Verstaan God se wil

“Jesus Christ carries on intercession for us in heaven; the Holy Ghost carries on intercession in us on earth; and we the saints have to carry on intercession for all men.” – Oswald Chambers

 

Verstaan God se wil

Elke dag is vol keuses en besluite – sommige minder belangrik, ander baie belangrik. Almal van ons het groot besluit om te neem: Met wie moet ek trou? Watter werk moet ek doen? Ens. God gee aan ons leiding sodat ons keuses kan maak wat Hom tevrede stel. Paulus bid vir die gemeente in Kolosse: Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang (1:9 – 10).

 

Maar wat beteken die “wil van God?” In die Bybel verwys dit soms na God se ewige plan waarin Hy alles aan sy wil laat voldoen. Daar is ook God se voorskriftelike wil. Dit is soos die voorskrif van ‘n geneesheer – as ons dit neem is dit voordelig, maar ons kan weier om dit te neem. God se voorskriftelike wil is wat God wil hê dat ons moet kies in die lewe. Dit sluit die duidelike opdragte in sy Woord in, maar ook onderskeiding en wysheid Die soewereine wil van God is hoe dinge is; die voorskriftelike wil van God is hoe dinge behoort te wees.

 

 

God gebruik nie twyfelagtige tegnieke of allerhande foefies om sy wil bekend te maak nie. Maar hoe kan ons God se wil ken?

  • Duidelike opdragte van God

God het reeds vir ons in sy Woord gesê wat sy wil vir ons lewens is. Daar is sekere gedeeltes wat vir ons sê dat sekere dinge die wil van God is. Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag (1 Tessalonisense 5:16 – 18); Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe (1 Tessalonisense 4:3). Daar is nog baie soortgelyke verse. Ons kan met sekerheid weet dat hierdie dinge God se wil vir ons lewens is. Hoe meer ons God se woord lees, hoe duideliker is God se wil vir ons lewens. Dwarsdeur  sy woord gee Hy vir ons leiding.

 

  • Interpreteer en pas die Skrif akkuraat toe

Paulus sê vir Timoteus dat hy die woord van die waarheid suiwer verkondig (2 Timoteus 2:15). Romeine 12:1 – 2 help ons baie: En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. Die ontdekking van God se wil is ‘n proses wat soos volg verloop: Ons gee ons lewe oor aan God. Dit beteken dat ek die gedrag van die heidense kultuur verwerp en my denke en lewe vernuwe. Hierdie oorgawe van my lewe aan God lei tot onderskeiding. Soos ons dan akkuraat lees en nadink oor God se woord groei ons nader aan God en voer sy wil uit. Nadenke en gebed oor die woord verhoed dat ons lees net ‘n intellektuele oefening bly.

 

  • Gebed en die leiding van God.

As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie (Jakobus 1:5 – 6). Ons moet vra vir wysheid. Gebed en tyd saam met God maak ons harte oper en meer bereid om besluite te neem.

 

  • Verbly jou in die Here

Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer (Psalm 37:4). God gee nie aan ons ‘n volledige padkaart vir die lewe nie; God roep ons om ‘n verhouding met Hom te hê en dit sal al die besluite wat ons moet neem, vorm.

 

  • Soek wyse raad

Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie (Psalm 84:12). Om reg te lewe is moeilik, maar God het ons nie alleen op aarde gelos nie. Daar is mense beskikbaar wat God gebruik om wyse raad te gee. Waar daar nie beraadslaging is nie, slaag planne nie; dit slaag wanneer daar baie raadgewers is (Spreuke 15:22). In die Spreuke-boek is daar baie verse wat die belang van raadgewers beklemtoon.

 

  • Evalueer omstandighede

As jy al bogenoemde maniere gebruik om God se leiding te soek, kan jou omstandighede baie behulpsaam wees. Niks gebeur toevallig nie. Maar omstandighede is nie belangriker as die ander nie – veral nie sy Woord nie.

 

  • Gebruik suiwer oordeel

Gesonde oordeel is goed. Die menslike rede is ‘n gawe van God en is goed as dit in ooreenstemming met God se woord is. In Handelinge 6 lees ons van die suiwer oordeel van die apostels toe hulle sewe diakens aangestel het sodat hulle al hulle aandag aan gebed en bediening van die woord kon gee.

 

  • Ondervind God se intrede.

En dit terwyl ons God in die hemel is! Alles wat Hy wil, doen Hy (Psalm 115:3) Daarom moet ons nie verbaas wees dat God ons soms op wonderbaarlike wyse lei nie. So verander God Paulus se sendingplanne toe hy ‘n man van Masedonië sien wat hom smeek om na hulle toe te kom (Handelinge 16:9 – 10). God tree volgens sy diskresie in om ons te lei.

 

Ons kan die wil van God agterkom. Die vraag is of ons dit wil doen.

 




Blaas nuwe lewe in jou gemeente

Expect great things from God. Attempt great things for God.” – William Carey

 

Blaas nuwe lewe in jou gemeente

Paulus laat vir Titus op Kreta agter met die bedoeling dat jy die dinge wat nog gereël moes word, in orde moet bring. Hy sê vir Titus hoe om gesonde, Bybelse gemeentes in Kreta te vestig. Hy spel duidelike, spesifieke metodes uit – metodes wat God gebruik om sterk, gesonde gemeentes te bou.

 

Vandag is die neiging pragmatisme – lees maar die boeke en woon die seminare oor hernuwing van gemeentes by. Wat sê Paulus?

 

  • Bevestig gekwalifiseerde Bybelse leierskap (1:5 – 8).Titus moet in elke dorp ouderlinge aanstel. Daarna spel hy die vereistes uit waaraan ouderlinge moet voldoen
  • Hou vas aan die woord van God. Hy moet vashou aan die betroubare woord waarin hy onderrig is. Dan sal hy in staat wees om ander met die gesonde leer aan te moedig en die argumente van teenstanders te weerlê (1:9).
  • Wys mense wat vals leer in die gemeente inbring streng tereg (1:9 – 16). Paulus gebruik geen onsekere taal nie: Hulle monde moet gesnoer word.
  • Vier ‘n gemeente wat uit baie geslagte bestaan – ouer mans en vroue en jonger mans en vroue (2:1 – 8).
  • Aanvaar die etniese en sosiale diversiteit in die gemeente (2:9 – 10). Hier verwys Paulus onder andere na slawe en eienaars.

 

Dit is God se formule om gemeentes te bou en om weer lewe  in hulle te blaas. Is dit wat ons in ons gemeentes kry? Ek twyfel.




Malala Yousafzai

It is sad…that saints should have many eyes to behold one another’s infirmities, and not one eye to see each other’s graces. —Thomas Brooks

 

Malala Yousafzai

In Oktober 2012 skiet ‘n man met verbintenisse met die Taliban  vir Malala. Sy het pas op die bus geklim wat haar na haar skool in Swat in Pakistan sou neem. Hoekom? Die Taliban het beveel dat geen meisies skool mag bywoon nie. Haar pa, Ziauddin, was ‘n onderwyser en ‘n vegter vir vroueregte in Pakistan. Hy weier om vir Malala uit die skool te neem.

 

In 2009 vra ‘n joernalis van die BBC vir Ziauddin of enige van sy skoliere gewillig sou wees om hulle storie van die lewe onder die beheer van die Taliban te vertel. Ouers van die skoliere voel dat dit te gevaarlik sal wees. Hy stel toe voor dat die twaalfjarige Malala oor haar lewe as jong skolier moet skryf. Ten spyte van die risiko willig sy in

. Sy het haar veldtog vir opvoeding en vroueregte reeds in 2007 begin. Sy was dus bekend en gewild.

 

In baie gebiede in die wêreld is die verhaal van vroue een van onreg, ongelykheid, geweld en uitbuiting. Dogters word by geboorte nie deur haar ouers verwelkom nie. Sy gaan nie skool toe nie en as sy 13 jaar oud is mag sy nie die huis sonder ‘n manlike familielid verlaat nie. As sy hierdie kode oortree mag sy die doodstraf kry. Tydens haar kinderjare is Malala anders – sy staan vir die reg dat meisies opgevoed moet word; sy praat van elke moontlike platform om haar saak te stel.

 

Hoe het sy dit reggekry? Hoe het haar ouers haar grootgemaak dat sy so braaf en moedig is? By ‘n onlangse TED vergadering het hulle hierdie vrae aan haar pa gevra. Luister na sy antwoord: “Moenie vir my vra wat ek gedoen het nie. Vra vir my wat ek nie gedoen het nie. Ek het nie haar vlerke geknip nie. Dis al.”

 




Ses waarhede van gebed

 

 

Ses waarhede van gebed

  • Ons bid in geloof

Markus 11:22 – 24: 22Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet geloof in God hê! 23Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. 24Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees. Die klem in hierdie gedeelte val op geloof in God. Dit beteken ons verwag dat God sy beloftes gaan vervul. Ons is dikwels geneig om God se woord in twyfel te trek.

Daarom sê Jakobus: Julle kry nie, omdat julle nie bid nie (4:2).

 

  • Sonde belemmer ons gebede

As daar sonde in my hart was, sou die Here nie geluister het nie (Psalm 66:18). Die psalmis besef dat sonde sy gebede kan belemmer. As ek weet dat daar iets skeel in my verhouding met God – een of ander sonde waarvan ek nie bereid is om afstand te doen nie – kan ek nie verwag dat God my gebede sal beantwoord nie. God verwag nie dat ek volmaak moet wees voor Hy my gebede  antwoord nie, maar my gesindheid en bereidwilligheid om afstand van my sonde te doen, is belangrik.

 

  • Ons gebede word deur God in ooreenstemming met sy wysheid en plan beantwoord

Die aand in Getsemane bid Jesus dat God die lydensbeker van Hom sal wegneem. Maar dan voeg Hy by: Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil (Markus 14:36). Selfs Jesus was bereid om Hom aan die wil van die Vader te onderwerp. Dit is die volmaakte voorbeeld van wat ons gesindheid moet wees as ons God in gebed nader. Die faktor wat bepaal hoe ons gebede beantwoord word, is God se soewereine wysheid en plan.

 

  • Ons moet volgens God se wil bid

Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word (Johannes 14:13). Hierdie vers sê dat wat ons vra God moet verheerlik. Dit beteken meer as om my gebede af te sluit met in die Naam van Jesus Christus.  As ek in Jesus se Naam bid, beteken dit dat ek weet wie Hy is en dat ek geloof en vertroue in Hom as die Seun van God het. As ek egter gebed so gebruik dat dit nie vir God verheerlik nie, moet ek nie verbaas wees as my gebede nie beantwoord word nie. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig (Jakobus 4:3). En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra (1 Johannes 5:14).

 

  • Ons kan God altyd in genade nader

Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word (Hebreërs 4:16). ‘n Nederige gesindheid laat ons toe om God se genade en barmhartigheid te ontvang. Al voel ek dat ek niks verdien nie, kan ek nog steeds na God in gebed gaan en genade en barmhartigheid ontvang.

 

  • Volhard in die gebed

In Lukas 18 vertel Jesus vir sy dissipels die gelykenis van die weduwee en die regter. Hoekom vertel Hy dit? Om duidelik te maak dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.

 

 Ses basiese waarhede oor gebed wat ons ongelukkig dikwels vergeet.