Twyfel en die dood

God uses men who are weak and feeble enough to lean on him. —Hudson Taylor

 

Twyfel en die dood

As ons met die dood gekonfronteer word, vra ons: “Jesus, waarom laat U toe dat dit gebeur?” Die verhaal van twee wondertekens in Markus 5 help ons om sekere waarhede raak te sien.

  • Vir Jesus is die dood ‘n probleem wat maklik reggestel kan word

Toe Jesus by die bed van Jaïrus se dogtertjie kom sê Hy vir haar in Aramees: “Talita, koem!” Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!”

 Dink daaraan: Hier sit Jesus by die dogtertjie, vat die kindjie se hand en sê: “Kindjie, dit is tyd om op te staan.” Jesus sit by die gelowige op sy sterfbed, neem sy hand en as hy wakker word, is die eerste gesig wat hy sien dié van Jesus Christus – sy stem is die eerste wat jy hoor.

 

  • Jesus se vertraging weerspreek nie sy liefde nie

Ons kan aanvaar dat Jaïrus gefrustreerd was met Jesus. Nadat Jaïrus vir Jesus gevra het om sy kind gesond te maak, genees Jesus eers ‘n vrou wat aan bloedvloeiing ly – ‘n chroniese toestand. Alles goed en wel vir haar, maar Jaïrus se dogter se lewe hang aan ‘n draadjie. Jaïrus sou hierdie onderbreking as ‘n waagstuk gesien het. Dit was ook so, want intussen sterf sy kindjie. Waarskynlik het Jaïrus gedink dat as Jesus werklik omgegee het, sou Hy Hom na sy dogter se bed gehaas het. Wat Jaïrus nie besef het nie, is dat die vertraging geen blywende verskil gemaak het nie – die dogtertjie se dood was vir Jesus net ‘n tydelike terugslag.

 

Beteken dit nou dat donkerte nie werklik is nie? Nee. Wat dit wel beteken is dat tussen ons donkerte Jesus steeds met ons is. Hy het nie van ons vergeet nie.

 

  • Jesus bied meer aan en vereis meer as wat ons ooit gedink het

Beide Jaïrus en die vrou met bloedvloeiing kom na Jesus vir een doel. Jaïrus kom na Jesus vir genesing en hy kry opstanding. Hy moes die pyn van die dood beleef en Jesus midde in alles vertrou. Die vrou met bloedvloeiing word genees en Jesus sê vir haar Dogter, jou geloof het jou gered. Sy word deel van sy familie nadat sy haar aan Jesus blootgestel het. Dit is hoe Jesus is: Hy gee ons meer as wat ons dink ons nodig het: Alles van Hom vir alles van jou.

 

  • Ons oorwinning oor die dood het ‘n groot prys van Hom geëis

Ons lees dat toe die vrou aan Jesus geraak het daar van Hom groot krag uitgegaan het.  As dit kom by ons reiniging gebeur dit teen ‘n groot koste vir Hom – sy dood.

 

  • Persoonlike statuur dra niks by om die dood te oorkom nie

Die twee karakters in hierdie gedeelte is nie gelykes nie. Jaïrus was ‘n godsdiensleier; die vrou was onrein as gevolg van haar gesondheidstoestand. Jaïrus is ryk – die vrou is arm; almal in die stad ken vir Jaïrus … in hierdie verhaal word die vrou se naam nie eers genoem nie. Jesus genees beide as gevolg van hulle geloof. Hulle statuur en wat hulle bereik het in die lewe was nie vir Jesus belangrik nie. Al is jy arm en onrein kan Jesus jou sy dogter maak.

 

Onthou: God vul net leë hande.

 




Wanneer moet ek aftree?

Faith does not eliminate questions. But faith knows where to take them. —Elisabeth Elliot

 

Wanneer moet ek aftree?

Ken Blanchard was pas 75 jaar oud – ‘n ouderdom waarop meeste mense reeds afgetree het of aftrede sterk oorweeg. Aftrede is vir die industriële wêreld ontwikkel. Toe was mense fisies moeg as hulle 65 jaar oud was en het die rus nodig gehad.

Vandag is dinge anders. Ons het meer opsies. Hy voel dat sy werk – om ander te leer – hom nie moeg maak nie, maar hom nuwe brandstof gee. Hy praat van refirement. As mense vir Zig Ziglar gevra het of hy al afgetree het, was sy antwoord altyd:  “There’s no mention of retirement in the Bible. Except for Jesus, Mary and Joseph, David, and a few others, nobody under 80 made an impact. I’m not retiring, I’m refiring! I’m not gonna ease up, let up, shut up or give up until I’m taken up. As a matter of fact, I’m just getting warmed up!

 

 

Is dit moontlik? Ja, as jy oor elke dag opgewonde is; as ons vooruitsien om elke dag iets te leer. Norman Vincent Peale het gesê: “When I stop learning, I might as well lie down because I will be dead.” Hy het aanhou leer totdat hy gesterf het – op die ouderdom van 95 jaar. Leer is baie belangrik. In die verlede as jy lojaal aan die organisasie was en hard gewerk het, het jy werksekerheid gehad. Werksekerheid vandag word net deur die vaardighede wat jy bring, bepaal Mense is voortdurend besig om te leer en hulle vaardighede te verbeter. Dit maak hulle meer waardevol.

 

Moenie die dae tel tot jy aftree nie. Soek nuwe maniere om energie te kry – om jou batterye te herlaai Daar sal steeds elke dag baie wees om oor fees te vier.

 




Wêreldsiening: Die Christelike wêreldsiening

Every living soul has a sphere of influence. Let him see to it that he fills it (J. C. Ryle)

 

Wêreldsiening: Die Christelike wêreldsiening

James N. Anderson het ‘n baie interessante, interaktiewe boek geskryf: What’s your Worldview? Ek gaan onder andere hiervan gebruik maak in ‘n aantal blogs.

Die Christendom is vandag die grootste godsdiens in die wêreld. Die middelpunt is Jesus Christus. Christene glo dat Hy nie alleen ‘n groot profeet en geestelike leermeester is nie, maar dat Hy die Seun van God en self ook God is – die Verlosser van die wêreld. Daar is ‘n persoonlike God wat volmaak in goedheid, kennis en mag is. God het die heelal uit niks geskep nie en onderhou dit voortdurend. Ons as mense is na die beeld van God gemaak om in ‘n persoonlike liefdesverhouding met Hom en ons naaste te leef. Daar is dus objektiewe morele standaarde vir die lewe: God se goeie en wyse gebooie wat opgesom kan word as liefde vir Hom en liefde vir die naaste.

 

Maar die mens het in opstand gekom teen sy Skepper en sy wette oortee. Daarmee bederf ons God se skepping en plaas onsself onder sy regverdige oordeel. Diep in ons harte is ons almal opstandig en verdien veroordeling. As gevolg van sy groot liefde en genade stuur God vir ons ‘n Verlosser – sy Seun Jesus Christus. Jesus Christus versoen ons met God. Dit doen Hy met sy kruisdood vir ons sondes en sy opstanding. God het sy verlossingsplan deur sy profete, apostels en veral deur Jesus Christus onthul. Hierdie openbarings kry ons in die Bybel.

Die grootste probleem vir die Christelike wêreldsiening is ongetwyfeld die probleem van die bose. As God volmaak is en alles goed gemaak het, hoekom is daar boosheid in die wêreld. Die Bybel gee ‘n aantal redes, maar nie een verklaar al die vrae nie. Maar as ons die Christelike wêreldbeeld met al die ander wêreldsienings vergelyk, bly dit die beste verklaring  vir die onderskeid tussen goed en sleg en ons ondervinding van goed en sleg in hierdie wêreld.

Die Christelike wêreldsiening het een baie belangrike bate: Jesus van Nasaret – die invloedrykste mens in die geskiedenis van die wêreld. Jy kan Hom nie ignoreer nie; iewers moet Hy in jou wêreldbeeld inpas. As jy hom nie in die middelpunt plaas nie, waar wil jy Hom dan plaas?

 




Wêreldsiening: Het Jesus van Nasaret uit die dood opgestaan?

There is an intolerance which is downright praiseworthy – that is, the intolerance of false teaching in the pulpit (J. C. Ryle)

Wêreldsiening: Het Jesus van Nasaret uit die dood opgestaan?

James N. Anderson het ‘n baie interessante, interaktiewe boek geskryf: What’s your Worldview? Ek gaan onder andere hiervan gebruik maak in ‘n aantal blogs.

Om uit te vind wat mense van Jesus dink, is waarskynlik die doeltreffendste manier om die veld van jou wêreldsiening te vernou.  Elke teïstiese wêreldsiening het ‘n onderskeidende siening van wie Jesus is, wat Hy gedoen het en wat met Hom gebeur het. So byvoorbeeld maak die Christendom daarop aanspraak dat Jesus gekruisig is en op die derde dag weer opgestaan het. Dit was ‘n letterlike, fisiese en liggaamlike opstanding. Jesus keer terug uit die graf met dieselfde liggaam waarmee Hy die graf ingegaan het. Dit was nie net ‘n geestelike opstanding nie. Teïste wat nie Christene is nie, ontken die opstanding van Jesus.

 

Volgens die Nuwe Testament  as Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, is Hy nie die Seun van God nie en is die Christelike geloof nutteloos – dit is vals. As iemand Jesus se opstanding ontken, het hy ‘n nie-Christelike teïstiese wêreldsiening. Maar wat doen ons dan met Jesus van Nasaret? Dit is moeilik om te ontken dat Hy nie ‘n geskiedkundige persoon was nie. Hy het ook gesê dat Hy die Seun van God is en Hy het sy dood en opstanding voorspel. As Jesus nie was wat Hy gesê het Hy is nie, was Hy dan mal of het Hy mense mislei? Die beeld wat ons van Hom in die evangelies kry, is dié van iemand wat volledig in beheer van Homself en sy bestemming was en wat gewillig sy lewe vir ander neergelê het.

Ander mense sê dat Jesus ‘n groot leermeester was. Watter soort leermeester sal die aansprake maak wat Jesus gemaak het? Sal iemand wat net ‘n leermeester was daarop aanspraak gemaak het dat Hy uit die hemel gekom het, dat Hy en God een is, dat Hy die reg het om sondes te vergewe en dat Hy gesag het oor die heelal?

Ander sê dat Jesus opreg was in sy aansprake, maar dat sy aansprake verkeerd was. Jesus se aansprake was nie eksentries nie – hulle was fantasties. Kan ‘n goeie man by sy volle verstand nou so verkeerd in sy aansprake wees?

Jesus se aansprake is misverstaan. Wat Hy eintlik bedoel het, was dat ons almal in een of ander sin goddelik is. Dit beteken dat Jesus ‘n baie swak leermeester was – almal het Hom misverstaan.

As ons die tradisionele siening van Jesus verwerp, hoe hanteer ons dan die geskiedkundige bewyse vir sy opstanding. Al vier die evangelies beskryf sy opstanding as historiese getuienis van ooggetuies, Historici erken Jesus was ‘n ware persoon wat deur die Romeine gekruisig is in ongeveer 30. Dit word ook aanvaar dat sy dissipels oortuig was dat hulle Jesus na sy begrafnis weer lewend gesien het. Hulle sê selfs dat hulle met Hom gepraat het en saam met Hom geëet het. Die Christelike kerk se oorsprong was juis die getuienis van hierdie ooggetuies en dat Hy hiermee die profesieë van die Ou Testament vervul het. Sy volgelinge was gewillig om gespot, vervolg en selfs doodgemaak te word eerder as om hulle aansprake te verwerp.

As dit nie is wat gebeur het nie, wat het dan gebeur? Is daar ‘n beter verklaring vir die historiese bewyse?