Praat jy hulle taal?

“To be a Christian means to forgive the inexcusable because God has forgiven the inexcusable in you.” – C. S. Lewis

Praat jy hulle taal?

Digitale “natives” is diegene wat gebore is in ‘n tyd waarin hulle al die nuwe tegnologië as vanselfsprekend aanvaar. Kyk maar net hoe jou kinders – en veral jou kleinkinders – hierdie tegnologië hanteer.

Sosiale media is besig om die manier waarop ons onsself in die wêreld sien, te verander.  Ons leef in ‘n wêreld waarin enigeen – selfs jong kinders – die geleentheid het om tot globale gesprekke by te dra. Dit sluit belangrike sake in. Die pratery word nie meer tot die kundiges beperk nie. Ons leef in ‘n tyd waar ons toegang het tot meer inligting as ooit vantevore – ons kan nie alles verwerk nie.

 

Almal het ‘n stem en impak; almal het die geleentheid om by te dra en deel te neem. Ons sit nie meer passief en laat toe dat mense vir ons vertel wat om te dink nie. Besef ons altyd wat die impak van hierdie veranderings op die kerk het? Kan die huidige passiewe model van sit en luister na een persoon nog volhoubaar wees te midde van hierdie kultuurskuif?




Laat die kindertjies na My toe kom

The whole idea of Reformation theology was to justify restructuring the organized church without shaking its foundations – John Howard Yoder

Laat die kindertjies na My toe kom

In 1915 hoe die bekende B. B. Warfield ‘n reeks “konferensies” by die Princeton Seminary. Dit is verbasend hoeveel ons ‘n honderd jaar later nog uit hierdie stukkies kan leer.

Die mense stroom na Jesus toe. Baie van hulle is siek en kom om genees te word. Jesus se dissipels aanvaar dit as ‘n goeie rede om na Jesus te kom. Maar moeders wat hulle kindertjies bring , is nie reg nie – hulle is nie siek nie; hulle verstaan nie wat Jesus sê nie. Dit is nie ‘n prioriteit nie. [Die NIV praat van babies; die KJV praat van infants; Die Interliniêre Bybel vertaal hierdie gedeelte in Lukas met klein kindertjies. Ons kan dus aflei dat ons hier van klein kindertjies praat.] Geen wonder die dissipels raas met die mense nie.

 

Wat was Jesus se reaksie? Hy was verontwaardig en berispe sy dissipels om die kindertjies nie te verhinder om na Hom te kom nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Hy sit sy arms om hulle, lê hulle die hande op en seën hulle. Dit beteken nie dat die koninkryk van God net uit kinders bestaan nie, maar dat dit bestaan uit mense wat die koninkryk soos ‘n kindjie ontvang. Hierdie is ‘n voorwaarde vir toegang tot God se koninkryk.

Wat is dit van die kindertjies wat hulle so spesiaal maak?

  • Is dit hulle onskuld? Onwaarskynlik, want nêrens anders stel Jesus onskuld as ‘n vereiste vir toegang tot God se koninkryk nie. In werklikheid net die teenoorgestelde – Hy soek die sondaars en tollenaars uit; Hy sê self dat Hy gekom het om dié wat verlore is te red.
  • Is dit dalk hulle nederigheid?Jesus sê self: Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is (Matteus 5:3). Dink ook maar aan die gebed van die tollenaar.
  • Is dit dalk hulle eenvoud? Kinders se lewens is nie gekompliseerd nie; hulle het geen dubbele agendas nie; by hulle is daar geen valsheid nie.

Hierdie faktore mag almal ‘n rol speel. Die belangrikste faktor is egter: kinders vertrou. Hulle is totaal afhanklik van hulle ouers vir alles. Hulle lê in hulle moeders se arms en vertrou haar 100%. Is dit nie wat Jesus hier bedoel nie – eenvoudige, absolute vertroue is die pad na die koninkryk van God. Die koninkryk van God is vir diegene wat totaal en hulpeloos afhanklik van die Koning is.

Let wel: Ons moet die koninkryk soos ‘n kindjie ontvang – naak, gestroop van alles. Ons lewer geen bydrae nie; ons verwerf nie die koninkryk nie … ons moet ontvang. Ons bring niks om ons aan te beveel nie … net hulpeloosheid. Ontvang dit as ‘n gawe.




Wag vir God: dit is moeilik

Some institutions are allowed to grow so old and venerable that the idea of scrapping them is unthinkably sacrilegious – F. F. Bruce

Wag vir God: dit is moeilik

Ons hou nie van wag nie. Maar wag is deel van die lewe. So wag ons byvoorbeeld vir ons gebede om verhoor te word, ons wag vir genesing … Soms lyk dit vir ons so onnodig. Maar God leer vir ons dat in ons wag,is daar ‘n doel – die geleentheid vir ons geloof om te groei. As jy moet wag, klou aan hierdie vier dinge vas:

  • Soewereiniteit in wag

As ons wag, is dit maklik om te begin twyfel. Is God soewerein? Is God goed? As God goed is hoekom laat Hy dit toe? As God soewerein is hoekom het Hy dit nie vermy nie? Kom hoor wat God gedoen het, kom hoor van sy magtige dade onder die mense … U het ons beproef, o God, ons gelouter soos silwer; U het ons in ‘n net gevang, ‘n swaar las op ons gelê; U het ons deur mense laat vertrap, ons het deur vuur en water gegaan; maar toe het U ons uitgelei na oorvloed toe (Psalm 66). Let op: God doen magtige dade vir sy kinders; hierdie dade sluit in beproewing – loutering soos silwer; God lê swaar laste op ons; maar God lei hulle deur dit alles. Maar dan kom 2 Petrus 2:9 en sê vir ons: Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red.

  • Dit word van Christene verwag om te wag

Die Bybel is vol stories van mense wat moes wag. Abraham en Sara moes jare wag vir ‘n baba; Josef wag nadat hy onregverdig in die tronk gegooi is; die Jode wag jare in Egipte vir hulle vryheid; Dawid wag jare nadat hy gesalf is voordat hy koning word; Paulus wag jare vir ‘n doring om verwyder te word. So kan ons aangaan. Was God in hierdie gevalle in beheer? Ja, God se volmaakte plan sluit wag in. Die wag wat ons ondervind is nie abnormaal in die lewe van ‘n Christen nie.

  • God laat ons wag om ons te seën

Dink maar aan Moses in die woestyn, Jakob wat met God stoei en Paulus met die doring in sy vlees. In tye van wag is God besig om ons vertroue op onsself af te breek en ons wakker te maak vir die werklikheid – ons het Hom nodig. Dan besef ons dat ons net by Hom ware vreugde sal ondervind.

  • Christus is beter

As ons so wag, kom die vraag by ons op: Is Christus voldoende? Dit is nie altyd maklik om hierdie vraag eerlik te antwoord nie. As die fokus van my aanbidding skuif van die Gewer na die gawes, van die Geneesheer na die genesing, sal God my fokus weer instel – dikwels deur my te laat wag.

As ons weer moet wag, moet ons onthou dat dit deel van God se plan is.




Wat Maak jy hier?

When the Greeks got the gospel, they turned it into a philosophy; when the Romans got it, they turned it into a government; when the Europeans got it, they turned it into a culture; when the Americans got it, they turned it into a business – Richard Halverson

Wat Maak jy hier?

In 1915 hou die bekende B. B. Warfield ‘n reeks “konferensies” by die Princeton Seminary. Dit is verbasend hoeveel ons ‘n honderd jaar later nog uit hierdie stukkies kan leer. Ons begin met Elia.

Ons weet baie min van Elia. Skielik verskyn hy voor die bose koning Agab en kondig ‘n droogte aan. Hy sê ook dat hy in die diens van die God van Israel staan. Net so skielik verdwyn hy – hy gaan versteek hom by die Kritspruit. Daar sal hy water uit die spruit drink en die kraaie (= onrein diere) sal vir hom kos bring. As gevolg van die droogte droog die spruit op en die Here beveel hom om na Sarfat te gaan. Daar het God ‘n weduwee opdrag gegee om hom te versorg. Hier is ‘n belangrike les vir ons om te leer: God in sy groot genade versorg vir Elia. In die proses leer Elia om homself en sy roeping en vir God beter te verstaan. Daar by die Kritspruit leer hy sy totale afhanklikheid van God.

 

Dan volg die episode met die Baälprofete. Daar oorwin hy die profete deur te bid en God stuur vuur wat die offer verbrand. En dan begin dit reën. Die mag van die Here het vir Elia in besit geneem, en hy het sy mantel opgebind en voor Agab se wa uit gehardloop … Maar net die volgende vers lees ons dat Agab vir Isebel vertel het wat Elia gedoen het. Sy stuur ‘n boodskapper na Elia om hom te vertel dat sy hom beslis gaan doodmaak. Weer vlug Elia die woestyn in. Elia is mismoedig. Dinge het nie verloop soos Hy gedink het nie. Hy gaan sit onder ‘n besembos en wens hy was dood.

God besoek hom daar en lei hom na Horeb, die berg van God. Daar bring hy ‘n nag in die grot deur en die woord van die Here kom tot hom: Wat maak jy hier, Elia? Elia antwoord deur te vertel dat die volk die altare afgebreek het  en die profete doodgemaak het – Net ek alleen het oorgebly. In sy antwoord sien ons dat Hy nie veel hoop het vir God se saak nie. Die Here beveel hom om uit die grot te kom, want Hy wil verbygaan. Dan kom daar ‘n baie sterk wind, ‘n aardbewing en toe ‘n vuur, maar God was nie in een van hulle nie. Maar Elia hoor vir God in die windstilte. Elia besef dit is die Here. Hy maak sy gesig met sy mantel toe en hoor vir God: Wat maak jy hier, Elia? Elia antwoord weer soos vantevore, maar die Here sê vir hom: “Ek is nie klaar met jou nie. Ek het nog werk vir jou.”

Hier is ‘n paar baie belangrike lesse vir ons om te leer:

  • God se saak is nie van my afhanklik nie al dink ek ek is die enigste een wat oor is. Ek is van God afhanklik; Hy is nie van my afhanklik nie.
  • Die sukses van God se saak is nie van my metodes afhanklik nie. God gebruik sy eie metodes. Soms sal dit vir my nie sin maak nie.
  • God se saak kan nie misluk nie. Ek ken nie die gevare en behoeftes beter as Hy nie.
  • Dit is nie die wet nie, maar die evangelie; dit is nie toorn nie, maar liefde wat die wêreld red.

God se saak is nooit in gevaar nie … wat Hy begin het, sal Hy deurvoer.