Wat beteken geseënd?

We allow in our minds what we would not allow in our actions, because other people cannot see our thoughts. —Jerry Bridges

Wat beteken geseënd?

Die bergrede begin met ‘n aantal seënuitsprake. Elkeen begin met: Geseënd is die … Die oorspronklike Griekse woord wat hier met geseënd vertaal word, is moeilik om te vertaal. In die OAV word van salig is die …gepraat. Die Interliniêre Bybel praat van gelukkig is dié. Op hierdie een woord staan hierdie hele gedeelte. Daarom is dit belangrik om dit reg te kry. Ek moet hierdie woord verstaan in die lig van die storie van die Bybel: wie is geseënd en wie nie? Kry ek hierdie storie  reg, kry ek grense en inhoud om die woord in konteks te verstaan. Nou kan ek die geskiedenis van die soeke na “’n goeie lewe” en geluk ondersoek. Daar is ten minste vyf temas aan die werk in hierdie woord:

 

  • Die een wat geseënd is, word deur die God van Israel geseën. Die hele storie van die Bybel gaan oor God wat oor sy verkose mense waak – kom hulle hulle verbondsverpligtings na?
  • Daar is ‘n eindtyd fokus in die woord geseënd. Dit verwys, veral in die Nuwe Testament, na die toekomstige seën van God wat alles gaan regstel. Jesus se fokus in hierdie seënuitsprake is ook op die toekoms. Let op: Hulle sal … Jesus voorsien hier iets wat nog nie vantevore gebeur het nie: die bose van die huidige sal ongedaan gemaak word en die regverdiges sal beloon word. Hierdie seëninge, al is hulle fokus op die toekoms, begin nou reeds.
  • Hierdie uitsprake is voorwaardelik. Diegene wat geseën gaan word het sekere eienskappe; in diegene wat nie geseën gaan word nie is hierdie eienskappe afwesig. Hierdie is egter nie ‘n lys waarmee ek my vooruitgang kan meet nie. Hierdie seëninge is gerig aan groepe wat andersins deur die gemeenskap verwerp word. Ek moet dus nie uitgaan en arm word of seker maak dat ek vervolg word  om geseën te word nie. Jesus beskryf hier ‘n visie sodat sy gehoor sal besef dat dinge nie is wat hulle dink dit is nie. Die luisteraar moet sy siening van wie in die koninkryk is, uitbrei en aanpas.
  • Die seënuitsprake hou verband met verhoudings. Die geseëndes se verhouding met God is reg, maar ook hulle verhouding met hulleself en ander.
  • Hierdie seënuitsprake keer dinge om. Lukas (6:20 – 26) noem nie net dié wat geseënd is nie, maar ook diegene wat vervloek is. Wat Jesus seën, druis teen ons kultuur in.

Die geseënde persoon is iemand wat as gevolg van God se genade, God se guns geniet maak nie saak wat daardie persoon se status is nie. Jesus is die een wat sê wie geseënd is en wie is nie.




Begin die bergrede aan die einde lees

Every matter, if it is to be done well, calls for the attention of the whole person ~ Martin Luther

Begin die bergrede aan die einde lees

Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom, en Hy het hulle geleer en gesê … Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie (Matteus 5:1 – 2 en 7:28 – 29).

 Ek moet my lees van die bergrede by die einde begin – deur na die einde van die rede te luister en dan die einde met die begin te verbind. Maar ek moet ook luister hoe Jesus die konteks  van die bergrede stel.

 

Toe die bergrede geskryf is, was daar geen hoofstukindelings nie. Om oorgange aan te dui het skrywers ‘n verskeidenheid metodes gebruik. Een daarvan was die gebruik van opsommings – dit sluit ‘n afdeling af en ‘n nuwe begin. Jesus se opsomming in 4:23 – 25 word feitlik woordeliks in 9:35 en 10:1 herhaal: 23Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak. 24En berigte oor Hom het deur die hele provinsie Sirië versprei. Die mense het toe die siekes met allerhande kwale en pyne, dié wat in die mag van bose geeste was, geestelik versteurdes en verlamdes na Hom toe gebring, en Hy het hulle gesond gemaak. 25Groot menigtes uit Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea en van oorkant die Jordaan af het Hom gevolg. Dit is die einde van Hoofstuk 4 en in Hoofstuk 5 begin die bergrede.

Matteus 4:23 – 25  is die raamwerk wat Matteus gebruik om my van Jesus se bediening – onderrig, prediking en genesing – te vertel. Dit is ‘n skets van Jesus  se sending en bediening: Hy preek en onderrig in Matteus 5 – 7 en Hy genees in Matteus 8 – 9. Die bergrede is ‘n omvattende skets van die onderrig en prediking van Jesus – sy boodskap. Dit is ‘n aanbieding van Jesus se morele visie – sy etiek. Matteus sê vir sy gehoor: “ Hier is Jesus; hier is sy boodskap (5 – 7) en hier is sy optrede (8 – 9). Besluit nou.”

Die einde van die bergrede gee vir my ‘n leidraad oor hoe om die bergrede te lees. Jesus eindig sy rede deur mense op te roep om te doen wat Hy geleer het. Diegene wat nie doen wat Hy leer nie, word beskou as dwaas. Daarom beskryf Augustinus die bergrede as  “die volmaakte standaard van die Christelike lewe.”  Daar is een vraag wat deur die bergrede weerklink:

Sal jy my volg?

Die bergrede dwing my om ‘n besluit oor Jesus te neem. So Jesus confronts us with himself, sets before us the radical choice between obedience and disobedience, and calls us to an unconditional commitment of mind, will and life to his teaching (John Stott eindig so sy kommentaar op die bergrede).

As ek die bergrede wil verstaan, moet ek twee beginsels volg:

  • Begin lees aan die einde en bring dit in verband met die begin van die bergrede.
  • Dit sal my help om die bergrede te verstaan as ek die konteks waarin dit geplaas is, verstaan. Die konteks vir die bergrede kry ek in Matteus 4:23 – 25.



Die Storie van God

The devil is a better theologian than any of us and is a devil still. —A.W. Tozer

Die Storie van God

Daar is pas ‘n nuwe stel Bybelkommentare met ‘n interessante benadering, bekend gestel: The Story of God Bible Commetary.

Die Woord van God verander nie, maar die kultuur verander wel. So kommunikeer ons vandag hoofsaaklik deur die Internet en e-posse, ons lees die nuus op rekenaars en iPads, ons praat met ons vriende waar hulle ook al is met selfone. Kerke het ook verander. Diegene sonder enige kerkverband neem toe; ateïste verkondig hulle sienings van openbare platforms; huisgodsdiens word ‘n rariteit; leraars preek oor onderwerpe wat geen verband met die Bybel het nie … en so kan ons aangaan.

 

Maar daar is ook vooruitgang.  Kerkbywoning in die Suide en Ooste neem toe; vroue neem hulle regmatige plek in die kerk in; die kerk raak meer betrokke by geregtigheid in ons samelewings. Bybellesers verander ook. Hulle vra ander vrae as in die verlede en uit ander hoeke

Die kultuur skuif, maar die Woord van God bly. Ons moet verstaan wat die Woord sê, maar ook wat dit vir ons vandag beteken. Die Bybel verander nie, maar om dit aan ons kultuur te verbind, verander voortdurend op verskillende maniere en in verskillende kontekste. Elke gedeelte van die Bybel  moet in die lig van die oorkoepelende verhaal van die Bybel verduidelik word.

Daarom moet elke gedeelte in die Bybel vanuit drie hoeke bestudeer word:

  • Luister na die storie. Die Bybel is God wat praat. Daarom moet my houding een van luister wees. Ek moet na elke gedeelte luister in die lig van God se oorkoepelende verhaal soos ek dit in die Bybel kry.
  • Verduidelik die storie in die lig  van die Bybel se oorkoepelende storie.
  • Leef die storie. Om die Bybel te lees, beteken nie net dat ek ontdek wat dit destyds beteken het nie. Ek moet ook bepaal hoe hierdie storie vandag uitgeleef kan word. Hoe verplig die storie van God in die Bybel my om vandag in ons wêreld te leef.

Een van die kommentare in die reeks hanteer die bergrede. Ek sal gereeld interessante aspekte in my blogs hanteer. Ek gaan geensins die hele bergrede hanteer nie.




Kerkdissipline en Uitbanning uit die kerk.

There are two things to do about the gospel: believe it and behave it. —Susanna Wesley

 

Kerkdissipline en Uitbanning uit die kerk.

Hier is nou ‘n onderwerp wat mense baie gou warm onder die kraag kry. Frank Viola het hierdie saak onlangs in sy blog hanteer. Dit is en bly ‘n nare ondervinding – iets waarby niemand betrokke wil wees nie. Die probleem is dat dit op verskeie plekke in die Nuwe Testament hanteer word – ons kan dit nie sommer ignoreer nie. Wat sê die Nuwe Testament hieroor? Kom ons kyk na ‘n paar Skrifgedeeltes:

 

  • 15“As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. 16Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word. 17En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ’n heiden en ’n tollenaar behandel (Matteus 18:15 – 17).
  • Asof ek werklik daar was, het ek oor die man wat so iets gedoen het, reeds in die Naam van ons Here Jesus tot ’n besluit gekom. Julle daar, en ek in die gees teenwoordig, saam met die krag van ons Here Jesus, het vergader om hierdie man aan die Satan oor te gee. 5So sou sy sondige aard vernietig word, sodat sy gees gered kan word op die dag wanneer die Here kom.

6Julle selfverheffing is nie mooi nie. Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek nie? 7Verwyder dan die ou suurdeeg, sodat julle nuwe, ongesuurde deeg kan wees, en dit is julle ook werklik. Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus. 8Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid.

9In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid leef nie. 10Daarmee het ek glad nie die onsedelikes of die geldgieriges, bedrieërs of afgodedienaars van hierdie wêreld bedoel nie, want om hulle te vermy, sou julle uit die wêreld moes padgee. 11Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie.

12–13Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: “Verwyder die slegte mens onder julle uit!” (1 Korintiërs 5:4 – 130

  • Ek druk julle dit op die hart, broers: Pas op vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af (Romeine 16:17)

Dit lyk vir my asof die kerk op een of ander stadium sal moet vasbyt en iemand uitban omdat hy geen berou oor sy sonde het nie en net daarmee voortgaan. Soos Paulus in die gedeelte in 1 Korintiërs 5 sê dat as ons die probleem net ignoreer sal die hele liggaam besoedel word: Weet julle nie dat ‘n klein bietjie suurdeeg die hele deug deurtrek nie?

Die prosedure wat gevolg moet word, word duidelik in Matteus 18 uiteengesit. Dit is nie ‘n besluit wat sommer oornag geneem kan word nie.  Die doel is nie veroordeling nie, maar herstel. Dit is eers as die persoon hardkoppig weier om van sy sonde afstand te doen – na herhaalde pogings – dat opgetree moet word.