Habakuk

Half of the harm that is done in this world is due to people who want to feel important. They don’t mean to do harm but the harm does not interest them. -T.S. Eliot, poet (1888-1965)

Habakuk

Habakuk is nie ‘n boek wat ons gereeld lees nie.

Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla, voordat U red (Habakuk 1:2). Hoekom roep die profeet na God? Die antwoord is duidelik: geweld. Geweld beteken koelbloedige, gewetenlose oortreding van die persoonlike regte van ander. Gewoonlik word dit deur gierigheid of haat gemotiveer. In die denke van die Israeliete moet die Here intree in gevalle van geweld: Ellende wag vir hom wat, toe hy vir ‘n ander drank gegee het, dit met gif gemeng het … Die Here sal jou die oordeelsbeker wat in sy hand is, gee om te drink … (Habakuk 2:15 – 17).

 

Waaruit het hierdie geweld bestaan? Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied nie meer reg nie. Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag (1:4). Omdat Habakuk net boosheid in Juda en Jerusalem sien, neem hy ‘n besluit: Ek wil op my uitkyktoring gaan staan, my plek op die vestingmuur gaan inneem, ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt (2:1). Tot dusver was God stil, maar Habakuk is steeds oortuig dat Hy op die geweld moet antwoord.

Toe antwoord die Here hom: Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette sodat mense dit sommer in die verbygaan kan lees. Die openbaring geld vir ‘n bepaalde tyd; dit sal gou, kom want dit kom beslis. Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie. Dit is die boodskap: Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly (2:2 – 4).

Wat is hierdie openbaring? Maak nie saak hoe erg die wet verdraai is nie; maak nie saak hoe sleg die armes en swakkes behandel is nie; maak nie saak hoe sleg die Babiloniërs hulle gaan behandel nie – die Here sal hulle nie vergeet nie. Hierdie boodskap moet Habakuk so duidelik skryf dat  mense dit sommer in die verbygaan kan lees. Wie reg doen sal lewe omdat hy getrou bly – dit beteken dat die wat aanhou glo en die dinge van God doen, sal aanhou lewe ten spyte van goddeloosheid en geweld.




‘n Voorskrif vir gesondheid

—C.H. Spurgeon

 ‘n Voorskrif vir gesondheid

Welgeluksalig is hy wat ag gee op die arme; die Here sal hom red in die dag van onheil. Die Here sal hom bewaar en hom in die lewe hou; hy sal gelukkig gemaak word op die aarde. Ja, U kan hom nie oorgee aan die begeerte van sy vyande nie. Die Here sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is (Psalm 41:2 – 4 – OAV)

 

Psalm 41 is ‘n voorskrif vir ons gesondheid.

Volgens hierdie psalm is diegene wat omsien na die arme welgeluksalig – in die NAV word welgeluksalig omskryf as dit gaan goed met die mens. Wat beteken dit om om te sien na die arme. Dit is meer as net dink aan die arme; dit is meer as om aan hom ‘n geldjie te gee.  Omsien na beteken om enigiets wat die arme nodig het om vorentoe te gaan, te voorsien.

Hoe sal diegene wat na die arme omsien geseën word: In hierdie gedeelte lees ons van sewe seëninge:

  • Die Here sal hom red in die dag van onheil.
  • Die Here sal hom bewaar.
  • Die Here … sal hom in die lewe hou.
  • Hy sal gelukkig gemaak word op die aarde.
  • U kan hom nie oorgee aan die begeerte van sy vyande nie.
  • Die Here sal hom ondersteun op die siekbed.
  • Sy hele slaapplek verander U as hy krank is. Die Nuwe Vertaling sê: As hy siek is, sal U hom genees.

Is hierdie ‘n towerformule vir sukses?  Help die armes en siedaar  verlossing, genesing en seën. Net ‘n paar verse later (vers 10) lees ons: Selfs my boesemvriend op wie ek vertrou het, wat altyd by my geëet het, het my in die rug gesteek. Ons moenie hierdie psalm meganisties lees nie – seën ‘n arme en God sal jou seën nie. Maar oor die algemeen is dit waar.

 




Is ek vol moed?

We want people to e involved in culture because Christ has revealed himself in cultute –  Dan Alexander

Is ek vol moed?

Almal van ons wil graag vol moed wees. Ons lees van Dawid en Goliat en van Daniël se drie vriende en van die apostels in Handelinge en dink: “Hoe kan ek ook ‘n vreeslose hart kry?” In ons samelewing is een van die strategieë wat ons gebruik juis om moeilike situasies te visualiseer sonder al die moontlike negatiewe gevolge te bedink. Daar is egter ‘n beter manier om vrees te oorwin. J. D. Greear kyk na Handelinge 4 en ontdek vyf geheime om vrees te oorwin.

 

  • Hulle glo in God se soewereiniteit in hulle beproewing

Die gelowiges is onder geweldige druk. Petrus en Johannes het pas voor die Joodse Raad verskyn. Hulle is terug by hulle medegelowiges. Almal bid toe saam: Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het …Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het (Handelinge 4:24 – 28). Hulle het besef dat bose mense wat gedink het hulle het teen God se plan gewerk in werklikheid vir God se plan gewerk het. Die gelowiges wat daar bymekaar was, mag gevoel het dat die vervolging hulle oorweldig het, maar hulle het vertrou dat God besig was om daardeur te werk. Sou ons perspektief nie verander as ons sake soos daardie eerste gelowiges gesien het nie; Geloof in God tydens my probleme is belangriker as dat God my probleme oplos.

  • Hulle ken die Skrif

 

  • Hulle staan in eerbied voor hulle grootste Held

In Handelinge 5 staan Petrus weer voor die Joodse Raad. Hy sê vir hulle: Die God van ons voorvaders het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom aan die kruis te hang. God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe (5:30 – 31). Die woord Leidsman verwys na ‘n kampioen of held. Petrus noem Jesus hier ‘n Held. Maar Hy is ‘n held wat nie sy mag gebruik om  vyande te verslaan nie, maar om in swakheid te sterf om hulle te verlos. Dit laat die gelowiges weer dink: As Jesus sy lewe vir hulle gewaag en gegee het om hulle te verlos, moet hulle nie ook hulle lewens gee sodat ander gered kan word nie?

 

  • Hulle het ‘n mededeelsame gees besit

As ek die evangelie glo, maak dit my ook mededeelsaam (Handelinge 4:32 – 37). Hulle gee vrywillig van hulle besittings weg. As hulle getrou was aan die boodskap van Jesus Christus mag dit tot fisiese lyding lei, maar hulle was gewillig om te ly. Hulle doen dit omdat hulle radikaal vrygewig was. As ek op sekere gebiede vrygewig is (my finansies), maar nie op ander gebiede (getuig van die evangelie) nie, is ek nie werklik vrygewig nie.

 

  • Hulle is deur die Heilige Gees gevul

Na hulle gebid het, lees ons: Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig (4:31). Die plek waar hulle bymekaar was, het geskud. Hoe meer hulle deur die Heilige Gees geskud was, hoe minder word hulle deur die mag van hulle vyande geskud. Net soos Petrus-hulle die Heilige Gees nodig gehad het, het ons Hom ook nodig. Dit is waar lewegewende krag vandaan kom. Baie van ons het nog nooit gevra dat die Heilige Gees ons lewens moet skud nie. Vra. God staan gereed om te gee.

 




Ek is ontevrede

. —J.I. Packer

 Ek is ontevrede

11Moet my nie verkeerd verstaan nie. Dit is nie omdat dit met my so swaar gaan dat ek nie sonder julle hulp kon klaarkom nie. Die lewe het my al geleer om klaar te kom met wat ek het, maak nie saak wat gebeur nie. 12Ek weet hoe dit voel om arm, nee, brandarm te wees, maar ek weet ook hoe dit voel om genoeg of selfs te veel geld te hê. Maar ek laat nie toe dat sulke dinge my onderkry of met my weghardloop nie. Ek is en bly altyd tevrede, wat my ook al tref. Dit maak nie saak of ek sonder ’n krieseltjie kos gaan slaap of soveel kos het dat ek dit nie alles kan opeet nie. Of ek net die klere aan my lyf het en of ek ’n huis vol goed op my naam het, vir my is dit eintlik maar om ’t ewe.

13Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans, omdat Jesus my bron van krag is.

(Filippense 4:11 – 13 – Die Boodskap).

 

Gelowiges se tevredenheid word nie deur hulle omstandighede betaal nie. Tevredenheid word bepaal deur dit wat ons glo; jou geloof word bepaal deur wat jy sien: Laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof (Hebreërs 12:1 – 2). As ons die las van ontevredenheid wil afgooi, moet ons begin deur te kyk waarna ons kyk.

Toe Paulus sy brief aan die Filippense geskryf het, sit hy in die tronk. Tronke destyds was nare plekke en mense het dikwels in tronke gesterf. Daarom skryf hy aan die mense in Filippi: Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waarvoor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd,  met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe (1:20). Hoe kan Paulus wat in die tronk sit – honger, wetende hy kan enige oomblik doodgemaak word – skryf Ek is en bly altyd tevrede, wat my ook al tref?  Omdat hy die Prys gesien het: Ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry (Filippense 3:8).

Vir Paulus was Jesus ‘n Skat/Prys en hy het sy Prys gesien. Die geheim van tevredenheid is om die Prys te gesien het. Maar hoe sien ek die Prys?

  • Stop. As ek ontevredenheid in my lewe raaksien … stop. Hou op murmureer en kla. Stop jou kritiese tong teenoor ander – iets wat dikwels uit ‘n ontevrede hart voortspruit. Hou op begeer. Stop … en kyk.
  • Kyk. Kyk na wat jy besig is om te kyk. Jy is ontevrede, want daar is ‘n hindernis tussen jou en die Prys. Dink weer: Wat is die Prys wat ek wil hê?
  • Dink. Ek kan my oë net op die regte Prys fokus as ek daaroor dink. Waaroor ek dink, is dit wat ek waarneem. Ek is ontevrede, want ek het oor die verkeerde dinge nagedink en frustrasie het my plat gedruk – daarom is ek ontevrede. Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig (Filippense 4:8).

Moenie ontevrede wees nie. Los die swaar las en vestig jou oë op Jesus.