Ontmoetings met Jesus: Die twee hartseer susters: Marta en Maria (3)

 

 “The main end of our lives is to serve God in the serving of men in the works of our callings.” William Perkins

Ontmoetings met Jesus: Die twee hartseer susters: Marta en Maria (3)

[Ek maak onder andere van Timothy Keller se boek Encounters with Jesus gebruik.]

In die Johannes-evangelie lees ons van ‘n hele aantal ontmoetings wat Jesus met individue gehad het. In hulle antwoord Hy van die groot lewensvrae. Hier gaan dit oor Jesus se ontmoeting met Marta en Maria. Die vraag wat ons uit hierdie ontmoeting  gaan antwoord, is: Wie of wat kan die wêreld weer regstel?

Uit Jesus se ontmoeting met Marta kry ons ‘n kykie in sy Godheid en mag – Jesus is God. Dit verduidelik nie alles wat Hy is nie, want die volgende oomblik sien Hy vir Maria en Jesus huil. ‘n Mens verwag tog nie dat as Jesus werklik God was Hy emosies sou ondervind nie. Wat ons hier sien is Jesus as God en Jesus as mens. Ten spyte van sy aanspraak dat Hy die opstanding en lewe is, reageer Hy op menslike wyse toe Hy Maria se hartseer sien.

 

Beteken dit dat Jesus 50% God en 50% mens is? Nee, Hy is 100% God en 100% mens. Daar is geen ander godsdiens wat so ‘n aanspraak maak nie. Ook ons sukkel om dit te glo. Jesus gee vir Marta wat ons sou noem die bediening van die waarheid, want dit was wat sy op daardie oomblik nodig gehad het. Hy sê vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Moenie wanhoop nie. Ek is hier en Ek is die opstanding en die lewe.” Vir Maria gee Hy die bediening van trane, want dit is wat sy die meeste nodig gehad het. Jesus is mens genoeg om haar hartseer met haar te deel.

Almal van ons het op verskillende tye in ons lewe een van hierdie bedienings nodig. Nie een van ons het die temperament of geduld of insig om aan al die mense die bediening te gee wat hulle op daardie spesifieke oomblik nodig het nie. Party van ons se gawe is om ander te vertroos; party van ons se gawe is om ander te onderrig. Jesus kan beide doen en weet ook wanneer ek wat nodig het.

Jesus word daarom as die Leeu, maar ook die Lam beskryf. Hy kan deur die swakste onder ons genader word. Teenoor die korruptes en magtiges is Hy vreesloos. Hy is teer, maar nie swak nie; Hy is streng sonder om skerp te wees; Hy is nederig, maar nie sonder vertroue nie; Hy is magtig, maar nie onsensitief nie. Jesus Christus is God wat mens geword het.

Daar bly nog een vraag oor: Hoekom het Jesus mens geword? Daarna gaan ons volgende keer kyk.




Ontmoetings met Jesus: Die twee hartseer susters: Marta en Maria (2)

No other God have I but Thee,

Born in a manger, died on a tree.

Martin Luther

Ontmoetings met Jesus: Die twee hartseer susters: Marta en Maria (2)

[Ek maak onder andere van Timothy Keller se boek Encounters with Jesus gebruik.]

In die Johannes-evangelie lees ons van ‘n hele aantal ontmoetings wat Jesus met individue gehad het. In hulle antwoord Hy van die groot lewensvrae. Hier gaan dit oor Jesus se ontmoeting met Marta en Maria. Die vraag wat ons uit hierdie ontmoeting  gaan antwoord, is: Wie of wat kan die wêreld weer regstel?

Mense sukkel om te glo dat Jesus waarlik God is. Hulle erken dat Jesus uniek was, dat Hy ‘n uitsonderlike Leermeester was, dat Hy ‘n wysheidsleraar was, ens. Maar Jesus eis van elkeen ‘n radikale reaksie. Moontlikhede is:

  • Hy was ‘n bedrieër. Al Jesus se vroeë volgelinge was Jode. Die Jode se siening van God was so verhewe dat hulle nie eers sy Naam wou sê of skryf nie. Enige voorstel dat God swak vlees en bloed kon wees, sou hulle onmiddellik verwerp het. Die idees van God-mens het nooit by die Jode opgekom nie.
  • Hy was verstandelik versteur. Daar was sulke mense wat beweer het dat hulle God was, maar hulle het gewoonlik net ‘n klein groepie aanhangers gehad. Jy kan nie mense oortuig dat jy God is as jy die normale menslike tekortkominge van die mense het nie – dinge soos selfsug, trots, oneerlikheid … Daar is altyd mense wat na genoeg aan so ‘n aanspraakmaker leef om deur Hom te sien.
  • Hy was eg – aanbid Hom as God. Kort na sy dood was daar ‘n groep mense wat Jesus as God begin aanbid het. Hierdie groep het vinnig gegroei.

Wat ons nie kan doen, is om iewers tussenin ‘n antwoord te probeer soek nie. Elkeen van ons moet op sy aansprake reageer. Kort na sy dood het mense reeds aanvaar dat Hy Goddelik was – dit is nie iets wat eers lank na sy dood gebeur het nie. Twee dekades na sy dood skryf Paulus in Filippense 2:5 – 11:

5Julle moet Christus Jesus se voorbeeld volg. Soos Hy oor dinge gedink en gevoel het, so moet julle ook daaroor dink en voel. Laat ek verduidelik wat ek bedoel.

6Jesus staan in status op gelyke voet met God. Hy was egter nie so vol van Homself dat Hy tot elke prys aan dié status wou vasklou nie. 7Toe die tyd ryp was, het Hy die status en eer wat Hy gehad het eenkant toe geskuif. Hy het ’n mens tussen mense geword. Asof dit nie genoeg was nie, het Hy sommer ’n gewone mens geword wat op die oog af nie uitsonderlik gelyk het nie, ja, iemand van wie baie ander mense niks gedink het nie. 8As mens onder mense het Hy die pad van vernedering nog verder geloop. Dit sou Hom uiteindelik by die dood aan die kruis uitbring. Wat ’n vernedering! God het dit egter van Hom gevra en Hy het die pad van vernedering gehoorsaam enduit geloop.

910Net mooi almal sal voor die grote Christus moet buig, maak nie saak wie hulle is of waar hulle vandaan kom nie. Selfs dié wat lankal dood is, sal voor Jesus moet buig. 11Hulle almal sal met oortuiging vir mekaar sê: “Jesus Christus is die Here.” So sal almal ook besef hoe groot en belangrik God die Vader is. (Die Boodskap).

Die groot vraag: Is Jesus God of mens? Daarna gaan ons volgende keer verder kyk.

Ontmoetings met Jesus: Die twee hartseer susters: Marta en Maria (1)

 

Ontmoetings met Jesus: Die twee hartseer susters: Marta en Maria (1)

[Ek maak onder andere van Timothy Keller se boek Encounters with Jesus gebruik.]

In die Johannes-evangelie lees ons van ‘n hele aantal ontmoetings wat Jesus met individue gehad het. In hulle antwoord Hy van die groot lewensvrae. Hier gaan dit oor Jesus se ontmoeting met Marta en Maria. Die vraag wat ons uit hierdie ontmoeting  gaan antwoord, is: Wie of wat kan die wêreld weer regstel?

Niemand beweer dat alles in die wêreld reg is en dat daar niks met die mense verkeerd is nie. Die groot vraag is: Wie of wat kan die wêreld weer regstel? Christene glo dat die antwoord Jesus Christus is. In Johannes 11 lees ons van Jesus se ontmoeting met die twee susters net na Lasarus – vir wie Jesus baie lief gehad het – dood is.

 

Lasarus is baie siek. Die susters stuur iemand na Jesus met die boodskap dat Lasarus siek is. Toe Jesus uiteindelik by hulle aankom was Lasarus al dood en begrawe. Almal is in rou. Marta is die eerste suster wat vir Jesus sien kom. Sy sê vir Jesus: Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. Marta gaan later vir Maria roep en lig haar in dat Jesus daar is. Maria gaan na Jesus en sê vir Hom: Here, as U hier was sou my broer nie gesterwe het nie.

Ons het hier twee susters in dieselfde omstandighede wat presies dieselfde woorde vir Jesus sê, maar Jesus reageer verskillend. Met Marta  argumenteer Jesus. Sy sê Hy het te laat daar aangekom, maar Jesus sê vir haar dat dit vir Hom nooit te laat is nie: Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo sal lewe al sterwe hy ook. Jesus hanteer Marta se wanhoop, wys haar tereg oor haar twyfel en gee vir haar hoop. Sy benadering tot Maria verskil radikaal. Toe Hy sien dat Maria huil het sy gemoed vol geskiet en Hy was aangedaan.  Hy vra net: Waar het julle hom begrawe?

Hoekom behandel Jesus die twee susters verskillend? Omdat Hy verhoudings verstaan. Hy weet jy kan nie alle mense eenders hanteer nie. Dit sê vir ons iets van sy karakter. Hierdie ontmoeting wys vir ons dat Jesus waarlik mens, maar ook  waarlik God is. Vir Marta sê Jesus dat  net God lewe kan gee en lewe kan neem. Hy sê nie vir Marta dat Hy Lasarus gaan opwek nie; Hy sê: Ek is die opstanding en die lewe. In Lukas 10:18 sê Jesus dat Hy die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val het – Hy het Satan se prehistoriese val gesien. Dit beteken Hy was van altyd af daar – Hy is God.

Baie mense sukkel hiermee. Hoe kan Jesus God wees as Hy hier op aarde as mens rondgestap het? Daarna kyk ons volgende keer.




Ontmoetings met Jesus: Die lid van die binnekring en die uitgeworpene (5)

 

Ontmoetings met Jesus: Die lid van die binnekring en die uitgeworpene  (5)

[Ek maak onder andere van Timothy Keller se boek Encounters with Jesus gebruik.]

In die Johannes-evangelie lees ons van ‘n hele aantal ontmoetings wat Jesus met individue gehad het. In hulle antwoord Hy van die groot lewensvrae. Hier gaan dit oor Jesus se ontmoetings met Nikodemus en die Samaritaanse vrou. Die vraag wat ons uit hierdie twee ontmoetings gaan antwoord, is: Wat is verkeerd met die wêreld soos dit tans is?

Wat het ons uit hierdie twee ontmoetings geleer? Nikodemus en die Samaritaanse vrou is sondaars en het genade nodig – so ook almal van ons. Jesus sê almal van ons het lewende water nodig en moet weer gebore word. Waar begin jy? Berou oor jou sonde, jy moet jou behoefte aan genade erken; jy moet God vertrou. Jy moet bekeer word.

 

Dit is nie genoeg om ‘n goeie lewe te lei nie. Jesus moet die middelpunt van ons lewens word. Al is ek ‘n goeie mens, maar ek laat nie toe dat God God kan wees – ook in my lewe – nie, is ek net so skuldig soos Nikodemus en die Samaritaanse vrou.

Wat is die oplossing? Hou op om na allerhande “verlossers” te soek – hulle is slegs pseudo-verlossers. As ek geld/besittings/ my werk … as my verlosser beskou en dit misluk, het ek geen hoop meer nie. Hoekom? Want net Jesus Christus is my ware Verlosser.

Die volgende ontmoeting waarna ons gaan kyk is Jesus se ontmoeting met die twee hartseer susters: Marta en Maria.