Johannes die Doper

We ought to read the Scriptures with the express design of finding Christ in them – Johannes Calvyn

Johannes die Doper

Johannes is in die woestyn. Hy gaan deur die hele Jordaanstreek en verkondig:  Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe (Lukas 3). Die mense kom in groot getalle na hom toe om gedoop te word. Nou begin die mense wonder: Is Johannes nie miskien die Christus nie? Maar Johannes antwoord: Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.

 

Die Jode het geglo dat Johannes dalk die Christus mag wees. Johannes ontken dit. Hoe sal ons dan weet of die nuwe tyd– die tyd van die Messias – aangebreek het? Is daar ‘n teken wat ons kan help?  Na Johannes kom die Messias en ons sal weet dit is Hy, want Hy doop mense met die Heilige Gees. Esegiël het reeds gesê Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom  (36:27). Jesus kom nou om hierdie belofte te vervul.

Ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hierdie is ‘n merkwaardige stelling:

  • Johannes was nie sommer enige mens nie. Jesus sê van hom: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter as Johannes is nie (Lukas 7:28). Selfs Hy kan nie die Messias se skoene losmaak nie.
  • Daar was streng reëls oor Joodse slawe. Die een ding wat ‘n Joodse slaaf nie mag gedoen het nie, was om sy eienaar se skoene uit te trek nie. Dit is gewoonlik die voorloper tot die was van die eienaar se voete. Daarvoor moes ‘n nie-Joodse slaaf gebruik word. Dit wys vir ons dat die verskil tussen Johannes en die Een wat nog moet kom enorm groot was – die kloof tussen Hom en die profeet was wyd en diep.

Die doel van die Heilige Gees is om die verhouding tussen God en die mens weer te herstel. God kom in ons lewens en herstel die verhouding en ons word deel van sy huisgesin. Hierdie belofte – die herstel van ons verhouding met God en God se teenwoordigheid – loop soos ‘n goue draad dwarsdeur die evangelie.




Die kerk en die gemeenskap

This is what we should in short seek in the whole of Scripture: truly to know Jesus Christ, and the infinite riches that are comprised in him and are offered to us by him from God the Father – Johannes Calvyn.

Die kerk en die gemeenskap

Die kerk op aarde is in ‘n stryd gewikkel – ‘n geestelike stryd. Die plaaslike gemeente moet die gemeenskap vir God wen. Vir so ‘n stryd het ons ‘n strategie nodig. Rick Warren beskryf sewe aspekte van hierdie strategie.

  • Daar moet eenheid wees. Die hele liggaam (die gemeente) moet saamgebid wees in visie, doel en waardes. Gemeentes begin dikwels bedienings om spesifieke behoeftes te hanteer, maar dink nie daaraan hoe dit ander bedienings mag beïnvloed nie. Alle bedienings moet op dieselfde bladsy wees – hulle moet dieselfde operasionele plan volg.
  • Die gemeente moet nie rigied in die uitvoering van sy plan wees nie. Moenie elke klein besonderheidjie beplan nie Jy het langtermyn doelwitte nodig, maar nie ‘n langtermyn strategie nie. Hoekom nie? Jy weet nie hoe jou gemeenskap en die kultuur  gaan verander nie. Die gemeente moet kan aanpas.
  • Die gemeente moet mense bemagtig om hulle eie besluite te kan neem – die mense wat die bediening doen, moet hulle eie besluite neem.
  • Die gemeente moet sy mobiliteit behou. Hoe groter die gemeente, hoe meer strukture, hoe stadiger beweeg die gemeente.
  • Die gemeente moet sy kommunikasievaardighede opskerp. Die verhaal wat die gemeenskap van die gemeente vertel, is dikwels die negatiewe ondervindings wat hulle beleef het. Ons moet altyd onthou dat alles wat ons in die gemeente doen, is kommunikasie.
  • Die gemeente moet die “vyand” se swakhede ken. Ons sien dat mense vir plesier, geld en sukses leef – dit is Satan se strategie. Wat ons vergeet, is dat aan die einde van hierdie vrugtelose soektog mense honger en dors is vir ware antwoorde. Dan moet ons reg wees om Jesus as die antwoord voor te stel. Op een of ander stadium besef mense dat hulle verkeerd gelewe het. Dan moet ons hulle help om te ontdek dat Jesus die enigste Verlosser is.
  • Die gemeente moet redelike risiko’s aanvaar. As ons die potensiële koste van sukses bepaal het, moet die gemeente besluit of dit die moeite werd is. Aan die een kant moet ons nie sommer blindweg besluite neem nie; aan die ander kant moet ons die leiding van die Heilige Gees vertrou.

Ons glo dat die gemeente deel van die omliggende gemeenskap moet wees. Hier is ‘n paar goeie riglyne oor hoe ons dit kan aanpak.




‘n Nuwe Kategismus: Vraag 41

Upon the two hinges of faith and repentance do all the promises of the Bible stand. —George Swinnock

 

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 41

Vraag:

Wat is die ons Vader gebed?

Antwoord:

Ons Vader wat in die hemel is,

laat u Naam geheilig word;

 

10laat u koninkryk kom;

laat u wil ook op die aarde geskied,

net soos in die hemel.

11Gee ons vandag

ons daaglikse brood;

12en vergeef ons ons oortredings

soos ons ook dié vergewe

wat teen ons oortree;

13en laat ons nie in versoeking kom nie

maar verlos ons van die Bose. 

Skrifgedeelte:

So moet julle bid: Ons Vader … (Matteus 6:9)

Kommentaar:

Voel jy swak en bang? Twyfel jy of God jou gehoor het, want jy is ‘n sondaar? Hou vas aan die woord en sê: “Al is ek ‘n sondaar en onwaardig het ek die opdrag van God om te bid en sy belofte dat Hy my in genade sal hoor – nie omdat ek dit werd is nie, maar om die Here Christus se ontwil.” Hiermee kan jy die gedagtes en twyfel wegdryf en met blydskap kniel en bid, nie omdat jy dit werd of nie werd is nie, maar oor sy behoefte en sy woord waarop Hy sê jy moet bou. Veral omdat Hy in jou mond die woorde hoe en waarvoor jy moet bid, gelê het. Met blydskap kan jy hierdie gebede na Hom opstuur en in sy skoot lê. Hy kan dit dan voor sy Vader lê. Die Ons Vader-gebed, soos reeds dikwels gesê, is die beste gebed wat nog ooit uitgespreek is of wat gesê kan word. God die Vader het dit deur sy Seun gegee en op sy lippe gelê. Ons kan nie twyfel dat dit vir God vreugde gee nie. Hy wys ons in die begin tereg, beide ten opsigte van sy opdrag en belofte in die woorde ons Vader  ens. Ons moet van Hom vra soos ‘n kind sy vader vra en Hy wil hê dat ons sal vertrou dat Hy aan ons sal gee wat ons nodig het. Ons is dankbaar dat ons deur Christus sy kinders is. Daarom leef ons in ooreenstemming met sy opdrag en belofte en in die Naam van die Here Christus. Ons verskyn voor Hom in vertroue.

 

 Commentary on the Sermon on the Mount, vertaal deur Charles A. Hay (Philadelphia: Lutheran Publication Society, 1892), 246, 253–254.

 

Verdere leesstof:

 “Hope” en “The World” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

 

Gebed:

Our Father which in heaven art,
Thy name be always hallowed;
Thy kingdom come, thy will be done;
Thy heavenly path be followed
By us on earth as ’tis with thee,
               We humbly pray;
And let our bread us given be,
               From day to day.
Forgive our debts as we forgive
Those that to us indebted are:
Into temptation lead us not,
But save us from the wicked snare.
The kingdom’s thine, the power too,
               We thee adore;
The glory also shall be thine
               For evermore.

Dit kom uit  “Upon the Lord’s Prayer” in Divine Emblems (London: Bicker and Son, 1867), 14.

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

We encourage you to use and share this material freely—but please don’t  charge money for it, change the wording, or remove the copyright information. Ek het slegs die gedeeltes vertaal.




Verlossing en God se soewereiniteit (3)

Jesus is the focus of Scripture. The Bible is not a random collection of religious documente –  John Stott

Verlossing en God se soewereiniteit (3)

Christopher J. H. Wright (Salvation belongs to our God) het ‘n uitstekende oorsig van verlossing gegee. Ons kyk vandag verder na Verlossing en God se soewereiniteit.

Mense kom tot verlossing deur die storie van die Bybel te hoor en in Jesus Christus te glo. Wat nou van mense wat nog nooit van Jesus Christus gehoor het nie? Wat van Abraham wat  lank voor Jesus Christus geleef het? Is ons verlossing deur Jesus Christus of deur ons kennis van Hom?

 

Kan mense wat nog nooit van Jesus Christus gehoor het nie, verlos word? Daar is twee groepe wat glad nie hier ter sprake is nie – hulle kan nie verlos word nie.

  • Mense wat glo dat hulle op ander maniere deur ander godsdienste verlos kan word.
  • Mense wat van Jesus Christus gehoor het, maar Hom verwerp het.

Op die vraag of mense wat nog nooit van Jesus Christus gehoor het nie, verlos kan word kry ons een van twee antwoorde wat lynreg teenoor mekaar staan:

  • Dit is heeltemal onmoontlik; daar is geen hoop op verlossing nie

Mense wat dit glo verwys dikwels na twee verse: Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander manier op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie (Handelinge 4:12); Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie (Johannes 14:6). Hiervolgens is Jesus Christus die enigste pad  na verlossing. Mense wat nog nooit van Hom gehoor het nie, kan dus nie verlos word nie.

  • Daar is wel hoop op verlossing

Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moet rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie (Handelinge 17:26 – 27). Miskien sal dit help as ons hierdie groep verder onderverdeel.

Wat van gelowiges in die Ou Testament? Hulle het nie geweet van die geskiedkundige Jesus Christus nie. Hulle verlossing was as gevolg van God se inisiatief en sy genade. Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek (Romeine 4:3). Dieselfde geld ook vir nie Jode soos Ragab, Rut, Naäman:  Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo (Galasiërs 3:8). Hierdie mense is verlos al het hulle lank voor die koms van Jesus Christus geleef.

Wat van mense vandag wat nog nooit van Hom gehoor het nie? Mense wat glo dat daar wel hoop op verlossing is, glo dat God in sy genade hierdie mense gaan verlos. Net God ken die harte van hierdie mense.

Ons staan voor twee keuses. Wat kies ons? Dwarsdeur hierdie reeks oor verlossing het die klem geval op wat God in die geskiedenis gedoen het. Dit is herhaaldelik beklemtoon dat die normale manier van verlossing is dat ons Jesus Christus ken en in Hom glo. Kan ons aanvaar dat God onwillig is (of nie die vermoë het) om mense op enige tyd te verlos nie?  Kan ons die soewereine God se genade ten opsigte van verlossing inperk? Ons moet toelaat dat God God kan wees. As ons sê dat verlossing aan God behoort beteken dit ook dat Hy kan kies wie Hy wil verlos.

Die Here ken dié wat aan Hom behoort (2 Timoteus 2:19).