Daar is net een ware godsdiens

Don’t worry about what you do not understand. Worry about what you do understand in the Bible and do not live by (Corrie ten Boom).

 

Daar is net een ware godsdiens

Vandag soek jy moeilikheid as jy sê maar jou godsdiens is die enigste een wat waar is. Jy sal baie gou van onverdraagsaamheid beskuldig word. Gegewe ons kultuurkonteks, hoe moet Christene hierdie onvermydelike konfrontasie – die Christene se aanspraak dat Jesus die enigste weg na verlossing is –  hanteer?

 

Ons moet mense daaraan herinner dat hierdie ‘n aanspraak is wat Jesus self gemaak het: Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie (Johannes 14:6). Hierdie is nie ‘n taktiek om vrees in te boesem om hulle te bekeer nie – ons aanvaar slegs sy onderrig.

 

 

Mense sê ons kan nie so ‘n aanspraak maak nie, want geen godsdiens het die volle waarheid nie. Die vraag wat ons moet vra, is of die sentrale waarhede en aansprake van ‘n besondere godsdiens waar is. Christene maak nie aanspraak daarop dat hulle die volle waarheid het nie – net God kan dit sê. Ons glo egter dat God deur Jesus Christus die belangrikste waarhede aan ons geopenbaar het. Jesus het meer geloofwaardigheid as enigiemand anders wat beweer hulle is die weg na verlossing.

 

Sodra ‘n nie-Christen sê dat niemand die absolute waarheid het nie, maak hy ‘n waarheidaanspraak wat hy moet kan regverdig. Christene maak nie eksklusiewe aansprake op grond van hulle eie kennis nie, maar op grond van Christus se kennis. As Hy die Seun van God is, is dit tog redelik om te aanvaar dat wat Hy sê waar is.

 

 




Moenie net daar staan nie, doen nou iets

The heart cannot embrace what the mind rejects as false – Josh MaDowell.

 

Moenie net daar staan nie

Hoe dikwels hoor ons nie: Moenie net daar staan nie, doen iets. Dit is ‘n gevaarlike benadering as ons na ons geestelike lewe kyk. Ons tree dikwels op asof God ons hulp nodig het; ons stoei met Hom oor beheer van ons lewens. Dan sê ons: “God help diegene wat hulleself help.” Ons glo dit staan in die Bybel, maar dit is nie daar nie. Waarskynlik was dit die woorde van Benjamin Franklin.

 

 

Maar wat sê die Bybel? Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort (Psalm 37:3); Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde (Psalm 46:11). God weet ons kan nie onsself help nie en daarom het Hy sy Seun gestuur.

 

Terwyl ons God se wil soek, moet ons nie sy oproep vergeet nie: woon en werk rustig voort. As ons stil in sy teenwoordigheid is en op Hom fokus, is ons in die regte posisie om te leer van Hom.

 




Thomas van Acquino en die pous

Faith … is the art of holding on to the things your reason has once accepted, in spite of your changing moods –  C. S. Lewis

 

Thomas van Acquino en die pous

Dit word vertel dat Thomas by geleentheid by die pous gekom het terwyl die pous besig was om ‘n groot bedrag geld te tel.

Pous: “Jy sien Thomas, die kerk kan nie meer sê: Goud en silwer het ek nie.”

Thomas: “Dit is reg Heilige Vader, maar die kerk kan ook nie meer sê: Staan op en loop nie.”

 




Depressie kan bedrieglik wees

 

The greatest contest between God and us is whose will shall stand: God’s will, or ours? —Thomas Manton

 

Depressie kan bedrieglik wees

Depressie is dikwels bedrieglik. Donker wolke pak saam en hang oor jou; jy voel gedurig ongemaklik. Soms is dit reaktief – jou reaksie op negatiewe gebeure of omstandighede; dikwels is daar geen oorsaak nie. Jy wonder net: Waarheen het al die vreugde verdwyn?

 

Randy Alcorn, bekende skrywer, het self deur sulke donker periodes gegaan. Sy woord van hoop is: God is met jou ook daar in jou depressie. Moenie wag tot die depressie eers verby is voor jy vir God soek nie. Hy wag nie vir jou om eers jou depressie af te skud voordat Hy die pad saam met jou sal loop nie – Hy wil saam met jou loop midde in jou depressie.

 

 

Tydens die periodes van depressie het Alcorn geleer om op God se genademiddels – die Bybel, gebed en die ondersteuning van medegelowiges – te leun. Terselfdertyd moet jy aan al God se beloftes nadink – veral dié in Romeine 8: Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet (vers37); Wie kan ons van die liefde van Christus skei (vers 35).

 

Alcorn gee ook leiding aan diegene wat mense met depressie bystaan.  Moenie die oorsake oorvereenvoudig nie en moenie met ‘n lesing begin nie. Van die bekendste gelowiges het deur die diepste depressie geloop – soos Charles Spurgeon. Wees geduldig; bewys liefde; luister; woorde gevul met genade. Hierdie is almal instrumente van God wat met groot vrug gebruik kan word om genade te betoon in een van die lewe se aakligste seisoene.