Geestelike blindheid

“Revelation is…never the mere communication of knowledge, but it is a life-giving and a life-renewing communion.” – Emil Brunner

Geestelike blindheid

Lukas 24:13 – 35

Die verhaal van die Emmaus-gangers is ‘n verhaal van sig en blindheid – gelukkig geneesbare blindheid. Toe Jesus by die twee dissipels op die pad aangesluit het, is hulle oë verhinder om Hom te herken – vers16.  Hulle onvermoë om Jesus te herken, het met geestelike blindheid te doen. Alle mense is blind as dit kom by Jesus wat opgestaan het. Die vraag is: Wie is gewillig om genees te word?

  • Wat is die oorsake vir geestelike blindheid

Geestelike blindheid is ‘n algemene probleem. In sy ongelooflike lied – Amazing Grace – skryf John Newton: “I once was blind, but now I see.” Om God se genade in Jesus Christus te vind, is om weer te kan sien na ‘n tyd van blindheid. Geestelike blindheid is nie beperk tot mense buite die geloofsgemeenskap nie. Dit kan binne die gemeenskap ook gebeur.

Dit is wat in hierdie verhaal gebeur – en ook elders in die evangelies. Selfs die dissipels het gesukkel om altyd te verstaan wat Jesus bedoel het. Baie mense het Jesus se gelykenisse oor die koninkryk geniet, maar nooit werklik verstaan wat Hy bedoel het nie – hulle het nooit die koninkryk gevind nie.

Lukas sê nie vir ons waarop hierdie twee dissipels Jesus nie herken het nie. Party mense sê dat God hulle weerhou het daarvan, Dit sou darem snaaks wees. Daar moet darem sekerlik ander redes gewees het. Ander sê dit was die werk van die Satan. Baie mense, selfs Christene, vind dit moeilik om te aanvaar, want hulle ontken die bestaan van Satan. Maar om die bestaan van die Satan te ontken is problematies – Jesus het in sy bestaan geglo. C. S. Lewis skryf in The Srewtape Letters:

There are two equal and opposite errors into which our race can fall about the devils. One is to disbelieve in their existence. The other is to believe, and to feel an excessive and unhealthy interest in them. They themselves are equally pleased by both errors and hail a materialist or a magician with the same delight.

Satan trek ons aandag af en laat ons op nietighede fokus – alles om te verhoed dat ons op die waarheid van Jesus wat gekruisig en opgestaan het, fokus. Dit beteken nie ons dra geen verantwoordelikheid vir ons eie geestelike blindheid nie. “Die duiwel het my dit laat doen,” is geen verskoning nie.  Luister wat sê Jesus vir die twee: vers 25: Wat ‘n gebrek aan begrip en wat ‘n traagheid van gees. Ons is net soos Kleopas en sy maat.

Tydens sy bediening het Jesus herhaaldelik vir sy dissipels gesê dat Hy moet sterf, maar dat Hy weer gaan opstaan. Deel van ons geestelike blindheid is dieselfde: Jesus Christus het sekere dinge herhaaldelik vir ons gesê, maar ons glo dit nie of leef dit nie uit nie. Geen wonder ons geestelike groei is afgeplat nie.

Toe Jesus vir hulle die Skrif uitgelê het – van Moses en die profete – het Hy sekerlik baie min gesê wat hulle nie geweet het nie. Hy herhaal maar net wat Hy hulle vantevore geleer het. Geestelike blindheid het twee oorsake:

Ons geestelike vyand sal alles in sy vermoë doen om ons aandag van God se beloftes en mag af te trek. Wees wakker vir sy taktiek; fokus op Christus.

Ons eie onvermoë om dit wat ons oor jare in die evangelie geleer het te glo en toe te pas.

  • Genesing vir geestelike blindheid

In hierdie gedeelte lees ons van twee maniere waarop Jesus geestelike blindheid genees het.

Jesus het die Skrif vir hulle uitgelê

Die Skrif is God se geskrewe woord. As Jesus nie die Skrif vir die twee dissipels verduidelik het nie sou hulle nooit die betekenis daarvan begryp het nie – hulle harte sou nie vinnig geklop het nie: Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie? (vers 32). Vandag dra die Skrif steeds die boodskap van God getrou aan ons oor. Tog is dit moontlik om die Skrif te lees sonder om enigiets daarin te kry. Jesus Christus moet ook vir ons die Skrif interpreteer. Ons het ook die Heilige Gees nodig vir die Skrif om vir ons lewendig te word en om Jesus in die middelpunt van die boodskap te sien. Hoe kry ons die Heilige Gees? Deur in nederige afhanklikheid te bid; deur te vra vir die werking van die Gees as ons die woord lees en daaroor nadink; ons soek die Heilige Gees onder ons as ons as geloofsgemeenskap vergader.

Die tweede genesing kom tydens die maaltyd

Die twee dissipels se kultuur heg groot waarde aan gasvryheid. Jesus word as eregas genooi om saam met hulle te eet. Maar dit is nie hoe dit gebeur nie. Jesus neem die brood, dank God daarvoor, breek die brood en deel dit uit – Jesus is in werklikheid die gasheer van die maaltyd. Hierdie optrede herinner aan die vermeerdering van die brode en vissies, en die instelling van die nagmaal. Toe besef die twee – hierdie is Jesus. Die nagmaal is sekerlik ‘n plek waar Jesus Christus Homself aan ons bekend maak. Maar hierdie is ‘n gewone maaltyd. Hy openbaar Hom hier aan die twee dissipels in die dinge van die alledaagse lewe. Ons moet dus gereed wees om deur Jesus Christus verras te word. Hy is nooit ver weg van ons nie; Hy kruip nie vir ons weg nie; Hy is altyd op soek na ons.

Die opstanding van Jesus is God se genesing vir geestelike blindheid. Ons mag blind wees, maar die lig van Jesus Christus wat opgestaan het, is helderder as die duisternis. Sy Gees maak die Skrif vir ons lewend en Hy soek oral vir ons. Ons moet  die opgestane Here uitnooi om ons oë oop te maak vir sy teenwoordigheid.




Ons sing nie in hierdie gemeente nie!

 

“In all the various forms of revelation, there is one meaning: Emmanuel, God with us.” – Emil Brunner

Ons sing nie in hierdie gemeente nie!

Huldreich Zwingli, die bekende Hervormer van Switserland, het baie veranderinge in die eredienste in sy gemeente in Zürich aangebring. Die radikaalste was waarskynlik dat hy alle musiek – instrumenteel en vokaal – tydens eredienste verbied het. Dit is eienaardig, want Zwingli was ‘n erkende musikus – hy kon tien verskillende musiekinstrumente bespeel en kon ook goed sing. In 1525 verbied hy koorsang in die gemeente en in Desember 1527 word die orrel afgebreek. Hoekom?

 

  • Al die musiek was verbind met aanbidding in die Rooms-Katolieke kerk. Hy wou sy gemeente so ver as moontlik losmaak van hulle verbintenis met die verlede.
  • Die woorde was in Latyn en daarom het die mense dit nie verstaan nie. Hy wou gehad het dat elke deel van die erediens in die plaaslike taal gevoer moet word.
  • Destyds het mense dikwels hulle honde na die eredienste gebring. Tydens die musiek het hierdie honde begin tjank. Dit het die erediens ontwrig.

Dit word dikwels beweer dat Zwingli musiek gehaat het. Dit is nie waar nie. Hy het egter gevoel dat van die sangers en musici (veral orreliste) hulleself deur hulle musiek probeer bevorder het. Dit het afbreuk aan ware aanbidding gedoen en daarom het hy dit verban.




Hoekom herken ons nie vir Jesus nie?

 

Most ‘pastors’ with business degrees know Adam Smith better than they know St. John – Jim West

Hoekom herken ons nie vir Jesus nie?

Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop, maar hulle oë is verhinder om Ho te herken (Lukas 24:15 – 16).

Hoe is dit moontlik dat hierdie twee mans op pad na Emmaus Jesus nie herken het nie? Het God dalk vir ‘n spesifieke rede hulle oë verblind? God het immers die farao se hart verhard net voor die Israeliete uit Egipte getrek het. Maar ons leer tog dat God ons help om te sien. Die tydelike “blindheid” van die manne op pad na Emmaus was waarskynlik nie van God afkomstig nie.

 

Maar hoekom het hulle nie vir Jesus raakgesien nie? Was hulle deur hartseer verblind? Dalk was hulle so erg deur droefheid oorweldig dat hulle gesukkel het, want hulle kon nie eers die pad duidelik gesien het nie. Dalk het hele interne wêreld in duie gestort met die dood van hulle geliefde Messias. Ons weet dat hartseer ons fokus kan wegtrek.

Miskien was hulle “blindheid” die gevolg van hulle onvermoë om nuut te dink. Miskien het hulle grootgeword met so ‘n streng perspektief dat hulle nie dit wat reg voor hulle was, kon raaksien nie.

Later toe hulle Jesus herken het, laat hulle ons met ‘n paar vrae. Aanvaar ons, bewustelik of onbewustelik, dat God verhoed dat ons sien en daarom hou ons op om te kyk? Veroorsaak ons ondervindings, soos hartseer, tydelike blindheid by ons? Verblind ons godsdiens ons? Kan ons aan ons godsdienstige beginsels vashou, maar terselfdertyd verder as hulle sien?




Die plek van gebed in die lewe van ‘n Christen.

 “Exaggeration” is actually a proud, unbroken word for “lying.” —Nancy Leigh DeMoss

Die plek van gebed in die lewe van ‘n Christen.

R.C. Sproul het ‘n interessante blog hieroor geskryf. Wat is die doel van die Christelike lewe? Goddelikheid gebore uit gehoorsaamheid aan Christus. Gebed ondersteun gehoorsaamheid, want dit skep die regte raamwerk vir ‘n begeerte na gehoorsaamheid.  Natuurlik is kennis ook belangrik, want daarsonder sal ons nie weet wat God verwag nie. Kennis en die waarheid bly abstrakte begrippe tensy ons met God in gebed verbind. Die Heilige Gees leer, bemoedig en verlig God se Woord vir ons. Die Heilige Gees help ons om in gebed met die Vader te verkeer.

 

Gebed beklee ‘n lewensbelangrike plek in die lewe van ‘n Christen. ‘n Mens mag bid en nie ‘n Christen wees nie, maar jy kan nie ‘n Christen wees en nie bid nie. Gebed vir die Christen is soos asemhaal vir die lewe. Tog verwaarloos ons dikwels gebed.

Gebed is die geheim van heiligheid. Ons word uitgenooi – selfs gebied – om te bid. Gebed is beide ‘n voorreg en plig. Gebed, soos enige  ander manier om geestelik te groei, vereis werk. In ‘n sekere sin is gebed onnatuurlik vir ons. Daarom is ons dikwels lui en onverskillig as dit by gebed kom.

Gelukkig ken God ons harte en hoor selfs daardie versoeke van ons wat ons nie uitspreek nie. As ons nie ons diepste gevoelens en emosies in woorde kan uitdruk nie, as ons nie weet wat om te bid nie, tree die Heilige Gees vir ons in. Romeine 8:26 – 27.    Gebed is die geheim van heiligheid. As ons die lewens van groot gelowiges ondersoek, is dit duidelik dat gebed ‘n belangrike rol in hulle lewens gespeel het. John Wesley het gesê dat hy nie veel van ‘n leraar dink wat minder as vier uur per dag bid nie. Martin Luther het gesê dat hy ten minste ‘n uur elke dag bid, tensy hy ‘n moeilike dag verwag – dan bid hy vir twee uur.

Verwaarlosing van gebed is ‘n baie belangrike rede vir die afplatting van geestelike groei in die lewe van ‘n Christen. Die probleem is dat ons eers in ons private lewens val voor ons in ons openbare lewens val.

Is daar ‘n regte en verkeerde tyd om te bid. Jesaja 50:4 praat van soggens bid, maar ander gedeeltes sê dat ons enige tyd van die dag kan bid. Geen deel van die dag is heiliger as ander nie. Jesus het enige tyd van die dag gebid. Eintlik het gebed tussen Jesus en sy Vader nooit gestop nie.

1 Tessalonisense 5:17 sê dat ons sonder ophou moet bid. Dit beteken ons moet gedurig in gesprek met God wees. Gebed staan sentraal en is noodsaaklik in die lewe van ‘n Christen.