Hoekom antwoord God nie my gebede nie?

Life is like a landscape. You live in the midst of it, but can describe it only from the vantage point of distance. -Charles A. Lindbergh (1902-1974)

Hoekom antwoord God nie my gebede nie?

Baie van ons kan vertel van gebede wat God wonderbaarlik beantwoord het, maar daar is ook gebede wat God nie geantwoord het nie. Geen wonder mense voel dat God nie ons gebooie antwoord nie. In ons moderne samelewing laat hierdie sogenaamde onbeantwoorde gebede selfs vrae ontstaan oor God se identiteit en selfs sy bestaan. Dit is iets wat ons moet aanvaar: God werk nie altyd op die manier wat ons van Hom verwag nie. Net omdat Hy nie onmiddellik ons vrae beantwoord nie, beteken nie dat hy nie besig is om in ons lewens te werk nie.

Kom ons kyk na vier redes waarom God nie ons gebede geantwoord het nie – daar is baie meer.

 

  • Klippe en slange is nie goed vir ons nie

Watter mens onder julle sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra, of ‘n slang as hy vis vra (Matteus 7:9 – 10). So dikwels vra ons dinge wat sleg vir ons sal wees. En ons verwag dat God vir ons sal gee wat ons wil hê, wanneer ons dit wil hê en soos ons dit wil hê. Sy reaksie op ons gebede is wat die beste is. Die beste vir wie? Ons lewens is instrumente wat God gebruik om sy sending op aarde te bewerkstellig. Daarom moet ons altyd bid: Nie my wil nie, Here, maar u wil geskied. Is ek bereid om my begeertes op te offer vir dit wat God begeer?

  • Hy het ons gebede geantwoord … ons het net nie van die antwoord gehou nie

Ons wil net nie aanvaar dat God nie vir ons dit wat ons gevra het, gee nie. Soms is dit moeilik om sy antwoord te aanvaar – so moeilik dat ons dit verwerp. Maar ons gebede moet ons herinner aan ons vertroue op God en sy wysheid. Om God te vertrou is ‘n erkenning van ons beperkte perspektief. God is goed; Hy is die gewer van goeie gawes. Vertrou Hom al antwoord Hy nie ons gebede soos ons verwag het nie.

  • Ons is nie beskikbaar nie

Met al ons moderne tegnologie is ons voortdurend aan almal gekoppel … behalwe aan God. God praat met ons op verskillende maniere, maar soms wil ons net nie luister nie. Laat ons toe dat Hy ons kontak of is dit net die een uur elke Sondagoggend? Benader ons gebed gereed om te luister of praat ons net die hele tyd? Soms is ons so besig dat ons nie eers agterkom God wil met ons praat nie – ons skedules is net te vol.

  • Stilte is goud werd

God is die meester van tydsberekening. Ons sien gereeld in die Bybel dat God nie haastig is nie. Vir 400 jaar is die Israeliete slawe in Egipte voordat God vir Moses roep. Ons verwag dat God onmiddellik ons gebede moet beantwoord. Soms is die lesse wat ons leer terwyl ons wag, beter as dit waarvoor ons gevra het. As ons glo dat God in beheer is, moet ons ook sy tydsberekening vertrou.

As God stil is, bid vir sy vrede; bid dat sy wil gedoen sal word; bid dat Hy vir ons die nodige geloof sal gee om in vertroue op Hom te wag.




Wat is die groot probleem?

John Wesley sê: “God knows nothing of solitary religion.  No man ever went to heaven alone.” 

Wat is die groot probleem?

Die ware strydpunt tussen gelowiges in die nabye toekoms sal nie homoseksualiteit of kerkeenheid wees nie, maar die Bybel. Hoe sien ons God se Woord? Dit gaan nie net oor verskillende interpretasies of ons verstaan van die onfeilbaarheid van die Skrif nie. Dit gaan basies oor hoe ons die Woord van God benader – selfs voor ons by die interpretasie kom.

  • Konsensus is koning

Een benadering is om te sê dat gelowiges se verstaan van die Bybel deur die waardes van die kerk bepaal moet word. Die gesag is nie die Bybel nie, maar wat die kerk as geheel sê. Maar waar kom hierdie benadering vandaan? Dit word deur konsensus binne die kerk gevorm – wat dink die kerk kollektief. Wat dus geld, is wat die kerk dink belangrik is. Maar hoe weet ons wat belangrik is? Dit kom deur die leiding van die Gees. Klink mooi, maar hoe kan ons die Gees volg as ons die teks wat hy verlig, verontagsaam? Hoe kan ons die Gees hoor as die Woord stilgemaak word? Sommige gelowiges glo dit is reg, want ons verskil met sekere dinge in sy Woord!

 

  • Ons volg die verkeerde Gees

As dit wat belangrik is deur die kerk se gevoelens, los van God se Woord, bepaal word, is die enigste wettige motivering vir die konsensus druk uit die samelewing. Nou word God se Woord in hierdie konsensus ingedruk en daardie dele waarmee ons nie saamstem nie word net eenvoudig weggesny. En as ons standpunt moet inneem en daar is geen konsensus nie, is die enigste uitweg om aanspraak op neutraliteit te maak – ons wen tyd deur op die kantlyn te staan.

 

Hierdie is beslis nie die benadering waartoe Christus ons as sy dissipels oproep nie: Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Matteus 28:20). Die populêre konsensus speel hier geen rol nie. Ons kan nie kalm bly en hoop almal hou van ons nie.

 

  • Nederig in hoop

Daar is ‘n beter manier. Dit is nie nuut nie: Laat die Skrif self sê. Natuurlik moet die Bybel geïnterpreteer word – en dit is belangrik. Daar sal oor sekere dele verskille wees. Maar nederigheid beteken nie dat ons ons hande in die lig opgooi en sê elke ou se siening is wettig nie. Nederigheid beteken nie dat ons vir mekaar kyk en uitleg met menswaardigheid verwar nie.

 

Nederigheid gaan oor hoe ons die Bybel benader. Ons gaan na die Bybel in vertroue op God en nie op onsself nie – selfs voor ons nog die bladsye oopmaak. Ons kom met gretige ore en bid dat God ons gedagtes sal suiwer. Ons rede moet verdwyn en ons moet onsself aan die Heilige Gees onderwerp.

 

Die nederige hart maak plek vir God se woord al is dit ongewild en bid:

Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie.

Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin,

 Want U is God, my redder.

In U stel ek elke dag my verwagting. (Psalm 25:4 – 5).

 




‘n Koninklike priesterdom

When leaders tap into their personal passion, they attract people with similar passions. That starts a movement.” – Andy Stanley

‘n Koninklike priesterdom

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My (Eksodus 19:5 – 6). Die hele aarde behoort aan God, maar Israel behoort aan Hom op ‘n besondere wyse. Hulle was vir God se doel afgesonder; ‘n koninkryk van priesters. ‘n Priester verteenwoordig die mense by God – hulle tree in vir die mense. Maar hulle verteenwoordig ook vir God by die mense.

 

In die Nuwe Testament kry die kerk dieselfde roeping: Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig (1 Petrus 2:9). Die kerk word geroep om te doen en te wees wat Israel nie kon wees en doen nie.

Ons is geroep om dissipels te maak en om die lede van die liggaam te versterk, is ‘n belangrike aspek daarvan. As jou gemeente nie aktief besig is om die omliggende ongelowige wêreld te help  om ook volgelinge van Christus te word nie, dan verstaan ons nie verlossing nie. God het vir Abraham geseën sodat deur hom al die nasies geseën kan word. Doen ons dit nie ignoreer ons God se opdrag.

God het dit aan die kerk oorgelaat om sy sending op aarde te vervul. Daarom is jou gemeente ‘n saak van lewe en dood. Kyk met deernis na die gemeenskap om jou en roep hulle om deel van God se verlossingsplan te word. Daar is ‘n rede waarom God juis nou en op hierdie plek die kerk daar geplaas het.

 




Die plaaslike gemeente en dissipelskap

 

When institutions fail to distinguish between current practices and the enduring principles of their success and mistakenly fossilize around their practices, they set themselves up for decline – Jim Collins.

Die plaaslike gemeente en dissipelskap

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

 

God se opdrag is dat ons dissipels van al die nasies moet maak. Dit kan ons nie op ons eie doen nie – ons word ook nie verwag om dit op ons eie te doen nie. Ons is deel van die geloofsgemeenskap. Die kerk moet nie net na binne fokus nie. Ons woon in ‘n omgewing wat ons bedreig, maar die kerk is ‘n vuurtoring en nie ‘n bomskuiling nie. Ons kruip nie weg vir probleme nie – ons lei ander daardeur.

Liefde is egter die basis van wat dit beteken om Jesus Christus te volg. En die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het (Romeine 5:5). Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het (1 Johannes 4:19). Interaksie tussen gelowiges behoort deur liefde gekenmerk te word. Dit is hoe die wêreld ons sal herken: Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is (Johannes14:34 – 35).

Die laaste aand voor sy kruisiging bid Jesus vir sy dissipels. Let net op hoeveel klem Hy op eenheid plaas (Johannes 17:20 – 23). Die eenheid van die kerk sal die wêreld oortuig dat ons waarlik volgelinge van Jesus Christus is.