Is ons aanspreeklik teenoor God?

What we call Man’s power over Nature turns out to be a power exercised by some men over other men with Nature as its instrument.” ― C.S. Lewis

Is ons aanspreeklik teenoor God?

Jesus Christus het vir ons sondes gesterf. Dit is waarskynlik die sin wat jy die meeste in die kerk gaan hoor. Maar sonde is nou nie juis iets waarvan ons moderne wêreld praat nie. Net so staan aanspreeklikheid ook sentraal in ons interaksie met God. Oor aanspreeklikheid praat ons nog minder. Wat vereis ons verhouding met God van ons?

 

‘n Goeie plek om te begin is by Miga 6. God is hier in ‘n hofsaak met sy volk gewikkel en Hy roep die hele skepping op as getuies – God kla Israel aan: Wat het Ek jou aangedoen? Hoe het Ek jou moeg gemaak? Dit is nie God wat iets verkeerd gedoen het nie, maar sy mense. Daarna herinner God hulle aan wat Hy alles vir hulle in die verlede gedoen het (vers 4 – 5).

In vers 6 – 7 is dit nie meer God wat praat nie, maar die mens. Die mens vra ‘n vraag: Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan, as ek voor die hoë God gaan kniel? Onmiddellik dink hy aan offers, olie en selfs sy eersgeborene. Ons soek altyd groot gebeure wat alles moet regstel. God soek iets eenvoudig … maar moeiliker. God vra dat ons dag na dag in aanspreeklikheid tot Hom sal lewe.

Vers 8 sê dat God verwag dat ons respek vir Hom sal hê en hierdie respek aan ander sal oordra: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. God se probleem is nie offers nie, maar die mens se bereidwilligheid om ander uit te buit.

Vers 9 – 12 klink nogal baie soos wat ons vandag in ons koerante lees. Ons leef nou nie so dat vir God vreugde gee nie. Lees ons die res van hierdie boek, sien ons dat God ons daarvoor aanspreeklik hou. Die basis van ons verhouding met God is ons aanspreeklikheid teenoor Hom.

Vers 13 – 16 beskryf God se reaksie op die hofsaak: Daarom het Ek jou begin straf; Ek het jou begin verwoes oor jou sondes. Dit is baie duidelik dat God nie sommer sonde ignoreer nie.

Soms oordeel God onmiddellik; soms wag God voor Hy reageer, maar ons bly aanspreeklik teenoor Hom.

Hoekom sou God dan omgee hoe ons leef? Lees weer Genesis 1:26 – 28: Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld sodat hy kan heers … God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. Beeld en verteenwoordiger van God – dit geld net vir die mens. God gee aan die mens die hele skepping om te bestuur. Maar ons rol in “bestuur” maak ons nie onafhanklik van God nie.

Daar is baie mense wat leef asof God nie bestaan nie – hulle wil hulle eie ding doen. Ons is gemaak om ’n verhouding met ons Skepper te hê. Dit impliseer aanspreeklikheid teenoor Hom.




Die Koninkryk van God (2)

Unlike His first coming, Jesus’ second coming will be with power and splendour. The Bible states that everyone wil see Him, and everyone will appear before Him in judgement. Simply put, He will confront every personand pronounce his or her destiny –  C. S. Lewis

Die Koninkryk van God (2)

In die vorige blog het ons gekyk na wat die koninkryk van God is. Maar hoe kom ons in daardie koninkryk? Die antwoord is tweërlei, maar dit is twee kante van dieselfde muntstuk.

  • Etiek

Hier kry ons ‘n paar uitsprake wat vir ons verwar:

 

  • Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is (Matteus 7:21).
  • Die grootste in die koninkryk is die kindertjies.

Soos die dissipels kan ons met reg vra maar wie kan dan gered word? In Markus 1:15 is daar twee woorde waaraan ons aandag moet gee:

  • Bekeer julle. Dit beteken ‘draai weg van die sonde en na God toe.’ ‘n Baie goeie beskrywing kry ons in die gelykenis van die verlore seun: Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het teen  God en teen Pa gesondig! Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners (Lukas 15:18 – 19). Hier sien ons bekering in aksie: die seun sien sy eie mislukkings; hy besef hy het misluk; hy bely sy sonde; hy vra vir en vertrou op sy pa se genade; hy los sy vorige lewe en keer terug huis toe.
  • Glo. As ek iemand glo, beteken dit dat ek hom vertrou. On in Jesus Christus te glo, beteken dat ek van Hom moet leer, maar ook dat ek op Hom vertrou en dat Hy in my woon – en dat ek daarop reageer

My leefwyse word nou deur die soeke na geregtigheid, vergifnis en my deernis teenoor armes gedemonstreer.

  • Liefde

Die koninkryk van God beteken dat daar ‘n persoonlike verhouding tussen God en myself is. Liefde is die belangrikste gebod van almal – liefde vir God en liefde vir my medemens: Ek gee vir julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is (Johannes 13:35).




Die koninkryk van God (1)

He lay in the crib so that you might stand at the altar – die Heilige Ambrosius

Die koninkryk van God (1)

Die tyd het aangebreek en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie (Markus 1:15). Wat beteken hierdie koninkryk waarna Jesus hier verwys. Kom ons kyk eers na twee aspekte van terminologie:

  • Koninkryk van God teenoor die koninkryk van die hemel wat ons veral in Matteus kry. Vroom Jode het die gebruik van God se Naam vermy en praat eerder van die hemel. Daar is dus geen verskil tussen die twee nie.
  • Koninkryk verwys altyd na ‘n gemeenskap in een of ander vorm. God se koninkryk is dus die gemeenskap waarin sy mense in vrede lewe. Ons moet nooit hierdie sosiale dimensie miskyk nie. Johannes die Doper stuur van sy dissipels na Jesus met die vraag: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag? (Lukas 7). Jesus antwoord hulle met: Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig. Die koninkryk is die plek waar God se genesing elke mens in sy regte plek sal herstel.

Die inwoners van die koninkryk van God is diegene wat Hom volg en hulle hoop op Hom vestig en deur Hom genees word. Hulle word herstelde beelde wat die heerlikheid van God weerspieël deur Hom en ander mense lief te hê. In sy koninkryk heers daar vrede en almal is welkom aan sy tafel.

Maar wanneer kom hierdie koninkryk? Jesus Christus leer vir ons dat sy koninkryk reeds hier is, maar dat dit nog nie volmaak is nie. Volledige vervulling gaan eers gebeur as Hy weer kom.

Opsomming: Die koninkryk van God is ‘n gemeenskap waarin God se wil gedoen word; waarin mense genees word om die mense wat hulle behoort te wees, te wees; waarin mense ‘n gemeenskap van vrede vorm.

Hoe gaan ons in hierdie koninkryk in? Daarna kyk ons volgende keer.




Die Messias het gekom

The living Christ still has two hands, one to point the way, and the other held out to help us along = Thomas Walter Manson

Die Messias het gekom

Johannes die Doper het gesê dat die Messias, vir wie hy die pad voorberei, met die Gees sal doop. Kom ons kyk na Lukas se hantering van hierdie saak.

Jesus Christus is gekruisig, Hy het opgestaan en verskyn aan sy dissipels. Hy wys hulle  hoe om die Skrif te verstaan. Daar staan geskrywe dat die Christus moet ly, dat Hy op die derde dag uit die dood sal opstaan en in sy Naam moet bekering en vergewing van sonde verkondig word van  Jerusalem af en verder. Dan gee Hy aan hulle ‘n belofte en opdrag: En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is (Lukas 24:49). Jesus Christus gaan voorsien wat Johannes die Doper lank gelede geprofeteer het – die Gees van God. Deur die Gees gaan God sy gemeenskap bemagtig om sy pad te loop.

 

Later skryf Lukas: Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ‘n paar dae met die Heilige Gees gedoop word (Handelinge 1:4 – 5) – herinner aan wat Johannes die Doper gesê het.  Die teken van die nuwe tye van God se teenwoordigheid by die mense kry alles in die belofte van die Heilige Gees gestalte.

In Handelinge 2 lees ons eerstens van die uitstorting van die Heilige Gees en daarna Petrus se toespraak. Hierdie toespraak is belangrik, want dit sê vir ons wat hierdie vroeë apostels verkondig het: God se belofte van die Heilige Gees. Op hierdie pinksterfees is die groot besprekingspunt die uitstorting van die Heilige Gees en die aanbreek van ‘n nuwe tyd vir God se kinders op aarde. Die hoogtepunt is vers 36: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak.

Die eerste preek van die vroeë kerk praat van Jesus Christus wat die Heilige Gees gee om die verhouding tussen God en mense te herstel. Nou 2 000 jaar later is ons nie meer verbaas oor hierdie wonder nie. Ons is nie meer verwonderd  oor die Skeppergod wat na opstandige mense afbuig nie. Is dit nie weer tyd om verbaas te staan oor hierdie wonder nie?