Verlossing: verlede. hede. toekoms

Anyone who does not believe in miracles is not a realist – David Ben-Gurion

Verlossing: verlede. hede. toekoms

‘n Deel van die verlossingsverhaal lê in die verlede – dit het in die geskiedenis gebeur en kan nie verander word nie. ‘n Deel van die verlossingsverhaal lê in die hede – dit is ‘n voortdurende proses waarin ons God vra om ons te verlos. ‘n Deel van die verlossingsverhaal lê in die toekoms – die wêreld het nog nie verander in die plek wat God bedoel het dit moet wees nie – ons kyk vooruit na die voltooiing van die verhaal.

 

  • Die verlede

Dit is iets wat in die verlede gebeur het, maar wat steeds vir ons gevolge – in die hede – inhou. Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof (Efesiërs 2:8). Dit mag ook verwys na iets wat God in die verlede gedoen en afgehandel het. Ons kyk daarna met dankbaarheid. Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ‘n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? (Romeine 8:24)

  • Die hede

Paulus sien verlossing as ‘n voortgaande proses. My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer (Filippense 2:12 – 13). Dit beteken nie dat verlossing iets is wat ons kan doen nie, maar dat ons dit daagliks prakties in ons lewens moet uitleef. Verlossing beïnvloed ons lewens en lewenstyl. Ons moet leef soos mense wat God se verlossing in ons lewens aanvaar. Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry (1 Petrus 2:2). Ons groei nie om meer verlos te word as wat ons reeds is nie. Nederige dissipelskap en toenemende volwassenheid is die vrugte en bewys van verlossing in ons huidige lewens.

  • Toekoms

Die mense volg vir Petrus en Johannes na die Pilaargang van Salomo. Petrus spreek hulle toe en sê onder andere: Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis. En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom en sal Hy Jesus stuur, wat vooraf vir julle as die Christus aangewys is. Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het (Handelinge 3:19 – 21). Paulus sê basies dieselfde: Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag (Filippense 3:20). Gelowiges kyk steeds vooruit na Jesus Christus se wederkoms.




Verlossing soos Paulus dit sien

We are not defenders of the Jesus story, but participants with him in his story –  Mike McNichols

Verlossing soos Paulus dit sien

Die Here het julle lief, en God het julle uitverkies om van die eerstes te wees wat gered word. Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het en deurdat julle die waarheid glo. Hy het julle hiertoe geroep deur die evangelie wat ons aan julle verkondig het, sodat julle deel kan kry aan die heerlikheid van ons Here Jesus Christus (2 Tessalonisense 2:13 – 14)

Hierdie verse is aan die gelowiges in Tessalonika geskryf, maar geld vir alle gelowiges. Wat sê Paulus hier?

 

  • God het ons lief.
  • God het ons uitverkies.
  • God het ons verlos/gered.
  • Die Heilige Gees het ons geheilig.
  • Ons is na geloof geroep in die waarheid van die evangelie.
  • Ons is bestem om in die heerlikheid van Jesus Christus te glo.

Dit is opvallend dat Paulus se konsep van verlossing gevorm is deur die verlossingsgeskiedenis van Israel in die Ou Testament. Hierdie geskiedenis word ‘n werklikheid in die evangelie van Jesus Christus.




God se verbond met Abraham

We can say where the Church is, but not where she is not – Paul Evdokimov

God se verbond met Abraham

Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys. Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees. Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees (Genesis 12:1 – 3. Ons kry ander bewoordings en uitbreidings in Genesis 15, 17 en 22).

Is die Ou Testament nog van waarde? Kan ons nog iets leer uit die Ou Testament?

Christopher J. H. Wright (Salvation Belongs to Our God) wys daarop dat hierdie verbond wat God met Abraham gesluit het die begin van die verhaal van God se verlossingsgeskiedenis met die mens is. Hierdie is ‘n verhaal wat dwarsdeur die Bybel loop.

Hierdie verbond verbind ons verstaan van verlossing met twee belangrike sake:

  • Ekklesiologie – Abraham is die vader van die gemeenskap van God se kinders. Fisies is hy die voorsaat van die Israeliete van die Ou Testament; geestelik is hy die voorsaat van almal – uit alle nasies – wat deur Jesus Christus verlos is. Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal, soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie gemaak.” (Romeine 4:16 – 17). Hierdie vers beklemtoon die essensiële eenheid van almal wat die geloof van Abraham deel.
  • Sending. Hierdie verbond sluit in God se belofte dat deur Abraham al die volke van die aarde geseën wees. Almal wat in Jesus Christus glo, is aangestel as God se agente om God se seën aan ander oor te dra.

Wat ook duidelik uit hierdie verbond blyk, is dat verlossing nie individueel kan wees nie:

  • Bybelse verlossing is nie iets wat ek by myself kan geniet nie – verlossing maak my deel van God se geloofsgemeenskap.
  • Bybelse verlossing is nie iets wat ek vir myself kan hou nie – ek moet my seëninge met ander deel.

Kan ek vandag nog iets uit die Ou Testament leer? Hier is ‘n voorbeeld van die tydlose waarhede wat dwarsdeur die Bybel voorkom.




God is die Eienaar van ons verlossing (2)

Not only do we know God by Jesus Christ alone, but we know ourselves by Jesus Christ alone. We know life and death by Jesus Christ alone. Apart from Jesus Christ we know not what is our life, nor our death, nor God, nor ourselves – Blaise Pascal.

God is die Eienaar van ons verlossing  (2)

In die vorige blog het ons na twee aspekte van God as eienaar van die verlossing gekyk:

  • In ons verlossing staan God sentraal; en
  • God is die bron van ons verlossing.

Ons kyk nou na die derde en laaste aspek:

  • Net God kan verlos – niemand en niks anders nie.

Daar is baie mense wat daarop aanspraak maak dat hulle mense kan verlos. Dit is vals – net God kan verlos. Ons moet maar net die Ou Testamentiese profete lees.

  • God verlos as niemand anders dit kan of wil doen nie: Hy sien dat daar niemand tussenbeide tree nie … Daarom tree Hy self op en laat Hy self sy geregtigheid geld. Hy trek geregtigheid aan soos ‘n pantser en redding is die helm op sy kop (Jesaja 59:16 – 17).
  • God verlos waar voorspellers en sterrekykers nie kan nie: Laat jou voorspellers nou optree, laat hulle jou help, hulle wat die hemel opdeel en die sterre bekyk, hulle wat elke maand bekend maak wat oor jou gaan kom … Hulle kan hulleself nie red van die vlamme nie (Jesaja 17:13 – 14).
  • God verlos waar konings nie kan nie: Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ‘n mens nie; hy kan jou nie red nie (Psalm 146:3).
  • God verlos waar militêre mag nie kan nie: Dit is nie deur ‘n groot leër dat ‘n koning wen nie, en nie deur groot krag dat die held behoue uitkom nie … Dit is die Here wat sorg vir dié wat Hom eer, vir dié wat op sy mag vertrou om hulle van die dood te red (Psalm 33:16 – 18).
  • God verlos waar ander gode nie kan nie: Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie. Ek het die redding aangekondig, Ek het gered en dit laat verkondig, Ek, nie ‘n ander god onder julle nie (Jesaja 43:11 – 13)

As dit dan so is, is verlossing nie iets wat ons by godsdiens kan kry nie, kan ons dan deur alle godsdienste verlossing kry? Nee, want godsdiens verlos niemand nie – God verlos. Ons is verlos omdat God opgetree het om ons te verlos. Al wat Hy vra is dat ons Hom moet vertrou.

Ons het nou gekyk na God as die eienaar van verlossing. Volgende keer kyk ons na verlossing as God se identiteit.