Lees die Bybel teologies

If you are not content with what you have, you would not be satisfied if it were doubled. —C.H. Spurgeon

 

Lees die Bybel teologies

Die doel om die Bybel teologies te lees, is nie net om die waarheid aangaande God te ken nie (dit is ook belangrik), maar om God te ken in ‘n persoonlike verhouding wat Hom eer. Dit beteken dat ons Jesus wat aarde toe gekom het, gekruisig en begrawe is en weer opgestaan het,  dien. Drie vrae is vir lesers van God se geïnspireerde woord baie belangrik.

  • In die gedeelte wat ons lees, wat word daar van die Vader, Seun en Heilige Gees gesê? Wat het hulle gedoen, wat is hulle besig om te doen en wat sal hulle in God se wêreld, die kerk en in lewens wat aan Hom toegewy is, doen? Wat openbaar die gedeelte oor God se eienskappe – hoe tree Hy op?
  • In die gedeelte wat gelees word, wat word van die wêreld, met al sy goeie en slegte eienskappe gesê? Ons moet onderskei tussen wat goed en sleg in die wêreld is om sodoende die versoekings te vermy.
  • In die gedeelte wat ons lees, wat word gesê om ons te lei in ons daaglikse lewe? Wat sê God vir ons in ons situasie vandag in hierdie gedeelte? Hierdie onderskeidingsvermoë gee die Heilige Gees aan ons.

Diegene wat opreg soek, sal inderdaad vind.

 




My geestelike roetine ondersoek

The reason God knows the future is because he plans the future and accomplishes it. —John Piper

 

My geestelike roetine ondersoek

Die helfte van 2014 is verby. Dit is dus weer tyd vir ons gereelde ondersoek na ons geestelike welstand. Hoe doen ons dit? Hier is ‘n paar voorstelle wat mag help.

  • Lees ek nog daagliks my Bybel? Sommige gebruik ‘n leesprogram – is jy nog op datum? Ander gebruik nie ‘n vasgestelde program nie, maar lees gereeld. Beoordeel hoe jy gevaar het en bepaal ‘n strategie vir die res van die jaar.
  • Bid jy nog elke dag?  Bid jy gereeld? Bid jy vir diegene in posisies van gesag – regerings- en kerkleiers? Bid jy vir ander by name? Bid jy vir jou vyande?
  • Hoe dikwels het jy met ander oor die evangelie gepraat? Het jy verhoudings met mense buite die kerk aangeknoop? Bid jy vir nie-gelowiges?
  • Veg jy getrou teen sonde in jou lewe? Het jy enige sonde hierdie jaar oorwin? Is daar nog ‘n sonde wat jou voortdurend seermaak? Het jy al hierdie sonde teenoor iemand bely? Wat gaan jy doen om dit nog hierdie jaar te oorwin?
  • Watter Skrifgedeeltes het jy hierdie jaar gememoriseer?
  • Dien jy getrou in die plaaslike gemeente? Het jy jou geestelike gawes gebruik vir opbou van Christus se liggaam? Ondersteun jy God se werk finansieel?
  • Kan mense die vrug van die Gees (Galasiërs 5:22 – 23) in jou lewe raaksien? Ons praat van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Is dit deel van jou lewe?
  • Wie loop nader aan God as gevolg van jou invloed? Maak jy dissipels? Of is daar mense wat nou verder van God af is as gevolg van jou invloed en voorbeeld?
  • Hoe sal jou gesin jou as familielid en gelowige beoordeel? Mense wat saam met ons leef, is goed geplaas om ons te evalueer. Modelleer jou lewe dié van Christus – ook daar waar niemand sien nie?

 

Hierdie is die evaluering wat Chuck Lawless van die Southeastern Seminary gebruik. Daar is sekerlik ander maniere om te evalueer. Die belangrike is nie watter metode ons gebruik nie, maar dat ons gereeld ons geestelike lewe evalueer.




Kerkbywoning: Goed of sleg?

Grace finds us beggars but leaves us debtors. —Augustus Toplady

 

Kerkbywoning: Goed of sleg?

‘n Onlangse Gallup-opname wys dat Amerikaners wat gereeld ‘n kerk, sinagoge of moskee bywoon meer positiewe emosies vertoon teenoor diegene wat nie bywoon nie. Gereelde kerkgangers ondervind 3,36 positiewe emosies per dag teenoor 3,08 by diegene wat nie kerk bywoon nie. Hierdie verhouding word nie deur ouderdom, opvoeding en inkomste beïnvloed nie.

 

As jy meer positiewe emosies wil ervaar, woon ‘n eredeiens by.

 




Neem ons nog die kerk ernstig op?

 

 

The narrow way to heaven is wide enough for believers of every name and denomination – J. C. Ryle

Neem ons  nog die kerk ernstig op?

As ons Christene word, is ons nooit alleen nie. Ons word individueel verlos, maar nie vir ‘n lewe van selfgesentreerde individualiteit nie. Ons is nou aangenome kinders in God se familie. Ons is aanmekaar verbind in God se nuwe skepping. Hierdie nuwe skepping staan as die kerk bekend.

 

Wat was God se plan vir die kerk? Kyk hoe Paulus die kerk in Efesiërs aanbied. Hy verklaar eers dat God ryk in barmhartigheid is en ons liefhet (2:4). Hy sê dat hulle uit genade gered is;  Dat God ons gemaak het wat ons nou is: In Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (2:8 – 9).

Paulus gebruik nou drie basiese beelde om ‘n aspek van hierdie entiteit wat God geskep het te beskryf.

  • Die gebou. Op die fondament van die apostels en profete met Jesus Christus as hoeksteen word Jode en nie-Jode saam in een gebou ingebou – in wie julle ook saam opgebou word as ‘n geestelike huis waarin God woon (2:20 – 22).
  • Die liggaam. Soos in die menslike liggaam beheer, integreer en gee die hoof rigting aan die hele organisme. Die kerk is een liggaam onder Christus die hoof. So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus (4:13). Wat Paulus hier beskryf is koördinasie van almal wat deel van die liggaam is deur God; diversiteit van bediening in die eenheid van die liggaam; onderskeiding van die waarheid en wysheid van God deur die liggaam korporatief.
  • Die bruid. Die Bruidegom van die kerk werk om haar, die voorwerp van sy liefde, voor te berei vir die toekomstige heerlikheid wat Hy vir haar beplan – sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik (5:25 – 27). Die versekering van Jesus Christus se onfeilbare liefde bly ‘n voortdurende ondersteuning.

In die Belydenis van Nicea word vier woorde gebruik om die kerk te beskyf:

  • Een: ‘n enkele globale gemeenskap in en deur en onder Jesus Christus; ‘n gemeenskap waarin verskille tussen mense oorkom word.
  • Heilig: die kerk is gewy aan/afgesonder vir die aanbidding, gehoorsaamheid en diens aan God.
  • Katoliek/algemeen: wêreldwyd. Die kerk is in die wêreld vir die wêreld en met ‘n sending na die wêreld.
  • Apostolies:  egtheid van geloof en doel. Die kerk hou vas aan die leer van die apostels.

Paulus se denke oor die kerk begin by God se groot plan vir die kerk wêreldwyd. Hoe verbind hy dan die kleiner gemeentes met hierdie groter werklikheid van die universele kerk? Vir Paulus is die plaaslike gemeente ‘n miniatuur voorstelling van wat die universele kerk behoort te wees. Elke gemeente is deel van die globale gemeenskap.