Jesus se wederkoms

Rather than arguing about the superiority of Christianity over world religions, I would rather put forth a light that is so lovely that all would be drawn into his presence – Madeline L’Engle

 

Jesus se wederkoms

Daar is 318 verwysings na Jesus se wederkoms in die Nuwe Testament. Dit is dus ‘n noodsaaklike deel van ons geloof. J. D. Greear noem vier veranderinge wat die naderende koms van Jesus Christus in ons moet bewerkstellig.

  • Geestelike waaksaamheid

Die Nuwe Testamentiese skrywers wag almal gretiglik op Christus se wederkoms. Hulle leef met geestelike waaksaamheid – asof Christus enige oomblik kan terugkeer. Sou jy anders geleef het as jy geweet het dat Christus vannag nog gaan terugkeer?

Sal dit jou nie dwing om die volgende vraag te antwoord nie: “Leef ek so dat ek gelukkig sal wees om Hom vannag te sien?” Dit mag vandag wees. Dit mag jou laaste geleentheid wees om te vergewe.

  • Die sending is dringend

As ons weet dat Christus binnekort gaan terugkom, sal ons nie ons prioriteite herrangskik nie. Met ons optrede vertel ons vir die wêreld dat Christus nie binnekort gaan terugkeer nie en dat ons sending nie so dringend is nie. Belê ons ons talente in sy koninkryk of sit ons op hulle. Ongelukkig sal van ons eendag die stem van Jesus hoor wat vir ons sê: Jy is ‘n slegte en lui slaaf … Vat die muntstuk van hom af weg (Matteus 25:26 – 28).

  • Die krag om te vergewe

As iemand iets verkeerd aan ons doen, soek ons geregtigheid. Maar dit is nie wat ons bedoel is om te doen nie – ons is te klein om op die regterstoel te sit. Hierdie gesindheid veroorsaak dat ons altyd die slegste van ander verwag en blind is vir ons eie sondes. Ons skep ‘n klomp negatiewe stereotipes. As ons weet dat Jesus Christus weer gaan kom en dat sy koms geregtigheid beteken, kan ek vergewe. Ek kan ongeregtigheid verdra, want ek weet dat Hy dit gaan regstel.

  • Hoop in lyding

Dan sal die mense  die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit (Markus 13:26). Dit is belangrik, want dit verwys na die heerlikheid van God in die Ou Testament. Daar, as God aan sy mense verskyn het, was dit dikwels in ‘n wolk – toe Hy hulle uit Egipte gelei het; toe Hy die wet vir hulle gegee het; toe die tempel ingewy is. Die wolk was ‘n teken dat God by sy mense kom woon het – om hulle pyn en vrees weg te nem. Wat Jesus in Markus 13:26 sê, beteken die permanente terugkeer van God se heerlikheid. Hy kom om al die pyn en hartseer in ons lewens vir altyd weg te neem. “The return of Christ is good news for people whose lives are filled with bad news.” (Cornelius Plantinga)

 

As ons swaarkry sê Jesus vir ons: “Kyk boontoe. Ek kom terug en dit mag dalk vandag wees.” Daar is rede om te hoop al verkeer jy in die donkerste vallei. Die goeie ou dae lê nog voor ons.

 




Karakter en vaardigheid

 

Above all, trust in the slow work of God, our loving vine-dresser – Pierre Teilhard de Chardin

Karakter en vaardigheid

Leierskap word op karakter en vaardigheid gebou. Charisma is opsioneel. Van die mees charismatiese mense van die vorige eeu was ook van die slegste: Hitler, Mao, Marx en Mussolini was almal charismaties.

Paulus skryf aan Timoteus: Net so moet diakens ook mense van goeie karakter wees … Vooraf moet ondersoek ingestel word na hulle geskiktheid, en as niemand beswaar teen hulle inbring nie, kan hulle as diakens dien (1 Timoteus 3:8 – 10). Die probleem is dat daar kerkleiers is met baie talent en charisma, maar  nie altyd die nodige karaktereienskappe het nie – hulle wortels is nie diep in die grond van God se woord geplant nie.

 

As jy karakter sonder vaardighede het, is jy ondoeltreffend. As jy vaardighede sonder karakter het, is jy ‘n bedreiging vir die kerk. Om jou vaardighede te verbeter moet jy lees. Die volwassenheid wat jy as kerkleier moet hê, het ook met karakter te doen. Volwassenheid van karakter het niks met ouderdom te doen nie. Ook nie met jou voorkoms en prestasies nie. Dit gaan onder meer oor gesindheid. Karakter is die manier waarop jy op die omstandighede van die lewe reageer; karakter is nie wat ander mense dink jy is nie, maar wat jy werklik is. Character is who you are in the dark (D. L. Moody). Karakter is wie jy is as niemand kyk nie – dit is die ware jy. God ken jou karakter.

Charisma beïndruk nie vir God nie. As dit jou beïndruk moet jy baie versigtig wees. Jou hart moet ‘n dieper karakter en meer vaardigheid verlang. Karakter en vaardigheid is die twee spore waarop leierskap hardloop.




Wen die kop en die hart

 

A cross without offense in the world is a cross without power in the world. —Steven Lawson

 

Wen die kop en die hart

Soms dink ons ons kan iemand oortuig dat ‘n idee reg/korrek is en alles is reg – hulle gaan hulle gedrag verander om aan te pas by die nuwe idee. Daarom skryf ons boeke waarin ons ons saak duidelik stel – punt vir punt. Natuurlik het hierdie benadering sy plek, maar ons ignoreer een belangrike waarheid: mense is primêr mense van begeertes en nie idees nie. Ons gedrag word gewoonlik gedryf deur wat ons wil hê en nie deur wat ons dink nie.

 

 

As ons dus besig is met evangelisasie moet ons nie net vir die kop mik nie, maar ook vir die hart. Ons moet mense se idees en begeertes verander. Ons moet mense oortuig dat om Jesus te gehoorsaam werklik die goeie lewe is: Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil (Psalm 34:9); U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is (Psalm 16:11). Mense moet sien dat die blydskap wat hulle by God kan kry beter is as enigiets wat die wêreld kan bied.

 

Die probleem is dat Christene meer bekend is vir dit waarteen hulle is as dit waarvoor hulle is. Weet mense waarvoor ons is in hierdie wonderlike, bevrediende, goeie lewe wat Jesus Christus vir ons bied? Weet mense ons is vir die rus en vrede en vreugde wat Jesus aanbied?  Weet mense dat ons vir die volkome vergifnis wat net in Jesus Christus gevind kan word, is?

 

Laat ons standpunt inneem teen dinge as dit nodig is, maar ons moenie die fout maak deur net die dinge waarteen ons is, te verkondig nie. Vreugde is meer doeltreffender evangelisasie as verontwaardiging.

 

 




Christene moet groei – Diens

It (die kerk) is a ship tossed with storm and tempest; but it cannot sink, because Christ is on board –  J. C. Ryle

Christene moet groei – Diens

R. C. Sproul het ‘n kort boekie – Five Things every Christian needs to grow – geskryf. Hierin identifiseer hy vyf dinge waarin ‘n Christen moet groei. Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

 

Diens is ‘n genadegawe – soos ons dien groei ons in ons bediening. Diens is nie opsioneel vir Christene nie. Alle Christene moet dien. Toe Jesus vir Moses uit die brandende doringbos roep, sê Hy onder andere vir hom: Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dit wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid (Eksodus 3:12). God verlos sy mense uit Egipte, nie om outonoom te word en te doen net wat hulle wil nie – hulle moet Hom dien en aanbid. Hy roep hulle uit farao se diens in sy diens.

 

Paulus verwys graag na homself as slaaf of dienaar van God – een gekoop om te dien. Alle gelowiges moet onthou dat hulle teen ‘n duur prys gekoop is. Ons behoort aan Hom wat vir ons betaal het. Ons is geroep om te dien. Maar wie moet ons dien? Jesus self het gesê: Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie (Matteus 6:24). Ons moet soos Josua sê: Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien (Josua 24:15).

Ongelukkig is diens nou nie juis iets wat ons geniet nie. In ons kultuur sukkel ons maar met die beeld van ‘n dienaar. Jesus se dissipels het ook daarmee gesukkel. In Matteus 20:25 – 29 gee Jesus ‘n definisie van grootheid: Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees.

 

Om sy opdrag om die woord van God uit te dra, uit te voer, moes die kerk heelwat ander kleiner take ook uitvoer. In Handelinge 6 lees ons van die verkiesing van sewe diakens. Hulle moes die versorging van die weduwees in die gemeente doen. Dus die armes moes versorg word, die evangelie moet verkondig word, aanbidding moes plaasvind – al die take van die koninkryk moet uitgevoer word. Elke gelowige kan nie alles doen nie. Gelowiges kry gawes en hulle moet volgens hulle gawes dien. Maar elkeen word opgeroep om sy deeltjie by te dra.

Die motivering vir diens aan God is liefde vir God. Ons dien, nie om ons verlossing te verdien nie, maar omdat ons reeds verlos is. Dit moet vir ons ‘n vreugde wees om God te gehoorsaam. Ons mag nie die gawes wat ons van God ontvang het, vermors nie.

Volgende keer gaan ons ma ons laaste dissipline – rentmeesterskap – kyk