Wêreldsiening: Is dit moontlik om die waarheid te ken?

 

Those who give much without sacrifice are reckoned as having given little. —Erwin Lutzer

Wêreldsiening: Is dit moontlik om die waarheid te ken?

James N. Anderson het ‘n baie interessante, interaktiewe boek geskryf: What’s your Worldview? Ek gaan onder andere hiervan gebruik maak in ‘n aantal blogs.

As alles dan relatief is, is dit moontlik om die waarheid te ken? Die objektiewe waarheid is van min waarde as jy nie daartoe toegang kan kry nie – as ek nie met ‘n mate van vertroue kan weet wat die waarheid is nie. As die waarheid altyd buite ons bereik is, kan daar net so wel geen waarheid wees nie. Ons mors ons tyd om dit na te streef. Meeste mense sal erken ons het intellektuele vermoëns – soos rede en persepsie – wat ons toelaat om sake van belang te ondersoek en om die waarheid oor hierdie sake te ontdek. Deur hierdie vermoëns verantwoordelik te gebruik, kan ons baie oor onsself en die wêreld om ons leer.

 

Ander mense glo dat al is daar ‘n objektiewe waarheid oor ‘n saak kan niemand weet wat dit is nie. Elkeen het sy eie mening en van daardie menings kan reg wees, maar niemand se mening is meer redelik as dié van ‘n ander nie. Niemand het die reg om te sê dat hy die waarheid ken nie.

Skeptisisme is die siening dat selfs as daar ‘n objektiewe waarheid is, kan niemand weet wat dit is nie. Hulle glo ons kan nie met enige mate van sekerheid bepaal wat die waarheid is nie. Alles is onderhewig aan twyfel. Hierdie siening kom reeds uit die antieke Griekse filosofie. Omdat ons nie die objektiewe waarheid kan bepaal nie, mag ons nie ander oordeel nie. My mening is nie nader aan die waarheid as ‘n ander persoon s’n nie.

Die aanspraak dat ons geen waarheid kan ken nie, kan tog nie waar wees nie. Almal van ons ken tog sekere waarhede.

Skeptisisme is selfvernietigend. As hulle aanspraak waar is, kan niemand mos weet dit is waar nie. Jy moet net soveel oor skeptisisme twyfel as oor enigiets anders.

Natuurlik weet ons nie alles nie, maar dit maak geen sin om te sê dat ons niks weet nie. Dit is moeilik om in die praktyk uit te leef.

As ons nie die waarheid kan ken nie, moet ons onsself afvra: Is enigiets dan nou objektief goed of sleg? Daarna kyk ons volgende keer.




Wêreldsiening: Relativisme

Take the first step in faith. You don’t have to see the whole staircase, just take the first step – Martin Luther King Jr

Wêreldsiening: Relativisme

James N. Anderson het ‘n baie interessante, interaktiewe boek geskryf: What’s your Worldview? Ek gaan onder andere hiervan gebruik maak in ‘n aantal blogs.

Relativisme is die wêreldsiening dat daar nie so iets soos die objektiewe waarheid is nie. Wat ons dus die waarheid noem, is altyd relatief tot iets anders. Sommige mense wat so dink, aanvaar dat die waarheid altyd relatief tot ‘n individuele persoon is. Hulle praat dus van “wat vir my waar is” en wat vir jou waar is. Hierdie twee “waarhede” hoef nie noodwendig dieselfde te wees nie. Maar daar is ook die kulturele relativiste – hulle sê dat die waarheid relatief tot ‘n persoon se kultuur of gemeenskap is. Hulle sal praat van wat waar is vir mense van verskillende godsdiensgroepe – wat waar is vir Christene is nie noodwendig waar vir Boeddhiste nie.

 

Relativisme sê nie net dat mense verskillende dinge glo of verskillende idees het nie. Wat hulle sê is dat die waarheid verskil van persoon tot persoon en van kultuur tot kultuur. Hulle ontken dat daar objektiewe feite is oor die werklikheid wat vir almal dieselfde moet wees. Feite is net so relatief soos die waarheid. Relativisme is vandag algemeen. Daar is egter twee ernstige probleme:

  • Dit is strydig met ons basiese intuïsie van die waarheid. As ek sê dat planeet aarde een maan het, is dit tog waar vir almal.
  • Relativisme is selfvernietigend. Hulle aanspraak dat daar geen objektiewe waarheid is nie, is dit objektief waar? Hier is duidelik ‘n teenstrydigheid. As dit nie objektief waar is nie, kan relativisme tog nie aanspraak maak op universele aanvaarding nie.

Vir die relativis is almal reg – relatief. Beteken dit nou dat nie-relativiste net so reg soos relativiste kan wees? Dit klink nie reg nie. Dit is baie moeilik om te sê dat daar geen objektiewe waarheid is nie.

Hierdie gedeelte lei onmiddellik na ‘n volgende vraag: Is dit moontlik om die waarheid te ken?




Petrus se belydenis

Ignorance, complete ignorance, can never be the qualification of a true Churchman (J. C. Ryle)

 

Petrus se belydenis

Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie (Handelinge 4:12)

Hierdie woorde is vandag nog net so van toepassing as toe Petrus hulle uitgespreek het. Drie vrae vloei voort uit hierdie belydenis van Petrus:

  • Wat is die leer wat Petrus hier neerlê?

Daar is geen verlossing behalwe in Christus nie. Niemand kan van sonde verlos word, behalwe deur Christus nie; niemand kan met God, die Vader, versoen word, behalwe deur die tussenkoms van Jesus Christus nie; niemand kan God se toorn ontsnap, behalwe deur Christus nie.

Daar is geen ander Naam wat aan mense gegee is, waardeur ons gered kan word nie. Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie (Johannes 14:6); Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus (1 Korintiërs 3:11). Ek kan nie gedeeltelik op Christus vertrou vir my verlossing nie – volledig of niks nie.

  • Hoekom is hierdie leer waar?

Die antwoord is eenvoudig: God sê so. Maar daar is meer. Die mens is ‘n sondige wese. Die mens kan homself nie red nie – sy saak is hopeloos. Hy het ‘n Middelaar nodig om hom voor God aanvaarbaar te maak. En dit kry ons nêrens behalwe in Jesus Christus nie. Ons het ‘n magtige Verlosser nodig en Christus is dit. Hierdie leer is waar, want die Bybel sê dit vir ons. Die Bybel sê dat Christus mens geword het en na die aarde gekom het. Hier het Hy aan die kruis gesterf sodat ons sondes vergewe kan word.

  • Watter gevolgtrekkings kan ons uit hierdie leer maak?

Vandag wil ons graag almal tevrede stel. Ons wil nie mense kwaad maak deur te sê dat verlossing sonder Christus onmoontlik is nie. Enige godsdiens sonder Jesus Christus is waardeloos. Maar Hy moenie net ‘n plek in ons godsdiens hê nie – Hy moet die eerste plek beklee. Maar ons moenie nog iets byvoeg nie – ons het nie vir Christus plus iets anders nodig nie. Christus is voldoende. Daar is geen middelaar tussen die sondaar en Jesus Christus nie. Selfs opregtheid sonder Jesus Christus is nie voldoende vir ons verlossing nie.

As  daar dan geen verlossing behalwe deur Jesus Christus is nie, moet ons seker maak dat ons in daardie verlossing deel. Maar ons moet ook seker maak dat ons hierdie Goeie Nuus met ander wat dit nog nie het nie, deel. Terselfdertyd moet ons almal wat vir Jesus Christus as hulle Verlosser liefhet ook liefhê.

 




Wêreldsiening: Het jy die mag om vry keuses te maak?

Some things in life do not fit neatly into a schedule – Laura Schroff

Wêreldsiening: Het jy die mag om vry keuses te maak?

James N. Anderson het ‘n baie interessante, interaktiewe boek geskryf: What’s your Worldview? Ek gaan onder andere hiervan gebruik maak in ‘n aantal blogs.

 

Ons maak keuses – die hele tyd. Soms kom ons dit nie eers agter nie. Maar is hierdie keuses vry? Is ons keuses slegs die stimulus gevolg deur reaksie uitsette van jou brein? Of is hulle die vrye keuse van ‘n moreel verantwoordelike agent. Het jy die mag om vrye keuses te maak?

Mense, anders as rekenaars en robotte, het die vermoë om vrye keuses te maak. Ons kan nadink oor ons opsies en dan kies tussen verskeie moontlike optredes. Ons word verantwoordelik gehou vir ons keuses – en dit met reg. Hoe jy kies om te reageer mag baie belangrike implikasies vir jou lewe en die lewens van ander hê.

 

Voordat ons ‘n keuse maak, moet ons eers besluit of daar iets soos die objektiewe waarheid is. Is alles nie maar net relatief nie? Wat waar is vir een persoon is nie noodwendig waar vir die volgende persoon nie; wat waar is vir mense in een kultuur is nie noodwendig waar vir mense in ‘n ander kultuur nie. Mense wat so dink, glo nie dat die waarheid “daar buite”  – iets wat ons moet ontdek –  is                                                                                                                                                                                                                                                                                        nie. Hulle glo die waarheid is iets wat jy self skep of vir jouself kies. Die waarheid is altyd in ons en  nie “buite” ons nie. ‘n Stelling soos “daar is ‘n God” is waar vir sommige mense, maar nie vir alle mense nie. Wat waar is, is altyd relatief tot jou siening, konteks of kultuur. Ons kan dus nie van “die waarheid” praat asof dit vir almal geld nie. Ons moet dus eerder van my waarheid praat.

Daar is ander mense wat glo dat sekere waarhede – insluitend die belangrikste waarhede – objektief waar is. Daar is sekere dinge wat waar is, maak nie saak wat jy dink of voel of hoop oor hierdie sake nie. Die objektiewe waarheid is vir almal waar, want dit berus op objektiewe feite oor die werklikheid – dit staan los van die idees, begeertes en gevoelens van mense.  Is daar enige objektiewe waarheid?

Om verder hierna te kyk, gaan ons volgende keer na relativisme kyk.