Vrede op aarde

“Jesus is the ultimate Job, the only truly innocent sufferer.”  – Tim Keller

Vrede op aarde

Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het (Lukas 2:13 – 14).

Ons moet altyd na vrede streef – in tye van oorlog, maar ook as dit rustig is; wanneer jy tevrede met jou verhoudings is, maar ook as jou verhoudings krapperig is; wanneer jy voel dat jy in harmonie met God is, maar ook as die harmonie verbreek is.

 

Vrede is meer as die afwesigheid van konflik. As ‘n man en vrou moeg is om op mekaar te skreeu en in ‘n doodse stilte verval, is dit nie vrede nie. Die Hebreeuse woord vir vrede is sjalom. Dit beteken mag jy gesond en heel en volledig wees; mag jy weet waar jy in die groot heelal inpas; mag jy rus en kalmte daar ondervind. As ek weet waar ek in God se wêreld inpas, bring dit kalmte.

Tydens Kersfees bid ons vir vrede. Ons bid dat ons en ander die sjalom van Kersfees ontdek – die vertroue dat as God se guns en genade op ons rus ons vrede sal ondervind. Hierdie vrede is die gevolg van Christus se koms na die wêreld om dinge reg te stel.

Mag ons hierdie seisoen die vrede wat Jesus Christus met sy koms na die wêreld moontlik gemaak het, ondervind.




Mites oor bediening

Winners of souls must first be weepers for souls. —C.H. Spurgeon

Mites oor bediening

Hulle is daar; hulle is dikwels moeilik om raak te sien; hulle het ‘n impak op jou bediening – dikwels vernietigend. Kom ons kyk na ‘n paar.

  • Daar is ‘n probleem-vrye oplossing

Ons moet net aanhou soek en leer en ons sal die probleem-vrye oplossing kry. Dit is nie waar nie. Elke oplossing, elke strategie, kom met sy eie probleme. Wyse leiers kies eenvoudig die stel probleme wat hulle die beste kan hanteer.

 

  • Ons sal volgende jaar beter voorbereid wees

As ons net tot volgende jaar wag sal ons die fondament gelê het en kan ons aangaan. Ons sal byvoorbeeld die organisasie om nuwe intrekkers in te skakel in plek hê. Die waarheid is dat volgende jaar te laat sal wees. Hierdie nuwe mense sal al lankal weg wees.

  • Ons het nie die leiers wat ons nodig het nie

As ons harder en meer bid, sal God die werkers vir die oes stuur. Ons weet hoe ‘n leier lyk en ons sien hulle nie in die gemeente nie. Die waarheid is dat God in alle gevalle meer as genoeg potensiële leiers stuur … ons weet net nie wie hulle is nie. Ons moet leer om leiers te identifiseer, te werf en te ontwikkel. Ons het nuwe metodes en strategieë nodig.

  • Daardie program werk nie by ons nie

Kleingroepe werk nie by ons nie; uitreike na die gemeenskap werk nie by ons nie Nie waar nie. Your ministry is perfectly designed to produce the results you’re currently experiencing (Andy Stanley). As jy ander resultate verlang, verander die ontwerp van jou bediening.

  • Ons weet reeds die beste manier om dit te doen

Ons doen dit al lankal; ons weet presies wat om te doen. Lees ‘n boek? Woon ‘n konferensie by? Besoek ‘n ander gemeente om te sien hoe hulle dit doen? Tydmors. Ons weet hoe om dit te doen. Die waarheid is egter dat om met vars oë na dinge te kyk groot voordele mag inhou. ‘n Openheid vir nuwe idees of alternatiewe maniere om dinge te doen, mag groot voordeel inhou.

Dink ‘n bietjie na. As jy soek, sal jy in meeste gemeentes hierdie mites kry.




God in die Krip

Gratitude goes beyond the “mine” and “thine” and claims the truth that all of life is a pure gift. In the past I always thought of gratitude as a spontaneous response to the awareness of gifts received, but now I realize that gratitude can also be lived as a discipline. The discipline of gratitude is the explicit effort to acknowledge that all I am and have is given to me as a gift of love, a gift to be celebrated with joy – Henri Nouwen

 God in die Krip

Vir die groot en magtige mense van hierdie wêreld is daar net twee plekke waar hulle moed faal, waarvoor hulle diep binne hulle bang is, waarvan hulle wegskram. Dit is die krip en die kruis van Jesus Christus. Geen magtige persoon, en die sluit koning Herodes is, sal dit waag om die krip te nader nie. Dit is hoekom trone skud, die magtiges val, die prominente mense omkom, want God is met die minderes. Hier is die rykes nie belangrik nie, want God is met dié armes en dié wat honger is. Dié wat ryk en tevrede is, stuur Hy weg met niks nie Voor Maria, voor die krip van Christus, voor God kom die magtiges nêrens nie – hulle het geen regte, geen hoop nie … hulle word geoordeel.

[Hierdie gedeelte kom uit Dietrich Bonhoeffer se God in a Manger: Reflections on Advent and Christmas.]

 




Advent: Die eerste kers

“The only love that won’t disappoint you is one that can’t change, that can’t be lost, that is not based on the ups and downs of life or of how well you live. It is something that not even death can take away from you. God’s love is the only thing like that.” – Tim Keller

 

Advent: Die eerste kers

1Desember 2013 – die eerste kers van Advent word aangesteek. Dit is die kers van hoop. Ons gebruik hierdie kers om saam met Christene oor die wêreld ons harte en denke voor te berei vir die koms van God se Seun – Jesus Christus, ons Verlosser. Ons hoor die woorde van Jesaja 9:1: Die volk wat in donkerte geleef het, het die groot lig gesien, oor dié wat in die land was, het ‘n lig geskyn.

Advent  beteken “nader kom” of “besoek”.  [Advent van die Latyn adventus = ad – na + venire = kom.] in hierdie seisoen berei ons dus voor  vir die nader koms van Christus op Kersfees. Ons voorbereiding sluit baie dinge in:

 

  • Ons herinner ons aan Israel se hoop vir die koms van God se Messias om  mense te verlos, te vergeef en te herstel.
  • Ons herinner ons aan ons hoop vir Jesus se tweede koms.
  • Ons onthou weer ons behoefte aan ‘n Verlosser om ons van ons sondes te verlos.
  • Ons berei ons voor om tydens Kersfees vir Christus in ons wêreld en in ons harte te verwelkom.

Deur elke week ‘n kers aan te steek, berei ons onsself voor vir die geboorte van Jesus. Elke kers het ‘n spesifieke betekenis wat ons help om te verstaan hoe spesiaal die geboorte van Jesus is.

 

Gebed: Here soos ons na die geboorte van Jesus kyk, mag dat die lig van U liefde vir ons, ons help om lig te wees in die lewe van die mense om ons. Berei ons harte voor  vir die vreugde van u koms, want Jesus is ons hoop. Amen.