Wat moet ons met die armes doen?

Believers are justified by faith, and judged by its fruit – Alister McGrath

Wat moet ons met die armes doen?

Armoede is ‘n baie ernstige probleem. Dit skep ‘n ernstige dilemma vir gemeentes, want hulle is onseker hoe om dit te hanteer. Arloa Sutter het ‘n boek hieroor geskryf: The Invisible: What the Church Can Do to Find and Serve the Least of These. Daarin gee sy riglyne om jou gemeente te beweeg dat hulle deernis met die armes het.

  • Ontwikkel ‘n teologiese raamwerk oor armoede

As die gemeente relatief sosio-ekonomies homogeen en geïsoleer van die gevolge van armoede is, het die gemeente waarskynlik ‘n verwysingsraamwerk ontwikkel wat die gedeeltes van die Skrif wat armoede hanteer, uitgesluit. Ons moet ‘n dieper verstaan van die hart van die armes ontwikkel.  Lees net Richard Sterns se Hole in the Gospel om beter insig te kry. Versorging van die armes staan sentraal  in die onderrig en lewe van Jesus Christus. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde vir God in hom wees (1 Johannes 3:17).

  •  Organiseer groepe van jou gemeente om aan te bied om te werk in bedienings wat spesialiseer daarin om te werk met armes en ander rantfigure in ons samelewing

Ons kry lyste in Lukas 4:18 – 19, Jesaja 58:6 – 12 en Matteus 25:31 – 46: voed die hongeres, besoek die gevangenes, bou huise, voorsien klere en huisvesting … Kry mense wat reeds hierdie dienste in die samelewing lewer en sluit by hulle aan. In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan lees ons dat die Samaritaan die gewonde man innig jammer gekry het. Dit gebeur met ons as ons langs ‘n gebroke persoon kom en sy nood deur ‘n ware verhouding met hom ondervind.

  • Maak versorging van die armes ‘n geestelike dissipline

Ons leer baie van die geestelike dissiplines – vas, gebed, Bybelstudie, ens – in die gemeente. Moet ons nie versorging van die armes ook ‘n dissipline maak nie? Dit moet ‘n roetine deel van die Christelike lewe en praktyk word. Baie Christene se geloof word weer lewendig as hulle by mense op die straat en in skuilings betrokke raak. Ons kan so baie leer by die armes as ons ons eie armoede raaksien; ons word geïnspireer deur diegene wat in geloof bid vir hulle daaglikse brood – en dit bedoel.

Versorging van die armes is nie ‘n las nie – dit is die pad na ‘n lewenskragtige geloof en gemeentelike lewe.

As jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag.

Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ‘n tuin met volop water, soos ‘n fontein waarvan die water nie opdroog nie (Jesaja 58)




Interpersoonlike Kommunikasievaardighede

The voices of childhood echo throughout life. The first learned is generally the last forgotten. —C.H. Spurgeon 

Interpersoonlike Kommunikasievaardighede

Wie antwoord voor hy die vraag gehoor het, is dwaas en kom in die skande (Spreuke 18:13).

In sy bekende gebed vra Franciskus van Assisi dat God hom moet help om eers te verstaan en dan verstaan te word. Hierdie is die sleutel tot doeltreffende interpersoonlike kommunikasie. Eintlik het sie Spreuke-skrywer reeds lank voor Franciskus dieselfde raad gegee. Vroeër in die hoofstuk evalueer die skrywer die persoon wat eerder praat as luister: Die dwaas stel nie belang in insig nie, hy wil net sy eie opinie bekend maak (18:2).

 

Geen leier wat nie goed kan kommunikeer, kan ‘n doeltreffende leier wees nie. Leiers spandeer baie tyd om hulle vaardighede op te knap – vaardighede soos beplanning, tydbestuur en openbare redevoering. Maar wat van die vaardigheid van luister? Goeie leiers sal baie aandag hieraan gee.

Saam met luister moet leiers die vermoë ontwikkel om hulle op ‘n manier uit te druk wat nie ander seermaak nie. Praat sonder om te dink, kan soos dolksteke wees; wyse mense bring genesing met wat hulle sê (Spreuke 12:18). Goeie leiers dink voor hulle praat en in die proses kies hulle woorde wat opbou en nie vernietig nie. ‘n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam (Spreuke 15:1).

Jou vermoë om te kommunikeer sal of vertroue of wantroue, of vertroue of vrees uitlok. Dit sal tot ‘n groot mate bepaal hoe gretig mense is om jou te volg. Maar doeltreffende kommunikasie is meer as net praat en luister. Ware kommunikasie vind plaas as mense mekaar verstaan. Luister net wat sê die Here vir Jesaja: Julle sal hoor en hoor en tog sal julle niks verstaan nie, en kyk en kyk en niks sien nie (6:9). Luister wat lei na verstaan is een van die leier se doeltreffendste kommunikasiestrategieë.




Die Christus-lied

 “Sin corrupts even our good deeds. We injure our shoulder trying to pat ourselves on the back.” D.A. Carson

Die Christus-lied

In Filippense 2:6 – 11 kry ons ‘n wonderlike Christus-lied. Die probleme is dat die woorde van hierdie lied vir ons net leë teoretiese woorde is sonder enige praktiese toepassing. Mense vra wat hierdie woorde vir die ontvangers van die brief beteken het. Maar wat het dit gedoen aan die lesers en ook wat doen dit aan ons in ons konteks.

Die kode van destyds het sosiale status beklemtoon. Mense met hoë status is geëer; mense van lae status is geïgnoreer. Om dus te sê dat Jesus Hom verneder het, sou geen sin maak nie. Vandag is ons steeds behep met individue, status en beroemde mense. Paulus se lied daag hierdie algemene siening uit.

 

Vandag klop ons onsself op die skouer en kondig aan dat ons nie tradisie volg nie, ons aanvaar nie leiding van ander nie, ons loop ons eie pad. Dieselfde geld ook vir ons verlossing. Ons sê dat ons Jesus in ons liggame ingenooi het – ons het die inisiatief geneem. Maar wat lees ons van Jesus in hierdie brief? Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.Saam met hierdie gesindheid van Jesus kry ons ook nederigheid: Maar Hy het Homself verneder.  Gehoorsaamheid plus vrywillige nederigheid. Ons denke kan nie ‘n strewe na nederigheid verwerk nie. Ons soek ‘n duidelike prentjie oor wat om te doen en dan doen ons dit.

Kyk net na die vrywilligers in ons gemeentes. Ons ontwerp ‘n model waarvolgens ons van ons tyd gee – so asof dit ons tyd is om te gee. Ons doen dit aan diegene wat ons glo nou op een of ander manier by ons in die skuld is. Die probleem is dat hierdie gesindheid van diens net daar is as ons iets doen – byvoorbeeld in ‘n sopkombuis werk. Daarna gaan ons terug na ons “normale” lewe. Dit is nou ons lewe buite die arena van die vrywilliger. Dit alles doen ons om te wys hoe gaaf en nederig ons is.

Jesus leer hier vir ons ‘n belangrike les: Geen werk/taak is benede ons nie; niks wat ons doen is so uitstaande dat dit die lof van God werd is en ons verlossing verseker nie; ons dien nie ander om ons beter oor onsself te laat voel nie. Ons moet die skeiding tussen ons “normale” lewe en ons lewe as vrywilliger uitwis.




Nederigheid en vernedering

“The gospel overturns everything sin does.” D.A. Carson

Nederigheid en vernedering

Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself (Filippense 2:3)

Paulus sê dat nederigheid ‘n deug is. Dit was ‘n radikale stelling in die Romeinse kultuur van destyds. Die Romeine het feitlik geen verskil tussen nederigheid en vernedering gemaak nie – albei dui op ‘n verlaging van die status van ‘n persoon. Paulus se oproep op nederigheid in die kultuur van destyds was onbekend – geen Romein met enige selfrespek sou nederigheid as ‘n deug gesien het nie. Dade moet gedoen word daar waar mense dit kan sien en jou kan prys. Jou selfwaarde word bepaal deur wat die mense van jou dink en sê. In die Joodse gemeenskap speel nederigheid ‘n meer positiewe rol, maar nie naasteby soos in die Christelike geloof nie. Kyk maar na die verbasing toe Jesus ‘n kindjie as model gebruik (Matteus 18:1 – 5).

 

Vandag word nederigheid meestal positief beoordeel. Die vraag is egter wat presies ons met nederigheid bedoel Paulus beskryf dit soos volg:Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander (2:4). Nederigheid beteken dus gehoorsaamheid aan die wil van God. ‘n Trotse gesindheid beteken dat ek nie voor God se wil kan buig nie. Net in nederigheid kan ek God se wil sien en my behoefte aan God se krag besef. Paulus glo dat om God se wil te doen ek krag by die inwonende Heilige Gees moet kry.