Kan ek uitbranding verhoed?

 

“If it must always be better, it can never be good enough.” ~ Joodse spreekwoord

Kan ek uitbranding verhoed?

Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding. Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan (Psalm 62:2 – 3).

Ons wil altyd beter wees as wat ons is, meer hê as wat ons het en meer bereik. Die gevolg is ‘n nimmereindigende siklus van aktiwiteite. Ons is die hele dag besig. Op sy eie lyk hierdie aktiwiteite nie te oorweldigend nie, maar as jy almal dag na dag saamvoeg, kan hulle tot spanning en uitbranding lei. Hoe kan ons dit verhoed?

 

  • Ons moet tyd maak om stil voor die Here te word. Jesus sê vir sy dissipels toe hulle teruggekom het nadat Hy hulle uitgestuur het: Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie (Markus 6:31) Om in God te rus hernuwe ons siele en maak ons denke stil. Dit stel ons in staat om in sy krag te deel.
  • Ons moet onsself gedurig afvra: Is al hierdie dinge wat ek doen noodsaaklik? God sê: Bedaar en erken dat Ek God is (Psalm 46:11). God wil hê dat ons nie so vinnig moet lewe nie, want ons lewens is in sy hande. As ons dit besef kan ons hierdie voortdurende strewe na meer, vervang met rus en vertroue. Maak nie saak wat ons in die lewe doen nie, ons moet dit tot verheerliking van God doen.

 

Maak vandag nog tyd om stil voor die Here te sit. Laat toe dat Hy vir ons die krag en rus wat ons nodig het, gee. Laat toe dat Hy vir ons wys waar ons onnodig strewe. Hy wil vrede en rus vir sy kinders gee.




Moenie veroordeel nie

No heart is in so bad a state as the heart that does not feel sin – J. C Ryle

 

Moenie oordeel nie

Hierdie is waarskynlik een van die gewildste Bybelverse in ons samelewing – veral onder nie-Christene. Dit pas immers aan by twee algemene aannames in ons samelewing: godsdiens is privaat  en moraliteit is relatief. Mense sien “moenie oordeel nie” as ‘n manier om te sê “jy kan nie vir my sê dat ek verkeerd is nie.” Jesus wat gesê het dat ons nie moet oordeel nie, het nie ons aannames gedeel nie. Hy het gereeld in die openbaar oordele uitgespreek. Hy sê: Die wêreld kan vir julle nie haat nie; maar hy haat My, omdat Ek openlik verklaar dat sy dade sleg is (Johannes 7:7). Dit is duidelik dat Jesus nie net sy hande in die lug opgegooi het en gesê het “wie is Ek om te oordeel” nie.

 

 

Jesus het vir mense gesê dat hulle dade sleg is, maar: God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word (Johannes 3:17). Daar is duidelik ‘n verskil tussen die harde waarheid te vertel en veroordeling. Jy veroordeel iemand as jy hom as persoon verwerp. Wat belangrik is, is wat jy doen nadat jy die waarheid aan hom vertel het. Nadat Jesus ons die harde waarheid oor ons sondes vertel het, trek Hy ons nader; Hy maak ons sy vriende. Die teenmiddel vir oordeel is om altyd die evangelie in gedagte te hou. J. D. Greear het ‘n paar tekens dat ons ander veroordeel, geïdentifiseer:

  • Jy word kwater vir ander se sonde as verleë oor jou eie

Dietrich Bonhoeffer het gesê dat een van die eerste teken van Christelike volwassenheid is frustrasie met die kerk se valsheid en ‘n begeerte om jou van die kerk los te maak. Die volgende teken van groei is om agter te kom daardie selfde valsheid van die kerk is ook in jou. Ons moet ander konfronteer oor hulle sonde, maar ons moet altyd pynlik bewus wees van ons eie sonde.

 

  • Jy weier om te vergewe

As jy weier om te vergewe, vergeet jy dat God jou vergewe het. Vergifnis beteken dat ek die skuld absorbeer en in ruil daarvoor gee ek liefde

 

  • Jy maak jou van diegene wat van jou verskil los

Dit is die kern van veroordeling Jy sê in werklikheid dat julle as gevolg van hierdie saak nie meer vriende kan wees nie. Jy moet die persoon wat van jou verskil meer liefhê as jou standpunt oor die saak. Dit beteken nie dat jy nie jou saak stel of dat jy ‘n kompromis aangaan nie. Toe Judas vir Jesus in die tuin van getsemane verraai het, sê Jesus vir hom: Vriend, doen wat jy gekom het om te doen (Matteus 26:50). Vriend? Jesus bied aan Judas sy hand van vriendskap.

 

  • Jy skinder

Skinder is gevaarlik, want jy oordeel iemand sonder om aan hom die geleentheid te gee om homself te verdedig of om te verander.

 

  • Jy weier om kritiek te aanvaar.

Hoekom haat ons kritiek? Is dit nie omdat ons dit haat om te erken dat ons foute het nie?

 

  • Jy weier om iemand se standpunt reg te stel

Dit beteken gewoonlik dat jy nie glo die Bybel is waar nie of jy dink die ander persoon kan nie verander nie. Maar deur te aanvaar die ander persoon sal nie luister of verander nie, is jy besig om hom te oordeel.

 

  • Jy skryf iemand as hopeloos af

Ons dien ‘n Verlosser wat die dood oorwin het. Hoe kan ons nou dink Hy kan nie mense vergewe nie. Hy kan mense vergewe – en Hy doen dit gereeld. Hy het selfs vir my vergewe. Daar is ‘n balans tussen genade en die waarheid. Jy oordeel nie ander deur die waarheid te weerhou nie; jy veroordeel hulle wel as jy die waarheid sonder genade praat. Gee aan ander die genade en waarheid van die evangelie. Die evangelie kombineer beide.

 

 




Wonders: Die moontlikheid van wonders

“I pray that you all put your shoes way under the bed at night so that you gotta get on your knees in the morning to find them. And while you’re down there thank God for grace and mercy and understanding. We all fall short of the glory, we all got plenty,” Denzyl Washington

 

Wonders: Die moontlikheid van wonders

Wonders is, per definisie, oortredings van die natuurwette. Daarom glo baie wetenskaplikes dat wonders nie kan plaasvind nie. Kom ons kyk na die sentrale aanspraak van die Christelike geloof: Jesus het uit die dood opgestaan. Is daar die moontlikheid van ‘n wonder? Dit is tog nie ‘n natuurlike verskynsel nie. As ons wil weet of iets ‘n wonder is, moet ons  die wet ken waarvan hierdie wonder ‘n uitsondering is. As ons nie weet dat mense wat doodgaan in hulle grafte bly nie, sal ons nie weet dat Jesus se opstanding ‘n wonder is nie.

 

Wat dan van die mense wat sê dat hulle vir Jesus na sy opstanding gesien het? God kan tog nie arbitrêr optree en die natuurwette oortree deur Jesus op te wek nie. Ateïste sê dit is net die beskawings wat voor die moderne wetenskap geleef het wat in wonders glo. So byvoorbeeld gebeur die wonders in die Nuwe Testament in ‘n primitiewe, pre-wetenskap kultuur waar mense onkundig was oor die natuurwette. Maar mense het tog geweet dat dooie mense nie weer lewe nie.

Josef wat aan Maria verloof was, het geweet waar babas vandaan kom. Toe Maria sê dat sy swanger is, wou hy van haar skei. Hy was nie onkundig oor die natuurwette nie. Later is hy bereid om met Maria te trou, want hy is oortuig dat die baba uniek bevrug is – deur die Heilige Gees. So kry ons ook dat toe Paulus in sy toespraak voor die filosowe in Atene sê dat Jesus uit die dood opgestaan het, hulle vir hom gelag het. Hulle sou nie gelag het as Paulus net na die opstanding van die siel verwys het nie, want dit was ‘n aanvaarbare siening. Maar Paulus sê iets wat niemand van hulle geglo het nie – die fisiese, liggaamlike opstanding van ‘n mens wat dood was.

As wetenskaplike glo jy in die natuurwette. God is verantwoordelik vir hulle; Hy het ‘n ordelike heelal gemaak. As dit nie so was nie, sou ons nooit ‘n uitsondering herken het nie. Maar God is nie ‘n gevangene van die natuurwette nie. God kan ‘n nuwe gebeurtenis van buite in die sisteem invoer. Christene maak nie daarop aanspraak dat Jesus deur een of ander natuurlike proses opgestaan het nie – dit sou die natuurwette oortree. Nee, Christene sê dat Jesus opgestaan het, want God het enorme energie en krag van buite die sisteem ingevoer. Omdat die sisteem nie ‘n totaal geslote sisteem is nie, kan wonders wel plaasvind.

As wonders dan moontlik is, bring dit ons by die volgende vraag: Is wonders ‘n werklikheid? Is daar enige bewyse dat wonders ooit gebeur het? Die Christelike geloof se basis is dat Jesus Christus na sy dood opgestaan het. Dit klink tog onwaarskynlik. Is daar bewyse daarvoor? Die wetenskap en die geskiedenis  is nie die enigste bewysbronne vir die bestaan van God, wonders en die bonatuurlike nie. Persoonlike ondervinding is ook belangrik. ‘n Bewys dat die Christelike geloof waar is, is onder andere die persoonlike ondervinding van die lewende werklikheid van Christus in ons lewens. Hy het uit die dood opgestaan – dit beteken Hy lewe en dat mense ‘n persoonlike verhouding met Hom kan hê.

Hoe benader ek mense wat nie omgee nie – hulle glo nie? Sorg vir hulle. As mense nie omgee nie, is daar gewoonlik ‘n rede daarvoor en dit is dikwels ‘n ingewikkelde sielkundige rede. Mense wat in ‘n ouerhuis sonder liefde groot geword het, sukkel om te glo in ‘n God wat vir hulle lief is – dit beteken vir hulle niks nie. Mense wat nie omgee nie, vertel vir ons iets van hulleself. Daarom moet ons uitvind hoekom hulle nie omgee nie.

God stel baie belang in mense wat nie omgee nie, want hulle het gewoonlik ‘n goeie rede waarom hulle nie omgee nie. Ons word tog van kleins af geleer dat elke mens waardevol is – gemaak na die beeld van God. As daar ‘n God is wat vir jou omgee, maar jy gee nie vir Hom om nie, is daar iewers iets verkeerd. Dikwels is dit omdat jy ‘n negatiewe ondervinding van godsdiens gehad het. Vind uit.




Wonders: Die aard van verduideliking

 

Too often we enjoy the comfort of opinion without the discomfort of thought. -John F. Kennedy (1917-1963)

Wonders: Die aard van verduideliking

Baie ateïste glo dat God die God van die gapings is: “Ek kan dit nie verduidelik nie, daarom het God dit gedoen.” As jy in so ‘n God glo, is dit duidelik dat jy ‘n keuse tussen God en die wetenskap moet maak. Hoekom? Weens jou definisie van God. In werklikheid sê jy: soos die wetenskap toeneem, verklein God. Maar ons glo tog nie in so ‘n God nie. God is nie ‘n God van die gapings nie, maar van alles – die stukkies wat ons verstaan en die stukkies wat ons nie verstaan nie. Toe Isaac Newton die wet van swaartekrag ontdek het, het hy nie gesê: “Ek het nou ‘n wet en het God nie meer nodig nie.” Hy skryf sy Pricipia Mathematica waarin hy die hoop uitspreek dat die wet van swaartekrag elke denkende persoon sou aanspoor om in God te glo. Hoe meer hy van die wetenskap verstaan het, hoe meer bewonder hy vir God wat alles so gemaak het.

 

Daar is nie noodwendig ‘n konflik tussen wetenskaplike verduidelikings van hoe die heelal werk en geloof in God wat die heelal gemaak en onderhou nie. Daar is nie noodwendig net een vlak van verduideliking nie.`

Geloof en wetenskap staan nie teenoor mekaar nie. Speel geloof enige rol in die wetenskap? The only incomprehensible thing about the universe is that it is comprehensible (Einstein).

Alles goed en wel, maar is wonders moontlik? Daarna gaan ons volgende keer kyk.