Hoe om nie ‘n ander Christen tereg te wys nie

The real horror of being outside of Christ is that there is no shelter from the wrath of God. —Eric Alexander

 

Hoe om nie ‘n ander Christen tereg te wys nie

In ‘n vorige blog het ons na Kerkdissipline gekyk. Frank Viola skryf nou oor hoe om nie ‘n medegelowige tereg te wys nie. Dikwels doen ons meer skade as goed met ons teregwysings. ‘n Verontregte broer is ontoegankliker as ‘n vestingstad; rusie is soos die sluitbalk van ‘n fort (Spreuke 18:19). Daar is verskeie dinge wat ons moet oorweeg voor ons ‘n medegelowige teregwys:

  • Moet nooit op tweedehandse inligting vertrou nie. Om jou oordeel op een kant van die storie te baseer, is verkeerd.
  • Net omdat jy iemand se foute raaksien, gee jou nie die reg om dit uit te wys en reg te stel nie. Die Bybel praat nie foutvindery goed nie.
  • Baie Christene het al seergekry omdat iemand hulle op ‘n manier wat teenstrydig met Jesus Christus s’n was, tereggewys het.
  • As jy iemand sonder genade teregwys, sal jy sekerlik ‘n vriend verloor.
  • Jou geestelike instinkte sal jou lei oor hoe om die oortreding te hanteer. Een manier is om dit te aanvaar (Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe – Matteus 5:39). ‘n Ander metode is om hom alleen en in ‘n gees van sagmoedigheid reg te help (Galasiërs 6:1). Soms is dit van waarde om ‘n bemiddelaar te kry (1 Korintiërs 6:1 – 6).
  • Soms wys Christene ander tereg as dit nie nodige is nie; soms laat ons probleme wat teregwysing nodig het, verbygaan. Beide benaderings kan baie nadelige gevolge hê.
  • As ‘n medegelowige iets doen wat jou net ongemaklik laat voel, dink weer  voordat jy hom teregwys.
  • As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is (Matteus 18:15).
  • Vra jouself eers sekere vra voor jy iemand teregwys: Is dit die plek om dit te doen? Het ek ‘n persoonlike verhouding met hom? Reageer ek uit trots of omdat ek kwaad is of ‘n ander duister motief? Het ek vir die persoon gebid en gevra dat God hom herstel?  Hoe sou ek tereggewys wil word as ek teregwysing nodig het?
    • Wees bewus daarvan dat jy, net soos daardie persoon, oordeel en teregwysing verdien. Christians get very angry toward other Christians who sin differently than they do” (Philip Yancey)
    • As jy nie voor die kruis gebuig het nie, kan die Bybel ‘n baie gevaarlike instrument wees.
    • As jou teregwysing van jou broer/suster hulle meer seermaak as vir jou, het jy waarskynlik dit nie in Christus gedoen nie.
    • Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom (Galasiërs 6:1).
    • Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie, en nie gou kwaad word nie (Jakobus 1:19).

As ons ons medegelowiges moet teregwys, laat ons dit doen soos Christus dit sou gedoen het.




Die tweede Adventskers

Adversity toughens manhood, and the characteristic of the good or the great man is not that he has been exempt from the evils of life, but that he has surmounted them.”  – Patrick Henry (1891)

Die tweede Adventskers

Verlede Sondag het ons die eerste Adventskers – hoop – aangesteek. Gister het ons die tweede kers – vrede – aangesteek. Soos ons vir die koms van Jesus Christus voorberei, onthou ons dat Jesus ons hoop en ons vrede is.

 

  • Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring (Jesaja 9:5 – 6)
  • Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie (Johannes 14:27).

Gebed:

Genadige God, gee dat ons vrede mag ondervind terwyl ons voorberei vir ons Here se geboorte. Mag verskille tussen ons en ander in vrede opgelos word. Mag daar vrede in ons land en in die wêreld wees. Gee dat ons die vredespaaie raaksien en gee vir ons die moed om op hulle te loop. Here, laat ons nie vergeet dat U die Gewer van ewigdurende vrede is en dat U altyd met ons is nie. Amen.




Veroorsaak tegnologie depressie?

What we hope ever to do with ease, we must learn first to do with diligence. -Samuel Johnson,  (1709-1784)

Veroorsaak tegnologie depressie?

Die sielkundige Daniel Coleman (skrywer van onder andere Social Intelligence, Emotional Intelligence en Focus) beskryf ons geslag wat op genot ingestel is as die geslag van melankolie (= swaarmoedigheid, swartgalligheid. Die woord is afkomstig uit die Grieks melas – swart en chole – gal.) Hy sê die oorsaak hiervan is tegnologie. Die oplossing sou dan die teorie van selfbepaling wees.  Hierdie teorie bestaan uit drie elemente:

 

  • Outonomie – die gevoel dat ons self ons aktiwiteite kies. As ons voel ons is in beheer kan ons self ons prioriteite organiseer en bepaal hoe doeltreffend ons dit moet uitvoer.
  • ‘n Gevoel van bekwaamheid – ons glo ons optrede is doeltreffend, ons weet watter aktiwiteite belangrik is en maak gebruik van tegnologie waar toepaslik.
  • Verhoudings – ons voel naby aan ander mense. Tegnologie bedreig hierdie element. Sielkundiges het bevind dat die verskil tussen gelukkige en ongelukkige mense die teenwoordigheid of afwesigheid van diep, bevredigende sosiale verhoudings is. As jy gelukkig wil wees, moet jy tyd met jou familie en vriende deurbring.

Dit is interessant dat die slim mense die fundamentele ongelukkigheid van die mense ontleed en met hulle eie “evangelie” na vore kom – outonomie, bekwaamheid en verhoudings. Dit mag sekerlik tot beperkte, tydelike geluk lei. Die ware evangelie van Jesus Christus se diagnose gaan veel dieper – nie tegnologie nie, maar sonde. Dit stel ook ander oplossings voor: nie outonomie nie, maar afhanklikheid van Christus; nie bekwaamheid nie, maar erkenning van ons swakhede – ons doen alles in Christus se krag; nie verhoudings met mense nie, maar primêr met God deur Jesus Christus.

Veroorsaak tegnologie depressie? In sekere gevalle mag dit ‘n bydraende faktor wees. Die menslike brein kan net nie al die stimulasie waaraan ons vandag blootgestel is, hanteer nie. Een of ander tyd gaan ons petrol opraak. Ons moet stil tye in ons lewens inbou – tye waartydens ons brein kan rus en herlaai word. Onthou net dat Elia die stem van God nie te midde van sensasionele stimulasie gehoor het nie, maar in die stilte.

[Daar is baie verkeerde sienings oor depressie. Daar is ‘n groot groep waar die oorsaak ‘n chemiese wanbalans in die brein is. Hierdie gevalle het medikasie nodig en pas nie hier in nie. Wees baie versigtig om nie alle gevalle van depressie oor dieselfde kam te skeer nie.]




Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Die koninkryk vandag (6)

“To believe [the Gospel] when you wish it, and then disbelieve [it] when you wish it, is to believe nobody but yourself.” —St Augustine   

 

Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Die koninkryk vandag (6)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

Wat moet God se mense doen in die koninkryk om die aansprake van Christus oral in die skepping te bevorder?

 

Behoefte

Wat het mense nodig om volledig mens te wees? Elke mense het die behoefte om met die drie-enige God te kommunikeer. Dit is ons grootste behoefte. Maar die mens het ook ander behoeftes.

Mense het veral die geleentheid om hulle volle potensiaal te bereik nodig – dit wat dit beteken om na God se beeld gemaak te word. Dit is meer as net die uitdeel van geld. Ons moet hulle menslike potensiaal ontsluit en hulle bemagtig. Wat ons nodig het, is ‘n raamwerk wat menswaardigheid bevorder. Dit beteken ons woon in ‘n samelewing wat basiese menseregte erken en uitleef.

 

As ons die behoeftes van die minderbevoorregtes wil hanteer, moet die kerk sy roeping aanvaar as dié instelling wat die deugde van die gemeenskap moet vorm. Die kerk moet alle pogings om menswaardigheid te bevorder ondersteun. Die kerk moet alles in sy vermoë doen om te verseker dat mense in harmonie kan saamleef. Die rol van die kerk is noodsaaklik, want die kerk verseker dat God se getroue mense onderhou word en groei.

 

Gevolgtrekking  

In die praktyk van die koninkryk van God is die heerlikheid van God en die beeld van God baie belangrik. As ambassadeurs van die koninkryk moet ons hierdie heerskappy van God aan die hele wêreld bekend maak. Ons het agt elemente bespreek wat as beginpunt moet dien. Goeie bedoelings sonder omsigtigheid wat deur die Bybel geïnspireer is, is nie voldoende nie.

 

Ons doel in die koninkryk is om op God se genade te reageer deur sy heerlikheid vir die wêreld te wys sodat ons ander kan uitnooi om te proe en te sien hoe goed God is.