Die dissipline van liefhê

Cheap grace is the grace we bestow on ourselves- Dietrich Bonhoeffer

Die dissipline van liefhê

In Filippense 4:8 verwys Paulus na alles wat mooi is. Ek moenie net my gedagtes en denke – my verstand – orden nie, maar ook die dinge van my hart. Ek moenie net dink aan die regte dinge nie, maar ek moet die regte dinge liefhê.

Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp (Filippense 4:11). Dit gaan oor ’n lewe van tevredenheid – onafhanklik van my omstandighede. Dit beteken nie dat ek nie ontsteld is nie, maar ek word nie oorweldig nie.

Die Stoïsyne sê dat min mense tevrede is, want hulle het sekere dinge te lief en is bang hulle verloor dit. Dit is dinge soos sukses, jou gesin en geld. As iets met hierdie dinge verkeerd loop, is ek verpletter.

 

Die filosowe glo dat die probleem is as ek iets liefhet, maar ek is nie in beheer daarvan nie. Ek mag op my deugde fokus, maar ek is nie in beheer daarvan nie. Ek het nie beheer oor myself nie, want ek is maar broos.

Augustinus sê dat liefde vir dit wat nie verander nie, vrede bring. Ek het nie vrede nie, want ek is lief vir dinge wat gedurig verander – dinge wat van omstandighede afhanklik is. Daar is egter een ding wat onveranderlik is – God, sy teenwoordigheid en sy liefde. Dit is dan ook die enigste liefde wat my nooit sal teleurstel nie. Selfs die dood kan dit nie wegneem nie; omstandighede kan nooit God se liefde verander nie. God alone is the place of peace that cannot be disturbed, and he will not hold himself from your love unless you withhold your love from him (Augustinus).

Beteken dit nou dat ek wat baie dinge liefhet alles net so moet los en net vir God liefhê? Nee. Wat wel nodig is, is dat ek my liefdes moet herrangskik. Dit beteken ek moet steeds my familie, werk, ens. liefhê, maar nie meer as wat ek vir God liefhet nie.




Die dissipline van dank

We must never think of our salvation as a kind of transaction between God and us in which He contributes grace and we contribute faith – John Stott

 

Die dissipline van dank

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend (Filippense 4:6).

Dit maak tog nie sin nie.

Paulus vra dat ek God se soewereine heerskappy in die geskiedenis en in my lewe moet erken – ek moet God vertrou. Hiermee erken ek dat my lewe in sy hande is en dat Hy in beheer is – ook oor my. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28); Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goeddoen (Genesis 50:20). Romeine 8 sê nie dat elke slegte ding ’n silwer randjie het nie of dat elke slegte ding eintlik ’n goeie ding is as ek reg daarna kyk nie. Paulus sê dat alle dinge – ook die slegte dinge – sal eendag saam deur God kragteloos gemaak word – die bedoelde euwel sal presies die teenoorgestelde bereik.

Net God het tans ’n ewigheidsperspektief om te sien dat alles vir ons ten goede en vir sy heerlikheid uitwerk. God is soewerein en daarom moet ons Hom vertrou. Paulus gaan vêrder: omdat God soewerein is, moet ek Hom bedank selfs nog voor ek my versoek rig. Ek moet Hom dank vir alles wat Hy vir my gee al verstaan ek dit nie.

God gee altyd vir sy kinders wat hulle sou gevra het as hulle geweet het wat Hy weet.




Hoekom is ek nou hier op aarde?

 

 To the question “Dont we contribute anything to our salvation?” Scripture answers, “Yes, our sin.” – Rod Rosenbladt

 

Hoekom is ek nou hier op aarde?

Mense is ontnugter met die wetenskap – dit belowe meer as wat dit kan voorsien. Die wetenskap kan sekere vrae baie beter behandel as enige ander dissipline. Dit is die wetenskap – nie teologie nie – wat vir ons gaan sê hoe oud die aarde is. Tog is dit ‘n belangrike en redelike vraag, maar die Bybel gee nie vir ons daardie inligting nie. Ons moet aanvaar dat daar baie belangrike vrae is waarop die Bybel nie vir ons antwoorde gee nie.

 

 Die wetenskap kan vir ons sê wanneer die mens hier op aarde gekom het. Daar is vrae wat die wetenskap net nie kan beantwoord nie: Wie is ek? Hoekom is ek hier op hierdie spesifieke tyd en op hierdie spesifieke plek? Wat gebeur na die dood?

 Maar hoekom is ons hier? Is ons hier vir God of is God hier vir ons? U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in wysheid geskep. Daar is die see, groot en wyd, wat wemel van die diere, klein en groot …U gee, en hulle eet, U maak u hand oop, en hulle kry meer as genoeg. Maar as U U terugtrek, is dit klaar met hulle, as U hulle asem wegneem, is hulle dood en word hulle weer stof. U gee die lewensasem en daar is lewe; ook uit die grond laat U nuwe lewe spruit. Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie! Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf (Psalm 104:24 – 25 en 28 – 31). Lees weer hierdie laaste vers. Die doel van die skepping was om vreugde aan die Here te verskaf.




Ons leef in ‘n demokratiese wêreld … of nie?

 

 Vraag aan ‘n Ortodokse priester: “Father, do you believe we are saved by faith or by works. Hy antwoord: “Neither, but by the mercy of God.”

Ons leef in ‘n demokratiese wêreld … of nie?

Elke vyf jaar kies ons ons leiers. Ons leef immers in ‘n demokratiese wêreld. Dit is nie hoe dit met ons verlossing werk nie. Ons kies nie ons Verlosser(s) nie. Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies (Johannes 15:16).

 Ons kies ons leiers op grond van hulle prestasies in die verlede; God kies ons ten spyte van ons prestasies. Die mense verdien God se ewige straf, maar uit hierdie opstandige mensdom kies God mense: U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie (Openbaring 5:9).

 God maak vir Hom ‘n nuwe volk bymekaar. Lede van hierdie volk is steeds lede van die menseras, maar word ook aangeneem as lede van God se familie. Aan die kop van die familietafel sit die Vader en Hy herinner ons aan hierdie groot waarheid: Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig (1 Petrus 2:9).

 

 Hoe kan ons God se kinders word? So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees (Efesiërs 1:4 – 5).

 God help nie vir my en jou om onsself te verlos nie. Jona het dit eers agtergekom toe hy deur ‘n groot vis ingesluk is. Doodsbenoud bid hy. Luister hoe sluit hy sy gebed af: Hulp kom net van die Here af (Jona 2:9). Die New King James Version vertaal dit met: Salvation is of the Lord. Die NIV: Salvation comes from the Lord. Die NLV: Net die Here bring verlossing.

 Ek kies nie my Verlosser nie, want net die Here kan verlos. Daar is geen keuse nie, want daar is geen ander Verlosser nie.