Kommunikeer sonde in ‘n postmoderne wêreld

 

You can drift into sin, but not into righteousness. —Leon Morris

Kommunikeer sonde in ‘n postmoderne wêreld

Ons moenie vir postmodernisme bang wees nie. Die skeptisisme van die moderne tyd is besig om af te neem. Dit wil voorkom asof die wêreld meer vriendelik teenoor geloof ingestel is. Maar dit is geloof sonder enige vermelding van sonde – verantwoordelikheid word vermy. Mense vandag kruip weg – hulle doen presies wat Adam en Eva gedoen het. Die Christen se reaksie tot postmodernisme moet die beklemtoning van die werklikheid van sonde insluit.

Noudat ons die probleem geïdentifiseer het, wat is die oplossing? Die oplossing val in vier groepe uiteen:

 

  • Kommunikasie

Kommunikeer God se waarheid. Om dit te kan doen, moet jy die waarheid ken en moet jy iets van die woordeskat van die mense met wie jy praat verstaan. Ons moenie sommer aanvaar dat almal dieselfde bedoel as hulle die woord God gebruik nie. Beslis verstaan hulle nie dieselfde as hulle die woord sonde gebruik nie. Hierdie is ‘n goeie geleentheid om baie versigtig met die evangelie om te gaan; dit is die geleentheid om sommige van die kultuuraannames uit te roei. Dit is ook die geleentheid om versigtiger te luister na diegene wat met ons praat.

Christene verstaan sonde basies as ‘n breuk met God se karakter en met sy wil vir ons om sy karakter te weerspieël. God het Hom aan ons as ‘n persoonlike God geopenbaar en deel hiervan is sy kommunikasie aan ons van die waarheid. As Christene sê dat hulle die waarheid kommunikeer beteken dit nie dat hulle al die kennis het nie. Die feit dat ons nie alles weet nie, beteken nie dat ons niks weet nie. Ons moet die verband tussen die persepsie van God en die persepsie van self erken; ons moet God waarlik ken as ons onsself waarlik wil ken.

  • Beklemtoon die gemeenskap

Die Christelike lewe moet deels in ‘n reeks toegewyde verhoudings uitgeleef word – nie net met jou vriende nie, maar met ‘n plaaslike gemeente wat oop is vir almal en verenig is in hulle geloof in Jesus Christus. As jy nie deel is van so ‘n verhouding nie, moet jy baie versigtig wees, want die Bybel waarsku daarteen. Maar elke lid van hierdie geloofsgemeenskap moet altyd as iemand wat na die beeld van God gemaak is, hanteer word. Die horisontale verhouding verplaas egter nooit die mens se vertikale verhouding met God nie. Sonde is fundamenteel teen God. Om iets aangaande sonde aan die gemeenskap te kommunikeer beteken jy moet ‘n verhouding met hulle bou.

  • Gewete

Christene moet ook die kern van hulleself hanteer. Postmoderne gelowiges het ook gewetes – al glo hulle dit nie. Omdat hulle na God se beeld gemaak is, het hulle gewetes. Mense moet hulle eie gewetes ondervind. Mense vewerp die morele aansprake van God, want dit is nie in hulle eie selfbelang om dit te doen nie.

  • Bekering

Bekering gebeur net deur God se Gees. Ons kan nie ons vriende bekeer nie. Daarom nooi ons hemelse Vader ons uit om na Hom te kom en dat Hy die HG sal stuur om dit wat geestelik leeg is, te vul – soos Hy met die dooie bene in Esegiël 37 gedoen het. Die vertroue wat ons moet hê is dat God self dit sal doen.

Ons moet hoop en moed hê in die werklikheid van die waarheid van God se woord. Wat ‘n voorreg om aan mense die goeie nuus van die evangelie oor te dra. Die evangelie het geen probleem met die uitdaging van die postmodernisme nie. Ons moet net getroue boodskappers wees. Ons moet die evangelie ken; ons hoef nie alles van postmodernisme te weet nie.




Hoe verkondig ek die woord van God aan mense wat nie glo nie?

No man can do me a truer kindness in this world than to pray for me. —C.H. Spurgeon

Hoe verkondig ek die woord van God aan mense wat nie glo nie?

 Daar is drie oortuigings wat sentraal staan:

  • Jesus Christus staan sentraal in die Skrif

Die Bybel het ‘n storie en hierdie storie het ‘n punt. Sentraal in die storie en boodskap van die Skrif staan Jesus Christus – veral sy dood en opstanding. Alles lei hierheen of vloei hieruit voort. Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur (Galasiërs 4:4). Die hele Ou Testamentiese verhaal is aan ons gegee sodat ons kan verstaan wie Jesus Christus is en hoekom ons Hom nodig het.

Die Ou Testament berei die weg vir Jesus Christus se koms voor; die evangelies beskryf die gebeure van sy koms; die Nuwe Testamentiese briewe verduidelik die betekenis van sy koms. Toe Jesus aan die twee Emmausgangers die evangelie verduidelik, begin Hy by Moses en al die profeteen Hy het al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê (Lukas 24). Augustinus sê dat om die profete le lees sonder enige verwysing na Jesus Christus sal smaakloos wees – soos kos sonder sout. Jesus Christus is die fokus van die hele Bybel – die middelpunt van die groot storie. Hy was by die skepping – alle dinge is deur Hom gemaak. Die sondeval wys dat ons ‘n behoefte aan Hom het. So kan ons voortgaan.

  • Jesus Christus staan sentraal in die verkondiging

Verkondiging is ‘n boodskap van God. Dit moet dus uit die Skrif kom, maar moet ook op die lewe toegepas word. Dit moet ‘n brug tussen die wêreld van die Bybel en die wêreld van die hoorder bou. Om dit te kan doen, moet die persoon wat die woord verkondig met beide wêrelde bekend wees. Hy moet die Skrif ken, maar ook die druk en hartseer wat mense in hulle alledaagse lewe ondervind. Daarom moet ons tyd spandeer in die Skrif, maar ook by mense in die wêreld om ‘n sensitiewe hart te ontwikkel. Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Korintiërs 2:2). Alles waaroor Paulus met die mense gepraat het, het een of ander verband met Jesus Christus gehad.

Baie mense is geestelik honger, maar het geen ware kennis van God of die toestand van die mens nie. Daarom is hulle totaal onbewus van wat God in hulle lewens kan doen. Ons sal nooit mense van die waarde van die kruis kan oortuig as ons hulle nie kan oortuig dat die Bybel se ontleding van die mens korrek is nie. Die probleem is dat ons mense met Christus wil konfronteer, maar hulle wil nie hoor nie. Vandag se mense het baie behoeftes, maar die noodsaaklikheid van ‘n Verlosser van sonde is nie een van hulle nie. Sonde maak ons blind vir ons eie toestand. Sonder ware selfkennis maak die evangelie geen sin nie.

  • Verkondig God se voorsiening in Christus

Selfkennis sonder kennis van God is problematies. Ons kan nie mense los met net ‘n nadenke oor hulle sondes nie. Die rede waarom jy hulle van die toestand van die mens moet bewus maak, is om by hulle ‘n waardering van Jesus Christus wakker te maak. Die kennis van sonde sonder die verwagting van God se genade veroorsaak dat jy aanhou weghardloop van God. Die verlore seun was bekend met sy haglike toestand, en dit skep by Hom die begeerte om terug te keer. Maar hy het ook die versekering nodig dat hy welkom sal wees voordat hy genoeg vertroue sal hê om terug te keer.

Om die woord van God aan mense wat nie glo nie te verkondig, is nie maklik nie. Ons moet op Jesus Christus fokus as ons dit wil doen.




Ambassadeurs vir Christus (5)

We have wasted our time on petty internal quarrels, and neglected the mighty work of converting souls – J. C. Ryle

 

Ambassadeurs vir Christus (5)

Wat beteken dit as ons sê dat ons ambassadeurs vir Jesus Christus is? Ons gaan ‘n hele paar blogs hieraan afsonder. As basis gaan ons van 2 Korintiërs 5:11 – 21 gebruik maak.

Die ambassadeur se doel.

Wat wil die ambassadeur bereik? Hoe kan ons die doeltreffendheid van sy werk meet? Die doel is dat ‘n goeie verhouding tussen die Verlosser en die mense om ons gevestig word. Die moeiliheidsgraad van die werk van die ambassadeur word tot ‘n groot mate deur die gesindheid van die kultuur om hom teenoor die regering wat hy bedien, bepaal. Ambassadeurs speel nie op ‘n gelyke speelveld nie. Ambassadeurs vir Christus werk in verskillende geestelike klimate. God stuur van sy beste ambassadeurs na die moeilikste werkplekke. Ons moet ons doel deur oorreding en uitnodiging najaag met die oog op lewensverandering.

 

  • Oorreding

Ons weet wat dit beteken om die Here te dien. Daarom probeer ons die mense oortuig (5:11).

‘n Mens word ‘n Christen wanneer hy van die waarheid van die evangelie oortuig word, en op daardie grondslag bely dat Jesus Christus die Here is. In Handelinge kry ons hierdie taal gereeld. Paulus sê nie dat ons mense in die koninkryk kan argumenteer nie, maar hy is duidelik dat niemand in die koninkryk van God kom sonder dat hy van die waarheid aangaande Gog oortuig word nie. ‘n Getroue ambassadeur is toegewy aan die onderrig van die Bybel. Dan moet ons die waarheid van die evangelie in woorde vertel sodat mense verstaan wat God vir hulle sê. As dit nie gebeur nie, het evangelisasie nie gebeur nie.

  • Uitnodiging

Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ‘n beroep julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het (5:20) Paulus was duidelik bekommerd oor die reaksie van die mense op sy boodskap. ‘n Ambassadeur kan nie sy werk vir Christus op ‘n afgetrokke manier doen nie. Die saak is van ewigheidsbelang. Sy denke moet met die waarheid van God gevul word; sy hart moet met die passie van God gevul word. As Paulus pleit dat mense hulle met God moet versoen, sê hy dat dit in werklikheid God is wat deur hom ‘n beroep doen. Normaalweg doen die swakkes op die sterkes ‘n beroep, maar hier doen God ‘n beroep op die swakke mens. Hy doen sy beroep deur die woorde van sy ambassadeurs.

As ambassadeurs vir Christus is ons doel dat die mense om ons nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is (2 Korintiërs 5:15). Dit is radikale transformasie. Die ongelooflike is dat  God ons sy medewerkers gemaak het. Soos sy ambassadeurs probeer  mense uitnooi en oortuig  is God self besig om mense te transformeer.

Daar is geen groter roeping as juis dié van ambassadeur vir Christus nie. God stuur ons uit om sy woord van versoening uit te dra aan diegene wat Hom nie ken en nie weet wat Hy gedoen het nie. Christus praat deur die monde van sy ambassadeurs, en deur hulle werk verson Hy mense met God.




Godsdienstige Pluralisme (4)

We encounter people throughout our days and, instead of being people with hopes and dreams, despair and failures, they become items on the list – Craig Gross

Godsdienstige Pluralisme (4)

Godsdienstige pluralisme is vandag ‘n ernstige probleem vir die kerk. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie probleem spandeer.

Ons het vantevore na verskeie kenmerke van informele pluralisme gekyk. Hoe moet ons hulle hanteer?

Verdraagsaamheid – ons moet identifiseer met die onderliggende kommer wat die klem op verdraagsaamheid plaas. Christene moet benadruk dat hulle teen rasisme en alle ander vorme van onverdraagsaamheid is wat mense se regte aantas. Ons moet ook die perke van verdraagsaamheid identifiseer. Daar is sekere gedragte en optredes wat nie verdra kan word nie. Dit beklemtoon die noodsaaklikheid om sekere oordele te maak.

Die feit dat iets die waarheid is, is nie ‘n teken van onverdraagsaamheid nie. Ons moet die waarheid van ‘n aanspraak onderskei van die manier waarop dit oorgedra word. Ons moet beklemtoon dat alle godsdienste sekere eksklusiewe aansprake maak. Ons kan nie net die Christelike godsdiens verwerp omdat hulle sekere eksklusiewe aansprake maak nie

Die aard van godsdienstige waarheid. Verskil die aanspraak op godsdienstige waarhede van die aansprake van die geskiedenis en wetenskap. Ons moet onderskei tussen voorkeure en waarhede. Praat ons van waarhede wat nie deur ons persepsies bepaal word nie

Die ontoepaslikheid om godsdienste te oordeel en te evalueer. Mense beoordeel die hele tyd godsdienste. Die vraag is nie of ons godsdienste gaan evalueer nie, maar op watter gronde. Alle godsdienste maak tog aanspraak op sekere waarhede. Dit is hierdie waarhede wat evalueer moet word.

Die aanname dat alle paaie na dieselfde eindbestemming lei. Dink aan die gelykenis van die blinde mans wat die olifant betas – elkeen dink hy voel iets anders. Maar godsdienste maak verskillende waarheidsaansprake – hulle kan tog nie almal reg wees nie, want party van die aansprake weerspreek mekaar.

 

Hiermee het ons aan die einde van hierdie kort reeks oor pluralisme gekom.