Meer as genoeg

The best theology refuses to be innovative. – A.J. Swoboda

Meer as genoeg

Kevin deYoung (Taking God at His word, 2014) het ‘n boek oor God se woord vir die mense van vandag geskryf. Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Die eerste verse van die Hebreër-boek dek die tafel vir die hele boek – Hebreërs 1:1 – 4:

 

In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete,

maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.  God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak.  Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God.  Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand.  Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam.

In vers 1 – 2 kry ons ‘n aantal kontraste. Een is die verlede teenoor hierdie laaste dae. Dit beteken ons het ‘n nuwe tydperk ingegaan – die tydperk van die Heilige Gees. Die dood en opstanding van Jesus het hierdie nuwe tyd ingelei. Omdat geen verdere verlossingsoptrede meer nodig is nie, het ons nou die laaste dae betree. Daar is ook ander kontraste:

  • Ontvangers: in die verlede is met ons vaders gepraat, maar nou praat Hy met ons.
  • Agente: vantevore het God deur die profete gepraat, maar tans deur sy Seun. Jesus Christus openbaar wie God is, leer ons wat sy wil is en wys vir ons die pad van verlossing.
  • Paaie: in die verlede praat God deur visioene, drome, stemme, skrif op die muur, ‘n vuurkolom, ens. Nou praat God op net een manier – deur Jesus Christus.

Hier het ons vier kontraste, maar net een gevolgtrekking. Jesus Christus is die finale  agent van God se openbaring en verlossing. In hierdie verse maak die skrywer van Psalm 2 en 110 gebruik.

  •  God maak Jesus Christus erfgenaam van alles. Alles begin en eindig by Hom.
  • Jesus is die Skepper van alles. God het deur sy Seun alles geskep.
  • Jesus Christus onderhou alles.
  • Jesus Christus is die openbaring van God – Hy is die ewebeeld van die wese van God. Jesus wys vir ons God soos Hy werklik is.
  • Jesus Christus bewerkstellig die reiniging van sondes
  • Jesus Christus sit aan die regterhand van God, want Hy het sy werk op aarde voltooi.
  • Jesus Christus is verhewe bo die engele. God het sy finale woord deur Jesus gepraat. Daar kom niemand na Hom nie.

Praat God nog met ons? Ja, deur sy Seun. God praat met ons – direk en persoonlik. In Christ God’s revelation has been completed (Herman Bavinck). Die woord van God is voldoende; dit wat Jesus Christus gedoen het, is voldoende.

Hoekom is dit belangrik dat God se woord voldoende is? Watter verskil maak dit aan my lewe?

  • Tradisie word op sy plek gehou. Natuurlik het tradisie ‘n plek in ons verstaan van God se woord en om die kerk se leer te formuleer. Ons moet leer uit die lesse van die verlede en uit die belydenisgeskrifte. Al hierdie dinge het net waarde as hulle opsom wat reeds in die Skrif gesê word. Geen mensgemaakte teks kan God se woord vervang nie – die Skrif is die finale gesag. Alles moet teen God se woord getoets word. Tradisie speel slegs ‘n ondersteunende rol.
  • Ons mag nie byvoeg of wegneem wat in die woord van God staan nie. Ons kan nie die Skrif beter of veiliger of in ooreenstemming met ons aannames maak nie.
  • Die woord van God is relevant vir ons lewe. Dit beteken nie die Bybel vertel vir ons alles van alles nie, maar die Bybel vertel vir ons alles wat ons moet weet – van dit wat werklik saak maak.
  • Die woord van God nooi ons uit om die Skrif oop te maak en die stem van God daarin te hoor.

Volgende keer kyk ons na die tweede eienskap van God se woord: God se woord is duidelik.




Eienskappe van God se woord

 

Eienskappe van God se woord

Kevin deYoung (Taking God at His word, 2014) het ‘n boek oor God se woord vir die mense van vandag geskryf. Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Kan die Bybel my met my grootste probleme help? Voel jy soms dat die Bybel nie vir jou voldoende is nie – jy het nog meer nodig? Protestantse teoloë beklemtoon gewoonlik vier eienskappe van die Skrif.

  • Die Skrif is voldoende. Dit bevat alles wat ons nodig het om reg te lewe en wat ons nodig het vir ons verlossing. Ons het geen verdere openbaring nodig nie.
  • Die Skrif is duidelik. Die verlossingsboodskap van Jesus Christus is duidelik in die Skrif. Dit kan deur almal wat ore het gehoor en verstaan word.
  • Die Skrif is gesagvol. As ons die laaste woord wil hoor, gaan na die woord van God. Dit wat die wetenskap sê en dit wat sinodes besluit , kry nooit voorkeur bo die Skrif nie.
  • Die Skrif is noodsaaklik. God se algemene openbaring is nie voldoende om ons te red nie. Ons kan ook nie verlos word deur ons ondervindings en rede nie. Ons het God se woord nodig om vir ons te sê hoe om te leef, wie Jesus Christus is en hoe ons gered kan word.

Ons gaan nou verder na hierdie vier eienskappe kyk.




Wat leer ons van die Skrif in 2 Petrus?

The more you surrender to God, the more at peace you’ll be.The more you trust Him, the less you’ll need explanations – Rick Warren

Wat leer ons van die Skrif in 2 Petrus?

Kevin deYoung (Taking God at His word, 2014) het ‘n boek oor God se woord vir die mense van vandag geskryf. Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Kom ons kyk verder na 2 Petrus 1:16 – 21:

 

Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels en legendes verlaat nie.  Nee, met ons eie oë het ons Hom in al sy majesteit gesien. Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe die Allerhoogste Majesteit gesê het: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” Die stem uit die hemel het ons self gehoor toe ons saam met Hom op die heilige berg was.   En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig.  Hierdie boodskap is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn.  Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte. Dit veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie.  Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.

Hier leer ons iets van die Skrif:

1.Die Skrif is die woord van God

Baie mense is huiwerig om dit te sê. Maar Petrus glo dat die Skrif die woord van God is. In verse 19, 20 en 21 word elke keer na profeet/profesie verwys. Hierdie woord is nie net mondeling oorgedra nie, maar neergeskryf. I understand by prophesy of Scripture that which is contained in the holy Scriptute (Calvyn). Mense hou nie van geskrewe tekste nie, want dit impliseer ‘n vaste, stabiele betekenis. Mense wil nie hê dat die waarheid vas moet wees nie. Petrus sê dat die Skrif die objektiewe werklikheid/waarheid is. Daarom moet ons aandag aan die Skrif gee.

Dit is God se woord; dit lei ons uit die duisternis na die lig. Die doel van hierdie openbaring is nie net inligting nie, maar dit lei tot liefde, gehoorsaamheid en aanbidding.

2.God se woord is nie minder goddelik omdat dit deur menslike instrumente aan ons gegee is nie.

Want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie.  Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom verkondig (vers 21). Mense praat en skryf soos mense wat deur die Heilige Gees meegevoer is. God gebruik die intellek, vaardighede en persoonlikhede van feilbare mense om neer te skryf wat goddelik en onfeilbaar is. Die woorde van die profete het een oorsprong – God.

3.Die Bybel is sonder foute

Die idees wat ons in die Bybel kry, is nie die idees van die verwarde denke van mense nie. Dit kom van God. Daarom kan ons nie aanspraak maak om te besluit watter dele van God se openbaring betroubaar is en watter nie.

Die woord van God is waar; ons volg nie mites nie; dit is nie ‘n mooi verhaal met ‘n sedeles daarin nie. God het dit voorspel; God het dit vervul; God het die geskrewe weergawe daarvan geïnspireer. Daarom moet ons dit glo. Ons het geen verdere openbaring van God nodig nie. Ons kan elke dag na die stem van God luister. Christus praat steeds met ons. As jy iets van God en Jesus Christus wil weet, gaan na die boek wat vertel wat Hy gedoen en gesê het.

Volgende keer gaan ons na die eienskappe van God se woord kyk.




Praat God nog met ons

If there is fog in the pulpit, we should not expect clarity in the pew – Alistair Begg

Praat God nog met ons

Kevin deYoung (Taking God at His word, 2014) het ‘n boek oor God se woord vir die mense van vandag geskryf. Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Praat God nog met ons? Is dit minderwaardig as God met ons deur die Skrif en nie direk met ons praat nie. God praat steeds met ons. Kom ons kyk na 2 Petrus 1:16 – 21:

 

Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels en legendes verlaat nie.  Nee, met ons eie oë het ons Hom in al sy majesteit gesien. Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe die Allerhoogste Majesteit gesê het: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” Die stem uit die hemel het ons self gehoor toe ons saam met Hom op die heilige berg was.   En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig.  Hierdie boodskap is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn.  Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte. Dit veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie.  Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom,verkondig.

Ons het agtergrond nodig om dit te verstaan.  2 Petrus is ‘n oproep om te lewe soos God van ons verwag. In 1:3 – 11 sien ons God het aan ons sy krag geskenk om reg te lewe en om Hom te dien. Dit vertel ons ook van God se groot en kosbare beloftes (vers 3 – 4). In vers 5 – 7 kry ons  ‘n patroon van goddelike lewe en deugde. Die voorwaarde vir hierdie lewe is ons verkiesing en roeping (vers 8 – 11). Petrus vrees dat dwaalleraars die gemeente sal insluip en aan die gelowiges vryheid belowe. Dit kan lei tot sedeloosheid en lei tot afdwaling van die Weg van waarheid (2:2, 10, 18 – 19).

Hoekom waarsku Petrus die gelowiges so dringend? Want Jesus Christus gaan weer kom (3:11 – 12, 14). Die wederkoms van Jesus is dus in die Nuwe Testament ‘n motivering om reg te lewe. Hierdie dwaalleraars glo nie aan ‘n oordeelsdag nie. Petrus probeer die gelowiges oortuig dat Jesus weer sal kom en daarom moet hulle reg lewe.

In vers 16 – 21 gee Petrus twee bewyse vir Christus se wederkoms.

  • Ons was self teenwoordig (vers 16 – 18)

Petrus was een van drie dissipels wat saam met Jesus was toe Hy op die berg verheerlik is. Hy dink weer aan die gebeure van daardie dag. Waarvan hy praat is nie versinsels of legendes nie. Baie mense glo vandag dat die Bybel ‘n mite is. Hier verwys hulle veral na die wondertekens wat Jesus gedoen het. Maar as gelowiges glo ons dat alle dinge vir God moontlik is. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (Johannes 20:31).

Petrus sê vir ons dat die Skrif nie ‘n abstrakte teksboek is nie. Hy wil hê dat die gelowiges heilig moet lewe. Hy wil hê dat hulle hulle lewens moet inrig met die sekerheid van Jesus se wederkoms. Daarom wil hy hulle oortuig dat die wederkoms beslis sal plaasvind.. Tydens die verheerliking het hy gesien hoe die sluier van Jesus se gesig weggeneem word – hy het Jesus in sy volle hemelse heerlikheid gesien. Hy besef ook dat ‘n goddelose lewe nie met die heerlikheid van Christus versoenbaar is nie.

  • Dit is neergeskryf in die Skrif (vers 19 – 21).

Van die wederkoms kan ons in betroubare dokumente lees. Wat by Jesus se verheerliking gebeur het, is net ‘n bevestiging van die profetiese woorde.

Wat leer hierdie gedeelte ons van God se woord? Daarna kyk ons volgende keer.