Ek het my geloof verloor

‘n Evangelis vra vir ‘n man wanneer hy verlos is. Hy antwoord: “Twee duisend jaar gelede, maar ek het dit eers onlangs uitgevind.”

Ek het my geloof verloor

‘n Priester maak ‘n afspraak om met Karl Barth oor ‘n persoonlike saak te gesels. Na ‘n tydjie kom hy tot die punt: “Die probleem, Dr Barth, is dat ek my geloof verloor het.”

Karl Barth antwoord: “Wat op aarde het jou die indruk gegee dat dit joune was om te verloor?”




Ek stel jou aan as dienaar en getuie

. —C.H. Spurgeon

Ek stel jou aan as dienaar en getuie

In Handelinge lees ons drie maal van Paulus se bekering. In Handelinge 26:13 – 18 lees ons van Paulus se verdediging voor koning Agrippa. Hy vertel dan ook vir die koning van sy bekering. Wat verbaas is dat die Here met Paulus in Hebreeus praat. Die Here waarsku hom: Jy maak jou net seer deur jou te verset. Die Here beveel vir Paulus om regop te staan. Hoekom? Want Hy gaan vir Paulus as dienaar en getuie aanstel. Hy beloof ook dat Hy Paulus teen Israel en die heidennasies sal beskerm. Die Here sê nie dat Hy vir Paulus van alle probleme gaan vrywaar nie – Hy gaan hom beskerm en dit is meer as genoeg vir Paulus. Alles wat hy nodig het, sal hy ontvang.

 

Jesus Christus self stel vir Paulus aan as dienaar en getuie. Waarvan moet hy getuig? Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien. Hierdie is sy boodskap en hy moet niks van homself byvoeg nie. Maar hoekom stuur die Here hom na al die nasies toe? Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van Satan tot God kan bekeer. Die apostels word uitgestuur in ‘n wêreld wat as gevolg van die sonde blind is

Hoekom moet Paulus hulle oë oopmaak? Sodat mense hulle van Satan tot God kan bekeer. Hoekom moet hulle hulle bekeer? Sodat hulle sondes vergewe kan word en hulle deel van die volk van God kan word. Deur in My te glo, is dit alles moontlik.

Paulus is geroep as dienaar en getuie met ‘n spesifieke opdrag en spesifieke instruksies oor hoe om dit te doen. Wat is ons as gelowiges se opdrag? Wees die Here se dienaar en getuie: Jy moet hulle oë oopmaak.




Die karakter van die geloofsgemeenskap

. —J.I. Packer

Die karakter van die geloofsgemeenskap

Elke gelowige moet telkens sy storie deur die lens van God se storie oorweeg. Net so noodsaaklik moet elke gelowige sy storie verbind aan dié van die ander gelowiges wat saam met hom in die plaaslike gemeente is. Jesus se storie sluit in die skepping van ‘n geloofsgemeenskap saamgebind deur hulle geloof en die Heilige Gees.

Paulus beklemtoon dit in elke hoofstuk van die Filippense-brief. Omdat julle van die eerste dag tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie (1:5); Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing (2:1) ens.

 

Paulus beklemtoon die gemeenskap van gelowiges met mekaar. Hy pleit by hulle dat hulle hulle nog dieper aan hulle geloofsgemeenskap moet verbind. Dit beteken meer as net om saam aan gemeenskapsprojekte te werk – alhoewel dit baie belangrik is. ‘n Christelike gesindheid sluit in om ander gelowiges in nederigheid te dien, mekaar lief te hê, om die goed van ander na te jaag. Die geloofsgemeenskap kan nie te midde van skinder en kla groei nie. Doen alles sonder kla en teëpraat I2:14); Moet niks uit selfsug en eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself (2:3).

Die dae is verby dat ons geloofsgemeenskappe die meerderheid in ons samelewings vorm – ons is ‘n minderheid. Om enigsins ‘n impak te maak, is eenheid in die kerk noodsaaklik.




Die karakter van die gelowige

The Lord dislikes the yawning mouth and folded arms, the signs of sleep, which commonly follow the careless man, who doth neglect the state and condition of his house and family – Henry Bullinger

Die karakter van die gelowige

God se karakter word gekenmerk daardeur dat Hy Homself gegee en verneder het. Daarom moet gelowiges verwag dat hulle eie reis Jesus Christus se karakter moet weerspieël – hulle moet hulleself gee en vrygewig wees. In sy Brief aan die Filippense vra Paulus dat Jesus se volgeling nie net aan die nou en hier moet dink nie, maar ‘n ewigheidsiening moet hê.

Paulus praat nie van voorspoed en sukses nie, maar oor vennootskappe in die stryd en lyding wat die lewe van ons Verlosser gekenmerk het. Paulus se nadenke oor sy eie lewe help die Filippense om sin te maak van hulle eie situasie.

Ons het die ware besnydenis, ons wat God deur sy Gees dien, ons wat ons op Christus Jesus beroem, en nie op uiterlike dinge vertrou nie (3:3). Paulus is vas oortuig dat Jesus se opstanding ‘n nuwe, veranderde lewe vir sy volgelinge beloof.

Jesus se storie vorm ons storie. Gelowiges se verlede, hede en toekoms kry nuwe betekenis soos Jesus se storie ons storie vul. Ons storie kry nou ‘n ewigheidsbetekenis, want Jesus se storie neem ons storie in sy storie van verlossingsliefde op. Jesus se verheerliking beteken dat die gelowige se verlede nie sy toekoms hoef te definieer nie. Ons is van ons sonde verlos en ons verhouding met God is herstel. Jesus se storie van gehoorsaamheid en lyding beteken dat ons ons huidige storie van stryd, pyn en hartseer moet herïnterpreteer. 

Jesus se storie herinner ons dat die finale oorwinning oor sonde en dood in die toekoms lê – al weet ons nou reeds wat die uitslag gaan wees. Jesus Christus se storie eindig nie by die kruis nie, maar by sy opstanding en verheerliking.