Teleurstelling en kla

We know that the best performers usually build the biggest churches, but not necessarily the healthiest ones – Andy Stanley.

 Teleurstelling en kla

Doen alles sonder kla of teëpraat (Filippense 2:14).

In ‘n artikel in Psychology Today (1 Julie 2003) sê die skrywer, Ellen McGrath dat terneergedruktheid aansteeklik is. Dit kan veral in ‘n huishouding posvat – dit spring van die een lid van die familie na die ander. So kan die hele gesin terneergedruk word.

 

Kla en teleurstelling is ook aansteeklik en word sosiaal oorgedra. In Numeri 11 lees ons van twee geleenthede tydens Israel se lang reis deur die woestyn. In Numeri 11:1 kla die volk en verwyt die Here vir hulle swaarkry. As ons na die Here se reaksie kyk, was daar dalk iets meer teenwoordig.  Die Here word kwaad, stuur ‘n vuur en ‘n deel van die kamp het afgebrand. Waarskynlik was die primêre oortreding hulle hardkoppigheid.

Die tweede klagte was oor hulle spyskaart. Hulle was moeg om elke dag manna te eet – hulle kry ‘n onweerstaanbare lus vir vleis. Hierdie ontevredenheid sprei mettertyd deur die hele kamp. Dit beïnvloed selfs vir Moses: As U so met my wil maak, kan U my maar gerus om die lewe bring as U my goedgesind is. Moses keur nie die optrede van die volk goed nie: dit was ook verkeerd in Moses se oë. In plaas daarvan dat hy die volk blameer, lyk dit asof hy God verantwoordelik hou: Waarom behandel U my so sleg.

Van Job het ons geleer dat God groot genoeg is om al ons klagtes te hanteer. Die gees waarin ons kla is ook vir God belangrik. Hoekom? Want ons woorde beïnvloed ook ander mense. Ons moet vir God vra om ons die vermoë te gee om ons woorde te weeg voor ons hulle uitspreek.




Hoekom hoor ons so min van die Bybel in ons kerke?

If you want to know what people mean by what they say, watch what they do – Andy Stanley

Hoekom hoor ons so min van die Bybel in ons kerke?

It is well and good for the preacher to base his sermon on the Bible, but he better get to something relevant pretty quickly, or we start mentally to check out.”  Mark Galli het hierdie opmerking gehoor. Dit is ‘n verbasende en tragiese verwysing na moderne kerkwees – ongeduld met die woord van God. Die kerk word toenemend ongeduldig met en weerstandig teen die lees en prediking van die Bybel. Ongelukkig is daar ‘n mate van waarheid in die opmerking.

 

 Leraars is bang dat te veel verwysing na die Bybel sal veroorsaak dat mense nie langer sal luister nie. In baie gemeentes word die Bybel skaars tydens eredienste gelees. Preke fokus op die lidmate se bekommernisse. Die uitleg van die Bybel het plek gemaak vir mense se bekommernisse. Die gesag van die Bybel word ingesluk deur die gesag van die gemeente se bekommernisse.

 Ons leef in ‘n tyd waar mense fokus op hulle behoeftes, wense en hoop – tot nadeel van ander en beslis tot nadeel van God. Ons hou nie daarvan as die prediker die hele tyd sy materiaal aanbied nie … al kom dit uit die Bybel. Ons wil vrae vra oor dit wat ons bekommer, anders voel ons die preek het niks vir ons gesê nie.

 Galli sê dat die prediker by die Bybel kan begin, maar hy moet vinnig beweeg na die dinge waarin hulle belangstel … soos onsself. ‘n Goeie voorbeeld van Bybelse prediking kry ons in Nehemia 8:1 – 8. Die hele volk kom bymekaar en Esra lees vir hulle uit die wetboek van Moses – die aandag van die hele gemeente was by die wetboek. Die Leviete het die wet aan die gemeente verduidelik terwyl die volk daar staan. Esra en sy mense staan op ‘n houtverhoog voor die mense. Hulle lees die boek en daarna verduidelik hulle dit vir die mense. Die gemeente ontvang die woord in nederigheid. Die patroon is duidelik: die Bybel is gelees, verduidelik en ontvang. Die doel van die byeenkoms was duidelik: om die voorlesing uit die Bybel te verduidelik.

 In baie gemeentes word die Bybel feitlik nie meer gelees nie. Die lidmate – oud en jonk – moet die voorlesing hoor. Daarna moet dit uitgelê en toegepas word. Dit is nie genoeg om ‘n versie as afspringplek vir die preek te gebruik nie. Ongeduld met die woord van God kan verduidelik word as ongeduld met God self.




Is daar ‘n verband tussen dankbaarheid en blydskap?

. —R.C. Sproul

Is daar ‘n verband tussen dankbaarheid en blydskap?

Robert Emmons, waarskynlik die wêreld se bekendste navorser oor dankbaarheid, bevind dat dankbare mense gelukkiger, meer energiek, meer optimisties, meer simpatiek en meer vergewensgesind is, Hulle is ook miner materialisties, minder terneergedruk, minder angstig en minder jaloers. Hulle is meer tevrede met hulle lewens en selfs hulle gesondheid is beter.

 

Hoekom is daar so ‘n sterk verband tussen dankbaarheid en blydskap?

  • Dankbare denke bevorder ons waardering vir positiewe lewensondervindings. Deur dankbaar vir die gawes in jou lewe te wees, verkry jy maksimale tevredenheid en vreugde uit jou huidige omstandighede.
  • Deur dankbaarheid uit te spreek bevorder jy vertroue. As jy besef hoeveel ander mense vir jou gedoen het en wat jy bereik het, voel jy meer vertroue.
  • Dankbaarheid help mense om spanning en trauma te hanteer. Die vermoë om jou lewensomstandighede te waardeer stel jou in staat om negatiewe ondervindings positief te interpreteer.
  • Deur dankbaarheid uit te druk moedig jy morele gedrag aan. Dankbare mense is meer geneig om ander te help. Hulle is ook minder gefikseer daarop om meer dinge te kry.
  • Dankbaarheid help ons om sosiale bande te bou. Dit versterk bestaande verhoudings en ontwikkel nuwe verhoudings. ‘n Dankbare persoon is ‘n meer positiewe persoon en mense hou meer van positiewe persone.
  • Dankbaarheid verhoed dat ek my met ander vergelyk. As jy waarlik waardeer wat jy het, is jy minder geneig om jou met ander mense te vergelyk.
  • Dankbaarheid is onverenigbaar met negatiewe emosies. Dit verminder gevoelens van bitterheid, kwaadwees, ens. Dit is moeilik om skuldig te voel as jy dankbaar is.

Moet ons nie dalk ‘n bietjie dankbaarder wees nie. Dit het voordele op allerhande terreine.




Is die evangelies mites en legendes?

 ”Common sense may be more common than sense. R.C. Sproul Jr.

Is die evangelies mites en legendes?

Dit is ‘n baie gewilde teorie by ongelowiges. Hulle glo dat Jesus ‘n goeie persoon en uitstaande Leermeester was. Daar is ten minste vier redes waarom die evangelies nie mites en legendes is nie:

  • Die evangelies is te kort na die gebeure geskryf. Die evangelies is 20 – 30 jaar na Jesus se dood geskryf. (Die evangelie van Johannes is later geskryf.)  Dit is te gou vir ‘n mite om die ware verhaal te vervang. Die vroeë Christene het die nagmaal gevier – nie om oor hulle Leier se dood te treur nie, maar om ‘n oorwinning te vier. Nee, hierdie Christene het van die begin af geglo dat Jesus waarlik uit die dood opgestaan het.
  • Die inhoud is te teenproduktief om ‘n legende te wees. Die apostels word voortdurend daarvan beskuldig dat hulle nie leer nie. As jy ‘n legende skryf, sou jy mos nie jouself as dwaas teken nie. Ons lees dat Jesus vir Petrus as Satan beskryf. Hy sou nooit daaroor geskryf het as Jesus dit nie gesê het nie. Die evangelies sê dat vroue die eerste mense was wat Jesus na sy opstanding gesien het. ‘n Vrou se getuienis is nie destyds aanvaar nie. As jy die waarheid van jou aanspraak wil bewys, sal jy beslis nie vroue as jou eerste getuies noem nie. Hoekom doen die skrywers dit dan? Want dit is wat gebeur het.
  • Die literêre vorm van die evangelies het te veel besonderhede vir ‘n legende. In Markus 14 is die spanning besig om op te laai. Jesus word in Getsemane gevange geneem. En dan vertel Markus vir ons van ‘n jongman wat kaal weggehardloop het. Dit lyk vir ons na onnodige besonderhede – iets wat ons nie in ‘n legende sou kry nie.
  • Die boodskap is te kosbaar om ‘n legende te wees. Die boodskap van Jesus se kruisdood en opstanding het nie enige mag of prestige vir die apostels beteken nie. Inteendeel, baie van hulle word doodgemaak vir hulle geloof. Jy gaan tog nie ‘n legende fabriseer as jy weet  dat jy ‘n pynlike en vernederende dood sal sterf nie. Waar sou Petrus wat die lewende Jesus verloën het die moed gekry het om vir ‘n dooie Jesus  te sterf?

 

Ons moenie sommer blindweg glo nie. Glo vir dieselfde rede as wat die vroeë Christene geglo het: omdat jy oortuig is die getuienis van die apostels is waar. Jesus het waarlik opgestaan en as Hy lewend is, verander dit alles.