Verstaan vryspraak (2)

God uses chronic pain and weakness, along with other afflictions, as his chisel for sculpting our lives. —J.I. Packer

Verstaan vryspraak (2)

Elke mens het ‘n ingebore sin van wat reg en wat verkeerd is. Daarom kom die vraag na vore: Hoe kan God mense vryspreek wat skuldig is en steeds ‘n regverdige regter wees? Omdat God ‘n regverdige regter is, moet Hy tog op een of ander manier sy sin vir geregtigheid bevredig as Hy ons vryspreek.

 

Maar daar is vir ons vryspraak betaal. Om dit te verstaan, is daar drie konsepte van belang:

 

  • Delging/verlossing. Dit is verlossing met ‘n prys. God het ons verlos, maar Hy het ‘n groot prys betaal daarvoor – die offer van sy eie Seun. Ons was slawe van die sonde, maar God betaal die losprys. Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde  sinnelose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekkeloos en sonder liggaamsgebrek is (1 Petrus 1:18 – 19).
  • Versoening. Jesus Christus se dood was die offer wat God se toorn verwyder het deur ‘n plaasvervangende offer. Maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien het, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo (Romeine 3:24 – 25). God gee self die offer – sy Seun; God gee self die losprys – Jesus Christus se bloed. God does not love us because Jesus Christ died for us; Christ died for us because God loves us (John Stott)
  • Toerekening.  Ons sonde word aan Jesus Christus toegereken; Jesus Christus se geregtigheid word aan ons toegereken. Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (2 Korintiërs 5:21).

 

Nou kan ons verstaan hoekom God, as ons voor sy regbank staan, kan sê: Onskuldig. Vryspraak is nie ek en jy wat  goed genoeg is dat God ons kan vryspreek nie … dit is God wat vir ons intree en vir ons doen wat ons nooit self vir ons kan doen nie.

Volgende keer kyk ons vir oulaas na vryspraak.




Verstaan vryspraak (1)

The gospel is neither a discussion nor a debate. It is an announcement – Paul S. Rees

 Verstaan vryspraak (1)

Hoe kom ek in die hemel? Dit is ‘n algemene vraag waarop ons ‘n verskeidenheid antwoorde kry: wees ‘n goeie mens; moenie selfsugtig wees nie; moenie ander seermaak nie; doen wat reg is; onderhou die wette van God; ens. Lees ons egter die Nuwe Testament sien ons dat al hierdie dinge  werke genoem word. In alle gevalle werk ons om God se goedkeuring te kry – ons probeer vir ons verlossing werk.

 Maar dan kom Paulus en hy sê: Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel deur die wet leer ‘n mens wat sonde is (Romeine 3:20). Hier sien ons dat die wet vir my sê wat sonde is. Deur die wet te onderhou, kan ek nie vrygespreek word nie – in ieder geval kan ek nie die wet volkome onderhou nie. Die wet maak my bewus van my sonde – ek besef ek is ‘n sondaar.

 

 

As God my moes oordeel op die onderhouding van die tien gebooie, hoe sou ek vaar? Om goed te wees volgens God se definisie moet ek moreel volmaak wees. Omdat ons besef dat dit nie moontlik is nie, water ons die definisie af. Ongelukkig is dit net God se definisie wat tel. Wat is sy bevinding? Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie (Romeine 3:10).

 

Mense hou nie daarvan om te hoor dat hulle nie goed genoeg is om hemel toe te gaan nie. Dit is baie moeilik om te erken dat ons desperaat is. Ons is te trots om dit te erken. Maar net God is volmaak. Wat nou? Ek moet vrygespreek word. Wat beteken dit om vrygespreek te word? En tog weet ons dat ‘n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Jesus Christus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Jesus Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek  op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie (Galasiërs 2:16).

 

Vryspraak is ‘n woord wat in ‘n hof gebruik word. In ‘n hof word ons vrygespreek of veroordeel en gevonnis. God is die regverdige Regter oor die heelal. God verklaar dat ons vrygespreek is – geen veroordeling en geen vonnis nie. Dit beteken ons sonde is verwyder en dat ons vry van God se toorn is. Maar hierdie vryspraak is voorwaardelik: ons moet in Jesus Christus glo. As ek in Jesus Christus glo – dat Hy in my plek gesterf het en vir my die straf gedra het – word ek vrygespreek. Nou is ek vry van veroordeling.

 In die wêreld is ek onskuldig tot ek skuldig bevind word. Maar voor God is ek reeds skuldig bewys. Ek is skuldig totdat God my vryspreek.

 

Ons gaan volgende keer verder na vryspraak kyk.




Basiese geloofsvrae

. —C.H. Spurgeon

Basiese geloofsvrae

Almal het ‘n afrigter nodig – selfs wêreldklas atlete. In ‘n sekere sin is ons geestelike atlete. Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.  Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God (Hebreërs 12:1 – 2). Om goed te kan hardloop het ons aanmoediging en wysheid nodig. Dit kry ons in God se woord. Hierdie proses van afrigting en oefening noem ons dissipelskap.

 

 

As ons ons aanmoediging en wysheid in God se woord kry, hoe benader ons sy woord?

1.Luister. Luister na wat die woord vir ons sê. Ons kry daar waardevolle inligting waarop ons ons geloof kan bou.

2.Absorbeer. Dink na; prosesseer wat jy gehoor het – veral nuwe konsepte. Sit rustig; laat jou gedagtes fokus op die noodsaaklikste elemente wat jy gedurende die eerste stap gehoor het.

3.Interaksie. Sit saam met ander en bespreek wat gehoor is. Dit versterk verder die waarhede wat jy gehoor het. In hierdie stap kom ons agter hoe goed ons die waarhede verstaan het.

 

Ek gaan ‘n hele aantal blogs spandeer om na sekere basiese geloofsvrae te kyk. Volgende keer gaan ons na vryspraak kyk




‘n Bedienaar van die nuwe verbond

Waiting for an answer to prayer is often part of the answer. —John Blanchard

‘n Bedienaar van die nuwe verbond

In 2 Korintiërs 4:1 – 6 verdedig Paulus homself as bedienaar van die nuwe verbond. Hy gee ook vir ons ‘n uiteensetting van hoe hierdie bediening gedoen moet word:

  • Paulus bedien met sy hart – hy word nie moedeloos nie. God het hom in sy genade op die pad na Damaskus ontmoet en hom geroep om die evangelie aan die heidene te verkondig. Die bediening van die nuwe verbond se heerlikheid oortref dié van die ou verbond in vryheid en transformasie. Dit gee aan hom energie en verhoed dat hy moedeloos word.
  • Paulus maak die waarheid openlik bekend. Hy wil niks te doen hê met bedrog en vervalsing nie. Hy verander nie God se woord nie; hy water nie sy boodskap af nie. Hy praat reguit; hy maak ‘n beroep op mense se eerlike gewete.
  • Paulus bedien met persepsie. Hy is bewus van die blindheid van ongelowiges. Sy eie ondervinding maak dit vir hom duidelik dat die mens moet glo.
  • Paulus bedien deur Christus voor op te plaas. Hy verkondig Jesus Christus as die Here. As ‘n mens Christus verheerlik is daar geen plek om jouself te verheerlik nie. In plaas van jouself bevorder, word jy ‘n dienaar.
  • Paulus bedien met goddelike vertroue:  6God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,”  het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal. Niks minder as God se skeppingsmag word op blinde siele toegepas nie.

As ons so ‘n bediening het, sal ons nooit moedeloos word nie.