‘n Vaste verwysingspunt (2)

 

Satan gives Adam an apple, and takes away Paradise. Therefore in all temptations let us consider not what he offers, but what we shall lose (Richard Sibbes 1577 – 1635).

 

‘n Vaste verwysingspunt  (2)

In die wêreld is daar baie verwarrende idees wat meeding om ons aandag. In die lewe het ons keuses: Wat is ons verwysingspunt? Daar is net een konstante verwysingspunt om na die waarheid terug te keer – God se Woord.

 

Kom ons kyk na vyf redes waarom die Skrif so belangrik en gesagvol is en waarom dit deel van ons daaglikse lewe moet wees.

1.Jesus Christus het die grootste agting vir die Skrif gehad en het dit as gesagvol en betroubaar gesien

In Johannes 10 praat Jesus oor sy identiteit en dat dit gelyk is aan dié van God. Hieroor wou die Jode Hom stenig – Hy praat godslasterlik. Hy verkondig dwaalleer, want Hy sê dat Hy die Seun van God is. Dan doen Hy ‘n beroep op die Ou Testament (Psalm 82:6): Wat daar geskrywe staan kan nie verander word nie (Johannes 10:35). Hy sien die Skrif as die finale gesag waarop Hy Hom kan beroep. Hy glo die Skrif kom van God af.

 

 

In die bergrede van Jesus lees ons: Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te verbreek nie. Ek het nie gekom om dit te verbreek nie, maar om dit te vervul. Want waarlik, Ek sê vir julle. Totdat die hemel en die aarde verbygaan, sal beslis nie een jota of een letterstrepie van die wet verbygaan totdat alles gebeur het nie (Matteus 5:17 – 18 – die direkte vertaling uit die Liniêre Bybel). Die jota was die kleinste letter in die Joodse alfabet – effens groter as ‘n komma.

 

Jesus sê dat die Ou Testament betroubaar is tot in die kleinste besonderheid. Hy glo dat alles in die Ou Testament vervul sal word, want God is die bron daarvan. As ons God se wil wil ken, moet ons sy Woord ken.

 2.Die Woord is kragtig vir onsomdat Jesus se woorde ewig en onfeilbaar is en Hy die skrywes van die Nuwe Testament goedgekeur het

 Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit (Markus 13:31). Jesus sê vir sy dissipels: Wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het (Johannes 14:26).

 3.Die Woord is kragtig en betroubaar, want dit is deur God geïnspireer

 Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek (2 Timoteus 3:16). Kunstenaars sê dikwels dat hulle emosioneel of intellektueel geïnspireer was om ‘n meesterstuk te skep. Geïnspireer vir Paulus beteken deur God ingeblaas. Die Bybel se bron is dus die asem van God. Die idees in die Bybel is deur mense neergeskryf, maar dit is God se idees. Dit  is God se wil en ‘n uitdrukking van sy karakter. Geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig (2 Petrus 1:21). God gebruik menslike persoonlikhede en style om die Bybel te skryf, maar hy lei hulle om te skryf dit wat Hy wil hê.

 4.God se woord plant geloof in ons

 Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus (Romeine 10:17). Die gelowige ondervind geloofsgroei en versterking as hulle die Woord lees en daaroor nadink. Dit is die Heilige Gees wat in ons harte en denke werk en ons in staat stel om die gesag en waarde van die Woord te besef.

 5.Die Woord van God is vol beloftes wat vir ons hoop en vreugde gee

Ons neem gewoonlik besluite deur te dink oor wat ons dink ons gelukkig gaan maak. Die sonde beloof ook om ons gelukkig te maak. Die Woord van God is vol beloftes wat van God self kom. Dit bring vreugde en bevryding as ons sy wil vir ons lewens doen. As ons besef God se beloftes is waar, verloor die beloftes van die sonde hulle aantrekkingskrag.

 




Heiligmaking: Wat beteken dit?

Worldliness is whatever makes sin look normal and righteousness look strange (Kevin DeYoung)

 

Heiligmaking: Wat is dit?

Nadat ons vrygekoop is, volg ‘n proses van groei en ontwikkeling/transformasie. Meer en meer besef jy die werklikheid van dood vir die sonde en jou ou sondige lewe. Hierdie proses van meer en meer soos Jesus word, staan as heiligmaking bekend. Heiligmaking het meer as een betekenis. Basies beteken heiligmaking afgesonder – jy word vir God afgesonder. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God (1 Korintiërs 6:11). Dit vloei voort uit die kruis waar God ons deur Jesus Christus gekoop en vir Hom opgeeis het. Jy behoort nou aan God, maar nou moet jy dit uitleef.

 

 

Kom ons kyk na drie betekenisse van heiligmaking:

  • Definitiewe heiligmaking

Jy is permanent vir God afgesonder. As jy ‘n gelowige is, is jy ‘n heilige. Die direkte vertaling van Filippense 1:1 is heiliges. Ongelukkig het heiliges by ons dikwels die betekenis van super-gelowiges gekry en daarom word dit gewoonlik met gelowiges vertaal.

 

  • Progressiewe heiligmaking

Dit is die werk van God se genade waardeur ons vernuwe word na die beeld van God. Ons word in staat gestel om meer en meer vir die sonde te sterf en te leef soos iemand wat vrygespreek is.

Ons het hier met ‘n voortdurende proses van karakterverandering te doen – ‘n proses wat ons van ons sondige gewoontes vry maak en in ons liefde, gesindhede en deugde vorm soos ons dit in Jesus Christus kry. Ons groei dus in heiligheid, want heiligmaking is die somtotaal van miljoene klein dingetjies.

 

Hierdie is ‘n lewenslange proses wat begin net na ons verlossing. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee (Titus 3:5). Iets gebeur met ons as ons wedergebore word – die Heilige Gees gee vir ons nuwe lewe en nuwe krag. Die Heilige Gees begin onmiddellik met sy vernuwingswerk in ons om die krag van die sonde wat van ons slawe gemaak het, te breek.

 

Eenvoudig gestel: Wedergeboorte is geboorte (eenmalig); heiligmaking is groei (‘n proses). Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is (2 Korintiërs 3:18 ). Ons sien dus dat heiligmaking die werk van die Heilige Gees is.

 

God gee aan ons die begeerte en krag om regverdig te lewe, maar ons moet ook aktief daaraan werk om God se wil te doen. Heiligmaking is ‘n gesamentlike onderneming: Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer (Filippense 2:12 – 13). Gelukkig hoef ons nie alles self te doen nie – alles berus nie op my eie pogings nie. God werk in ons om dit te bewerkstellig.

 

Heiligmaking is ‘n langdurige veranderingsproses waarin ons saam met die Heilige Gees moet werk om te groei.

 

  • Uiteindelike heiligmaking

Dit staan ook bekend as verheerliking. Die proses van heiligmaking word nie voltooi terwyl ons leef of voor Jesus se wederkoms nie. Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Jesus Christus my reeds Syne gemaak het (Filippense 3:12). Gebeur dit ontvang ons nuwe geestelike liggame. Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is (1 Johannes 3:2); Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees (Filippense 3:21). Dan is ons soos Jesus Christus.

 

Vrygekoop is ons wetlike status voor God as Hy ons vrygespreek het. Dit is God wat ons eens en vir altyd vryspreek – dit gebeur as ons ons bekeer. Heiligmaking, daarenteen, is die lewenslange werk van die Heilige Gees in ons wat ons geleidelik verander na die beeld van Jesus Christus.

 




‘n Vaste verwysingspunt (1)

Be killing sin or sin will be killing you (John Owen).

 

‘n Vaste verwysingspunt  (1)

Admiraal Richard Byrd was bekend vir sy reise in Antartika. In 1934 besluit hy om die hele winter daar te spandeer – alleen. Temperature het tussen 40º  en 60ºC onder vriespunt gewissel. Hy het later ‘n boek – Alone – oor sy ondervindings geskryf. Na ‘n paar dae van kwaai winde en sneeu was daar geen teken meer van sy hut nie. Hy maak ‘n pad direk noord en direk suid vir ongeveer 120 m – eintlik het hy net elke drie tree ‘n 2 meter bamboes in die grond gesteek. So kon hy in slegte weer elke keer sy pad terug na sy hut kry.

 

 

Maar eendag dwaal hy af. Hy sien nie een van sy bamboespale nie. Hy besef elke tree in die verkeerde rigting mag hom verder van sy hut af wegneem. Hy kan so verdwaal dat hy nooit weer die pad terug kry nie. Die sneeu was ook so gevries dat daar geen spore was nie. Sy eerste impuls was om te hardloop. Hy onderdruk dit. Hy besef dat hy verlore is. Hoe nou gemaak? Hy bou ‘n klein baken van sneeu. Dit sou as sy verwysingspunt dien. Met behulp van die sterre kry hy sy rigting. Hy loop 100 tree in die een rigting en soek vir ‘n bamboes. Hy kry niks nie. Hy stap terug na sy verwysingspunt. Met behulp van due sterre pas hy sy rigting met 30º na links aan. Na ‘n paar pogings kom hy uiteindelik by ‘n bamboes uit. Nou was dit maklik om sy hut te kry.

 

Die sneeubaken was sy vaste verwysingspunt – dit was iets waarop hy kon staatmaak, want dit was konstant. Hy keer elke keer na sy verwysingspunt terug om leiding en rigting te kry. God besef dat ek en jy ook ‘n baken nodig het. Sonder so ‘n verwysingspunt sal ons verdwaal en nie weet hoe om weer ons huis te kry nie. Daarom gee God aan ons ‘n onveranderlike, konstante verwysingspunt – sy Woord. Sy Woord is krities belangrik as ons rigting en stabiliteit in ons lewens wil hê.

 

Ons kyk volgende keer na God se woord as ons verwysingspunt.

 




Gelowiges doen steeds sonde!

Holiness is plain hard work, and we’er often lazy. We like our sins, and dying to them is often painful – Kevin deYoung.

 

Gelowiges doen steeds sonde!

En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige as ons voorspraak by die Vader. Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld (1 Johannes 2:1 – 2).

 

Die Woord sê dat ons nie moet sondig nie, want dit onteer God. Al is jy vrygespreek, maak sonde steeds saak. Maar ons hoef nie in wanhoop te verval nie, want ons het ‘n Advokaat wat vir ons by God pleit. Hierdie wetlike status van ons verval nie – ons hoef nie weer vrygekoop te word nie. Jesus Christus se offer was immers vir altyd.

 

 

Wat wel gebeur as ons sondig is dat ons verhouding met God versteur word. Ons mag God se ontevredenheid ondervind, maar nie sy toorn wat ons veroordeel nie.  Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders.  Is daar miskien ‘n kind wat nie deur sy vader getug word nie? As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie. Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en ons het vir hulle eerbied gehad.  Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe nie? Ons vaders het ons wel ‘n kort tydjie na hulle goeddunke getug, maar Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel (Hebreërs 12:7 – 10). God sal ons dissiplineer en reghelp om die verhouding tussen Hom en ons weer reg te stel.

 

John Stott (Basic Christianity) gebruik die volgende beeld:

‘n Seun is onbeskof met sy ouers. Daar heers spanning in die huis; seun en ouers praat nie meer met mekaar nie. Wat het gebeur? Is die seun nou nie meer hulle kind nie? Nee, hy is steeds hulle kind, maar hulle verhouding het verander. Die feit of hy kind is of nie, word deur sy geboorte bepaal; die verhouding is afhanklik van sy gedrag. Sodra die seun om vergewing vra, word hy vergewe en die verhouding is weer herstel. Hy mag tydelik ongehoorsaam, selfs in opstand, gewees het, maar hy het nooit opgehou om hulle seun te wees nie.

 

So gaan dit ook met die kinders van God. As ons sondig, bly ons steeds God se kinders – ons verhouding met Hom is wel versteur. Hierdie verhouding met God word herstel sodra ons ons sonde bely en daarvan afsien. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Johannes 1:9); Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely, sal genade ontvang (Spreuke 28:13).