jona 2:2 – 9

1Daar binne-in die vis het Jona tot die Here, sy God, gebid:

23U het my in die diepte van die see laat gooi, ek het gesink tot onder op die bodem van die see. Daar was waterstrome reg rondom my, een brander na die ander het oor my gebreek. 4Ek het gedink ek is van U afgesny, ek sal nooit weer by u tempel kan kom nie. 5Reg rondom my was daar water, die water het my vasgevang, seegras het om my kop vasgedraai. 6Ek het gesink tot waar die fondamente van die berge is, ek het afgesak tot waar die hekke vir altyd agter jou toegaan wanneer jy in die plek van die dooies ingaan. Maar U het my van daaronder opgetrek terug na die lewe toe, Here my God. 7Toe ek heeltemal uitgeput was, het ek aan die Here gedink, my gebed het opgestyg tot waar U in u blyplek is. 8Dié wat aan nuttelose afgode vashou, laat die Here los wat vir hulle so lief is. 9Ek sal met ’n danklied op my lippe vir U offers bring, wat ek vir U beloof het, sal ek met graagte vir U gee. Dit is net die Here wat ons kan red.” (Die Boodskap)

Jona onthou God se verlossende liefde en bevestig sy toewyding om Hom te dien.

 

  • Jesus leer ons hoe om te bid: Matteus 6:9 – 13

So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied net soos in die hemel. Gee ons vadag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in die versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose

Welbekend, maar ons moet dit nooit ignoreer nie

 

Hierdie is enkele voorbeelde wat mag help as ek die dag sukkel om te bid.




Die Groot Opdrag van Matteus 28

Profanity is the use of strong words by weak people. —William A. Ward

 

Die Groot Opdrag van Matteus 28

Chuck Lawless sê dat in al sy jare van konsultasiewerk in die kerk het geen gemeente nog ooit vir hom gesê dat hulle nie die groot opdrag wil uitvoer nie. Baie gemeentes verkondig die Groot Opdrag, maar kom nooit daarby uit nie. Hoekom nie?

  • Kerkleiers praat die taal, maar laat nie die tekste “insink” nie

Hulle praat van die Groot Opdrag, want die Bybel beveel dit (Matteus 28:18 – 20; Markus 16:15; Lukas 24:45 – 47; Johannes 20:21; Handelinge 1:8). Leiers praat hieroor uit gewoonte en nie omdat hulle entoesiasties is daaroor nie. As ons die boodskap verkondig sonder om die opdrag uit te voer, is dit nog nie deel van ons hart nie.

 

  • Leiers is nie toegewy aan die taak nie

Geen gemeente sal ernstig aan die opdrag toegewy wees as die leiers nie daaraan toegewy is nie. Dit is meer as net verkondiging van die boodskap.

  • Gemeentes sien die Groot Opdrag as die taak van voltydse amptenare soos leraars en sendelinge

Hierdie siening weerspieël die problematiese verskil tussen leraars en vrywilligers in ons kerke. Kerkleiers is ook soms skuldig – hulle maak nie dissipels nie en delegeer nie verantwoordelikhede nie

  • Gemeentes glo nie werklik dat ongelowiges verlore is nie

Die teologie wat baie lidmate aanhang, vereis nie dat die evangelie buite die kerkmure uitgedra moet word nie.

  • Sommige leiers is tevrede met gedeeltelike gehoorsaamheid aan die Groot Opdrag

Wat vereis die Opdrag? Maak die mense my dissipels, doop hulle, leer hulle gehoorsaamheid, bereik die nasies. Sommige gemeentes fokus op dissipelskap, maar gee nie aandag aan evangelisasie nie. Ander doen die teenoorgestelde. Gedeeltelike gehoorsaamheid beteken ongehoorsaamheid op ‘n ander gebied.

  • Gemeentes vertel vir lidmate van die Opdrag, maar leer hulle nie hoe nie

Ons sê mense moet die evangelie met ander deel, maar ons sê nie vir hulle hoe nie. Ons versker nie mense dat ons hulle sal oplei en ondersteun nie.

  • Lidmate sien nie die wêreld om hulle raak nie

Die wêreld is om ons – ons bure, die mense saam met wie ons werk … Ons sien nie die geleenthede om ons raak nie.

  • Gemeentes verwar die “steel” van skape met die Groot Opdrag

Om lidmate heen en weer tussen gemeentes te skuif, is nie noodwendig altyd sleg nie, maar dit is nie evangelisasie nie. As ‘n gemeente nie ongelowiges bereik, hulle doop en hulle leer om Jesus se opdragte te gehoorsaam nie, is hulle nie besig met die Groot Opdrag nie.

 

Geld baie hiervan nie vir my en jou gemeente nie?




Besluite, besluite

“Listen to no man who has not listened to God.” –  A.W. Tozer

 

Besluite, besluite

Om besluite te neem, is een van die moeilikste dinge om te doen. Ons bid, ons sweet, ons lê wakker, ons huil. Hoekom hierdie vrees, slapelose nagte? Onsekerheid. Waarheen gaan ons besluite ons lei?

Ons wil onsself teen die verkeerde besluite beskerm – eintlik van die gevolge van ons verkeerde besluite. Ons wil nie net die opsies sien nie, maar die gevolge van elke opsie. As ek maar net toegang tot die toekoms kon kry.

 

 

God gee nie vir ons ‘n kykie op die eindstreep nie. Hy kon as Hy wou: Ek kondig vantevore aan wat later sou kom, lank vantevore al wat nog nie gebeur het nie (Jesaja 46:10). Nee, Hy doen iets beter: Hy gee vir ons ‘n blik op Homself. Ons hoef nie te weet wat in die toekoms gaan gebeur nie, want ons ken Hom wat die toekoms in sy hand hou. As ons die toekoms kon sien, sou ons nie meer vir Hom raaksien nie. As al wat ons sien God is, moet ons Hom vertrou.

 

God wys Hom aan ons as die almagtige, alwetende God wat vir ons en nie teen ons is nie. Hy wys vir ons dat Hy meer aan ons toegewy is as ons aan Hom. Hy belowe dat Hy ons nooit alleen sal laat nie en dat Hy tot aan die einde sal vasstaan. Hy verander nie; niks kan Hom dwarsboom nie. Hy sê: Moenie na die toekoms kyk nie, kyk na My.

 

Besluite is moeilik, want ons vertrou nie vir God met die gevolge van ons besluite nie. Ons plaas ons hoop op ‘n toekomsvisie en nie op Hom wat die toekoms in sy hand hou nie. My vertroue om besluite te neem hou direk verband met my vertroue in God self.




Die Christelike geloof versprei vinnig

Are you too bad to receive grace? How could you be too bad to receive what is for the bad? —David Powlison

 

Die Christelike geloof versprei vinnig

is Professor in Nuwe Testament en die Vroeë Christendom aan die Universiteit van Notre Dame. Sy het op CNN se Belief Blog ‘n artikel oor ‘n ernstige siekte in Egipte geskryf.

 

Argeoloë in Egipte het onlangs oorblyfsels opgegrawe van ‘n pessiekte wat sommige mense geglo het die einde van die wêreld ingelei het. Hierdie idee het gehelp om die verspreiding van die Christelike geloof te bevorder.

 

‘n Span van die Italian Archeological Mission to Luxor het onlangs die oorblyfsels van ‘n begraafplaas in die stad ontdek. In die begraafplaas kry hulle liggame bedek met ‘n dik laag kalk. Die kalk is betekenisvol, want in die antieke wêreld is dit gebruik as ‘n ontsmettingsmiddel om die verspreiding van die siekte te verhoed. Daar was ook die oorblyfsels van ‘n groot vuur waar die oorblyfsels van die slagoffers verbrand is, asook die oorblyfsels van drie oonde wat gebruik is vir die produksie van kalk.

 

 

Potte gevind in die oonde het die wetenskaplikes in staat gestel om die ontdekking in die middel van die derde eeu te dateer. Dit kon hierdie ontdekkings dateer met wat bekend staan as “die pes van Siprianus.” Siprianus was in die middel van die derde eeu die biskop van Kartago. In ‘n skrywe – De mortalitate – beskryf hy hierdie siekte: “Die derms word deur aanhoudende braking geruk; die oë is aan die brand met die geïnfekteerde bloed; in sommige gevalle word die voete of ander dele van die ledemate weggevreet deur verrotting.” Baie siekes word blind en doof.

 

Toe die epidemie op sy ergste was, sterf 5 000 mense per dag in Rome alleen. Dit sluit in twee keisers: Hostilianus en Klaudius II Gothicus. Die sosioloog, Rodney Stark, skryf dat tot twee-derdes van die bevolking van Aleksandrië gesterf het

 

Moderne wetenskaplikes glo dat hierdie epidemie pokke was. Vir Siprianus was die egter ‘n teken van die einde van die wêreld Hy sê dat alhoewel Christene ook gesterf het, dit net nie-Christene was wat iets te vrees gehad het. Dionysius, die biskop van Aleksandrië skryf dat hierdie’n tyd van “ongekende vreugde” vir Christene was.

 

Hoe is dit moontlik? Die feit dat keisers gesterf het en dat heidense priesters nie die siekte kon verduidelik of voorkom nie, het die posisie van die Christene versterk. Wydverspreide siekte en dood, en die wete dat hulle self mag sterf, maak die Christene gewillig om martelaarskap te aanvaar. Hierdie epidemie het ook saamgeval met Romeinse wetgewing gerig teen Christene. Martelaarskap word dus ‘n redelike opsie. As die dood dan net om die draai is, laat jou dood tel.

 

Die aaklige beelde van ontbindende lyke en brandstapels van lyke, het ook die vroeë Christene se beskrywing van die hel beïnvloed – die hel was immers alreeds vol vuur en swawel. Soos die siekte versprei het, het hierdie bedreiging – die hel – al hoe meer na ‘n werklikheid gelyk. Nou dat die hel ‘n plek op aarde geword het, word Christene toenemend angstig om die hel in die nadoodse lewe te vermy.

 

Die epidemie wat soos die einde van die wêreld gelyk het, bevorder in werklikheid die verspreiding van die Christelike geloof!