Selfvoldaanheid: waarskuwingstekens

The servants of the Lord are to sing his praises in this life to the world’s end; and in the next life world without end. —John Boys

Selfvoldaanheid: waarskuwingstekens

Een van die grootste probleme in gemeentes wat nie groei nie, is die gemeente se kultuur van selfvoldaanheid – hulle is tevrede met dinge soos dit is. Dit alles begin by die leier. Die probleem is dat niemand dink dat hulle selfvoldaan is nie. Kyk na hierdie vyf tekens – dalk is jy meer selfvoldaan as wat jy dink.

 

  • Jy word te maklik tevrede gestel. Stadige, inkrementele groei en klein prestasies stel jou tevrede. As jou groot vooruitgang vir die jaar ‘n nuwe mat in die voorportaal van die kerk was, was jou vooruitgang … ‘n mat. Dit het nou nie juis iets met die uitbreiding van die koninkryk van God te doen nie.
  • Jy maak vinnig verskonings. Jy kom vinnig met allerhande verskonings na vore oor waarom die gemeente nie groei nie; hoekom jy nie iets nuuts kan doen nie; hoekom dit nie sal werk nie … Uitdagings word hindernisse en hindernisse word verskonings. Dit is baie maklik om agter verskonings weg te kruip as rede vir die behoud van die status quo.
  • Daar is net nooit genoeg tyd nie. Jy is baie besig, maar dit is selde strategies. Jy gebruik hierdie voorwendsel as verskoning waarom jy nie die betekenisvolle werk kan doen nie. Daar is net nie genoeg tyd daarvoor nie. As jy selfvoldaan is, is dit net reg.
  • Jy is nie langer leerbaar nie. Jy word nie meer gedruk of uitgedaag nie. Jy verwerp nuwe idees omdat jy al jare ondervinding het – jy is ‘n gevestigde leier met al die kennis wat nodig is. Wat beteken dit? Trots. Die vraag is of jy oop is om weer te dink oor waar jy is en hoe jy oor dinge dink. So dikwels dink ons dat om iets nuut te probeer ‘n erkenning van mislukking is – ek was verkeerd in die verlede. Jy klou vas aan die verlede om jou ego te beskerm.
  • Jy is tevrede met vroeë sukses.  Jy is tevrede met klein, vroeë suksesse. Jy hou op droom.

Is ons nie almal maar ‘n bietjie selfvoldaan nie. Ondersoek jouself eerlik. As jy selfvoldaan is, doen iets daaraan.

 




Ek moet bewus wees van my swakhede

The New Testament without the miracles would be far easier to believe. But the trouble is, would it be worth believing? —J. Gresham Machen

Ek moet bewus wees van my swakhede

Rick Warren sê dat ons nie ons swakhede moet probeer wegsteek of ontken nie. Ons moet hulle herken. As God ons werklik gaan gebruik sal ons soos Jakob vir die res van ons lewens mank loop. Een les wat ons altyd moet onthou, is dat God swak mense gebruik – God gebruik nie supermense in sy bediening nie. Die doel is dat bedienings moet volhoubaar wees. Watter soort bedienings is volhoubaar? Dié wat eg en kwesbaar en eerlik en nie vals oor ons swakhede is nie.

 

Hy glo dat bediening op twee groot pilare staan:

  • Petrus se belydenis: U is die Christus (Markus 8:29).
  • Paulus se belydenis aan die mense in Listra: Ons is maar net sulke mense soos julle (Handelinge 14:15).

Ons is baie gou om ons geestelikheid te verklaar, maar nie so gou om ons menslikheid te verklaar nie.

God gebruik swak mense: En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam (1 Korintiërs 1:27). God plaas sy groot gawes in gewone houers sodat Hy alleen die krediet kry.

Wat is die voordele van swakhede in ons lewens?

  • Swakheid lei tot afhanklikheid van God.
  • Swakheid verhoed trots.
  • Swakheid lei tot ‘n groter afhanklikheid van ander mense.
  • Swakheid brei ons vermoë vir bediening uit.

Ons swakhede sal slegs ander mense in die geloofsgemeenskap help as ons bereid is om dit te deel. Kwesbaarheid versterk jou leierskap. Almal van ons is ‘n samevoeging van sterk- en swakpunte. Nederigheid beteken nie dat ek my sterkpunte ontken nie, maar dat ek eerlik oor my swakhede is. Hoe ons die swakhede in ons lewens hanteer, bepaal of hulle ons help of hinder. Mense hou van mense wat opreg is. As jy eerlik oor jou swakhede is, sien mense jou as opreg. Hoe meer opreg mense jou sien, hoe meer geloofwaardigheid het jy; hoe meer geloofwaardig jy is, hoe meer invloed het jy. Hoe meer invloed jy het, hoe meer kry jy gedoen.

Word opreg.




Die duiwel het my dit laat doen!

A Christian community should do as Jesus did: propose and not impose. Its attraction must lie in the radiance cast by the love of brothers.” ~Jean Vanier

 Die duiwel het my dit laat doen!

Ek het pas gesondig. Het die duiwel my dit laat doen?  Ons lees: Dan sal hulle weer tot nugtere insig kom en vry raak uit die vangstrik van die duiwel, waarmee hy hulle gevange gehou het om sy wil te gehoorsaam (2 Timoteus 2:26). Hier verwys Paulus na dwaalleraars. Hy verwys ook na ouderlinge wat maar onlangs tot geloof gekom het en in die oordeel kom waarin die duiwel hom laat beland … en hy in die strik van die duiwel beland nie (1 Timoteus 3:6 – 7).

 

 As Paulus egter met gelowiges oor hulle sondes praat, doen hy dit direk – soos in Efesiërs 4:25 – 32.  Paulus praat wel van die duiwel in hierdie gedeelte: Moenie die duiwel vatkans gee nie. Ons moenie die duiwel vatkans gee deur kwaad te word en die dag kwaad af te sluit nie. Ons sonde mag aan Satan die geleentheid gee om sy agenda deur ons te bevorder, maar Paulus sê nie dat ons sonde deur die duiwel veroorsaak word nie. Paulus sê vir hulle hierdie dinge is ontoepaslik en dat God se kinders niks hiermee te doen moet hê nie. Sonde is ongehoorsaamheid en ons het nie ‘n graad in duiwelkunde nodig om gehoorsaam te wees nie.

C. S. Lewis waarsku dat Satan gelukkig is met ons onkunde en ook ons obsessie met hom. Die Bybel sê dat Satan ‘n werklikheid en gevaarlik is, maar gelowiges is nie aan sy genade oorgegee nie. Die verlossing wat Christus bewerk het, stel ons vry van Satan se tirannie. Ons is nie meer slawe van sonde en die dood nie. Nee, ons is onder gesag van die Heilige Gees en dra sy vrug in ons lewe.

Moet ons van die duiwel bewus wees? Ja.

Moet ons van sy motiewe en optrede bewus wees sodat ons hom kan vermy? Beslis.

Moet ons vir ‘n duiwel agter elke sonde soek? Nee.

 Moet ons bewe vir sy mag? Onder geen omstandighede nie.

Satan se kennis en mag is beperk; sy vernietiging is verseker. Hy verdien nie ons obsessie, tyd en emosies nie. Nee, ons lewe met ons oë op Jesus gerig – Hy het ons van Satan se toorn gered en ons weet dat eendag sal ons vir altyd van hom ontslae wees.




Ons dwaal soos skape

. —C.H. Spurgeon

Ons dwaal soos skape

Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop. Maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom (Jesaja 53:6)

Hier is ‘n paar interessante dinge wat ons hier kan leer:

  • Die beeld van die sondaar is dié van ‘n skaap. Skape is dom – hulle weet nie wat goed vir hulle is nie. Hulle tree nie rasioneel op die; hulle slaan die verkeerde rigting in. Hulle loop rond rigtingloos, doelloos en kwesbaar. In ons oënskynlike “onskuldige” ronddwaal, is ons besig om teen God te sondig.
  • Die trajek van sonde: afdwaal. Vir ‘n skaap wat afgedwaal het, is die lewe vol gevare. Hy kan homself nie verdedig nie – hy is hulpeloos. Sy enigste hoop is dat die herder hom soek en kry voor ‘n ramp hom tref. As ek sou ronddwaal soos ‘n skaap wat weggeraak het, soek my dan, want u gebooie het ek  nie verontagsaam nie (Psalm 119:176)
  • Die aard van sonde: wegdraai. Dit is die teenoorgesteld van bekering. Sonde beteken ek draai weg van God; bekering beteken dat ek na Hom toe draai. Om jou rug op iemand te draai wat met jou praat, is ‘n groot belediging. Ons draai weg as ons te staan kom voor Een wat groter en sterker as ons is en ons Hom nie wil gehoorsaam nie. Ons draai na iemand as ek besef ek het hulp nodig; ons draai na die gesag wat ons erken en aanvaar. Ons draai na Hom wat ons weet goed en wys is.
  • Die kern van sonde: selfgesentreerdheid. Elkeen van ons loop sy eie pad. Ons vertrou nie die Herder nie en loop nie op sy paaie nie. Ons eie pad staan teenoor God se pad.
  • Die vernietigende aard van sonde; ongeregtigheid. As sondaars is ons inherent boos. Dit is waarom ons weergebore moet word; dit is waarom die Herder ons moet tugtig; dit is waarom ons ‘n nuwe liggaam moet kry. Sondaars kan van hulle ongeregtigheid genees word of hulle kan goddeloos bly en omkom. God se aard is om skape wat afgedwaal het te red as Hy hulle benoude blêr hoor.
  • Die omvang van sonde: almal. Ons het almal gedwaal. Die hele Israel het gedwaal; alle mense het gedwaal. Sonde is ‘n universele kenmerk van die mensdom.
  • Die reddingsmag van plaasvervanging. Die Here het ons almal se sonde op Hom laat afkom. Jesus Christus het ook ons sonde op Hom geneem. Hy het al ons ongeregtighede gedra.

In hierdie vers word gesê dat Christus  en die mens as skape gesien word: Hy is as Lam in ons plek geslag en ons het as skape gedwaal. Hy, die vlekkelose Lam, het vir die dwalende skape gesterf.