Wat is die kerk? Vir wie is die kerk?

Compassion can’t be measured in dollars and cents. It does come with a price tag, but the price tag isn’t the amount of money spent, the price tag is love –  J. C. Watts

Wat is die kerk?  Vir wie is die kerk?

Ek gaan baie gebruik maak van Andy Stanley se boek: Deep and Wide: Creating Churches Unchurched People Love to Attend (2012).

Die kerk is tog vir kerkmense – as jy soos ons glo en soos ons optree, is jy welkom om by ons aan te sluit. Ons besluit wat dit beteken om soos ‘n verloste mens op te tree. Ons is teen alles waarvoor kerklos mense is. En dan sing ons: Just as I am, poor, wretched, blind.  Iewers pas dinge nie in nie.

 

In die kerkspektrum kry ons vandag twee uiterstes:

  • In die kerk net vir verloste mense kry ons baie trotse mense. Deursigtigheid en eerlikheid is gevaarlik in so ‘n kerk. Wat kortkom is genade.
  • Die kerk is vir almal maak nie saak hoe jy glo en jou gedra nie. Verdraagsaamheid en aanvaarding is belangrik; jy kies watter dele van die Bybel jy wil aanvaar. Wat kortkom is die waarheid, want hulle glo dat daar nie iets soos die absolute waarheid is nie.

Maar wat is Jesus se benadering: Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Johannes 1:14). Net drie verse later lees ons: God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. Jesus het nie gekom om ‘n balans tussen genade en waarheid te bring nie – vol genade en waarheid. Jesus plaas nie sekere voorwaardes op genade nie – vol genade – of op die waarheid nie – vol waarheid.

Dit is maklik om ‘n kerkmodel van net waarheid te ontwikkel. Net so maklik is ‘n model van net genade. Maar Jesus gee nie vir ons  daardie keuse nie – vol genade en waarheid. Om een van hulle te los , beteken ons los wat Jesus gesê het toe Hy sy vergadering gestig het.

Moet kerke regverdig en konsekwent wees? Daarna kyk ons volgende keer.

 




Eerste Indrukke

I want to know this Jesus, though he scares me a little – John Eldredge

Eerste Indrukke

As mense na die gemeente aangestap kom, watter indrukke kry hulle van die omgewing. Onthou jy het net een geleentheid om ‘n eerste indruk te maak. Maar die fisiese omgewing maak nie net ‘n indruk nie – dit stuur ‘n spesifieke boodskap uit. Hierdie boodskap is so sterk dat die selfs dié boodskap – die preek – kan oordonder.

 

Die feit dat baie gemeentes van die tradisionele kerkargitektuur afstand gedoen het, het dit vir baie mense wat die kerk vroeër verlaat het makliker gemaak om terug te keer. Ons moenie aanvaar dat wat vir die vorige geslag aanvaarbaar en mooi was ook vir die huidige geslag aanvaarbaar en mooi sal wees nie. Die probleem is dat die plaaslike gemeente gewoonlik laaste uitvind dat hulle omgewing nie meer mense trek nie.

Elke fisiese omgewing kommunikeer iets. Hier is ‘n paar voorbeelde:

  • ‘n Netjiese en skoon omgewing kommunikeer dat jy iemand verwag – dis tog wat ons by die huis doen as ons mense verwag.
  • Goeie organisasie kommunikeer dat jy dit wat julle doen ernstig beskou – ons is besig om iets belangrik te doen. Mense glo dat as die gemeente daar waar hulle kan sien ongeorganiseerd is, is dit agter die skerms nog erger.
  • ‘n Veilige omgewing vir kinders kommunikeer dat die gemeente waarde heg aan kinders – soos jy met jou eie kinders doen.

Is dit nou werklik belangrik? Waarskynlik nie vir gereelde kerkgangers nie – dit is waaraan hulle oor die jare gewoond geword het. Maar vir mense wat vir die eerste keer ‘n erediens in die gemeente bywoon, is dit belangrik. ‘n Gemeente wat aandag aan sy omgewing gee, kommunikeer twee duidelike boodskappe vir hulle:

  • Hierdie omgewing  is belangrik vir die gemeente.
  • Julle is belangrik vir die gemeente.

Miskien gee ons nie genoeg aandag aan ons fisiese omgewing nie. Onthou: eerste indrukke is belangrik.

 




Wat is die kerk? Wat is die kerk?

Good works do not make a good man, but a good man does good works – Martin Luther.

Wat is die kerk?  Wat is die kerk?

Ek gaan baie gebruik maak van Andy Stanley se boek: Deep and Wide: Creating Churches Unchurched People Love to Attend (2012).

In Matteus 16 vra Jesus vir sy dissipels: Wie, sê die mense, is die Seun van die mens? Die dissipels sê vir Jesus wat hulle gehoor het: Johannes die Doper, Elia, Jeremia, een van die profete. Toe wou Hy by die dissipels weet wie hulle sê Hy is. Petrus antwoord dat Hy die Christus, die Seun van die lewende God is. Jesus antwoord: Jy is Petrus en op hierdie rots sal Ek my kerk bou.

 

Die Griekse woord wat hier met kerk vertaal word, is ekklesian.  Die hoeksteen/fondament van hierdie nuwe entiteit – die kerk – is die geloof dat Jesus die Christus  die Seun van die lewende God is. Twee millennia later is dit steeds die faktor wat die kerk verenig.

Daar is egter iets anders in hierdie gesprek wat ook van groot belang is. Ekklesian word hier met kerk vertaal. Die oorspronklike betekenis was ‘n vergadering of ‘n byeenkoms – burgers wat vir ‘n doel bymekaar geroep is. Dit verwys nie na ‘n spesifieke plek of spesifieke vergadering nie. Die woord verwys dus na ‘n byeenkoms van mense verenig deur ‘n gemeenskaplike identiteit en doel.

Hoekom vertaal die Bybel nie ekklesian met vergadering/byeenkoms nie? Voor Konstantyn was die aanbidding van Christene redelik informeel. Hulle het in huise bymekaar gekom, saam geëet, gesing, die Skrifte gelees, ‘n bespreking gehad en nagmaal gebruik. Later begin hierdie aanbidding elemente van die keiserlike protokol insluit: weelderige klere, kore en dramatiese vertonings. Aanbidding word formeel en hiërargies –  die gemeente word toeskouers. Daar word geboue opgerig waar die gemeente dan formeel bymekaar sou kom. Kerk word ‘n plek. Die Germaanse kulture begin die woord kirika – kerk – gebruik. En daarna word die woord algemeen gebruik. Jy kan die deure van die kerk sluit, maar nie deure van die ekklesian van Jesus nie.

 

Ons kry nou ‘n dramatiese verskuiwing in klem en rigting. Die kerk is nie meer ‘n beweging gebou op die verstaan van wie Jesus is nie – die kerk word nou ‘n plek. Wie die kerkgebou beheer, beheer die kerk en ook die Skrifte – en dus die mense. Die beweging  word nou ‘n instelling wat na binne fokus, hiërargies is en vol rituele – beslis nie die oorspronklike bedoeling nie.

Wat beteken dit alles? Kerkleiers en lidmate moet ‘n paar ernstige vrae begin vra:

  • Vergader ons of beweeg ons?
  • Maak ons ‘n meetbare verskil in ons plaaslike gemeenskap of hou ons net eredienste?
  • Is ons om ‘n roeping georganiseer of om ou bedieningsmodel  wat ons van die vorige geslag geërf het?
  • Allokeer ons hulpbronne asof Jesus die hoop van die wêreld is of dryf die kultuur van die gemeente die begrotingsbesluite?
  • Is ons ekklesian of is ons tevrede om Kerk te wees?

Nou kom ons by die tweede belangrike vraag: Vir wie is die kerk? Daarna kyk ons volgende keer.

 




Wat is die kerk? Inleiding

Thus a Christian, being consecrated by his faith, does good works; but he is not by these works made a more sacred person, or more a Christian – Martin Luther

 Ek gaan baie gebruik maak van Andy Stanley se boek: Deep and Wide: Creating Churches Unchurched People Love to Attend (2012).

Dit is interessant dat baie kerkmense nie weet wat die kerk is of waarom dit bestaan nie. Vra vir die gemiddelde lidmaat waaraan hy dink as hy die woord kerk hoor.

  • ‘n Gebou.
  • ‘n Gebeurtenis oor die naweek.
  • Die langste uur van die week.
  • ‘n Instelling vir mense met ooraktiewe gewetes
  • Ens.

Maar toe die kerk begin het, was dit ‘n beweging met ‘n gefokusde boodskap en ‘n globale sending. Maar die gelowiges het nie in ‘n abstrakte filosofie geglo nie – hulle was ooggetuies van ‘n gebeurtenis … die opstanding van Jesus Christus.

Die groei van die vroeë kerk kan nie verduidelik word nie, maar kan nie ontken word nie.

  • Die groei van die vroeë kerk kan nie verduidelik word nie. Daar is geen verduideliking waarom die kerk die eerste eeu oorleef het nie. Die Leier is gekruisig; die volgelinge is vervolg, gemartel en doodgemaak. En tog groei die kerk.
  • Die groei van die kerk kan nie ontken word nie. Jesus Christus leer sy dissipels vir drie jaar en 20 eeue later word Hy op elke vasteland aanbid. Vandag sê ‘n derde van die wêreld se bevolking dat hulle in Jesus Christus  glo.

Met hierdie as agtergrond is daar nou twee belangrike vrae waaraan ons aandag moet gee:

  • Wat is die kerk?
  • Vir wie is die kerk?

Daarna kyk ons volgende.