Moet Christene lees?

We talk of the second coming; half the world has never heard of the first. —Oswald J. Smith

 

Moet Christene lees?

Is dit belangrik dat Christene moet lees? Verander die Internet die manier waarop ons lees? Tony Reinke (Lit! A Christian Guide to Reading Books) hanteer onder andere hierdie vrae in sy boek.

 In sy wysheid het God bepaal dat geletterdheid ‘n belangrike rol in die openbaarmaking van sy plan moet speel. Meer as 300 verse in die Bybel verwys na wat geskryf is – ‘n terugblik na wat vantevore geskryf is. Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees (Romeine 15:4).

 

 

As dit dan so is, kan ongeletterde mense Christene wees? Beslis. Baie van die vroeë Christene was ongeletterd. Maar hierdie onvermoë om te lees, het nie hulle trou aan die evangelie benadeel nie. Hulle het die evangelie deur mondelinge oordrag geleer. Hulle was Bybels geletterd ten spyte van hulle ongeletterdheid. Bybelse ongeletterdheid is ‘n baie groot probleem – ‘n probleem wat al hoe groter word.

 

Daar is vandag ‘n nuwe neiging besig om te ontwikkel: ons skandeer baie vinnig dosyne kort artikels op die Internet. Ons word elke dag oorval met inligting – veral op die digitale media. Ons skandeer net vinnig artikels om te bepaal watter artikels meer tyd en aandag benodig en watter ons maar kan ignoreer. Om te skandeer, is ‘n vaardigheid wat ons nodig het om te oorleef. Ons moet egter onthou waarvoor dit gebruik moet word: om tussen noodsaaklike en onnodige inligting te onderskei. Die probleem is dat hierdie tipe lees nou die norm geword het vir alles wat ons lees. Dit skep ‘n baie groot probleem vir Christene wat God se ewige Woord besit.

 

Die doel van lees, is die leer van nuwe dinge, om nuwe waarhede te ondervind en om te verander. Dit wat my lewe die meeste uitgedaag en verander het, is die hulpbronne waaraan ek die meeste tyd spandeer het. Hoe vinniger ek skandeer, hoe minder blywende impak het dit. Kort stukkies op die sosiale media kan ons denke bevestig, maar hulle vereis nie die belegging in tyd wat nodig is om my denke te verander nie.

 

Die probleem is dat baie min Christene betekenisvolle tyd belê om werklik God se einddoel te ontdek. Bybellees is gemeenskap met God. As Christene glo ons dat God daar is, dat Hy luister en praat. Dit gaan nie net oor die inneem van inligting nie Om die Bybel te lees, is ‘n geestelike dissipline waar ons van God hoor. Dit kan ons nie regkry deur vinnig ‘n stukkie in die Bybel te skandeer nie. Ons moet stadig en nadenkend lees.

 

Maar om artikels te skandeer is so ingebou in ons dat ons dit moeilik vind om stadig te lees en na te dink oor wat ons lees. Hoe nou gemaak?

  • Maak jou los van digitale afleidings. Skakel jou foon af, los jou e-posse, kry vir jou ‘n stil plekkie, neem jou Bybel en ‘n pen en begin lees en nadink. Die eerste paar keer gaan dit moeilik en ongemaklik wees Geleidelik kom jy die verskil agter en begin jy hierdie stil tydjie waardeer en beskerm.
  • Lees boeke wat jou uitdaag – jy kan nie vir Shakespeare skandeer nie. Lees stadig, ontsyfer die betekenis van woorde, lees moeilike gedeeltes twee of drie maal deur. As jy besef dat die lees van die Bybel waardevol is, moet ons ons dissiplineer om stadig te lees en diep na te dink oor die betekenis van dit wat ons lees.
  • Ouers moet hierdie stadige lees vir hulle kinders modelleer. As jy huisgodsdiens hou lees stadig, verduidelik die onbekende woorde en help almal om die betekenis van die gedeelte te verstaan.

 

Scripture is a banquet feast for the soul. Scanning through the Bible in haste is like jogging through a gourmet buffet. Such haste leads to information indigestion and biblical illiteracy …  most sadly, scan-reading the Bible leads to spiritual malnourishment. God nooi ons uit na hierdie fees – geniet dit.

 




Wat is die evangelie?

A house is no home unless it contains food and fire for the mind as well as the body. -Margaret Fuller  (1810-1850)

Wat is die evangelie?

Ons beskryf dikwels God se genadegawe van verlossing as die die evangelie. Die oorspronklike Griekse woord het “‘n geskenk gegee aan iemand wat goeie nuus gebring het,” beteken. Later word dit vir die goeie nuus self gebruik. Dit is presies wat God vir ons in die evangelie aanbied – goeie nuus oor wat Hy vir ons in Jesus Christus gedoen het. Wat is dan die evangelie?

  • Dit gaan alles oor wat God vir ons gedoen het

In 1 Korintiërs 15:1 – 4 herinner Paulus sy lesers aan die evangelie wat hy aan hulle verkondig het. Hulle word gered as hulle vashou aan hierdie boodskap.  Maar wat is dit wat hy aan hulle oorgedra het? Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het, en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte;  Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.  God wil hê dat ons ons moet verheug oor die goeie nuus – dit wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het. Ons sonde verdien die dood, maar Jesus het die prys betaal en selfs die dood oorwin sodat ons vir ewig saam met God kan leef.

 

  • Die evangelie gaan alles oor genade.

Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig (Handelinge 20:24). Paulus se hele lewe was toegewy aan die verkondiging van die evangelie. Dit was goeie nuus, want God gee dit as ‘n gratis geskenk. Daar was geen meriete betrokke nie.

 

  • Die evangelie gaan slegs oor God se werk en geregtigheid.

In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe (Romeine 1:17). Dit is baie duidelik dat ons niks tot ons verlossing kan bydra nie Die evangelie is goeie nuus, want dit sê vir ons dat God alles sal doen wat vir ons verlossing nodig is. Ons moet net glo.

 

  • ‘n Evangelie van “werke” is nie die evangelie nie

6Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ’n ander evangelie aanneem. 7Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring. 8Maar al sou een van ons of selfs ’n engel uit die hemel aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het—die vloek van God sal hom tref! 9Ons het dit voorheen al gesê en ek sê dit nou weer: as iemand aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het—die vloek van God sal hom tref! (Galasiërs 1:6 – 9). Mense is geneig om stadig van die goeie nuus van genade weg te dryf in ons ou denke: dit is ons goeie werke wat ons verlos. Dit is nie goeie nuus nie. Dit is hopeloos om op ons eie goedheid te vertrou as ons die volmaakte God nader. Ons sal nooit “goed genoeg” wees nie.

 

God wil hê dat ons sy genadegawe moet sien vir wat dit werklik is. God se genade is goeie nuus, want dit los ‘n basiese probleem van die mens op – ons sondig; ons is opstandig; ons is nie volmaak nie. Ons kan eenvoudig nie gered word sonder God se werk in ons lewens nie. God dra nie by tot ons verlossing nie … Hy verlos ons; Hy is die enigste Bron van verlossing. Sy genadegawe is waarlik goeie nuus. Daarom noem ons dit evangelie.

 




Gesamentlike aanbidding

True religion is like the smallpox. If you get it, you give it to others and it spreads. —C.T. Studd

 

Gesamentlike aanbidding

Is dit nodig? Is dit nie voldoende as ek my afsonder en God aanbid nie? nee. Gesamentlike aanbidding speel ‘n onontbeerlike rol om die geestelike vuur in my aan te blaas en aan die brand te hou. Ware aanbidding is ‘n ondervinding van die hart.There’s an element of worship and Christianity that cannot be experienced in private worship or by watching worship. There are some graces and blessings that God gives only in the ‘meeting together’ with other believers” (Don Whitney – Spiritual Disciplines). Wat is hierdie graces and blessings waarvan hy hier praat. Hier is ‘n paar:

  • Ontwaking/Bewuswording

Ons kom dikwels in gesamentlike aanbidding met die gevoel dat ons in ‘n geestelike mis loop. Tydens die probleme van die week, die harde stampe van die wêreld besef ons dikwels nie wat werklik belangrik is nie. Ons moet ons kop weer skoon kry, en ons stadige hart weer ‘n hupstoot gee.

 

Kyk na die ondervinding van die psalmis in Psalm 73. Hy verkeer in wanhoop oor die hooghartige goddeloses.  Maar die mis verdwyn as hy in die teenwoordigheid van God kom: Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan en was dit vir my bitter moeilik totdat ek in die heiligdom van God ingegaan en besef het wat die uiteinde van die goddeloses is (73:16 – 17). Hoeveel keer het ons nie ook hierdie waarheid ontdek nie. As ons voel ons is geestelik afgetakel, moet ons nie by die gesamentlik aanbidding wegbly nie – ons moet juis daarheen gaan: Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug! (73:28).

 

  • Versekering

God het van die begin besef dat dit nie goed vir die mens is om alleen te wees nie. Daarom moet ons deel van ‘n geloofsgemeenskap wees. Elia het op ‘n stadium gedink dat hy alleen was, maar God het aan hom 7 000 mense gegee wat nie hulle geloof laat vaar het nie (1 Konings 19:18). God het ons gemaak om deel van sy kerk te wees – deel van sy geloofsgemeenskap.

 

  • Vordering

Die geloofsgemeenskap is die plek waar ons geestelik opgebou, bemoedig en vertroos word (1 Korintiërs 14:3). Ons groei nie deur na preke te luister, huis toe te gaan en dit dan in ons lewens inwerk nie. Dit kan gebeur onder die leiding van die Heilige Gees, maar veral as ons saam aanbid. God wil nie net ons denke verander nie, maar ook ons harte.

 

  • Aanvaar die leiding van ander

Gesamentlike aanbidding herinner ons daaraan dat ons geloof  basies is om te ontvang – dit is nie ons eie inisiatief nie. In gesamentlike aanbidding ontvang ons ook die leiding van ander. In private aanbidding sit ons in die sitplek van die bestuurder – ons besluit wat om te lees, wanneer om te bid, wat om te bid, watter evangeliewaarhede om te aanvaar ens. In gesamentlike aanbidding besluit ander wat ons gaan lees of sing en hoe lank ons aan elke element gaan bestee. Ons ontvang. Persoonlike aanbidding is noodsaaklik, maar ons moet ook aanbid waar iemand anders die besluite neem. Gesamentlike aanbidding dissiplineer ons om te reageer.

 

  • Beklemtoon vreugde

A shared joy is a double joy (Sweedse spreekwoord). Ons vreugde verdiep en ons aanbidding neem toe, want ons vreugde in Jesus neem toe as ons saam met ander geloofsgenote aanbid. Die geheim van die vreugde van gesamentlik aanbidding is dat ons ons met Jesus Christus en sy heerlikheid besig hou, maar ook die wete dat ons nie alleen is om ons siele te voed nie.

 

 




Ek bely

Ignorance of self and sin is the root of all mischief to the soul (J. C. Ryle)

Ek bely

Ons hou nie daarvan om te bely as ons verkeerd was nie. Vir leiers is dit ‘n kragtige, noodsaaklike en bevrydende praktyk. Leiers is soms verkeerd. Vir meeste leiers is dit moeilik om dit te erken. As ons eerlik is, sal ons erken dit is ‘n stryd – ons raak nie opgewonde oor belydenis nie. Ons dink om te bely is veroordeling – iets om oor skaam te wees. Belydenis is egter ‘n uitnodiging om meer genade en barmhartigheid. Die eindresultaat is dat ons gelukkiger is as wanneer ons net in die sonde bly. Om ons sonde agter te laat, herstel en bemagtig ons om te wees wat God bedoel het ons moet wees. Belydenis is ‘n teken dat ek besef ek voortdurend genade nodig het.

 

Min leierskapsboeke bespreek die belang van belydenis as ek mense wil lei. Maar vir Christene wat die Bybel lees, is dit nie ‘n vreemde begrip nie. Dit geld nie net vir leierskap nie, maar ook vir eggenotes en ouers. Belydenis is nie swakheid nie – dit wys net dat ons liewer is vir Jesus as vir ons sonde. Die gouste manier om ‘n kultuur, kerk, organisasie, familie, vriendskap of ‘n gemeenskap te verander is deur te bely.

Ons is bang om te bely. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Johannes 1:9). Belydenis sal ons nooit skade aandoen nie, want nou is ons vry om te wees wat God ons gemaak het om te wees. As gevolg van die werk van Jesus is ons nou nuwe mense.                                                                   

Nou word ons nie meer veroordeel vir dinge wat ons in die verlede gedoen het nie. Ons kan nou daardie intieme verhouding met God en ons naaste, waarvoor ons gemaak is, geniet. Dit is deur belydenis dat dinge verander. Om te bely, is nie alleen veilig nie, maar dit stel jou vry.