Henri Nouwen

“The less money you spend on other things, the more you have to spend on things eternal.” Michael Oh

Henri Nouwen

Henri Nouwen was ‘n professor aan die teologiese fakulteit aan Harvard Universiteit. Hy skryf baie boeke; hy word uitgenooi as gasspreker na baie universiteite en konferensies. Hy word toenemend ongelukkig met sy lewe. Eendag ontmoet hy vir Jean Vanier, die sigter van die L’Arche gemeenskappe. Hierdie L’Arche gemeenskappe was gemeenskappe bestaande uit mense wat fisies en verstandelik gestremd was. 

Hy sluit aan by die groep in Toronto. Ja, hy skuif van Harvard wat ons sou beskou as die beste en intelligentste gemeenskap in ons samelewing na ‘n gemeenskap waar verstandelik vertraagde mense en hulle assistente as ‘n familie probeer saamleef. In elke huis is daar vier assistente wat ses fisies en verstandelik vertraagde mense versorg. Ons verstaan dit moeilik, maar Henri Nouwen sien die anders.

 

Hy sien dit as ‘n familie waarin hulle geleidelik vergeet wie gestremd en wie nie gestremd is nie. Hulle is eenvoudig John, Bill, Trevor, Raymond, Rose, Steve, Jane, Naomi, Henri en Adam. Dan vertel hy Adam se verhaal: Elke aand dra hy hom bad toe en maak golfies in die water en vertel vir hom allerhande stories. Na ‘n maand gebeur iets met hom wat nog nooit vantevore met hom gebeur het nie. Hierdie gestremde man wat buitestanders  dikwels met woorde wat seermaak beskryf, word sy vriend. As Adam bad is hulle twee vriende wat met mekaar kommunikeer.

Voor hy by L’Arche aangekom het, het hy geglo dat dit wat mense maak hulle denke is. Adam wys vir hom dat wat mense maak hulle harte is. Die hart is die middelpunt van ons lewe; dit is die plek waar God vertroue, hoop en liefde weggesteek het. Die samelewing sien vir Adam as ‘n las, maar Adam is ten volle in staat om liefde te ontvang en te gee. Hy is nie ‘n halwe mens nie … hy is volledig mens, want hy is volledig hart.

The longer I stay with Adam, the more clearly I see him as a gentle teacher, teaching me what no book or professor ever could.

Amen is al wat ek kan sê.




Chris Baker

He who despairs of the human condition is a coward, but ge who has hope for it is a fool – Albert Camus (Sjoe dit is darem bitter. Gelukkig is gelowiges, want hulle het hoop)

Chris Baker

Nog nooit van hom gehoor nie? Ek het pas van hom geleer. Hy was ‘n tatoeerkunstenaar. As volwassene kom hu tot bekering. Maar wat kan hy as tatoeerkunstenaar vir Jesus Christus doen?

Lede van bendes het dikwels tatoeëermerke om hulle lidmaatskap van ‘n spesifieke bende te bevestig. Dit maak dit baie moeilik vir hulle om sommer hulle lidmaatskap van ‘n bende te beëindig. Chris het aangebied om hierdie merke te bedek of te verander sodat dit onherkenbaar is.

 

‘n Ander groep wat dikwels getatoeëer is, is slagoffers van die handel in mense – veral vir seks. Hierdie mense het dikwels tatoeëermerke in hulle nek of op hulle rug – soms selfs ‘n stafiekode (barcode). Chris ontwerp mooi blomme om die merke te bedek. Die aaklige merke van ‘n seksslaaf word vervang met ‘n blom – die beeld van skoonheid en kleur. Dit is ‘n simbool van ‘n nuwe lewe – ‘n lewe vry van die verlede.

Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom (2 Korintiërs 5:17).

Hoe dikwels hoor ons nie die ou verskoning nie: “Ek kan niks vir Jesus Christus doen nie, want ek het nie nodige vaardighede wat Hy verlang nie. Sy standaarde is so hoog ek sal net ‘n gemors maak.” Chris is ‘n goeie voorbeeld: God kan almal gebruik.




‘n Oorwinning teen alle verwagtings in

 “Saved people this side of heaven owe the gospel to lost people this side of hell.” – David Platt

‘n Oorwinning teen alle verwagtings in

In my Bybelstudie kyk ek na Paulus se brief aan die Filippense. In Filippense 1:12 – 14 begin Paulus deur vir sy lesers te sê dat hy ‘n gevangene is – of hy sit in die tronk of hy is onder huisarres. Eintlik sê hy baie min oor sy persoonlike toestand, maar konsentreer eerder op die verkondiging van die evangelie. Dit is nou nie iets wat sy lesers verwag het nie.

Paulus sê dat sy omstandighede juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Meer mense het die evangelieboodskap gehoor – ook die hele keiserlike wag. Paulus se boeie het ook ‘n invloed op diegene van wie ons dit allermins verwag het. Hulle was immers die elite mag wat die keiser moes oppas.

 

Paulus se boeie moedig ook gelowiges aan: Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk. Dit het ‘n baie voordelige uitwerking: hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig. Alle gelowiges is toegerus om oor Jesus Christus – die evangelie – te praat. Daarvoor het ons nie ‘n universiteitsgraad nodig nie. As ons ons vertroue op die Here plaas, stel Hy ons in staat om sy woord te verkondig – vreesloos. Dieselfde mag wat Paulus in boeie beskerm het, sal ons ook beskerm.

As Paulus dus sê dat sy boeie die verkondiging van die evangelie bevorder het, bedoel hy twee dinge:

  • Meer mense hoor die boodskap, en
  • Meer mense is bereid om die boodskap te verkondig.

Verkondiging van die evangelieboodskap is nie net die taak net van die leraar nie, maar van elke gelowige.




Die derde Raad/Konsilie van Konstantinopel

 “ “If you can trust God to save you for eternity, you can trust him to lead you for a lifetime.” – David Platt

 

Die derde Raad/Konsilie van Konstantinopel

Hierdie is die sesde van sewe konsilies. Keiser Konstantyn IV het die konsilie bymekaar geroep. Sy doel was om die verskille tussen die Westerse en Oosterse Kerke by te lê. Die verskille gaan hoofsaaklik om Christus se wil en mag. Die vergadering begin op 7 November 680 in die Trulles – ‘n kamer met ‘n groot koepel in die paleis in Konstantinopel. Net 43 biskoppe was teenwoordig. Dit was die kleinste van die sewe vergaderings.

 

Die vergadering is deur die keiser geopen en hy was die voorsitter van die eerste elf sessies – daar was 18 sessies in totaal. Die vergadering duur tien maande. Daar was geen persone wat die verrigtinge oorheers het nie. Daar was veral twee geskilpunte:

  • Monoenergisme –  Christus mag wel twee nature gehad het – menslik en goddelik – maar net een energie wat werksaam was in sy persoon – die goddelike energie. Dit beteken dat alles wat die mensgeworde Christus gedoen het, het Hy as Skepper en God gedoen.
  • Monotelitisme – Christus het net een wil naamlik sy Goddelike wil. Hier verplaas sy wil die energie van die vorige teorie.

Patriarg Macarius van Antiogië was ‘n sterk voorstander van hierdie twee leerstellings.  In die proses het hy die skrywes van die kerkvaders vervals om sy saak te steun. Hy word skuldig bevind en uit sy pos ontslaan.

Uiteindelik bevestig hierdie konsilie die besluite  van die vorige vyf vergaderings sowel as die belydenisse van Nicea en Konstantinopel I. Die biskoppe onderteken ook ‘n dokument – Die Definisie van Geloof – wat beide monoenergisme en monotelitisme verwerp.

 Die kerk verklaar weer die aard van Christus – volledig mens en volledig God. Hulle brei die definisie uit om nou ook Christus se natuur, mag en wil in te sluit. Die ortodokse leer van die Drie-eenheid word weereens bevestig. Tydelik was daar nou vrede tussen die Westerse en die Oosterse Kerke.