‘n Aantal kort stories

Anything is better than a dead conscience, and a cold heart, and a prayerless tongue (J. C. Ryle)

 

 ‘n Aantal kort stories

‘n Ateïs vra eendag vir ‘n Christen: “Hierdie God van jou, hoe is Hy? Is Hy groot of klein?”

Die antwoord: “My God is terselfdertyd beide groot en klein. Hy is so groot dat die hemele Hom nie kan hou nie. Tog is Hy so klein dat Hy kan woon in die hart van ‘n arme sondaar soos ek.”

‘n Ander storie:

‘n Jong seuntjie kom uit ‘n skool waar die Bybel onderrig word. ‘n Ongelowige vra vir hom: “Waar is jou God waarvan jy in daardie skool gelees het? Wys Hom vir my en ek sal vir jou ‘n lemoen gee.”

Die seuntjie antwoord: “Wys vir my waar Hy nie is nie en ek sal vir jou twee lemoene gee. My God is oral.”

 

Nog ‘n storie

‘n Jong Christen vertel vir ‘n ou Christen: “My gebede is so eenvoudig en swak dat ek nie kan dink hulle is van enige waarde nie.”

Die ouer Christene antwoord: “ Plaas hulle net in Christus se hande. Hy laat hulle so anders lyk in die hemel dat jy hulle skaars sal herken.”

Gebede wat in hulleself van min waarde is, word doeltreffend as hulle deur Jesus Christus aangebied word.




Twyfel Christene ooit?

The Word is the chosen weapon by which the devil must be confronted and confounded – J. C. Ryle

 

Twyfel Christene ooit?

Daar is ‘n neiging om te dink dat Christene nooit twyfel nie. Dit is nie waar nie. Hier is ‘n paar redes waarom Christene twyfel:

  • Persoonlikheid: Sommige mense is geneig om te twyfel – dit is deel van hulle DNS. Party mense is van nature skepties – hulle glo nie sommer enigiets nie. Hulle sukkel om mense – selfs hulle vriende – te vertrou.
  • Geskiedkundig: Hierdie beïnvloed ons vermoë om te vertrou. Die oorsaak is nou gebeure van die verlede – een of ander troumatiese gebeurtenis soos mishandeling as kind wat jou vermoë om te vertrou ondermyn.
  • Fisies: ongesonde eetgewoonte en gebrek aan oefening kan beteken dat ons gemoedstemming baie kan wissel.
  • Spanning: spanning bepaal hoe ons dink en hoe ons die werklikheid beoordeel.
  • Teologies: mense twyfel aan God, maar dikwels is dit nie die God van die Bybel nie. Hulle dig eienskappe aan Hom toe wat nie waar is nie. Ons glo dat God ons moet beskerm teen fisiese skade en as Hy dit nie doen nie, twyfel ons. As ons glo dat God beloftes gemaak het, wat Hy nie gemaak het nie, twyfel ons.
  • Sonde: sodra ons begin kompromieë in ons lewe aangaan, begin ons twyfel. Soms gebruik ons selfs twyfel as ‘n verskoning om te sondig. Ons geloof word dan deur twyfel vervang.

 

Gelowiges twyfel ook soms. Daar is baie redes daarvoor. Dit is nie sonde om soms te twyfel nie, maar dan moet ons iets aan ons twyfel doen.

 




Hoekom het martelare bly hoop?

Unity is a mighty blessing; but it is worthless if it is purchased at the cost of truth (J. C. Ryle)

 

Hoekom het martelare bly hoop?

Ongeveer 350 jaar gelede het John Fox ‘n interessante boek geskryf: Fox’s Book of Martyrs. Daarin beskryf hy die lewens van honderde martelare in die geskiedenis – mense wat gewillig was om hulle lewens vir Christus af te lê.

 

Hoe kan mense kalm hulle oorgee om doodgemaak te word? Hoekom ondergaan hulle gewillig erge lyding en dood? Die antwoord is die Bybel se leerstelling van hoop. Deur op God en sy onwankelbare trou te fokus, kon hulle vas staan. Daar is veral twee redes daarvoor:

 

  • Hoop sien die dood as die begin en nie die einde nie

Vir gelowiges is die dood die begin van die ewigheid in die hemel. Dit is die begin van ‘n bestaan veel beter as enigiets wat ons beleef het of wat ons ons kan indink. Paulus het geweet dat dit waar is. In 2 Timoteus 4 lees ons dat Paulus besef het die tyd van my dood is voor die deur. Hy het besef dat hy die wenstreep bereik het. Maar: Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Omdat Christus die dood oorwin het, was daar niks meer om te vrees nie.

 

  • Hoop sien die Herder deur die skaduwees

Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het (1 Korintiërs 15:20). Die psalmis sê: Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my; u stok en u staf dié vertroos my (Psalm 23:4 – OAV). As Dawid in gevaar verkeer het, het hy sy troos gekry deur na sy Herder te kyk.

 

Martelare het hoop, want hulle fokus op Hom wat vir hulle wag – hulle rus in sy beloftes. ‘n Bybelse perspektief dink eerste aan Jesus Christus

 

 




Is Jesus vervelig?

A person may cause evil to others not only by his actions but by his inaction, and in either case he is justly accountable to them for the injury. -John Stuart Mill

 

Is Jesus vervelig?

‘n Ironie van ons huidige kultuur is dat meeste mense sê dat Jesus vervelig is. Hulle gee nie eintlik oor Hom om nie – hulle het Hom nie lief nie en haat Hom ook nie. Hoekom gebeur dit? Hulle ken nie waarlik vir Jesus nie. In die Bybel lees ons nie van iemand wat verveeld was met Jesus nie. Hy was wel polariserend – mense het Hom liefgehad of gehaat. Sommige mense het om Hom saamgedrom; ander mense het sy dood beplan. Luister wat sê Jesus: Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid (Lukas 12:51). Jesus het gekom om ons hele wêreld om te keer.

 

Kom ons kyk na vier vrae in hierdie verband:

  • Is Jesus ‘n integrale deel van al my verhoudings?

Neem Jesus werklik die leiding in ons families? Leer ons ons kinders om Jesus meer as onsself gehoorsaam te wees? Wil ons hê dat ons kinders Hom moet gehoorsaam, ten spyte van ons? Is Jesus in ons werk in beheer? Hierdie vraag geld vir al ons verhoudings. Sal ons Christus steeds bely ten spyte van toenemende kritiek?

  • Gehoorsaam ek Hom met dit wat tans voor my is

Sal ek vir Jesus sterf? Baie sal sê ja. Maar dit is abstrak. Die vraag is egter: Gehoorsaam ek Hom nou? Ons moet na ons huidige gewoontes kyk. Dien ons ander? Is ons deel van God se sending op aarde? Spandeer ons tyd in die geloofsgemeenskap? Hoe kan ons sê dat ons vir Jesus sal sterf as ons nie gewillig is om Hom vandag met ons lewens te gehoorsaam nie? Om vir Hom dood te gaan is nie die moeilike deel nie – om vir Hom te leef, is moeilik

  • Stel ek enige voorwaardes om Jesus te volg?

Mense loop soms weg van Jesus as gevolg van een of ander pyn en teleurstelling – hulle voel hulle het beter verdien – ‘n beter huwelik of werk. Jesus was duidelik nie vir hulle alles nie – vir hulle is Hy ‘n manier om iets te bereik. As dit nie werk nie, soek hulle iets beter. Jesus wil nie hê dat ons Hom moet volg omdat Hy ‘n kortpad na sukses is nie. Ons moet Hom onvoorwaardelik volg

 

  • Waar ek verdeeldheid veroorsaak, doen ek dit soos Hy?

Baie mense kyk na Lukas 12:51 en pas dit op al die verkeerde maniere toe. Jesus het verdeeldheid veroorsaak, maar Hy het die waarheid gepraat. As Hy dan verdeeldheid veroorsaak het, het Hy al die vuur op Homself getrek: Toe hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel (1 Petrus 2:23). Ons is geneig om ons te verdedig as ons kwaad is. Jesus dra ons beledigings met deernis; Hy reageer geduldig. Ons ignoreer mense wat van ons verskil. Jesus kon sonde konfronteer en steeds trek Hy ons nader aan Hom.

 

Is daar in jou lewe verdeeldheid as gevolg van Christus? Dink mense om jou dat Hy vervelig is?