Hoekom sing so min mans tydens die erediens?

Patience is the prop, uplifting, and preservation of hope. Heinrich Bullinger

Hoekom sing so min mans tydens die erediens?

Kyk ‘n bietjie om jou en jy sal sien dat min mans sing. Hulle staan gehoorsaam terwyl die orkes speel, die ligte flits en die masjien rook uitspoeg. Die woorde word op die skerm geprojekteer … maar omtrent niemand sing nie.

 

Voor die Hervorming is “leke” nie toegelaat om in die kerk te sing nie. Hulle moes stilbly, want gewyde musiek moes deur professionele sangers – priesters en kantors –  gesing word. Ingewikkelde instrumente (pyporrels) en ‘n vreemde taal (Latyn) is gebruik. Die Hervormers gee sang terug aan die gemeente. Hulle komponeer eenvoudige wysies wat maklik was om te sing en gebruik woorde wat teologies ryk was. Omdat baie mense ongeletterd word, word sang ‘n doeltreffende manier van kategese. Lidmate leer van God terwyl hulle van Hom sing. Na die koms van die drukpers kry ons ‘n ontploffing van gemeentesang.  Die eerste liedboek word in 1532 gedruk.

Teen die middel van die 20ste eeu is daar omtrent 1 000 liedere wat in Protestantse kerke gesing word – 250 is gereeld gesing. Ongeveer 20 jaar gelede kry ons die rekenaar beheerde projeksieskerm in ons  kerkgeboue. Liedboeke word nie meer gebruik nie. Die aantal liedere word ook nie meer tot ongeveer ‘n duisend beperk nie.

Gou besef leiers dat hulle enigiets op die skerm kan projekteer. Daarom is daar elke week nuwe liedere. Die gevolg: ons gaan van 250 liedere wat almal ken na 250 000 liedere wat niemand ken nie. Jare gelede is die gemeente voorberei as hulle ‘n nuwe lied moes sing. Ek onthou nog Prof Gawie Cillie in Universitas kerk: “Die orrelis speel dit twee keer deur en dat probeer ons dit.” Ons sien dit nie meer nie.

Wat vandag in is, is môre uit – daar is nie tyd om die liedere te leer nie. Ons kry ook dat die liedere geprojekteer word sonder note – hoe moet ons die wysie leer? Daarom staan ons stil en sing nie terwyl die professionele orkes en sangers sing. Ons is terug in die 14de eeu. Martin Luther draai om in sy graf.

Wat beteken dit vir mans? Hulle voel nie meer hulle word gedruk om ook te sing nie. Maar die negatiewe gevolge is groot. Sang was een van die dinge wat ons saam in die kerk gedoen het – ‘n geleentheid om deel te neem. Mans kan nou op net een manier aan die diens deelneem – die offergawe. Die boodskap wat ons uitstuur is: sit daar, bly stil, geniet die show, moenie vergeet om jou geld te gee nie.

Dit gaan nie oor die orkes of die ligte of die rookmasjien nie – dit gaan oor familiariteit. Mense hou daarvan om liedere te sing wat hulle ken. Speel net tussen al die ander liedere ‘n bekende lied en sien hoe die mense reageer … selfs die mans.

Jammer. ‘n Bietjie oordrewe, maar soms voel ek so. Ouderdom?

 




Die nuwe verbond

Force without wisdom falls of its own weight. -Horatius, digter (65-8 BCE)

Die nuwe verbond

Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ‘n nuwe verbond sal sluit (Jeremia 31:31)

In Jeremia 31:27 – 30 kry ons twee belangrike idees:

  • Die belofte van God aan Israel wat of voor vernietiging staan of reeds vernietig is. In Jeremia 1:10 kry Jeremia die opdrag om nasies en koninkryke af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig. Dit tyd om te bou en te vestig het uiteindelik aangebreek. Die tyd het aangebreek en God gaan Israel en Juda weer vol maak met mense en diere. Die tyd om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, is verby. Nou kan Israel en Juda weer opbou en plant.
  • Wie was verantwoordelik vir die probleme?  Nou is dit nie meer reg om die voorvaders vir die probleme wat die huidige geslag ondervind, te blameer nie: Elke mens sal oor sy eie sonde sterf: wie groen druiwe eet, se tande sal stomp word. Die idee van kollektiewe skuld of korporatiewe verantwoordelikheid word nie juis deur die moderne mens aanvaar nie. Ons glo elkeen is verantwoordelik vir wat hy doen. In die Bybel is daar min ondersteuning vir die idee dat individuele verantwoordelikheid die norm vir menslike gedrag is. Ons is vir mekaar verantwoordelik – as een ly, ly almal.

As ons individuele verantwoordelikheid vir ons eie dade sou aanvaar, sal dit die wêreld ‘n beter plek maak? Jeremia sê nee. Ons sal maar min verandering sien. Ons moet op die optrede van God vertrou sonder wie ons pogings maar min gaan beteken. Maar ons glo dat ons die bul by die horings moet pak.

God sê duidelik dat die ou verbond se tyd verby is. Dit het misluk, want die voorvaders het die verbond verbreek al was Ek getrou aan hulle.  Dan: Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. ‘n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot sê die Here. Eers na God se hartchirurgie op elkeen van ons sal  God ons oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie. Daardie tyd moet nog kom, maar dit sal sekerlik kom. Intussen moet ons steeds die woord van God verkondig en mense van sy liefde vertel.

Ons kan nie mense verlos nie – dit het God reeds gedoen. Jeremia se woorde is dus hoop en ‘n waarskuwing. Doen die werk van God, maar laat Hom toe om sy eie oes in te samel.




Doeltreffende bediening – sewe sleutels

. —C.H. Spurgeon

Doeltreffende bediening – sewe sleutels

Rick Warren het na Paulus, naas Jesus self dié uitstaande model vir bediening, gekyk en sewe sleutels vir suksesvolle bediening geïdentifiseer. In Romeine 15 gee Paulus vir ons ‘n kykie in sy bediening. In vers 14 sê hy: My broers, ek is self maar alte bewus dat julle vol goeie hoedanighede is en omvattende kennis besit, en dat julle mekaar self op die regte weg kan help. Paulus sê dat hulle bekwaam genoeg is om mekaar te help, maar dan moet jy die eerste tree gee – begin met ‘n bediening.

 

Die sleutelwoorde in hierdie hoofstuk is om … onder die heidennasies te werk (vers 16) en diens (vers 17). In hierdie hoofstuk sien ons dat Paulus se bediening twee teikengroepe het, naamlik  ongelowiges en gelowiges. Sy bediening aan ongelowiges (verse 14 – 22) is om die goeie nuus te verkondig – veral aan die nie-Jode. Maar hy het ook ‘n bediening onder gelowiges gehad (vers 23 – 33) – om hulle behoeftes te hanteer.

Elke gelowige het ‘n bediening vir gelowiges en ‘n sending na ongelowiges nodig. Sy sending was nie om vir ongelowiges te sê dat hulle op pad hel toe is nie: Dit is my priesterlike taak om die evangelie van God aan hulle te bedien. Dit is goeie nuus; dit is ‘n positiewe boodskap. Hoekom doen hy dit? Om God te verheerlik. Elke keer as jy die evangelie verkondig, verheerlik jy vir God.

Met hierdie agtergrond kan ons nou na die sewe sleutels kyk:

  • ‘n Doeltreffende bediening berus op God se genade.

God het my immers in sy genade die voorreg gegee om in diens van Christus Jesus onder die heidennasies te werk (vers 16 – 17). Om vir God te werk is ‘n voorreg. God gebruik my in ‘n bediening bloot op grond van sy genade. Hy weet ek gaan foute maak, maar nogtans het Hy my gekies. God gebruik onvolmaakte mense. As Hy net volmaakte mense gebruik het, sou niks gebeur het nie. Om te sê dat jy te veel tekortkominge het om God te dien, is ‘n swak verskoning.

  • ‘n Doeltreffende bediening word op God se woord gebou

Wat is die evangelie van God wat Paulus aan die heidennasies moet bedien? Die Bybel. Die Bybel is die handboek vir bediening.  Veral in 1 en 2 Timoteus en Titus kry ons baie riglyne vir bediening. Die Bybel is ons toerusting, ons gids en ons instrument.

  • ‘n Doeltreffende bediening word ter verheerliking van God gedoen

Bediening is nie daar om ‘n persoon te bevorder nie. In Christus Jesus is ek trots op wat ek in diens van God verrig. Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as oor wat Christus deur my tot stand gebring het. God gebruik mense om dinge te doen wat Hom verheerlik.

  • ‘n Bediening wat deur God geseën word, word in God se krag gedoen.

Deur kragtige tekens en wonders, in die krag van die Gees van God gedoen. Onthou dat Jesus die wingerdstok is en ons die lote. Sonder Hom kan ons niks doen nie: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here, die Almagtige (Sagaria 4:6).

  • ‘n Doeltreffende bediening wat deur God geseën word, word volgens God se doel beplan

Ek het my eer daarin gestel om die evangelie te verkondig waar die mense nog nie van Christus gehoor het nie. Paulus het planne gemaak – hy beplan om na Spanje te gaan. Mense dink om te beplan is nie Christelik nie, maar dit is dwaas om nie te beplan nie.

  • ‘n Suksesvolle bediening word deur God se mense ondersteun

Paulus praat hier spesifieke van geldelike ondersteuning maar ‘n doeltreffende bediening word op baie verskillende maniere deur God se mense ondersteun.

  • ‘n Doeltreffende bediening word deur gebed gesteun.

Stry saam met my deur vir my te bid. As ek vir iemand en sy bediening bid, is ek deel van daardie bediening.

Hier is sewe sleutels wat ons met groot vrug kan gebruik.




‘n Nuwe Kategismus: Vraag 44

But we should all quit if we thought that staying meant spending the rest of our productive lives running a big church rather than making a big difference – Andy Stanley

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 44

Vraag:  

Wat is die doop?

 

Antwoord:

Die doop is die was met water in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees; dit verwys na en verseël ons aanneming in Christus, ons reiniging van sonde en ons toewyding om aan die Here en sy kerk te behoort. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

 

 

Skrifgedeelte:

Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees (Matteus 28:19)

 

Kommentaar:

Die gemeenskap waarin die Christen by sy doop geroep word, is nie ‘n kollektief nie, maar ‘n liggaam. Dit is inderdaad daardie liggaam waarvan die familie op die natuurlike vlak ‘n beeld is. As enigiemand daarheen kom met die wanindruk dat lidmaatskap van die kerk lidmaatskap in die vals moderne sin – ‘n samekoms van mense asof hulle pennies is – is, sal hy by die drumpel reggehelp word – hy sal ontdek dat die Hoof van hierdie liggaam so anders as die minderwaardige lidmate is dat hulle geen kenmerke met Hom deel nie behalwe vir die analogie nie.  Ons word vanaf die begin opgeroep om as skepsels met ons Skepper te verenig, as sterflinge met die onsterflike, as verloste sondaars met die sondelose Verlosser. Sy teenwoordigheid, die interaksie tussen Hom en ons, moet die oorweldigende dominante faktor in die lewe wat ons in die liggaam leef, wees. Enige begrip van Christelike gemeenskap wat nie primêr gemeenskap met Hom beteken nie, is nie aanvaarbaar nie.

 

Hierdie kommentaar is deur C. S. Lewis geskryf. Hy was lektor in Engelse literatuur aan die Universiteit van Oxford en professor van Engels aan die Universiteit van Cambridge. Hy skryf literêre kritiek, kinderliteratuur, fantasieliteratuur, sowel as teologie. Sy bekendste werke is Mere Christianity, The Srewtape Letters en The Chronicles of Narnia. Hy was ‘n lidmaat van die Anglikaanse Kerk. Sy bekering was deur sy vriend en kollega aan Oxford, J. R. R. Tolkien beïnvloed

(New York: HarperCollins, 2001), 166.

 

Verdere leesstof:

 “Vocation” en “Baptism” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

 

Gebed:

Mag God ons oë open en aan ons die sekerheid gee dat ons ware gelowiges is, weergebore, gebore uit die Gees van God en daarom kinders van God, erfgename van God en daarom mede-erfgename met Christus.

 

Hierdie kommentaar is deur David Martyn Lloyd-Jones (1899–1981) geskryf. Hy was ‘n Walliese geneesheer en Protestantse predikant. Hy word veral vir sy prediking en onderrig van dertig jaar in Westminster Chapel in Londen onthou. Hy sou maande, selfs jare, gebruik om ‘n hoofstuk in die Bybel vers vir vers uit te lê. Sy bekendste publikasie is sy reeks kommentare op Romeine – veertien volumes.

Hierdie gebed kom uit Compelling Christianity (Wheaton: Crossway, 2007), 149.

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.