Alles is liefde.

There may be times when we are powerless to prevent injustice, but there must never be a time when we fail to protest. -Elie Wiesel

 

Alles is liefde.

Om Jesus te volg, kom neer op die uitleef van twee gebooie ; Liefde vir God en liefde vir die naaste (Matteus 22:37 – 40). Hom het julle lief al het julle Hom nie gesien nie (1 Petrus 1:8). Dit gaan nie oor die nakom van ‘n stel reëls nie. Nee, ons moet God liefhê en Hom geniet. Maar, en dit is ‘n groot maar: As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ‘n leuenaar, want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie (1 Johannes 4:20). Ware liefde gaan altyd met opoffering gepaard: Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê (1 Johannes 3:16).

 

Ons kan nie ons liefde vir God van ons gehoorsaamheid aan Jesus Christus skei nie. God se liefde verander my van binne en daarom herdefinieer dit alle aspekte van my lewe. Daarom die vraag: Is God se liefde sigbaar in my optrede?




Wat is ‘n dissipel?

Over-value not the manner of your own worship, and over-vilify not other men’s of a different mode. —Richard Baxter

Wat is ‘n dissipel?

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

 Jesus se dissipels was gewone mense – net soos ons. Hulle het werke, families en sosiale lewens gehad. Jesus stap na hulle en sê vir hulle: Volg My. Nie een van hulle het verwag dat oor die volgende drie jaar hulle lewens so drasties sou verander nie. Hulle het nie geweet waarvoor hulle hulle inlaat toe hulle op Jesus se oproep geantwoord het nie. Dit sou elke aspek van hulle lewens vorm. Wat begin het as ‘n eenvoudige gehoorsaamheid aan die oproep van Jesus eindig met lewens wat totaal verander is – en uiteindelik is die wêreld ook verander.

 

Die woord dissipel word vertaal met leerling, vakleerling of volgeling. In die tyd van Jesus Christus het die dissipels hulle rabbi (= leermeester) gevolg. Waar hy gegaan het, het hulle gevolg. Hulle leer van sy onderrig, maar ook deur te sien wat hy doen – hulle doen wat hy doen. Jesus Christus het sy dissipels geroep om Hom te volg. Hulle het nie geweet waarheen Jesus hulle gaan neem nie. Hulle weet wel wat dit beteken om te volg – hulle gaan oral waar Hy gaan en sien wat Hy alles doen. ‘n Leerling is nie hoër as sy leermeester nie, maar iemand wat volleerd is, sal aan sy leermeester gelyk wees (Lukas 6:40).

As Jesus Christus ons roep om sy dissipels te wees, moet ons Hom volg. Ons boots Hom na en volg sy bediening. In die proses word ons meer en meer soos Hy. Maar ons glo vandag dat ons ‘n Christen kan wees sonder om Jesus Christus te volg of soos Hy te wees. ‘n Volgeling wat nie volg nie, is tog ‘n onsinnige idee. Dit is glad nie wat dit beteken om ‘n Christen te wees nie.

Die konsep van ‘n dissipel wees, is maklik om te verstaan, maar nie so maklik om uit te leef nie. Hoekom nie? Want as ek sê dat ek ‘n dissipel van Jesus Christus is, beïnvloed dit my hele lewe.

Nou dat ons weet wat ‘n dissipel is, is die volgende vraag: Hoe word ek ‘n dissipel?




Die Here van genade

 “Criticism may not be agreeable, but it is necessary. It fulfills the same function as pain in the human body. It calls attention to an unhealthy state of things.” Winston Churchill

Die Here van genade

Verlossing gaan alles net oor God se genade. Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie (Efesiërs 2:8 – 9). Al wat verlossing vereis, is geloof. Glo jy dat Jesus Christus is wie Hy sê Hy is?

Dit beteken dat ek glo dat Hy die Here is. Maar wat beteken die woord Here? Dit is ‘n titel wat  meester of eienaar beteken en verwys na ‘n persoon in ‘n gesagsposisie.

Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie. Julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik (1 Korintiërs 6:19 – 20). Hy het ons gekoop en ons is syne. Glo jy dat jy aan Hom behoort?

Dieselfde Here wat ons in sy genade van die sonde en dood verlos het, is nou ons Eienaar – ons behoort aan Hom en ons moet in gehoorsaamheid aan sy heerskappy leef. Hierdie oproep van Jesus om Hom te volg en sy dissipels te word, is oop vir almal.  As Hy die Here is, skryf Hy die agenda van ons lewe – ons lewe behoort nou aan Hom. Hy beplan die agenda en ons roeping. Jy vertel nie vir Hom wat jy bereid is om te doen nie. Hy is die Here, die Eienaar en Meester van sy kinders.




Dissipels maak dissipels

There is no pride so dangerous, none so subtle and insidious, as the pride of holiness. —Andrew Murray

Dissipels maak dissipels

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

 

Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak (Matteus 4:19)

Vanaf die begin was dit die metode: maak dissipels  en dissipels van Jesus maak meer dissipels. Hierdie is ‘n belofte: Jesus sal sy dissipels neem en hulle in dissipelmakers verander. Eintlik is dit ‘n opdrag: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek jou beveel het (Matteus 28:19 – 20). Dit was God se plan oor hoe om die evangelie te versprei; dit is waarvoor die kerk bekend behoort te wees.

Is dit so? We have developed a culture where a minister ministers and the rest of us sit back and enjoy “church” from a comfortable distance. Dit was nie God se bedoeling vir sy kerk nie. Elke Christen is geroep om deel van ‘n bediening te wees – ons is geroep om dissipels te maak. 

Maar vra vir Christene vandag wat dit beteken om dissipels te maak en jy sal vae antwoorde kry – party sal jou net aanstaar. Ons is aktief vir Christus, die kerk het baie hulpbronne, maar dit lyk asof ons hierdie opdrag van Jesus ignoreer. Evangelisasie is ‘n onderwerp wat ons bedreig; ons reduseer dissipelskap tot ‘n program wat ons iewers gekry het; ons delegeer die taak om dissipels te maak tot die betaalde amptenare.

Dit is nie hoe dit veronderstel is om te wees nie. Jesus het elkeen van ons uitgenooi om deel van sy plan te wees – Hy het ons so ontwerp dat ons weet wat Hom bly maak; ons deel sy liefde; ons versprei sy woord; ons vermenigvuldig sy lewe onder al die mense van die aarde. Dit is die moeite werd vir die biljoene mense wat nie die genade en majesteit van God in Christus ken nie.

Hoe is dit dan veronderstel om te wees?

  • Leer oor dissipelskap in die Bybel en in boeke, maar dan moet jy ander leer.
  • Moenie net inligting deel nie – deel ook jou lewe. Ware dissipelskap vereis diep verhoudings. Jesus het nie ‘n weeklikse Bybelstudie gelei nie. Hy het saam met sy dissipels geleef en hulle deur sy woorde, maar ook sy optrede geleer. Dit vereis uiteraard ‘n groter toewyding, maar dit is die enigste manier om dissipels te maak.

God wil hê dat ons moet leef, dien en die waarheid prosesseer in die konteks van ‘n gemeenskap. Jy gaan voor baie uitdagings te staan kom, maar om saam met ander mense te werk om uit te sorteer  wat die Bybel sê, is waardevol. Maar die doel is nooit kennis net vir die onthalwe van kennis nie. Om ‘n dissipel te wees, beteken ons word meer en meer na sy beeld verander.

Volgende keer kyk ons na die vraag: Wat is ‘n dissipel?