2014: Die jaar van gee

Instead of being free in God, people long to be free from God. — Emil Brunner

2014: Die jaar van gee

Kom ons maak 2014 die jaar van gee. In die proses moet ons altyd onthou dat ons nooit meer as God kan gee nie. Kom ons maak ‘n paar stellings oor gee.

Stelling #1: Vir ‘n volgeling van Jesus is gee nie ‘n keuse nie … dit is gehoorsaamheid

  • Jesus stel dit baie duidelik : Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees (Matteus 6:21).
  • Jesus sê dat die grootste mededinger vir ons hart geld is: Jy kan nie God en Mammon dien nie (Matteus 6:24).

Hoekom sal ons nou vir Jesus al ons sonde gee, maar niks van ons geld nie … en steeds sê dat ons volkome aan Hom behoort?

Stelling #2: As ons soos Jesus wil wees, moet ons iemand wat gee word

  • God het sy Seun gegee (Johannes 3:16)
  • Jesus het sy lewe gegee
  • God het sy Heilige Gees gegee
  • God gee aan ons die belofte van ‘n ewige lewe
  • God gee aan ons die belofte dat Hy altyd met ons sal wees.

Ons kan gee sonder om lief te hê, maar ons kan nie liefhê sonder om te gee nie.

Stelling #3: Gee = Seën

God het nie ons geld nodig nie, maar ons het sy seën nodig. Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn (Spreuke 3:9 – 10); Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang (Handelinge 20:35).

Stelling #4: Die beste plek om te gee, is die plaaslike gemeente

Mense wat gee, gee aan die gemeente die geleentheid om  ‘n impak op mense se lewens te maak. Deur te gee is almal betrokke

Kom ons maak 2014 die jaar van gee.




Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld.

 

If God were small enough to be understood, he wouldn’t be big enough to be worshipped (Evelyn Underhill). 

Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld.

Die mens as beeld en verteenwoordiger van God: Wat beteken dit? Beeld is soos ‘n spieël wat God se liefde in die wêreld in weerkaats. Dit bring orde en vrugbaarheid na die tuin waarin God die mens geplaas het. Hierdie projek het tragies skeefgeloop as gevolg van die mens se trots en sonde. Maar hierdie roeping – om beeld van God in die wêreld te wees – is nooit teruggetrek nie. Die psalms, soos ons almal, is terdeë bewus van die donkerte in die mens se hart.

Maar ‘n psalm soos Psalm 8 herinner ons aan hierdie roeping van die mens:

 

Wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?

U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon,

U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp:

Skape en beeste, alles: selfs die diere in die veld (vers 5 – 9).

Dit maak nie dat die mens nou “heer van die skepping” is nie – dat hy op ‘n arrogante manier kan optree nie. Nee, hierdie psalm begin en eindig met ‘n oproep vir lof:

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde (vers 2 en10).

As die mens die rol wat God aan hom toegeken het – om namens Hom die wêreld te versorg – uitvoer, beteken dit nie dat ons nou God se rol oorneem nie. Dit beteken net dat ek in nederigheid en gehoorsaamheid die rol wat God aan my toegeken het, uitvoer. Ware trots sal wees om hierdie roeping wat God self aan my toegeken het, te weier. Dit wys dat ek dink dat ek beter as God weet wat die doel is waarvoor Hy my hier in die wêreld geplaas het.




Maniere om saam met God in lyding te loop (2)

. —Thomas Goodwin

Maniere om saam met God in lyding te loop (2)

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

Hartseer oorvleuel met en is aanvullend tot ander strategieë in my loop deur lyding. Hierdie is nie ‘n reeks stappe wat streng op mekaar volg soos ‘n resep nie. Martin Luther het gesê dat Jesus Christus die volle straf vir my sondes gedra het. Ek is ook verseker dat Hy langs my loop in my lyding. Mag ek kla en hartseer wees as ek swaarkry of moet ek my swaarkry in stilte aanvaar?

 

Die Psalmboek is ‘n boek vol klaagliedere – uitroepe van hartseer in nood. Die psalmis kla oor die optrede van ander of sy eie optrede en gedagtes. Soms is hy selfs gefrustreerd met God self. Waar is u liefde van vroeër, Here, wat U in u trou plegtig aan Dawid belowe het? (Psalm 89:50); Kom ons te hulp! Waarom slaap U, Here? Moet ons nie vir altyd verstoot nie! (Psalm 44:24). Ons kry dieselfde in die boek Job. Luister net hoe uitgesproke is Jeremia: Waarom is daar nie ‘n einde aan my pyn nie, waarom is my wond ongeneeslik en wil dit nie gesond word nie? Ek kan nie op U reken nie, net so min as op ‘n stroom wat nie standhoudend is nie (15:18).

Vroeër is daar dikwels gefrons as mense kla of twyfel – ‘n Christen mag nie huil nie, want dit beteken ek vertrou nie vir God en aanvaar nie sy wil nie. Is dit wat die Bybel sê? Ons lees dat Job opgestaan het en sy klere geskeur het. Daarna het hy op die grond gaan lê (1:20). En tog net twee verse verder lees ons: Onder alles het Job nie gesondig nie. Dit is nie sonde om jou hartseer openlik te wys nie. In die middel van die boek gaan Job so ver om sy geboortedag te verwyt. En tog is God se finale oordeel oor Job verrassend positief: Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie … My dienaar Job sal vir julle bid, en Ek sal sy gebed verhoor en julle nie straf vir julle dwaasheid nie. Julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie (42L7 – 9). Job se hartseer het sy emosies uitgedruk. Hy was brutaal eerlik oor sy gevoelens. Later het God vir Job opgeroep om sy onpeilbare wysheid en majesteit te erken.

Dit is duidelik dat dit verkeerd is om vir iemand wat hartseer is, te sê: “Ruk jou reg.” Ek moet meer geduldig en teer wees – ook met myself. Ek moenie dink omdat ek God vertrou dat ek nie gaan huil of hopeloos voel of kwaad word nie. ‘n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie en ‘n lamppit wat rook, nie uitdoof nie; Hy sal die wil van God laat seëvier (Matteus 12:20). Jesus Christus word aangetrek na hopelose gevalle; Hy gee om vir die kwesbares; Hy versorg mense wat geslaan en gekneus is: Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde (Psalm 147:3); Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is (Jesaja 61:1).

Dit is nie sonde om te huil nie. Daar is nie baie plek om te huil nie – ook nie in die kerk nie. Ons gee nie aan mense die vryheid om te huil nie. Ons glo Christene moet bly wees in beproewings. Meeste klaagpsalms in die Bybel eindig met hoop.

Maar wat beteken dit om my te verheug in beproewing? Daarna kyk ons volgende keer.




Maniere om saam met God in my lyding te loop (1)

Holy Scripture is not the object of faith, but the means by which God creates faith – not a faith in the Bible, but a faith in the God who is revealed in the Bible. – Alister McGrath (Opsomming van Emil Brunner se siening)

Maniere om saam met God in my lyding te loop (1)

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

Ek moet God as God behandel en besef dat Hy altyd en oral saam met my is. In Genesis 17:1 lees ons: Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige. Lewe naby My en wees opreg.”  Loop is nie ‘n dramatiese aktiwiteit nie – dit is ‘n stadige, bestendige aksie wat oor ‘n lang tyd volgehou kan word. Loop beteken dat ek dag in en dag uit bid en Bybelstudie doen, met my medegelowiges praat, eredienste bywoon en my wy aan die lewe van die gemeente.

 

Loop is ritmies aan en aan – stadige, bestendige vooruitgang. Ek moenie verwag om onmiddellik ‘n antwoord op al my probleme, vrae en hartseer te kry nie. Soms sal ek vrede ontvang wat my verbaas – ek kan dit nie verduidelik nie. Sekere dae mag ek skielik ‘n insig kry. Vooruitgang in die algemeen is maar stadig en bestendig as ek by die gereelde daaglikse aktiwiteite bly. Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is (Spreuke 4:18).

In die Bybel leer ek wat hierdie daaglikse aktiwiteite is: loop, huil en hartseer, vertrou en bid, liefhê, hoop. Hierdie strategieë vul mekaar aan. In sommige gevalle is een strategie belangriker as die ander, maar ek kan nooit een weglaat nie. Geen twee paaie is identies nie.

Beteken dit dat ek nie hartseer mag wees nie. Daaroor volgende keer.