Maak die wêreld jou gemeente

Let it be understood that those who are not found living as Christ tought are not Christians, even though they profess with their lips the teachings of Christ – Justinus die Wysgeer

Maak die wêreld jou gemeente

Jesus se laaste opdrag aan sy dissipels (Matteus 28:18 – 20) is die kern van die Christelike geloof. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels. Dit beteken elke gelowige is ‘n sendeling; dit beteken die plaaslike gemeente moet sendelinge uitstuur om die boodskap van Jesus se evangelie te verkondig. Die vraag is nie: Getuig ek vir Christus nie, maar; Waar getuig en vir Christus?

 

 Het buitelandse sending nie dalk plaaslike sending benadeel nie? Baie gemeentes is doodtevrede om by te dra tot buitelandse sending terwyl hulle lidmate onkundig is oor hulle persoonlike verantwoordelikheid. Sending vir die plaaslike gemeente begin in sy plaaslike gemeenskap. Hoe beweeg ons mense buite die konteks van die plaaslike gemeente:

  • Gebed: Bid dan, die Here aan wie die oes behoort om arbeiders uit te stuur vir sy oes (Matteus 9:38).
  • Onderrig: leer die lidmate. Elke preek moet een of ander toepassing hê oor hoe ons ons geloof moet uitleef.
  • Identifiseer mense: Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het (Handelinge 13:2).
  • Vra: Wie kan Ek stuur?             Wie sal die boodskapper wees? Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my! (Jesaja 6:8).
  • Werf: Kom hier! Kom saam met My en Ek sal julle vissers van mense maak (Matteus 4:19).
  • Opvoeding: Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe (Titus 2:12).
  • Stuur: Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan (Handelinge 13:3).
  • Gee die nodige hulpbronne: sendelinge moet gereeld van die nodige hulpbronne voorsien word.
  • Terugvoering: Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam” (Lukas 10:17).
  • Beloon:mense moet beloon word vir hulle opoffering. Die leiers moet gereeld die gemeente inlig oor die sukses van die sending.

 Die Heilige Gees het aan elke plaaslike gemeente die gawes gee wat vir suksesvolle bediening benodig word. Moenie selfsugtig wees met die hulpbronne wat God voorsien nie – reik uit buite die gemeente.

 




As jy iets wil hê, moet jy daarvoor baklei

The invention of the arts, and other things that serve the common use and convenience of life, is a gift of God by no means to be despised and a faculty worthy of commendation – Johannes Calvyn

As jy iets wil hê, moet jy daarvoor baklei

‘n Algemene siening van mense vandag – as jy nie baklei nie, gaan jy niks kry nie. Mense wil meer besittings, meer mag, meer plesier hê en is bereid om enigiets daarvoor te doen. Niemand anders is belangrik nie. EK is eerste; die sterkes wen, die swakkes verloor. As jy erkenning wil hê, moet jy aggressief en kompeterend wees.

 

 Maar toe kom Jesus en Hy keer alles om: Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang (Matteus 5:5). Maar wat is sagmoedigheid? Dit beteken ek plaas ander mense eerste en myself laaste; dit beteken ek plaas God voor alles. Maar gaan ons nie baie verloor as ons dit doen nie? Miskien so ‘n bietjie, maar onthou God se belofte hier gaan oor die nuwe aarde – die ewige, volmaakte  aarde.  As ons vir hierdie aarde leef, sal ons uiteindelik alles verloor.

 Sagmoedigheid is nie swakheid nie. Beteken dit dat as ek sagmoedig is almal op my kan trap? Moses was ‘n sterk leier, maar tog lees ons van hom: Moses was ‘n uiters sagmoedige man, meer as enigiemand op die aarde (Numeri 12:3). Jesus het nie net sagmoedigheid gepreek nie … Hy het dit uitgeleef: Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart (Matteus 11:29). Tog het Hy die tempel met ‘n sweep gereinig en al die bose magte aan die kruis oorwin. Sagmoedigheid is mag, maar nie ongekontroleerde mag wat ander uitbuit nie. Dit is mag wat tot voordeel van ander beheer word.

 Hoe kry ek sagmoedigheid? Jy kan dit nie koop nie; jy kan nie besluit jy wil sagmoedig wees nie. Ons moet heel eerste ons geestelike armoede besef. As jy die aarde wil besit, moet jy dit verloor.

 




Die Romeinse triomfoptog

Prayer will make a man cease from sin, or sin will entice a man to cease from prayer – John Bunyan.

Die Romeinse triomfoptog

Hierdie optog was ‘n burgerlike en godsdienstige ritueel in antieke Rome. Die militêre oorwinning van ‘n leëraanvoerder word in die openbaar gevier. Net die senaat kon toestemming vir so ‘n optog gee. Tydens die optog dra die generaal klere wat herinner aan dié van ‘n koning. Hy ry op ‘n strydwa deur die strate, die buit en krygsgevangenes volg die strydwa.

By Jupiter se tempel offer hy aan die god. Daarna staan hy vir die res van sy lewe as triumphator bekend. By sy dood huur sy familie ‘n akteur om sy dodemasker te dra asook sy toga wat hy tydens die optog gedra het.

Tog moes  die generaal hom met waardigheid en nederigheid gedra soos iemand wat namens die senaat, die inwoners van Rome en die gode die oorwinning behaal het

Hoekom hierdie storie. Daar is nog een stukkie wat bykom. Terwyl die seëvierende generaal op sy strydwa deur die strate gery het, was daar ‘n slaaf wat in sy oor gefluister het: Memento mori – onthou dat jy sterflik is.




Kan ons iets leer by die paasfees?

He who begins by seeking God within himself may end by confusing himself with God. —B.B. Warfield

Kan ons iets leer by die paasfees?

Om ‘n maaltyd/tafel met iemand te deel, was die intiemste ding wat die mense van die Ou Testament kon doen. Dit is ‘n teken van aanvaarding en vriendskap. Maar dit was toe … wat van nou?

 

Na die die volk van die Here uit Egipte getrek het, gee die Here aan Moses en Aäron voorskrifte in verband met die paasfees (Eksodus 12:41 – 51). Die paasfees moes die Israeliete herinner aan God se beskerming en verlossing uit Egipte. Dit was eintlik die verlossing uit Egipte wat Israel in ‘n funksionele volk saamgesnoer het.

Leer ons iets uit hierdie voorskrifte wat God aan Israel gegee het oor die paasfees?

  • Dit was ‘n korporatiewe oefening – die hele volk moes jaarliks op ‘n spesifieke dag die paasfees vier. Saam moet hulle terugdink aan wat God gedoen het.
  • Gesinne is betrokke: Dit moet geëet word in die huis waarvoor dit bedoel is.
  • Deelname aan die paasfees bevestig die persoon se verbintenis en lojaliteit aan die God van Israel. Die hele gemeente van Israel is verplig om die fees te vier. Ons lees ook: Geen nie-Israeliet mag daarvan eet nie tensy hulle eers besny word.
  • Die hele volk moet hierdie fees jaarliks vier – dit herinner hulle aan wat God vir hulle gedoen het. Dit is duidelik dat bevryding meer as ‘n individuele gebeurtenis is.

Paasfees is ‘n fees vir mense wat ‘n verbondsverhouding met God vier.  Deelname sê dat jy deel is van God se mense en aan die God wat aan die hoof van daardie gemeenskap staan.

Het ons nie deel van hierdie korporatiewe en gesinsdimensies van paasfees in die nagmaal verloor nie?