Wat is die kerk? Maak dissipels (2)

There can be no dividing line between what we do for a living and whom we live to serve – Leonard Sweet en Frank Viola

Wat is die kerk?  Maak dissipels (2)

Ek gaan baie gebruik maak van Andy Stanley se boek: Deep and Wide: Creating Churches Unchurched People Love to Attend (2012).

Ons begin nou na die vyf geloofskataliste kyk.

Katalis #1: Praktiese Onderrig

Dit is nie die eerste blootstelling aan die Bybel wat mense se geloof versterk nie, maar die eerste keer as hulle verstaan wat die Bybel leer en toe hulle gehoor het wat gedoen moet word met wat hulle in die Bybel geleer het. Toe Jesus klaar was met sy bergrede lees ons: Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie (Matteus 7:28 – 29).

 

Maar hoe het Jesus se onderrig van dié van ander leermeesters verskil? Ja, Hy het met gesag en passie gepraat, maar Hy het nie net gesê wat waar is nie, maar Hy wou ook gehad het dat die gehoor op sy onderrig moes reageer: Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het … En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het (Matteus 7:24, 26). Jesus het nie net inligting oorgedra nie – Hy leer mense sodat hulle iets kan doen en hulle lewens verander. Nooit lees ons dat Hy mense teregwys weens ‘n gebrek aan kennis nie, maar wel weens ‘n gebrek aan geloof.

Praktiese onderrig wat mense dinge laat doen, is een van die primêre maniere wat God gebruik om ons geloof te laat groei. Om die woord van God te onderrig gaan nie oor dinge weet nie, maar oor dinge doen. Predikers wat “dit is wat jy moet doen” aan die einde van hulle preke byvoeg, maak ‘n groot impak op kerklos, ongelowige mense – al verstaan hulle nie die onderliggende redes nie. Mense stel meer belang in wat werk as in wat waar is. As jy die waarheid uitdeel sonder om vir mense te sê watter verskil dit gaan maak, sal hulle jou as irrelevant beskou. Kyk weer na die bergrede. Watter woord gebruik Jesus oor en oor: Geseënd. Dit is wat mense graag wil hoor: wat moet ek doen om geseën te word?

Die inhoud van ons preke/gesprekke met kerklos mense moet nie net waar wees nie, maar moet hulle ook help. Die waarheid met “die volgende stappe” veroorsaak dat mense se geloof groei. Ons moet gedurig die volgende drie vrae vra:

  • Wat wil ek hê dat hulle moet weet?
  • Wat wil ek hê dat hulle moet doen?
  • Wat moet ek doen om verdere stappe vir hulle duidelik te maak?

Volgende keer kyk ons na die volgende katalis: Privaat dissiplines.




Wat is die kerk? Maak dissipels (1)

Your faith will not fail while God sustains it; you are not strong enough to fall away while God is resolved to hold you. —J.I. Packer

Wat is die kerk?  Maak dissipels (1)

Ek gaan baie gebruik maak van Andy Stanley se boek: Deep and Wide: Creating Churches Unchurched People Love to Attend (2012).

In Jesus se laaste opdrag aan sy dissipels sê Hy dat hulle dissipels moet maak. Onmiddellik kom twee vrae na vore: Wat beteken dit en hoe doen ons dit? Anders gestel: Hoe verseker ons dat nuwe gelowiges en “ou” gelowiges meer volwasse in hulle geloof word? Onmiddellik dink meeste mense aan ‘n program, ‘n kurrikulum en klasse. Dit maak nie noodwendig volwasse gelowiges nie. Wat gemeentes nodig het, is ‘n model wat geestelike volwassenheid fasiliteer.

Die probleem is dat as geestelike vorming nie doelgerig deel van die gemeente se aktiwiteite is nis, sal dit deur ander aktiwiteite verswelg word.

Ons wil mense in ‘n groeiende verhouding met Jesus Christus lei. Mooi, maar wat beteken dit? Wat moet groei? Geloof en daarmee saam ons vertroue in God – vertroue dat God is wie Hy sê Hy is en dat Hy sal doen wat Hy belowe het om te doen. Geloof en vertroue staan sentraal in enige gesonde verhouding. Die Christelike geloof is ‘n uitnodiging na ‘n vertrouensverhouding met God. Aan die kruis is ons sonde vergewe en word ons uitgenooi om te vertrou. Soos ons vertroue in God groei, word ons geestelik meer volwasse.

Die beste dissipelskapmodel is ‘n model wat ontwerp is om mense se geloof te laat groei. Meeste bekende modelle fokus om mense se kennis te verbeter. Dit bring ‘n nuwe vraag na vore: Wat maak die ontwikkeling van geloof moontlik? Andy Stanley identifiseer vyf sogenaamde geloofskataliste. Hulle is:

  • Praktiese onderrig.
  • Private dissiplines.
  • Persoonlike bediening.
  • Verhoudings
  • Sleutelomstandighede.

Die eerste drie vereis dat ons ‘n deel moet bydra. Ons gaan na elkeen van hierdie kataliste kyk




Wat is die kerk? Maak ons dit moeilik vir mense om deel van die kerk te wees?

Pray as if everything depended upon God and work as if everything depended upon man. Francis Cardinal Spellman

Wat is die kerk?  Maak ons dit moeilik vir mense om deel van die kerk te wees?

Ek gaan baie gebruik maak van Andy Stanley se boek: Deep and Wide: Creating Churches Unchurched People Love to Attend (2012).

Ons kan baie by die vroeë kerk leer. Baie vroeg in die geskiedenis van die kerk hoor heidene die evangelie en glo. Hulle wou by hierdie vergadering van Christene aansluit. Maar hierdie vergadering bestaan veral uit Jode. Nou was die Joodse Christene nie gereed hiervoor nie – Jesus Christus was immers hulle Messias. Mettertyd ontstaan daar gemeentes wat grotendeels uit nie-Jode bestaan. Nou die vraag: Moet jy eers ‘n Jood word voordat jy ‘n Christen kan word?

Dit gaan veral oor wat jy mag eet en die besnydenis. Om hierdie probleem op te los word ‘n groot vergadering in Jerusalem bymekaar geroep (Handelinge 15).

Nadat na al die argumente geluister is, sê Jakobus: Daarom meen ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die heidene wat hulle tot God bekeer nie. Kerke moet dit nie onnodig moeilik maak vir mense wat hulle na God wend nie. Jakobus besef die Jode se gebondenheid aan hulle tradisies – baie van hulle is deur God ingestel en word al ‘n duisend jaar gevolg. Maar hulle kon ook nie hierdie nuwe neiging – heidene wat in God glo – ignoreer nie. Hulle moes ruimte skep hiervoor – aanpas. Daarna formuleer Jakobus die besluit en dan hierdie stelling: Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê as net hierdie noodsaaklike dinge nie. Die vergadering besluit dat deelname aan die kerk tot net twee dinge beperk sal word:  wees versigtig met wat julle eet as julle Joodse broers teenwoordig is en vermy onsedelikheid.

Maar swaartekrag trek die kerk gedurig terug na ‘n godsdiens sonder genade en van wettisisme. Die boodskap is elke keer duidelik: die kerk is vir kerkmense. Kerkleiers moet seker maak dat die kerk steeds ‘n plek bly waar die nuuskieriges, die skeptici, die onoortuigdes en gebrokenes welkom voel – saam met diegene wat toegewy, ingelig en oortuig is. Maar wat bind hierdie twee groepe aan mekaar? Petrus se belydenis: U is die  Christus, die Seun van die lewende God (Matteus 16:16).`

Die les vir die kerk van vandag is duidelik:  volg Jakobus se raad – raak ontslae van alles wat dit moeilik maak vir mense om na God te draai; verkondig God se waarheid wat mense vry maak; skep gemeenskappe gekenmerk deur genade. Wees ware kerk.

Volgende keer gaan ons kyk na die opdrag van die kerk: Maak dissipels.




Wat is die kerk? Is die kerk regverdig en konsekwent?

It does not matter how great the pressure is, only where the pressure lies. Do not allow the pressure to come between you and the Lord – Hudson Taylor.

Wat is die kerk?  Is die kerk regverdig en konsekwent?

Ek gaan baie gebruik maak van Andy Stanley se boek: Deep and Wide: Creating Churches Unchurched People Love to Attend (2012).

Kerke moet regverdig en konsekwent wees. Klink logies. Maar kyk na Jesus.  Was Hy altyd regverdig en konsekwent soos ons dit verstaan? Hy gee voorkeur behandeling aan drie van sy twaalf dissipels; Hy genees net sommige mense; Hy voed nie elke honger skare nie; Hy stop in die middel van ‘n parade en nooi Homself om by Saggeus te gaan eet – hoekom Saggeus? Kyk na wat gebeur by die bad by Betesda (Johannes 5).

Daar is baie gestremdes – blindes, kreupeles en lammes –  maar Jesus loop na een man toe en genees hom – net vir hom. Jesus sê vir die ryk jongman dat hy van al sy besittings ontslae moet raak as Hy die ewige lewe wil verkry. Vir die misdadiger aan die kruis sê Hy: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees (Lukas 23:43). In Johannes lees ons dat Jesus ‘n man wat blind gebore is, genees. Net twee hoofstukke later laat Hy toe dat Lasarus sterf.

Oppas vir regverdigheid in die kerk. Regverdigheid word dikwels gebruik as ‘n dekmantel vir niks doen nie: As ek dit vir een doen, sal ek dit later vir almal moet doen. Wat sou Jesus hierop sê? “Nee jy kan nie. Ek het dit nie gedoen nie.”

Wat moet ons doen? Doen vir die een persoon wat jy wens jy vir almal sou kon gedoen het. Jy weet almal gaan nie dieselfde behandel word nie. Gemeentes wat altyd konsekwent optree se optrede kom in die pad van hulle bediening. Ons sien mense met werklike behoeftes wat weggewys word omdat die toekenning op daardie spesifieke lynitem uitgeput is.

Wat is die les wat ons moet leer? God se genade is net sigbaar as God se waarheid duidelik is. Volgende keer gaan ons kyk na die vraag: Maak ons dit moeilik vir mense om deel van die kerk te wees?