Christene moet groei – Rentmeesterskap

 

But it does not follow that the doctrine is not true, because we cannot understand it. It is the weakness of our poor minds and intellects that we must blame, and not the doctrine – J. C. Ryle

Christene moet groei – Rentmeesterskap

R. C. Sproul het ‘n kort boekie – Five Things every Christian needs to grow – geskryf. Hierin identifiseer hy vyf dinge waarin ‘n Christen moet groei. Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

Die eerste offer waarvan ons in die Bybel lees, is dié van Kain en Abel. Die Ou Testamentiese aanbidding fokus op die offersisteem. Ons kerkgeboue het nie meer altare waar ons diere offer nie. Christus het die nodigheid daarvoor weggeneem. Maar dit beteken nie dat Christene nie meer moet offer nie. Ons word steeds opgeroep om God te aanbid en offers vir Hom te bring: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen (Romeine 12:1).

 

Die rentmeester is nie die eienaar van die huis nie – hy is deur die eienaar gehuur om sy sake te bestuur. Die mens se rentmeesterskap begin in die paradys. Adam en Eva moes verseker dat die tuin bewerk is en nie uitgebuit word nie. Dit was God se tuin, maar hulle was die rentmeesters.

Elke keer as ons ‘n hulpbron gebruik neem ons ‘n besluit wat openbaar watter soort rentmeesters ons is. Dit is waar God ons aanspreeklik hou, want elke keer as ons ‘n hulpbron vir iets gebruik, beteken dit ons kan dit nie vir iets anders gebruik nie.

In die moderne lewe belê ons ons geld en verwag dat dit sal vermeerder. Die Bybel sê dat ons in die koninkryk van God moet belê vir ewigheidsresultate. Maar wat moet ons belê in die koninkryk? My tyd, my energie en my geld.

Rentmeesterskap is ‘n belangrike manier vir ons om geestelik te groei. Ons is rentmeesters in God se tuin. Versorg ons sy tuin?

 

 




Jy is geroep; jy is gestuur; gaan

 

The illusion which exalts us is dearer to us than ten thousand truths. –Aleksandr Pushkin (1799-1837)

Jy is geroep; jy is gestuur; gaan

Matteus 10 en Lukas 10 is belangrike Skrifgedeeltes vir ons uitreik na die wêreld om ons. Hier gee Jesus opdragte aan sy dissipels oor hoe om uit reik na die wêreld om hulle. Ons kan dit sien as spesifieke stappe wat ons moet uitvoer voor ons kan uitreik of as beginsels. Een van die redes waarom ons dikwels nie slaag in ons uitreik na die wêreld nie, is omdat ons ons eie beginsels neerlê en volg.

 

Wat is hierdie beginsels?

  • Roep en stuur spesifieke mense uit op die sending

Jesus het sy twaalf dissipels nader geroep en hulle mag gegee om onrein geeste uit te dryf en om elke soort siekte en kwaal gesond te maak. Die name van die twaalf apostels was … Jesus het die twaalf uitgestuur en die volgende opdragte aan hulle gegee (Matteus 10:1 – 5).

God inisieer hierdie roeping en uitstuur, maar Hy kommunikeer altyd sy roeping en sending deur ‘n plaaslike groep gelowiges. So sien die gemeente in Antiogië die behoefte en stuur vir Paulus en Barnabas uit na die heidenwêreld. Omdat die plaaslike gemeente die liggaam van Christus is, is dit vanwaar die roeping en stuur meestal sal kom.

 

Om gestuur te wees, beteken nie noodwendig dat ons na ‘n ander land moet gaan nie. God stuur ons elke dag in die wêreld om ons. Om gestuur te wees is nie ‘n reis nie – dit is ‘n lewenstyl. Dit beteken ek moet na die stem van die Heilige Gees luister, maar ek moet ook na die leiding van ander in die gemeente luister. Baie van ons sal weerstand bied as ons die roeping hoor – soos Moses. Ons het nou die leiding en bemoediging van ons medegelowiges nodig om deur die weerstand te breek. Na watter persoon roep God jou om die Goeie Nuus aan hom oor te dra; na watter plek roep God jou om te gaan – ver of naby?

 

  • Gee gesag met verantwoordelikheid

Toe Jesus sy volgelinge uitgestuur het, het Hy aan hulle die gesag gegee om die taak wat Hy aan hulle opgedra het, uit te voer. Al moes hulle nog baie leer, het Hy hulle vertrou. As ‘n gemeente mense uitstuur, moet die gemeente hulle oplei en ondersteun. Jesus gee aan elkeen van sy volgelinge die gesag om die goeie nuus oor Jesus Christus aan ander te verkondig – nie net aan leraars en sendelinge nie. Die krag om die goeie nuus uit te dra is aan elkeen van ons gegee – ons is gesante van Christus en ons gesag kry ons by Hom.

 

  • Vir doeltreffende evangelisasie moet jy fokus

Moenie met ‘n pad na die heidennasies toe afdraai nie en moenie in ‘n dorp van die Samaritane ingaan nie. Gaan liewer na die verlore skape van die volk Israel toe (Matteus: 10:5 – 6)

Jesus se fokus tydens sy openbare bediening was om na die verlore skape van Israel uit te reik – dit was nog nie die regte tyd om na die heidennasies uit te reik nie. Hierdie is ‘n belangrike beginsel: jy kan nie terselfdertyd na almal toe uitreik nie – jy moet fokus. Kies jou fokus en ontwikkel dan die metodes wat jy nodig sal hê om hulle te bereik Vir elke teikengroep moet jy ‘n spesifieke strategie ontwikkel. Ons fokus, nie om eksklusief te wees nie, maar om doeltreffend te wees.

 

As individue begin ons fokus dikwels by ons familie en vriende – diegene wat die naaste aan ons is. Hulle het die veranderinge wat Jesus in ons lewens aangebring het eerstehands gesien. Ons is dus beter in staat om na hulle uit te reik as enigeen anders.

 

Ek is gestuur; ek ontvang gesag; ek moet fokus.

 




Die gevare van tegnologie

I distrust those people who know so well what God wants them to do because I notice it always coincides with their own desires. -Susan B Anthony (1820-1906)

 

Die gevare van tegnologie

Ons vergeet so maklik waarom ons doen wat ons doen. Dit is baie maklik om te veel op tegnologie te fokus en nie genoeg op Jesus nie. Dit kan gevaarlik wees. Wat is die eerste ding wat jy soggens doen as jy wakker word? Jy kyk of daar boodskappe op jou selfoon is. Dan volg jou e-posse, Facebook, Twitter, blogs … As ek klaar is hiermee besef ek dat ek laat is. Ons prioritiseer gereeld tegnologie bokant tyd met Jesus Christus.

 

 

Wat kan ons hieraan doen? Hier is drie moontlikhede:

  • Moenie die eerste ding in die oggend na jou foon hardloop nie.

Sodra jy jou foon en jou e-posse begin kyk, begin jou verstand al hierdie dinge prosesseer. As jy aan Jesus ‘n hoër prioriteit as aan tegnologie wil gee, begin by die Bybel. Dit is noodsaaklike tyd wat jy elke oggend moet afsonder.

 

  • Tegnologie is wonderlik … moenie toelaat dat dit jou lewe beheer nie.

As tegnologie verhinder dat jy tyd met jou familie en vriende spandeer, moet jy weer oor jou prioriteite dink. Ons sê dat ons op datum moet bly en sien dit as ‘n goeie verskoning. Maar tegnologie mag nooit werklike mense verplaas nie. Gebruik die tyd wat jy op YouTube sou spandeer het en gebruik dit om saam met mense vir wie jy omgee, te verkeer.

 

  • Skakel alle skerms ‘n uur voor slaaptyd af

Blootstelling aan helder LCD skerms kort voor jy gaan slaap, beïnvloed jou slaappatrone. Mense wat dit ten minste ‘n uur voor slaaptyd afskakel, slaap beter en is die volgende oggend meer uitgerus.

 

Tegnologie is frustrerend en belonend. Daar is altyd druk om met die nuutste ontwikkelinge op datum te wees. Onthou altyd: Jesus kom eerste.

 

 

 




Oppas vir oordrywing

Satan and all his agents, with all their combined strength and subtilty, cannot separate one soul from Christ. —Robert Shaw 

 

Oppas vir oordrywing

Hoe dikwels sê ons nie: Dit was die beste jaar/vergadering/ens wat ons nog ooit gehad het; daar is ‘n ongelooflike gevoel van momentum wat besig is om in die gemeente op te bou; ens. As hierdie soort oordrewe stellings deel van jou leierskap kommunikasie word, moet ons versigtig wees. As leier moet jy sekerlik optimisme uitstraal, maar as jy begin oordrywe loop jy ‘n risiko. Scott Cochrane identifiseer vier sulke risiko’s:

  • Mense kan dink dat jy nie opreg is nie. Elke vergadering of gebeurtenis kan tog nie die beste ooit wees nie. As jy hierdie soort taal te dikwels gebruik, sal mense jou nie as leier, maar as bemarker sien.
  • Jy kan jou geloofwaardigheid verloor. Onthou dit wat jy as die beste ooit beskryf – jou mense was daar en hulle het gesien dat dit nie die beste ooit was nie. As daar ‘n gaping ontstaan tussen wat jou mense weet wat waar is en wat jy sê waar is, begin jy jou geloofwaardigheid verloor.
  • Jong mense skakel af. Jongmense se radar is ingestel op enigiets wat na oordrywing ruik. Die gemeente kan nie hierdie groep met jou kommunikasie ontstel en verloor nie.
  • Jy skep ‘n kultuur van “desperaatheid.” ‘n Leier se woorde het die vermoë om die kultuur te vorm. Oordryf jy gedurig skep jy ‘n kultuur van desperaatheid. Vir jou volgelinge is dit ‘n kort paadjie van desperaatheid na agterdog.

 

Wees versigtig vir oordrywing.