Die vyf vlakke van leer

You can judge the health of a church nou by its seating capacity but by its sending capacity – Rick Warren

Die vyf vlakke van leer

Rick Warren beskryf vyf vlakke van leer. Die eerste twee vlakke het te doen met weet; vlakke 3 en 4 het te doen met wees en vlak 5 met doen.

Vlak 1 = Kennis

My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp. (Hosea 4:6 – OAV). As ons die woord van God nie ken nie, kan dit baie maklik verdraai word. Ons moet ook die kerkgeskiedenis en sekere teologiese woorde en begrippe ken. Baie mense ken die feite, maar nie die inhoud nie. Jesus vra vir die Sadduseërs: Is die rede waarom julle dwaal, nie juis dat julle nie die Skrif ken nie en ook nie die krag van God nie (Markus 12:24). Hierdie is mense wat die Pentateug gememoriseer het en tog sê Jesus vir hulle dat hulle nie die Skrif ken nie.

 

Vlak 2 =  Perspektief/wysheid

Nou sien ons die lewe van God se perspektief. Kennis beteken ek weet wat God doen; perspektief beteken dat ek weet hoekom God dit doen. My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede is nie soos Myne nie, sê die Here (Jesaja 55:8); Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word. Die mens wat die Gees van God het, kan die waarde van alle dinge beoordeel (1 Korintiërs 2:14 – 15).

Vlak 3 = Oortuigings

Na die eerste twee stappe begin ons nou sekere oortuigings ontwikkel. Wat is God se perspektief op versoeking/boosheid/ sonde/die duiwel …? Sodra ons perspektief ontwikkel, ontwikkel ons oortuiging. My mening is iets waaroor ek sal argumenteer; my oortuigings is iets waarvoor ek sal sterf. Hier is ‘n paar Bybelse voorbeelde van oortuigings:

  • Niks kan my van die liefde van God skei nie (Romeine 8:39)
  • God laat alles ten goede uitwerk vir dié wat Hom liefhet (Romeine 8:28 – 29)
  • God is magtig om dit wat Hy aan my toevertrou het tot op die dag wat Hy weer kom in stand te hou (2 Timoteus 1:12)
  • Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang (Handelinge 20:35)

Vlak 4 – Karakter

Oortuigings ontwikkel in gewoontes en die somtotaal van my gewoontes is my karakter. Ek ontwikkel my karakter deur gewoontes van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22 – 23). Hierdie staan bekend as die vrug van die Gees.

Vlak 5 = Vaardigheid

 As gereelde Bybelstudie, gebed, getuig, ens gewoontes in ons lewens word, hoe beter doen ek hulle. Dan bereik ek hierdie vlak van leer – vaardigheid. As die byl stomp word en nie meer geslyp word nie, moet jy meer krag gebruik. Dit betaal om jou verstand te gebruik (Prediker 10:10). Vaardigheid kom as jy ‘n ding oor en oor doen. Ons glo net wat ons doen.




DIE STRYD VIR JOU VERSTAND (1)

 

The ideal of religious tolerance has morphed into religious agreement – Stephen Prothero

Die stryd vir jou verstand (1)

Daar is ‘n intense, onsigbare stryd wat in ons woed. Dit is ‘n onregverdige stryd, want Satan baklei altyd onregverdig. Hierdie stryd gaan oor ons verstand. ‘n Belangrike ding wat ons moet leer, is hoe om ons verstand te beskerm, te versterk en te vernuwe.

‘n Goeie samevatting kry ons in 2 Korintiërs 10:3 – 5. Paulus sê die stryd is teen vestings wat vernietig moet word. Met God se  wapens vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word.  So ‘n vesting mag na twee dinge verwys:

  • ‘n Wêreldsiening soos materialisme, ateïsme, relativisme … Dit is vestings wat mense teen die kennis van God opgestel het.
  • ‘n Persoonlike gesindheid. Dit gaan oor kommer, die soeke na die goedkeuring van ander, vrees, skuldgevoelens … – enigiets waarvan ek ‘n afgod in my lewe maak.

In hierdie gedeelte gaan Paulus verder: Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. Dit beteken ons moet elke gedagte beheer, oorwin en onderwerp. Ons doen dit om elke gedagte aan Christus gehoorsaam te maak. Die probleem is dat die verstand nie altyd luister nie – soms is dit opstandig en gaan in ‘n ander rigting as wat ek wil gaan. Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek (Romeine 7:19).

Christene moet die stryd van die verstand kan stry.

Maar hoe kan ons hierdie stryd om ons verstand wen? Daarna gaan ons volgende keer kyk




Dink, voel, doen

Reading is an act of thinking – John Piper

Dink, voel, doen

 ‘n Tragedie is dat onder Christene die verstand nie altyd waardeer word nie. Die kerk word daarvan beskuldig dat hy anti-intellektueel is. In die verlede is Christene dikwels mense van die Boek genoem. In ‘n sekere sin beteken dit tog dat hulle denkers was. Ongelukkig vind ons dat Christene nie meer lees nie – hulle lees nie meer die Bybel of boeke van die groot Christelike denkers nie. Maar wat sê die Bybel? Jy moet die Here jou God liefhê … met jou hele verstand (Matteus 22:37); Dink na oor wat ek sê; die Here sal jou insig gee om alles te verstaan (2 Timoteus 2:7); Roep insig by, vra na gesonde begrip. Soek dit soos jy silwer sou soek, spoor dit op soos ‘n verborge skat. Dan sal jy weet hoe om die Here te dien, sal jy ontdek wat dit is om God te ken (Spreuke 2:3 – 5). God het aan ons ‘n brein gegee – gebruik dit in sy diens.

 

Dink en sy metgesel lees is noodsaaklik vir normale, gesonde Christene. Maar groei in kennis is net een aspek van heiligmaking. Wat van die hart en die hande en voete? God gee om vir ons harte; Hy wil ons harte in besit neem. Dit beteken nie die brein is onbelangrik nie: Van sy jeug af bedink die mens net slegte dinge (Genesis 8:21); Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks, hulle verstand is verduister, en hulle het geen aandeel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde verhard (Efesiërs 4:17 – 18). Net so beklemtoon die Bybel die belang van die hart: Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe (Spreuke 4:23); Maar ons dank God dat julle wat slawe van die sonde was, van harte gehoorsaam geword het aan die leer soos julle dit deur oorlewering ontvang het (Romeine 6:17).

Die derde element van belang is om te doen: Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself (Jakobus 1:22); God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Efesiërs 2:10). Wat ons dink en voel van God moet in ons dade uitdrukking kry – aanbidding, gebed, praktiese liefdesdade, ens. Ons bestaan is multidimensioneel: ons word opgeroep om te dink, lief te hê en te doen – alles tot verheerliking van God.

Ongelukkig is ons selde in ons geestelike groei gebalanseerd. Een of twee aspekte is verder ontwikkel as die derde een. Dit geld vir beide die individuele en korporatiewe vlak. Dink, voel, doen. Werk aan al drie.




Meer liefde in die gemeente

The palest ink is better than the best memory. ”-  Chinese Spreekwoord

Meer liefde in die gemeente

Een van dié belangrikste faktore vir die groei van die koninkryk van God en die groei van die gemeente is liefdevolle Christene. Gemeentes moet gemeenskappe van liefde wees. Dit is liefde wat mense bereik. Jy kan nie mense in die koninkryk in argumenteer nie. Met liefde kan jy hulle in die koninkryk kry.

Hoe doen jy dit? Rick Warren sê met drie stappe:

  • Aanvaar almal

Daar is gemeentes wat uit geestelike snobs bestaan – ons het dit en julle nie. Hoekom sukkel ons so om ander te aanvaar? Omdat ons glo aanvaarding en goedkeuring is dieselfde ding. Jy kan iemand aanvaar sonder om sy lewenstyl goed te keur.

Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God (Romeine 15:7).  Dit is waar ons begin: aanvaarding. Kweek ‘n gesindheid van aanvaarding in die gemeente. Die gemeente is ‘n hospitaal vir sondaars en nie ‘n hotel vir gelowiges nie. ‘n Gemeente is ‘n plek waar mense groei. Waar jy was, is nie belangrik nie. Wat belangrik is, is waar jy nou is en of jy vir Jesus ken.

  • Waardeer almal

Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as die ander. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander (Filippense 2:3 – 4). Waardering is meer as blote aanvaarding. Kry iets wat jy van hou en nie net aanvaar nie. Sê dit vir hulle. Onthou: dit sou ‘n vervelige gemeente gewees het as almal dieselfde persoonlikheid gehad het.

  • Bevestig almal

Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan (1 Tessalonisense 1:11) As mense struikel, moenie kritiseer nie – wees langs hulle. Wees ‘n bemoediger en nie ‘n veroordelaar nie. Jy het net een geleentheid om ‘n eerste indruk te maak. Maak seker die gemeente is vol mense wat die Here liefhet en dit op hulle gesigte wys. Groet mekaar. Glimlag.

Niks kan ‘n gemeente gevul met liefde terughou nie. Maar dit gebeur nie toevallig nie – elke lidmaat moet daaraan werk. Almal dra by tot die atmosfeer in die gemeente. Liefde trek mense van buite in. God wag vir ‘n gemeente wat al sy mense onvoorwaardelik liefhet.