Wettisisme – vyf kenmerke

If you are never born again, you will wish you had never been born at all. —J.C. Ryle

Wettisisme – vyf kenmerke

[Wettisisme = oordrewe, streng na die wet – HAT]

Hier is vyf kenmerke van mense wat wetties is.

  • Munt uit in die sigbare aspekte van geregtigheid

Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien … Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader (Matteus 6:5 – 6).

As jy wetties is, is jy baie bekommerd oor wat ander mense van jou dink – meer as oor wat God sien. Wettiese mense se selfwaarneming word deur hierdie spieël, wat hulle self gemaak het, bepaal.

  • Hulle fokus op die makliker gebooie van God

Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet ‘n mens doen en die ander nie nalaat nie (Matteus 23:23). Die wettiese persoon rook nie, drink nie, vloek nie, woon eredienste gereeld by, hou gereeld stiltetyd … Alles baie belangrike dinge, maar nie die moeilikste dinge om te doen nie.

  • Hulle volg die letter van die wet

Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank.’  Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur (Matteus 5:21 – 22)

Jy mag nie moord pleeg nie – ons tik hierdie gebod met ‘n regmerkie af. Maar Christus sê dat hierdie gebod ‘n dieper betekenis het – die emosies wat tot moord aanleiding mag gee, is net so belangrik. Die wettisis kyk net na die letter van die wet om hulle geestelikheid te evalueer. Doen ons dit lyk ons onskuldig. Kyk ons egter na die onderliggende beginsels lyk dinge nie goed nie.

  • Hulle verwaarloos dié belangrikste opdragte

Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet ‘n mens doen en die ander nie nalaat nie. Blinde leiers! Julle skep die muggie uit die beker uit, maar julle sluk die kameel in  (Matteus 23:23 – 24).

Die wettisis doen die klein dingetjies, maar sien glad nie die kameel raak nie. Hulle verwaarloos die dinge wat die swaarste weeg: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Die kameel wat hulle insluk, is dinge soos sake van die hart – trots, jaloesie, haat en begeertes, dinge wat hulle hart vul. Hulle oordeel ander volgens die muggies.

  • Hulle het ‘n verdraaide beeld van ander

Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal (Matteus 7:5).

Die wettisis wys gedurig ander mense tereg. Hoe meer hulle mense teregwys, hoe beter lyk hulle – altans so dink hulle. Natuurlik moet ons tereggewys word; natuurlik moet ons vriende vir ons sê as ons verkeerd optree. Die wettisis het geen verhouding met die persoon wat hy teregwys nie. Die dinge waaroor hy jou teregwys, is dinge, wat as jy dit navolg jou meer soos hom sal laat lyk – nie meer soos Jesus Christus nie. Hulle trots en selfsugtigheid  veroorsaak dat hulle die wêreld nie duidelik sien nie.

 Die probleem is dat wettisisme nie plek het vir hoop, genade en barmhartigheid nie. Daar is net standaarde wat maar swak is. Wat red ons van wettisisme? As ons in ons gebrokenheid voor Jesus Christus staan. Dan kan ons ander help.

 




Kan ons iets by boere leer?

Don’t believe everything you think. You cannot be trusted to tell yourself the truth. Stay in The Word. —Jerry Bridges

Kan ons iets by boere leer?

Greg Stier van Dare 2 Share Ministries, wat veral met tieners werk, wys daarop dat Jesus die beeld van ‘n boer gebruik het toe Hy aan sy dissipels vertel het hoe om meer doeltreffend te evangeliseer.

‘n Saaier het eendag gaan saai (Markus 4:3). Die gelykenis van die saaier is ‘n kragtige gelykenis oor hoe ons doeltreffend kan saai en resultate kan sien. In hierdie gelykenis leer ons ten minste drie dinge oor evangelisasie.

  • Hoe suiwerder die saad, hoe beter die resultate

Suiwer saad = goeie oes.  Suiwer saad moenie plantoorblyfsels, dooie of stukkende saad, onkruid, peste of siektes bevat nie. Hoe dikwels bevat ons verkondiging van die evangelie nie allerhande onkruid en gifstowwe nie. Wat veral algemeen is, is die werke plus genade mengsel. Paulus was absoluut teen die saai van hierdie soort saad: Maar al sou een van ons of selfs ‘n engel uit die hemel aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het – die vloek van God sal hom tref! (Galasiërs 1:8). Baie sterk woorde. In werklikheid sê hy, maak nie saak wie saai nie, maar as die saad nie suiwer is nie, moet dit verwerp word.

 Ons moet ons evangelieboodskap suiwer hou. Dit gaan nie oor wat ek vir God kan/moet doen nie, maar oor wat Hy reeds vir my gedoen het. Dan sal ons ‘n groter oes hê. Verlossing is genade  – dit is gratis en word deur God se genade moontlik gemaak. Ons moet net op Hom vertrou. Dit is wat saad goed, suiwer en produktief maak.

Suiwer saad = goeie oes.

 

  • Gaan vir dié wat groei en bid vir die ander

Dan is daar die mense by wie daar soos op goeie grond gesaai is, wat die woord hoor en aanvaar en vrug voortbring, party dertig-, party sestig- en party honderdvoudig (Markus 4:20)

As jy die evangelie verkondig sal sekere mense dit verwerp – die saad het op die pad geval; ander lyk asof hulle dit aanvaar het, maar verloor gou entoesiasme – die saad het op ‘n klipbank of tussen die onkruid geval. Daar is egter sommiges wat dit aanvaar en hulle versprei die boodskap aan die mense om hulle.

 Wat beteken dit vir ons? Fokus op diegene wat groei en bid vir diegene wat nie groei nie. Ons spandeer so dikwels die meerderheid van ons tyd aan diegene waar groei nie plaasvind nie. Ons moet fokus op diegene wat gereed is om te groei. Dit is wat Jesus gedoen het. Hy het die skares bedien, maar sy lewe en tyd in sy dissipels belê. Die gevolg is ‘n oes wat wêreldwyd ontplof het – lees net Handelinge.

  •  Hou aan saai

As saaiers van verlossing is ons taak om aan te hou saai. Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei (1 Korintiërs 3:6 – 7). Ons saai, ons gee water, maar God laat groei. Ons verkondig Christus, ons leer die waarheid, maar God laat groei en vermeerder.

 

Hoe getrou is ons om te saai? Wanneer laas het jy ‘n handvol saad gegryp en dit in jou buurt of skool of werkplek uitgegooi? Dra die goeie nuus uit. Saai die goeie saad. Doen dit met liefde, teerheid en respek en kyk hoe die saad begin groei.




Martin Luther en die kerk

Man’s first faculty is forgetting – Albert Camus

Martin Luther en die kerk

Een van die strydpunte tydens die Hervorming was die kerk: Wat is die kerk? Die antwoord: Die gemeenskap van die heiliges/gelowiges. Dit lei tot ‘n verdere vraag: Maar hoe kan ‘n arm verwarde persoon weet waar om sulke mense te kry? Luther identifiseer sewe tekens om hierdie mense te help om ‘n ware kerk te identifiseer:

 

  • Hulle besit die ware Woord van God.
  • Hulle bedien die sakrament van die heilige die doop. Dit word korrek onderrig, geglo en bedien volgens Jesus Christus se opdrag.
  • Hulle bedien die sakrament van die heilige nagmaal. Dit word korrek onderrig, geglo en bedien volgens Jesus Christus se opdrag.
  • Deur die korrekte uitoefening van die sleutels. In Matteus 18 lees ons dat as ‘n Christen sondig moet hy tereggewys word. Nadat jy iemand saamgeneem het en nadat jy dit vir die gemeente gesê het en hy nie verander nie, moet jy hom as ‘n heiden en ‘n tollenaar behandel. Jesus sê dat wat die gelowiges op aarde toegesluit het, sal in die hemel toegesluit bly.
  • Deur die inseëning/wyding  en roeping van leraars en die ampte.
  • Die kerk word herken deur gebed, openbare lofprysing en danksegging aan God.
  • Deur die besit van die kruis. Gelowiges verduur vervolging en swaarkry – alle soorte beproewings; alle bose dinge van die duiwel en die wêreld om meer en meer soos hulle Hoof, Jesus Christus, te word.

Mettertyd word daar veral op die eerste drie eineskappe gefokus as die Lutheraanse verstaan van die kerk. [Luther het  On The Councils of the Church geskryf.]




‘n Nuwe Kategismus: Vraag 42

. —Thomas Brooks

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 42

Vraag:

Hoe moet God se woord gelees en gehoor word?

 

Antwoord:

Met toewyding, voorbereiding en gebed sodat ons dit met geloof kan aanvaar, in ons harte wegbêre en in ons lewens kan uitleef. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

 

Teksgedeelte:

Die hele Skrif is deur God geïnspireer, en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2 Timoteus 3:16 – 17).

 

Kommentaar:

As jy die Bybel elke dag lees, pas jy die waarheid op jouself toe? Wat is jou motief as jy die Bybel lees? Is dit net om kennis in te win sodat jy vir ander kan wys hoeveel jy weet en met hulle kan argumenteer? Of pas jy die waarheid op jouself toe?  As jy lees, sê vir jouself, “Dit is ek! Wat sê dit oor my?” Laat toe dat die Skrif jou ondersoek anders kan dit baie gevaarlik wees. Hoe meer jy weet, hoe gevaarliker is dit as jy dit nie toepas nie. Ons moet die waarheid op onsself toepas en as gevolg daarvan nederig wees. Ons moet versigtig wees dat ons nie praat asof dit slegs teoreties is nie – ek doen nie die moeite om dit op my persoonlike lewe toe te pas nie.. Mense oordeel Christus deur my en jou. Hulle sê: “Kyk na daardie Christene! … Hulle praat wonderlik as die son skyn en as dit goed gaan met die besigheid en as daar geen moeilikheid in die familie is nie. Die oomblik as iets verkeerd gaan, lyk dit asof hulle niks het nie. Hulle is selfs slegter as mense wat nie Christene is nie. Is dit die Christelike geloof? Hierdie maak ‘n logiese en regverdige afleiding.

 

 

Hierdie kommentaar is deur David Martyn Lloyd-Jones (1899–1981) geskryf. Hy was ‘n Walliese geneesheer en Protestantse predikant. Hy word veral vir sy prediking en onderrig van dertig jaar in Westminster Chapel in Londen onthou. Hy sou maande, selfs jare, gebruik om ‘n hoofstuk in die Bybel vers vir vers uit te lê. Sy bekendste publikasie is sy reeks kommentare op Romeine – veertien volumes.

“The Righteous Judgment of God” (Grand Rapids: Zondervan, 1989), 147–149.

Verdere leesstof:

 “The Interpretation of Scripture” in A Faith to Live By, deur Donald Macleod.
“Interpretation” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

 

Gebed:

Almagtige en ewige God, ons bid in die Naam van u geliefde Seun, ons Here Jesus Christus. Stuur eerstens ‘n geestelike koninkryk en ‘n geseënde evangeliebediening. Gee aan ons toegewyde predikers wat die rykdom van U goddelike Woord kommunikeer – waar en duidelik. In u genade beskerm ons teen verdeeldheid en dwaalleer. Moenie op ons ondankbaarheid fokus nie – ons het lankal verdien dat U U woord van ons af wegneem. Moenie ons so swaar straf soos ons verdien nie. Gee aan ons dankbare harte dat ons U heilige Woord liefhet, waardeer, in aanbidding aanhoor en ons lewens dienooreenkomstig verbeter. Mag ons so u Woord reg verstaan en u eise deur ons dade volbring. Mag ons in ooreenstemming met u Woord lewe en dag vir dag toeneem in goeie werke. Mag u Naam daardeur  verheerlik word, u koninkryk kom en u wil geskied. Amen.

 

 

Luther’s Prayers, geredigeer deur Herbert F. Brokering, uit die vertaling van  Charles E. Kistler (Minneapolis: Augsburg Books, 1967), 97–98.

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.