Die Israeliete trek deur die Rooisee (1)

You do not fall because you are weak, you fall because you think you are strong.” ~ Joodse Spreekwoord

Die Israeliete trek deur die Rooisee (1)

In Eksodus 14 kry ons een van die hoogtepunte van Israel se uittog uit Egipte – die deurtog deur die Rooisee. In die Ou Testament  kry ons meer as 20 direkte verwysings en heelwat indirekte verwysings na hierdie gebeurtenis. Ook in die Nuwe Testament  kry ons sekere betekenisvolle stellings:

  • Matteus 2:15: So is vervul wat die Here deur ‘n profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.”  Die profeet waarna hier verwys word, is Hosea. Hosea 11:1 het na die uittog verwys; die seun in Hosea verwys na Israel. Hier verbind Matteus die werk van Jesus direk aan die uittog.
  • Tydens Jesus se verheerliking op die berg (Lukas 9) lees ons van twee manne wat met Jesus praat. Dit was Moses en Elia: Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog wat Hy in Jerusalem sou voltooi. Uittog hier verwys sekerlik na Jesus se dood. Lukas sê dat dit wat Jesus in Jerusalem reggekry het die eksodus is.
  • In Hebreërs 3:1 – 6 lees ons dat Jesus meer is as Moses. Moses was ‘n getroue dienaar in die huis van God. Christus, daarenteen, is as Seun getrou oor die huis van God. Moses wys na Jesus.
  • Hebreërs 11 praat oor die Christelike geloof. Die skrywer gebruik die deurtog deur die Rooisee as ‘n beeld van Christelike geloof: Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond (vers 29).
  • In 1 Korintiërs 10 waarsku Paulus teen afgodery: Broers, ek wil julle daaraan herinner dat ons voorvaders almal onder die beskerming van die wolk was en almal veilig deur die see gegaan het. Omdat hulle almal vir Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop …Hierdie dinge het gebeur as voorbeelde vir ons dat ons ons nie soos hulle deur sondige begeertes moet laat dryf nie (vers 1 – 2, 5).

Wat kan ons uit hierdie deurtog deur die Rooisee van Jesus Christus en verlossing leer? Drie dinge:

  • Ons trek uit gebondenheid/slawerny – lae en lae bande wat ons vasbind.
  • Ons trek uit deur genade.
  • In die proses het ons ‘n Middelaar.

In die volgende paar blogs gaan ons verder na hierdie drie aspekte kyk.




Die getuienis oor Jesus Christus (1)

Indeed the safest road to Hell is the gradual one – the gentle slope, soft underfoot, without sudden turnings, without milestones, without signposts – Screwtape se raad aan Wormwood – C. S. Lewis

Die getuienis oor Jesus Christus (1)

In Johannes 5 praat Jesus oor die getuienis van sy bediening. Hierdie hoofstuk begin met die genesing van die man by die bad van Betesda. Hier sien ons:

  • Jesus vra ‘n vraag: Wil jy gesond word? (vers 6)
  • Jesus gee dan ‘n opdrag: Jesus sê toe vir hom: “Staan op, tel jou goed op en loop.” Oombliklik het die man gesond geword, sy goed opgetel en geloop (vers 8 – 9)
  • Jesus verklaar dat Hy niks uit sy eie kan doen nie – Hy kan slegs doen wat Hy die Vader sien doen het. Die Vader het die Seun lief en daarom wys Hy vir die Seun alles wat Hy moet doen (vers 19 – 24).
  • Dan kom Jesus by die kernsaak: Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan (vers 24). Hier het ons die kern: hoor en glo.

Daarna praat Jesus oor die getuies van sy bediening. Hy bevestig die belang van getuies. ‘n Profeet se woord moet nie sonder meer aanvaar word nie – dit moet getoets word; daar moet getuies wees. Vir diegene wat weier om Hom te glo en te ontvang, stuur Jesus getuies. In Johannes 5 verwys Jesus na vier getuies. Dit is meer as voldoende, want die wet het net twee getuies vereis.

Kom ons kyk na hierdie getuies:

  • Johannes die Doper

Jesus verwys na Johannes die Doper  in Johannes 5:35: Hy was die lamp wat gebrand en geskyn het, en julle was gewillig om julle ‘n rukkie in sy lig te verheug. Jesus praat dus baie positief oor Johannes. Hy voeg by: Julle het ‘n afvaardiging na Johannes toe gestuur, en wat hy getuig het is die waarheid (5:33). Maar Jesus ontleen nie sy identiteit aan die getuienis van Johannes die Doper nie: Nie dat Ek op die getuienis van ‘n mens steun nie (5:34).

Daar was ‘n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig (Johannes 1:6 – 9). Hier word Johannes se rol verduidelik, maar die mense verstaan dit nie en weier om dit te aanvaar. Hulle aanvaar nie Johannes se getuienis oor Jesus Christus nie.

Dit is moeilik om te verstaan, want daar is ‘n duidelike Ou Testamentiese agtergrond om Johannes as getuie te verstaan. Mense wat hom moes herken het as die persoon wat die pad vir Jesus Christus sou voorberei, herken hom nie. Tragies. Toe hy wou getuig, wou die mense nie sy getuienis aanvaar nie.

Volgende keer gaan ons na drie verdere getuies kyk: Jesus se werke, die Vader en die Skrif.




Jongmense verlaat die kerk

It is so stupid of modern civilization to have given up believing in the devil when he is the only explanation of it –  Ronald Knox

Jongmense verlaat die kerk

Jong mense verlaat die kerk. Hoekom? Drew Dyke (Generation Ex-Christian) het gaan kyk hoe hierdie groep wat die kerk verlaat het, lyk. Hy noem ‘n paar kenmerke:

  • Hulle voel die boodskap van die evangelie is te nou – te beperkend.
  • Hulle het ‘n slegte ondervinding met die kerk gehad.
  • Die modernisme het ‘n anti-bonatuurlike wêreldsiening gevestig. Dit beteken dat wondertekens, soos in die Bybel opgeteken, onaanvaarbaar is. Daarom wil hulle niks met wat hierdie tekens as die “Bybelse waarheid” beskryf, te doen hê nie.
  • Mense speel vandag rond met verskillende vorme van spiritualiteit.
  • Baie van hulle is geestelike rebelle wat op hulle outonomie aandring.
  • Sommige het maar net stadig al verder van die kerk af weggedryf.

Mense het nog altyd die kerk verlaat, maar die getal kerkverlaters is besig om toe te neem. Hoekom verlaat hierdie jongmense die kerk. Christian Smith sê dit is as gevolg van moralistic therapeutic deism. Sjoe! Wat beteken dit?

  • Moralistic – God wil hê dat sy kinders hulle goed moet gedra
  • Therapeutic – God wil hê dat sy skepsels goed oor hulleself moet voel
  • Deism – God bestaan wel, maar is nie betrokke by die lewens van mense nie.

Baie teoloë voel dat hierdie jongmense nie werklik Christene is of was nie – altans nie volgens aanvaarde Bybelse/teologiese definisies nie. Hoe het dit gebeur? Hulle is nooit die evangelie van Jesus Christus geleer nie – nie in  die ouerhuis en nie in die kerk nie. In baie kerke is daar vandag ‘n afwesigheid van Bybelse/evangeliese prediking. Dit lei tot ‘n geslag wat grootgeword het met moralistiese, terapeutiese deïsme.




Gideon doen die onmoontlike

You’ve got to do your own growing, no matter how tall your grandfather was. –Ierse Spreekwoord

Gideon doen die onmoontlike

Gideon en sy slaaf Pura staan teen die berg en kyk af op die Jisreëlvlakte.  Daar sien hy 100 000 soldate van Midian. Daardie oggend het God geoordeel dat Israel se leër van 32 000 te veel is. Hoekom? Israel sal teenoor my spog en sê: “Ek het myself gered.” Daarom stuur Gideon almal wat bang was – 22 000 mans – huis toe. Nou is dit 10 000 teenoor 100 000. God voel daar is nog te veel manne. God gee vir Gideon ‘n snaakse bevel: Vat hulle af water toe, en daar sal Ek hulle vir jou sif. Hoe? Deur hoe hulle water drink.: Elkeen wat water drink soos ‘n hond dit met sy tong oplek, moet jy skei van dié wat kniel om te drink. Drie honderd het die water met die hand opgeskep. Hierdie 300 man moes saam met Gideon die vyand verslaan.

 

 Drie honderd – Gideon moes sekerlik God se oordeel in twyfel getrek het. Die vyand het meer kookvure gehad as wat Israel manskappe gehad het. Toe praat God met Gideon: Ek sal vir Midian in jou mag oorgee. Miskien het Gideon vir homself afgevra: Hoeveel manskappe was nodig om die Egiptenare by die Rooisee te vernietig? Niks nie. Hoeveel manskappe was nodig om Jerigo se mure te laat intuimel? Niks nie.

 In die geskiedenis van Israel was die magtigstes nie die sterk vegters nie, maar hulle wat op God vertrou het en Hom gehoorsaam het – al lyk dinge onmoontlik. God het belowe hulle sal die Midianiete verslaan. Daarom: vertrou Hom en gehoorsaam sy bevele.

 Daardie nag kom die Here by Gideon en sê vir Gideon: Kom, gaan na die Midianitiese laer toe.  Ek gee hulle in jou mag oor. Gideon en Pura gaan die kamp in en hoor ‘n man wat vir sy maat sê: Ek het gedroom daar kom ‘n ronde garsbrood in ons laer ingerol. Die brood het tot by die tent gerol, daarteen gestamp en dit laat omval. Die ander man antwoord: God gee Midian en sy hele leërs in Gideon se mag oor.

Toe Gideon die droom en sy uitleg hoor, gaan hy terug kamp toe en sê vir sy 300 manskappe: Kom, die Here gee die leër van Midian in ons mag oor. Hulle val die Midianiete aan. Die Midianiete vlug. Nie een van die Israeliete het omgekom nie.

Wat leer ons uit hierdie verhaal? Maar die regverdiges word deur die Here gered. Hy is hulle toevlug in tye van nood (Psalm 37:39). God gee vir ons meer as wat ons kan hanteer. Hoekom? Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe (2 Korintiërs 1:9). As ek voor ‘n probleem staan wat vir my te groot is, hou moed. Dink aan Gideon.