Kan die Kerk agente vir verandering wees?

 “Our death died at the cross. It did not faint. It died.” Conrad Mbewe

 Kan die Kerk agente vir verandering wees?

Gemeentes kan hulle nie net bekommer oor hoe om met hulle eie gemeenskap te verbind nie. Hulle moet buite hulle mure beweeg. Die vraag is: Hoe? Dit is nie maklik nie, want baie gemeentes word vasgevang in die manier waarop hulle dinge doen. Dan gaan dit oor behoud van die gemeente en nie oor transformasie van die omliggende gemeenskap nie.

 Ons model kry ons in die Bybel. Paulus besoek Atene (Handelinge 17). Dit is duidelik dat Paulus hulle kultuur verstaan. Hy haal Epikureërs en Stoïsynse filosowe aan. Daarna bou hy doelbewus ‘n brug na die evangelie. Ons sal nou nie meer hierdie filosowe sommer aanhaal nie, maar dit wat Oprah en ander sê, is dieselfde. Dit is deel van die wêreldsiening wat sê dat die waarheid relatief is en dat die doel van spiritualiteit persoonlike vrede is.

 

 

 

Gemeentes mag van mekaar verskil, maar hulle moet steeds getrou aan die Bybel wees. Waar ons is, mag die manier waarop ons oor Jesus praat, beïnvloed, maar die gesprek gaan steeds oor Jesus. Hoekom moet ons ‘n brug bou? Om by die mense aan die oorkant uit te kom. Jy kan nie die brug bou net sodat mense aan die oorkant die gemeente kan kry nie. Die doel is meer dissipels vir Jesus en nie ‘n groter skare nie.

 

 

Ons kan nie die gebroke wêreld omverwerp deur subtiele ondermyning nie, maar wel deur diegene wat seerkry, te dien en dié wat in nood is van Jesus te vertel. Nou is ons agente van transformasie in ‘n wêreld wat dit desperaat nodig het. Jesus vergelyk ons immers met suurdeeg en klein saadjies wat ingaan, meng, groei en alles verander. Paulus was nie skaam om vir die Ateners te sê: Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle (Handelinge 17:23).

 




Oningelig teenoor onkundig

 “Our death died at the cross. It did not faint. It died.” Conrad Mbewe

 

Oningelig teenoor onkundig

Oningelig is ‘n tydelike toestand wat baie maklik reggestel kan word – veral vandag met byvoorbeeld die Internet. Onkundig, daarenteen is ‘n baie gevaarlike toestand as iemand ‘n besluit neem en hy het nie die nodige kennis nie. Die Internet stel ons in staat om ingelig te word as ons net die nodige tyd en energie daaraan spandeer.

 

 

Seth Godin sê dat die Internet ook ‘n omgewing skep waarin dit moontlik is om te dink daar is niks mee verkeerd om onkundig te wees nie. Ons kan maklik in ‘n silo leef omring deur ander wat ook dink dit is reg om nie te weet nie. Onkunde was in die verlede ‘n vae etiket wat dikwels misbruik is om iemand wat van my verskil te beskryf. Vandag is onkunde ‘n keuse – ek kies om onkundig te wees.

 

Hoeveel van ons kies nie om onkundig te bly nie. Dit is ‘n keuse wat negatiewe gevolge vir ons mag hê.

 




Geseënd is jy

 “Strategy never saved anyone. Only the gospel saves anyone.” – Thabiti Anyabwile

 

Geseënd is jy

Geseënd is ‘n woord wat ons dikwels hoor.  Soms beteken dit ryk: “Hy is nou werklik geseënd,” en dan beteken dit hy het baie geld Soms word dit as sinoniem vir goeie omstandighede gebruik: “Ek was geseënd om ‘n parkeerplek te kry.”

  J. D. Geear skryf hieroor en gebruik Maria as voorbeeld. Toe Gabriël by Maria kom en aankondig dat sy swanger is, beskryf hy haar as begenadigde. Toe Elisabet vir Maria ontmoet roep sy hard uit: Geseënd is jy onder die vroue (Lukas 1:42). Maria is ‘n goeie voorbeeld van wat dit beteken om geseënd te wees, al lyk dit nie vir ons so nie.

 

 Wat is die aard van Maria se seën? Dit bestaan uit twee dele:

  • Teenwoordigheid. Lees net die loflied van Maria in Lukas 1:46 – 55. Kyk hoe praat sy van God in die eerste persoon: my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Maar niks van Maria se omstandighede het verander nie, Sy verheug haar nie in wat God vir haar gegee het nie, maar wat Hy vir haar in Christus geword het. Watter groot dinge het God aan haar gedoen? Uitwendig niks nie. Maria besef dat die magtigste daad van God die geheim van verlossing was. Net een ding word in die Bybel die  krag van God genoem – die evangelie.  Psalm 8 sê dat die skepping van die heelal die werk van u vingers was – nie eers sy hand nie. God is teenwoordig – dit is Maria se seën.
  • ‘n Belofte. In Lukas 1:54 – 55 dink Maria aan God se beloftes. Die koms van Jesus was die vervulling van God se beloftes aan Abraham – deur sy nageslag sal al die nasies geseën word. Baie mense het gedink dat God al lankal van sy beloftes vergeet het. God het nie vergeet nie; Hy vervul sy beloftes. Jesus kom – ‘n groter seën as waarvan die mense gedroom het.

Om ‘n geseënde lewe te leef, beteken nie ‘n lewe sonder pyn en lyding nie. God het nie die wêreld deur Jesus se verheerliking verlos nie, maar deur sy vernedering en kruisiging.

Maria het die teenwoordigheid en beloftes van God as haar ware seën gesien. Maar nie omdat sy so merkwaardig was nie. Haar lied gaan oor God – sy karakter, beloftes, verlossing. Sy sien haarself as skuldig en swak – sy het hulp en sterkte nodig … sy het ‘n Verlosser nodig. Sy besing die grootheid van die Here – nie haar eie heiligheid nie. Christus het ons geneem toe ons nog swak en sondig was en versoen ons met God. Maak nie saak wat dit omstandighede is nie, dit is ware seën.

Leef ons soos mense wat ryklik geseën is? In die moeilikste omstandighede kan jy jou saam met Maria verheug, want jou seën kom van die teenwoordigheid en beloftes van God. Jy kan alles verloor, want in Christus het jy alles wat jy nodig het.

 




Die leer van die hel (5)

“Trust in our works for salvation is the back door to Hell.” Conrad Mbewe

 

Die leer van die hel (5)

J. D. Greear het ‘n blogreeks oor die hel geskryf. Hoekom? Want dit was ‘n onderwerp wat veroorsaak het dat hy amper sy geloof verloor het. Hy sê dat die hel ‘n moeilike werklikheid is, maar dit is iets wat die Bybel ons leer. Ons kan nie vir God en sy wêreld verstaan as ons nie stoei met die leer van die hel nie. Wanneer laas het jy ‘n preek oor die hel gehoor? Daar is soveel verwarring oor hierdie onderwerp dat ek besluit het om na hierdie artikels te kyk.

Ons hoor dikwels: “Hoe kan ons so seker wees daar is geen ander manier van verlossing behalwe deur geloof in Jesus Christus nie? Hoekom kan ons nie vergeet van die oordeel en God toelaat om later te oordeel nie? Die evangelie gee genoeg aanstoot – moenie dit nog moeiliker maak nie.”

 

 

Natuurlik is daar verskillende menings hieroor, maar dit beteken nie dat iets nie duidelik in die Skrif is nie. Dit mag net beteken dat die resultate so onaangenaam is dat ons ons nie daarmee kan versoen nie. Maar ons moet ook onthou dat ons menings nie altyd korrek is nie – ons moet oortuig kan word dat ons verkeerd is.

Oor die hel is daar uiteraard baie uiteenlopende menings. Baie van hierdie menings berus op menslike rede: Dit is hoe ek dink God behoort te wees – dit berus nie op wat die Skrif sê nie. Kan God dinge doen waarvan Hy nie vir ons gesê het nie? Dit is moontlik. In Deuteronomium 29:29 lees ons: Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en aan ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet. Daar is aspekte wat God nie aan ons geopenbaar het nie en wat vir ons ‘n geheim is, maar wat Hy wel geopenbaar het, moet ons volg. 

Wat aan ons geopenbaar is, is dat God mense as instrumente gebruik Dink maar aan Kornelius – hy hoor van Jesus deur Petrus.

In nederigheid moet ons sê wat die Skrif sê al is dit vir my onaangenaam. God se woord en nie ons menings nie, is al wat tel. Mag God aan ons die krag gee om sy boodskap uit te dra aan ons bure en aan ander nasies.