Die hart van die dissipelmaker

In forsaking the ability to change, they diminish the capacity for hope. – Kathleen Norris

 

Die hart van die dissipelmaker

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

Hoekom wil ons nou juis dissipels maak? Die antwoord is baie belangrik. Doen ons dit vir die verkeerde motiewe, kan ons meer skade as goed doen. God sê herhaaldelik dat Hy meer vir die mens se hart omgee as vir uitwendige dinge. As Hy oor uitwendige dinge bekommerd was, sou die Fariseërs geloofshelde gewees het. Maar luister wat sê Jesus vir die Fariseërs: Hierdie volk eer my met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af. Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie (Matteus 15:8 – 9). Wat is dan vir God belangrik? Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike (1 Samuel 16:7). God wil hê dat ons sekere dinge moet doen, maar die rede waarom ons dit doen is belangrik.

 

God wil hê dat ons met blydskap moet dien – om Hom te dien moet nie ‘n verpligting wees nie. God wil hê dat ons die voorreg en vreugde om ander te dien, moet ondervind. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief (2 Korintiërs 9:7)

Ons moet altyd onthou dat ons mense van die Bybel is. Ons moet leer hoe om ‘n goddelike lewe te kan uitleef. Hierin is die rol van die leermeester baie belangrik. As ons ander leer as gevolg van die prestige wat daarmee gepaard gaan, moet ons weer dink. In 1 Korintiërs 13 maak Paulus dit baie duidelik dat kennis sonder liefde nutteloos is. As ons ander dien, moet liefde altyd op die voorgrond staan. Is jy bekommerd oor wat mense van jou dink of soek jy geleenthede om lief te hê en te dien? Liefdelose mense sien ander as ‘n manier om hulle eie doel te bereik.

Ons weet dat ons almal kennis het. Kennis maak verwaand, maar liefde bou op. As iemand meen hy het kennis van iets, het hy nog nie die kennis wat ‘n mens behoort te hê nie.Maar as iemand God liefhet, ken God hom (1 Korintiërs 8:1 – 3). Dit gaan duidelik nie oor wat jy weet, of dink jy weet, nie, maar oor liefde. As ons nie bereid is om ons liefde vir God en ons naaste ons hoogste prioriteit te maak nie … stop. Wie nie liefhet nie, bly in die dood (1 Johannes 3:14).

Om dissipels te maak, beteken nie om mense bymekaar te maak om na jou te luister nie. Die doel is om getrou te wees aan God se oproep om ander mense lief te hê. As ek hulle genoeg liefhet, sal ek hulle help, maar ook hulle behoefte aan liefde raaksien. Ons moet hulle by die Verlosser bring en Hy sal hulle van die mag van sonde en die dood vrymaak.

Vraag: Hoeveel gee jy om vir die mense om jou? Wees eerlik – ook oor jou motiewe.




Neem die eerste stap

At bottom, the gospel is not good advice, but good news – Denney.

Neem die eerste stap

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

Dissipelmakers kyk anders na mense. Hulle sien dat elke mens na die beeld van God gemaak is. Nou kom Jesus Christus met die bevel dat almal Hom moet volg. God plaas mense in ons lewens sodat ons alles in ons vermoë sal doen om hulle te beïnvloed. Hy roep my om Hom te volg. Dit beteken outomaties ek moet ander leer om Hom ook te volg.

 

Vraag: Wie het Jesus Christus in my lewenspad geplaas wat ek moet leer om Hom te volg?  God het my geplaas daar waar ek is; die mense om my is nie toevallig daar nie. Jesus Christus se opdrag verwys na  al die nasies. Dit is dus mense binne en buite die kerk; dit is mense soos ons en mense wat van ons verskil. Maar waar moet ek begin? Begin deur ‘n verhouding met hierdie mense te bou.

Onthou dat jou mede-gelowiges jou vennote in hierdie taak is. God plaas ons juis binne ‘n geloofsgemeenskap sodat ons deur ons medegelowiges bemoedig en uitgedaag kan word – en dat ons hulle kan leer en aanmoedig. Leer saam met jou medegelowiges; leer by volwasse gelowiges. Dit help baie as jy mense het om mee te praat – mense wat jou uitdaag. Die mens is nie ontwerp om in isolasie te werk nie.




Toegerus vir die taak

… it has begun to rain and snow books and teachers, many of which already lie there forgotten and moldering. Even their names are not remembered any more, despite their confident hope that they would eternally be on sale in the market and rule churches – Martin Luther

 

Toegerus vir die taak

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

As dit alle gelowiges se taak is om dissipels te maak, hoe moet ons hulle toerus? Die vroeë kerk was nie ‘n organisasie gelei deur ‘n CEO nie. Die kerk is ‘n liggaam wat net doeltreffend kan funksioneer as elke lid sy deel doen. In Efesiërs 4:11 – 16 word dit pragtig beskryf. Jesus Christus gee aan sy liggaam – die kerk – sekere gawes – apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Hoekom gee Hy hierdie gawes? Om die werk te doen? Nee, Om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.

Wat is die eindresultaat van hierdie benadering? Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus … ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hoekom is dit belangrik dat alle gelowiges betrokke moet wees? Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.

Dit is baie duidelik dat die kerk die gemeenskap van gelowiges is waarin elke gelowige aktief betrokke is by bediening. Die implikasies is geweldig – ek moet aktief betrokke wees in die kerk anders funksioneer die kerk suboptimaal. Maar ons het so baie verskonings om nie betrokke te raak nie – te besig; ek weet nie genoeg nie; ek wil eers my eie lewe in orde kry … Die probleem is dat daar geen uitsluitingsklousules in Jesus se opdrag is nie. Lees net Lukas 9:57 – 62 vir al die wonderlike verskonings waarmee mense na vore kom. Daar is so dikwels ‘n verskoning waarom ons Jesus Christus nie op hierdie oomblik kan gehoorsaam nie. Luister na Jesus se reaksie: Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie – harde woorde.

Jesus Christus het ons gemaak net soos ons is; Hy het ons van alles voorsien wat ons vir ons taak nodig het. Ons kan nie mense se harte verander nie – net God kan dit doen. Ons moet net gehoorsaam wees en mense wat nie glo nie, leer – al moet ons self nog baie leer.

Ons is toegerus. Al wat oorbly is om die eerste stap te neem. Daarna kyk ons volgende keer.




Die groot opdrag en die kerk

I gave up all for Christ, and what have I found? Everything in Christ – Johannes Calvyn

Die groot opdrag en die kerk

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

Jesus se opdrag aan sy dissipels in Matteus 28:19 – 20 geld nie net vir leraars en sendelinge nie – dit geld vir my ook. Lees ons Handelinge sien ons dat al God se kinders saamwerk om sy opdrag uit te voer. Hulle reik uit na die mense om hulle; hulle vra die mense om Jesus Christus te volg; hulle leer hulle; hulle gehoorsaam alles wat Hy hulle geleer het; hulle doop die mense. Dissipels maak dissipels.  Hulle het Jesus se opdrag letterlik en ernstig opgeneem. Die gevolg is dat die evangelie gou oor die destyds bekende wêreld versprei het.

 

Is die maak van dissipels nog vir die kerk belangrik? Moet vandag se kerk dalk iets anders doen – ‘n ander opdrag kry? Hoekom doen die leraars en betaalde amptenare vandag al die werk in die kerk? Die lidmate woon eredienste by, sit iets in die kollektebord en gaan huis toe – geïnspireerd en gevoed! Meeste lidmate weet nie meer hoe dit lyk om dissipels te maak nie.

Een van die groot probleme is dat gemeentes op programme fokus. Ons het ‘n program vir alles wat ons doen. Maar om dissipels te maak, is meer as net ‘n program – dit is ons lewensroeping. Dissipels maak dissipels. Hoe lyk dit in die praktyk? In die Groot Opdrag is daar vier belangrike woorde: gaan, maak, doop en leer. Baie eenvoudig. Ons het beslis nie ‘n groot geleerdheid nodig om dit te verstaan nie; dit is beslis nie iets wat net ‘n leraar kan doen nie. Die probleem is dat die praktyk nie so eenvoudig is nie.

Die proses van dissipels maak kry ook nooit klaar nie. God bring voortdurend nuwe mense en nuwe geleenthede oor ons pad.  As hierdie nuwe dissipels uitgaan, beteken dit nie die einde van die verhouding nie – aanmoediging en rigtinggewing is nog altyd nodig. Ons moet egter bereid wees om die geleenthede aan te gryp en bereid wees om in die proses ‘n prys te betaal: As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat … As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg (Johannes 15:18 – 20). Dissipels maak dissipels: maklik om te verstaan, duur om te implementeer.

As ons opdrag is om dissipels te maak, hoe moet ons dit doen? Daarna kyk ons volgende keer.