Heiligheid en blydskap

All their life in this world and all their adventures in Narnia had only been the cover and the title page: now at last they were beginning Chapter One of the Great Story which no one on earth has read: which goes on for ever: in which every chapter is better than the one before – C. S. Lewis

Heiligheid en blydskap

Heiligheid en blydskap is teenoorgesteldes – altans dit is wat die Satan sê. Dit is of heiligheid of blydskap, maat jy kan beslis nie beide hê nie. En as mense die keuse het, kies hulle … blydskap. Is dit waar?

 Hierdie dag word gewy aan die Here. (In die OAV: Want hierdie dag is heilig aan onse Here.) Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm (Nehemia 8:11). Die volk het gehuil oor al hulle sondes toe hulle die wet aangehoor het. Nehemia kom en sê:  Julle het nou lank genoeg getreur. God sê toe deur Nehemia: Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm. Nehemia beklemtoon wat hy gesê het: Gaan vier fees, eet en drink, en deel uit aan dié wat nie voorberei het nie. Hierdie dag word gewy aan ons Here – dit is ‘n heilige dag.

 

 Maar van watter soort blydskap praat ons hier? Dit is blydskap wat van God af kom en waarvan Hy die middelpunt is. God gee dit en God is dit. Nehemia voeg by: As julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm – Hy is ons krag.

  Heilige blydskap versterk ons; dit beskerm ons teen die bose; dit bemagtig ons om vir die goeie te veg. Staan heiligheid en blydskap teenoor mekaar? Beslis nie by God nie.

 




Ek gee my liefdegawes

There are far, far better things ahead than any we leave behind – C. S. Lewis

 Ek gee my liefdegawes

In Matteus 6:2 – 4 leer Jesus die mense hoe hulle hulle liefdegawes moet gee. Om armes te help, is ‘n konkrete vorm van geregtigheid. Ons  kry dit dwarsdeur die Ou Testament. Julle het die wingerde gestroop; wat van die hulpeloses geroof is, lê in julle huise. Wat besiel julle dat julle my volk vertrap en die hulpeloses verdruk? (Jesaja 3:14 – 15); Luister hierna, julle wat die armes vertrap, julle wat die mense in nood in die land wil uitroei … Julle verkoop arm mense vir geld, , behoeftiges oor ‘n paar sandale, julle verkoop selfs die koringkaf (Amos 8:4 – 6). Na die vernietiging van die tempel het die gee van liefdegawes die bring van offers vervang. Die gee van liefdegawes is gesien as ‘n teken van vroomheid.

 

Jesus kom nou en sê hoe ons ons liefdegawes moet gee:

  • Voorskrif: As jy byvoorbeeld armes help … Dit is iets wat ons moet doen.
  • Verbod: Moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat. Die sinagoges en straat is natuurlik plekke waar ek maklik raakgesien kan word. Hier val die fokus op die gewer en Jesus sê dat dit skynheilig is. Doen ek dit mislei ek myself en ander.
  • Bedoeling: Sodat mense met lof van julle kan praat. Om liefdegawes te gee is reg; om dit in die openbaar te gee, is ook soms geregverdig. Die vraag is: Hoekom gee jy? Is dit om die armes te help of om die aandag op jouself te vestig?
  • Beloning: Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg – reeds hier op aarde.
  • Alternatiewe voorskrif: Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou goeie daad verborge kan bly.  Maat hoe gee ek in die geheim. Jesus maak dit baie duidelik in Matteus 25:31 – 46 – as ek vir die armes gee, gee ek eintlik dit aan die Vader.
  • Jou Vader se beloning: Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. Ons hoef nie iets te doen sodat almal dit kan raaksien nie, want God sien dit wat verborge is.

 

Dit is duidelik dat Jesus se belangstelling in die motivering is: Hoekom gee ek? Die kern van hierdie beginsel is: Voor wie staan ek wanneer ek gee – voor God of voor mense?




Kinders wat sonder vaders groot word

Would that God would make hell so real to us that we cannot rest; heaven so real to us that we must have men there; Christ so real to us that our supreme motive and aim shall be to make the Man of Sorrows the Man of Joy by the conversion to Him of many” (J. Hudson Taylor).

Kinders wat sonder vaders groot word

Kinders het vaders nodig. Die afwesigheid van vaders tydens die kinderjare mag lei tot gedragsafwykings, ingekorte sosiale vermoëns en breindefekte. Dit is die bevinding van navorsers van die McGill University Health Centre in Montreal.

Vroeëre studies het aangetoon dat kinders wat sonder vaders groot word ‘n aantal risikofaktore, soos die misbruik van dwelms, mag vertoon. Hierdie faktore mag egter ook deur omgewingsfaktore veroorsaak word. Daarom was dit moeilik om te bewys dat dit juis die vaderloosheid is wat die oorsaak was.

 

Hulle het muise vir hulle navorsing gebruik. Hierdie muise is monogaam (een mannetjie en een wyfie) en maak saam hulle kleintjies groot. Hier kan die omgewing beter beheer word as by mense.

Muise wat vaderloos grootgeword het, het abnormale sosiale interaksie getoon – hulle was meer aggressief. Daar was ook veranderinge in die brein – defekte in die prefrontale korteks wat sosiale en kognitiewe (funksie van waarneem, ken, weet) funksies beheer.

Dit is net nog ‘n bewys dat kinders vaders nodig het.




Is ek voorbereid om my geloof te verdedig?

 “People who do not know the Lord ask why in the world we waste our lives as missionaries. They forget they too are expending their lives and when the bubble has burst they will have nothing of eternal significance to show for the years they have wasted” (Nate Saint).

 

Is ek voorbereid om my geloof te verdedig?

Dr William Lane Craig ( is ‘n professor in filosofie en bekende Christelike apologeet (apologeet = verdediger van ‘n geloof). Hy glo dat die kerk dringend sy lidmate moet toerus om moeilike geloofsvrae te hanteer. Dit is veral nou nodig in ons kultuur wat dit maklike vir ateïste maak om die Christelike geloof aan te val – soms baie aggressief. Die Nuwe Ateïste beweging, aangemoedig deur die werk van Christopher Hitchens, Richard Dawkins, Sam Harris en Daniel Dennett, het die stigma van ateïs wees, verwyder.

 

 Hy glo ons moet duidelik kan sê hoekom ons glo dat God bestaan en hoekom ons glo dat Hy Homself in Jesus Christus geopenbaar het. As ons dit kan doen, sal ons baie van hierdie ateïste kan terugwen. Die probleem is dat baie Christene bang is, want hierdie ateïste kan baie aggressief wees. Hulle skroom nie om ander persoonlik aan te val in die naam van rede en intellektuele debat nie. Daarvoor is baie Christene nie voorberei nie.

 Wat doen ons om ons beter voor te berei? Soek ons antwoorde op die vrae wat ons nie kan beantwoord nie?